Persverklaring: Wenner van Jan H Maraisprys 2023

  • 4

Die Jan H Maraisprys vir ’n uitstaande bydrae tot Afrikaans as wetenskapstaal deur wetenskaplike werk en publikasies op hoë vlak en van hoë gehalte in Afrikaans word vanjaar toegeken aan Louise Viljoen van Stellenbosch. Die prysgeld beloop R750 000. Die Jan H Maraisprys word toegeken as erkenning vir haar bydrae ten bate van die Afrikaanse letterkunde. Dit sal later vanjaar by ’n funksie op Stellenbosch aan haar oorhandig word. Hierdie besluit is vandag bekend gemaak deur die voorsitter van die keurkomitee, Johan van Zyl, oudrektor van die Universiteit van Pretoria en ook oudbestuurshoof en -voorsitter van Sanlam.

Viljoen is in 1954 gebore. Sy studeer aan die Universiteit Stellenbosch en behaal agtereenvolgens die grade BA (1975), BA Hons (cum laude, 1976), MA (cum laude, 1979) en D. Litt. (1988) in Afrikaans en Nederlands.

Haar loopbaan het soos volg verloop: Sy word in 1978 aangestel as lektor in die Departement Afrikaans en Nederlands aan die US. In 1999 word sy bevorder tot professor en van 2014 tot en met haar aftrede einde 2019, beklee sy die posisie van uitgelese professor. Sy tree by verskeie universiteite in Suid-Afrika en die Lae Lande (Amsterdam, Leiden, Groningen, Leuven, Diepenbeek [Hasselt], Gent) as gasdosent op. Vir ‘n gedeelte van 2019 is sy hoogleraar in die leerstoel Zuid-Afrika: Talen, literaturen, cultuur en maatschappij aan die Universiteit Gent in België. Van 1996 tot 2013 dien sy in die Letterkundekommissie van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns (as voorsitter van 2007-2013), en hiernaas ook in verskeie ander nasionale en internasionale komitees en rade.

Sy dien ook op die redaksiekomitees van verskeie Afrikaanse literatuurwetenskaplike vaktydskrifte soos Stilet, Tydskrif vir Letterkunde en LitNet Akademies.

Haar navorsingsoeuvre bestryk al drie tradisionele terreine van die literatuurstudie, naamlik literêre kritiek, literatuurgeskiedenis en literêre teorie en omvat onderwerpe soos postkolonialisme, gender, identiteit, en transnasionalisme. Sy het sowat 60 artikels in vaktydskrifte gepubliseer; 30 hoofstukke in boeke en drie boeke. Studente wat onder haar studeer het, het ook meer as 40 artikels uit hulle MA-tesisse en doktorale proefskrifte onder hulle eie naam gepubliseer.

Haar navorsing lewer by uitstek blyke van haar kapasiteit om voortdurend op die hoogte te bly van die jongste internasionale ontwikkeling in die literatuurwetenskap, en hierdie inhoude dra sy sonder uitsondering in suiwer, maar altyd helder Afrikaans aan Afrikaanssprekende vakgenote en studente oor. Op hierdie manier word teoretiese begrippe in Afrikaans gevestig en gesirkuleer. Min akademici binne die Afrikaanse literatuurwetenskap kan haar dít nadoen.

Verder lewer sy meer as 50 referate by nasionale en internasionale kongresse (heelwat as hoofspreker), en tree by tientalle ander geleenthede op. Wat haar statuur onteenseglik as literêre vakkundige toon, is dat sy genooi word om bydraes oor die Afrikaanse letterkunde in internasionale publikasies te lewer. Haar bydraes tot SA Lit. Beyond 2000 en The Cambridge History of Literature is boonop uitgesonder en aangeprys in internasionale resensies van hierdie twee boeke.

’n Ander belangrike bydrae tot die groter Afrikaanse literêre sisteem is dat daar oor die jare ’n groot getal resensies in koerante, tydskrifte en aanlyn publikasies van haar verskyn, waarvan verskeie sedert haar aftrede. Louise speel dus ’n sleutelrol in hierdie sisteem: Haar resensies laat mense lees, maar leer hulle ook hoe om te lees. Sy resenseer alle genres: prosa, poësie, dramas en selfs niefiksie.

Erkenning vir haar vakkundige bydraes in Afrikaans blyk uit haar ontvangs van onderskeie beurse, pryse en toekennings, wat insluit die Gustav Preller-prys vir Literatuurwetenskap en Literêre Kritiek van die SA Akademie vir Wetenskap en Kuns (2016), en die ATKV-SA Akademieprys vir die beste wetenskaplike artikel in Afrikaans (in 2012 en weer in 2019).

Die jaarlikse Jan H Maraisprys is in 2015 geskep deur ’n besluit van Het Jan Marais Nationale Fonds, Media24 en die Universiteit Stellenbosch. Al drie instellings het hulle ontstaan te danke aan die vêrsiende steun van Johannes Henoch Marais (1860-1915) van Stellenbosch wat saam met sy broers in die 1870’s hulle fortuin op die Kimberleyse Diamantveld gemaak het. Jannie Marais was ’n groot ondersteuner van Afrikaans as ’n akademiese en literêre taal.

Die prys vir ’n uitnemende bydrae tot akademiese Afrikaans word geadministreer deur die SA Akademie vir Wetenskap en Kuns. Die keurkomitee van vooraanstaande akademici uit verskillende dissiplines het vanjaar bestaan uit Albert Grundlingh (Stellenbosch), Gerhard Lubbe (Stellenbosch), Ena Jansen (Amsterdam en Johannesburg), Ian Dubery (Johannesburg), Ilse Feinauer (Stellenbosch) en Johan van Zyl (vroeër van Pretoria en ook Sanlam).

  • 4

Kommentaar

  • Breyten Breytenbach

    Uit die hart: absoluut 'n welverdiende erkenning van die wêreldklas werk van 'n groot dame in ons literatuur wat wondere doen vir deeglikheid in navorsing in die algemeen, innovering in denke en vormgewing in uitdrukking. Bravo!!!

  • Ina Wolfaardt-Gräbe

    Bravo inderdaad, Louise. Jy is onteenseglik 'n waardige wenner - daarvan kan almal getuig wat jou ooit meegemaak het op kongresse; ook (dalk veral) diegene wat jou talle resensies, artikels en boeke oor letterkunde en literatuurstudie kon lees.

  • Angelique van Niekerk

    Die toekenning aan Louise Viljoen is 'n welverdiende erkenning aan 'n akademikus wat ander inspireer!

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top