Resensie: Die slaghuis deur Cas Wepener

  • 1

Die slaghuis
Cas Wepener
Uitgewer: Protea
ISBN: 9781485310655

In 1991 het die ondersoekende joernalis, Jacques Pauw, se omstrede exposé getiteld In the Heart of the Whore: The Story of Apartheid’s Death Squads verskyn. Hierin onthul Pauw die vergrype van sogenaamde “death squads” wat die apartheidsregime se vyande met woord en daad vervolg en vermoor het. In dieselfde jaar verskyn John Miles se polisieroman, Kroniek uit die doofpot, waarin die misbruik van mag deur die eertydse Suid-Afrikaanse Polisie (SAP) aan bod kom en gevolglik as voorganger tot die Waarheids- en Versoeningskommissie (WVK) in literêre vorm dien. Twee hoofstukke in Pauw se exposé getiteld “In the heart of the whore” en “The brotherhood of silence” is veral relevant in terme van my bespreking en taksering van Cas Wepener se jongste roman, Die slaghuis, aangesien laasgenoemde, naas skulderkenning en boetedoening, die kern van Wepener se roman vorm.

Cas Wepener is bekend vir sy romans Syferfontein (2013) en Johanna (2017). Hy debuteer in 2013 met ’n kortverhaalbundel, Dubbelfoto, en koester ’n besonderse belangstelling in die oeuvre van wyle Karel Schoeman. Dit lei tot die publikasie van ’n akademiese teks getiteld Die reis gaan inwaarts: Die kuns van sterwe in kreatiewe werke van Karel Schoeman (2017). Sy roman, Johanna, word ook aan laasgenoemde skrywer opgedra. As liefhebber van Schoeman-romans kan ek nie help om Schoeman se invloed op Wepener se skryfstyl raak te lees nie. Alhoewel minder uitgebreid (Schoeman kon immers ’n halwe bladsy of meer aan ’n natuurbeskrywing afstaan), is dit veral opvallend hoe Wepener soortgelyk aan Schoeman daarin slaag om elegiese beskrywings van die natuur of die omgewing waarin ’n karakter hom- of haarself bevind, weer te gee. In Die slaghuis is dit veral opvallend wanneer karakters soos Marietta en Karel die omgewing tydens ‘n staptog of motorrit op amper puntenerige wyse beskryf en is vanuit ’n estetiese oogpunt treffend.   

Die roman speel af in ’n klein plattelandse dorpie in die Oos-Kaap (heel moontlik ’n dorpie soos Jansenville). Marietta en haar afgetrede man, oudbrigadier Karel Bergh, verhuis vanaf Pretoria na die Karoo. Reeds vroeg in die teks word die leser bewus van die oudbrigadier se verlede as lid van ’n spesiale eenheid van die Suid-Afrikaanse Polisie. Karel en Marietta se huwelik is vir alle tegniese doeleindes op die rotse. Marietta gebruik haar kranige kookvernuf in ’n almagtige poging om haar huwelik te red en haar man sover te kry om voor die Waarheids- en Versoeningskommissie te gaan getuig. Intussen voer Kylie ’n sukkelbestaan met haar gestremde pa wat in ’n wendyhuis in haar agterplaas woon en haar werk by die munisipale kantore haar eindeloos grief. Moses se deurlopende teenwoordigheid skep ’n onheilspellende atmosfeer met die skreeuende stemme van stakers wat deur die dorp en verby Kylie se huis marsjeer. Talle vrae duik deurentyd by die leser op: Wie is die geheimsinnige Tannie M, wie wil Marietta vanaf die oranje telefoonhokkie telefoneer en waarom weier Karel Bergh om voor die Waarheids- en Versoeningskommissie te gaan getuig?

Kos vertolk ’n belangrike rol in die roman. Dit dien as metafoor vir verskeie temas, soos die verskil tussen bevoorregte en minderbevoorregte Suid-Afrikaners vir wie die vleis in die slaghuis in twee aparte yskaste uitgestal word. Waar Marietta feesmaaltye in oorvloed voorsit, moet ander met minder tevrede wees. Kos kan egter ook as ’n middel tot versoening dien wanneer Marietta ’n vleisbolletjie of van haar smaaklike skaaptongetjies met Moses deel. Sy gee uiting aan haar lyflikheid deur haar sintuiglike ervarings tydens die voorbereiding van maaltye. Veral die voorbereiding en die verwerking van vleis, hetsy die slag van ’n skaap of die voorbereiding van ’n maaltyd, lei tot intense lyflike en geestelike genot.  

Verskillende vertelperspektiewe kom in die roman voor. Op behendige wyse trek Wepener al die los drade bymekaar om die lewens en gebeure wat oor ’n tydperk wat van 1977-2017 strek, bymekaar te bring. Die leser word vasgenael deur die wyse waarop Wepener die stukke van die spreekwoordelike legkaart stuk vir stuk onthul en bymekaar voeg om die geheelbeeld te vorm. Die amperse profetiese slot dryf ’n wêreld van geweld, moord, woede en haat tot ’n onverwagse konklusie wat die leser tot nabetragting sal dwing.

Die slaghuis (’n heel gepaste titel vir dié roman) dien as metafoor vir verskeie aspekte van die roman, wat ek liefs nie hier wil uitbasuin nie. Die leser sal sélf die nodige assosiasies kan maak, soos die narratief ontvou. Die slaghuis is nie bloot ’n letterlike plek waar vleis verwerk en verkoop word nie, maar dra binne die konteks van Wepener se roman ’n veel dieper betekenis.  

Wepener is een van Afrikaans se romansiers wie se literêre werke amper ongesiens verby gaan. Slegs korterige resensies oor romans soos Johanna en Die slaghuis het in dagblaaie verskyn. Myns insiens verdien dié skrywer se prosa veel wyer aandag onder lesers en literêre kritici, aangesien die tekste nie alleen stilisties geslaagd is nie, maar ook relevante sosio-politiese temas aanraak wat in die bestek van die huidige eeu belangrik binne die Suid-Afrikaanse konteks is. Die slaghuis is ’n roman waarin Wepener geen heilige koei ontsien nie. Temas soos skuld en boetedoening verskaf pitkos aan die Afrikaner-leser wat krities moet besin oor sy of haar rol in die groter geheelbeeld van die Suid-Afrikaanse politiese landskap. Wepener ondersoek deur karakters soos Marietta, Karel en Kylie die hedendaagse gesprekke rondom wit bevoorregting, die oproep om ’n tweede Waarheids- en Versoeningskommissie en die Afrikaner se soeke na ’n spreekwoordelike nuwe identiteit as deel van ’n geïntegreerde samelewing in Afrika en veral Suid-Afrika. Soos Azille Coetzee in haar boek In my vel: ’n reis (2019:174) tereg opmerk: “Hoe kan ek, as wit bevoorregte Afrikaanse Suid-Afrikaner, ’n etiese bestaan in Suid-Afrika voer? Hoe moet ek leef in ’n land waar my identiteit, taal, en kultuur onlosmaaklik verweef is met ’n koloniale geskiedenis van verskriklike onderdrukking?” Wepener stel nie noodwendig ten doel om deur middel van ’n fiksionele narratief met fiksionele karakters komplekse sosio-politiese vraagstukke te beantwoord nie, maar slaag daarin om die leser as sulks bedag te maak op die onregte wat in die verlede gepleeg is. Die roman is geen vingerwysing na of blote beskuldiging van Afrikaners as sulks nie, maar streef eerder daarna om die leser tot nadenke oor gemeenskaplike skuld, boetedoening en die pad vorentoe te laat besin.

Die slaghuis is ’n roman wat boei, die speekselkliere stimuleer en terselfdertyd sommige lesers sal ontstem. Die roman tree in gesprek met tekste soos Antjie Krog se Country of my Skull, John Miles se Kroniek van die doofpot en Azille Coetzee se In my vel – om maar enkele voorbeelde te noem. Die karakterisering is geloofwaardig, die beskrywings van natuurtonele stilisties geslaagd en die verskeidenheid vertelperspektiewe bied ’n gebalanseerde en objektiewe waarneming van die hedendaagse samelewing waarin Suid-Afrikaners hulself sal herken. Elke leser wat bereid is om met uitdagende vrae gekonfronteer te word behoort hierdie roman te lees. Wat is die waarheid? Oudbrigadier Karel Bergh vra immers die vraag: “Wie presies is die slagoffer, Marietta? Wie?” Die leser moet self besluit.  

  • 1

Kommentaar

  • Chris van der Merwe

    Baie goeie resensie. Dis inderdaad tyd dat meer aandag aan Cas Wepener se werk bestee word.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top