Regsmening bevestig Afrikaans se status as inheemse taal

  • 0

Die bevestiging deur die minister van hoër onderwys, wetenskap en innovasie, Blade Nzimande, se advokate dat Afrikaans en die Khoi- en Santale wel inheemse tale is, beteken nie die vreugdevure oor die toekoms van Afrikaans as akademiese taal kan nou aangesteek word nie.

Taalaktiviste verwelkom die regsadvies wat aan die Minister verskaf is, maar waarsku dat die stryd om Afrikaans as akademiese taal nog lank nie verby is nie.

Dit volg nadat die DA dit na ’n maande lange stryd uiteindelik uit die Minister kon wurg dat Afrikaans wel ’n inheemse taal is.

Terwyl die DA se taalstryder vir Afrikaans in die parlement, Leon Schreiber, in ’n mediaverklaring spog dat die DA “die enigste party” is wat werklik Suid-Afrika se ryk kultuur- en taalerfenis koester, is verskeie nieregeringsorganisasies bekommerd oor die toekoms van Afrikaans as akademiese taal en sê hulle veg ewe hard vir die voortbestaan van Afrikaans as akademiese taal.

Die uitvoerende hoof van die Afrikaanse Taalraad (ATR), Conrad Steenkamp, gee toe dat die DA ’n aandeel daaraan gehad het om die Minister se regsadvies uit hom te dwing. Hy vind dit egter jammer dat organisasies soos die ATR en DAK Netwerk deurgaans geïgnoreer word as hulle van buite die politiek vir Afrikaans in die bres wil tree.

Danie van Wyk, voorsitter van die DAK Netwerk, het op 9 April 2021 ’n protesoptog deur Stellenbosch se strate gelei om DAK se verontwaardiging met die Universiteit Stellenbosch (US) se taalbeleid te kenne te gee. (Foto: Izak de Vries)

DAK Netwerk se voorsitter, Danie van Wyk, verwelkom ook die regsadvies aan die Minister dat Afrikaans en Khoi-tale inheems is. Net soos Steenkamp is hy ook gefrustreerd omdat sy organisasie telkens voor dooiemansdeur beland wanneer hulle aan die Minister se deur klop vir ’n gesprek oor die taalkwessie.

Van Wyk sê dit is verkeerd van die DA om die indruk te skep dat hulle al party is wat omgee vir Afrikaans. Hy het Schreiber op Facebook daaroor aangevat. Van Wyk sê die DA kan nie alleen aanspraak maak op hierdie oorwinning nie. “Dit is ’n oorwinning vir Afrikaans en nie slegs vir die DA nie.”

Nadat hy uit verskeie ander oorde gekritiseer is omdat hy dit as ’n DA-oorwinning beskou, het Schreiber op sy persoonlike Facebook-blad toegee dit is ’n “ekosisteem” van verskillende rolspelers wat druk uitgeoefen het om Afrikaans, Khoi- en Santale as inheems te erken.

“Tesame met die DA in die parlement – en in ag genome dat al hierdie organisasies natuurlik polities onafhanklik is – het DAK Netwerk, AfriForum, ATR, StudentePlein en duisende individue wat petisies onderteken en betoog het, ook hul deel gedoen,” het Schreiber erken.

.....

Steenkamp sowel as Van Wyk is egter steeds bekommerd dat die nuwe bewoording wat aanbeveel word, ’n agterdeur kan ooplaat om teen Afrikaans as akademiese taal te diskrimineer. Daarom wil beide van hulle steeds met Nzimande in gesprek tree.

.....

Wat wel as ’n oorwinning beskou kan word is dat die regsadvies wat aan Nzimande verskaf is, onomstootlik bevestig dat Afrikaans ’n inheemse taal is. In hulle advies aan die Minister beklemtoon die twee advokate wat dit opgestel het, IP Ngobese en T Mabuza, dat Afrikaans nie net behoorlik en volledig geklassifiseer word as onafhanklike taal nie (teenoor slegs ’n dialek van Nederlands), maar dat dit ook inheems is aan Suid-Afrika.

Die twee advokate steun swaar in hul argument op die land se Grondwet en die Konstitusionele Hof se uitsprake oor Afrikaans. Hulle beveel aan dat die Departement se taalbeleidsraamwerk gewysig word om daarvoor voorsiening te maak.

In stede daarvan om Afrikaans as inheemse taal uit te sluit, word aanbeveel dat daar in die Departement se taalbeleidsraamwerk vir hoëronderwysinstellings gepraat word van “voorheen gemarginaliseerde inheemse tale” wanneer daar verwys word na die ander inheemse tale in die land wat nie dieselfde bevoorregting as Afrikaans geniet het nie.

Nadat die twee advokate wat deur Nzimande geraadpleeg is, ’n oorsig bied van die relevante wetlike presedente, bevestig hulle dit is duidelik dat die Konstitusionele Hof Afrikaans erken as ’n Afrika-taal wat inheems aan Suid-Afrika is. Die regsmening bevestig verder dat die uitsluiting van Afrikaans as ’n inheemse taal in die taalbeleid onversoenbaar is met die Konstitusionele Hof se beskouing van Afrikaans as ’n inheemse taal.

Laastens waarsku die twee advokate dat dit ’n vermorsing van skaars hulpbronne sou wees indien Nzimande hulle advies sou ignoreer. Die dokument maak dit duidelik dat hulle advies en aanbeveling enige moontlike litigasie oor die definisie en onnodige uitgawes sal verhoed.

Steenkamp sowel as Van Wyk is egter steeds bekommerd dat die nuwe bewoording wat aanbeveel word, ’n agterdeur kan ooplaat om teen Afrikaans as akademiese taal te diskrimineer. Daarom wil beide van hulle steeds met Nzimande in gesprek tree.

Steenkamp sê hy vrees dat Afrikaans uitgesonder kan word om aan die agterspeen te suig wanneer daar van owerheidskant fondse vir inheemse tale bewillig word.

“Daar is baie meer op die spel as net ’n regsmening,” sê Steenkamp.

Dit gaan vir hom in die eerste plek oor die behoud van Afrikaans as akademiese taal en die bevordering en uitbreiding van ander inheemse tale se akademiese status. “As Afrikaans se posisie as akademiese taal nie beskerm word nie, loop dit die gevaar om weg te smelt en later heeltemal te verdwyn as akademiese taal.”

Steenkamp sê dit is dus veel meer as net ’n regskwessie. “In die eerste plek is dit ’n taalkwessie. Vanuit ’n taaloogpunt is dit baie duidelik dat Afrikaans ’n inheemse taal is.” Dit is vir hom steurend en maak hom vies dat daar eers ’n regsopinie ingewin moes word om duidelikheid te kry oor die inheemse status van Afrikaans en Khoi- en Santale.

Hy is ook onthuts omdat daar telkens eers ’n politieke geveg moet wees voordat daar resultate is, terwyl nieregeringsorganisasies soos die ATR en DAK Netwerk maande lank deur Nzimande geïgnoreer is.

Van Wyk het etlike briewe waar hy gepoog het om ’n afspraak by die Minister te kry om oor die kwessie te praat. Hoewel hy erkenning van ontvangs van sy briewe gekry het, het daar telkens niks gekom van die beloofde gesprek met die Minister nie.

Schreiber sê in sy verklaring die DA sal, soos wat hulle oor die afgelope jaar gedoen het, deur middel van parlementêre vrae, petisies, optogte en PAIA-versoeke aanhou om onverpoosd druk toe te pas op Nzimande totdat sy departement se omstrede beleidsraamwerk formeel aangepas is volgens die jongste regsmening.

Nzimande se kantoor het na maande se gesloer die regsmening met die DA gedeel nadat die party ’n appèl ingevolge die Wet op die Bevordering van Toegang tot Inligting (PAIA) ingedien het ná Nzimande se vroeëre weiering van hulle oorspronklike versoek van 16 Januarie 2022.

Die volledige regsmening kan hier gelees word.

Kyk en lees ook:

Leon Schreiber oor US en Afrikaans

DAK Netwerk language submission: A petition to the Minister of Higher Education

Mediavrystelling: Afrikaanse Taalraad oorhandig ope brief aan Ramaphosa

Universities South Africa [USAf] colloquium: "The challenges in the implementation of the new language policy"

Lees ook:

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top