Vanjaar is dit die eerste jaar in die geskiedenis van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns dat die kortlyste van die Akademie se letterkundige pryse vooraf bekendgemaak word. Die vier kortlyste vir vanjaar se boekpryse is pas bekendgemaak.
Die pryse dien veral as erkenning en aansporing vir Afrikaanse skrywers om gehaltewerk in hul moedertaal te lewer. Altesaam 67 inskrywings is vir die vier boekpryse ontvang.
Die name van onder andere die veelbekroonde skrywers Riana Scheepers en Antjie Krog is op die kortlys vir die Tienie Hollowaymedalje vir Kleuterliteratuur, terwyl Nicola Hanekom, wat die Hertzogprys vir Drama in 2021 verower het, weer op vanjaar se kortlys vir dié prys verskyn.
Die grootste gros van vanjaar se boeke vir die Tienie Hollowaymedalje vir Kleuterliteratuur is goeie en deeglike kleuterboeke met eenvoudige maar interessante stories, heelwat fantasie en kleurryke en selfs oorweldigende illustrasies.
Die kortlyste vir 2024 se boekpryse is, in alfabetiese volgorde volgens skrywer:
Tienie Hollowaymedalje vir kleuterliteratuur
- Daar’s ’n towerponie in my bed deur Martelize Faber (Illustrasies: Elsabé Ebersöhn) (LAPA)
- Die hond met die stert sonder swaai deur Paula Fourie (Illustrasies: Emily House) (Tafelberg)
- Vetplantfeetjies deur Antjie Krog en Ingrid de Kok (Illustrasies: Fiona Moodie) (Penguin Random House SA)
- Saartjie, die spinnekop met sewe bene deur Riana Scheepers (Illustrasies: Elsabé Ebersöhn) (LAPA)
- Net nie ’n hond nie! deur Jaco Jacobs (Illustrasies: Patrick Latimer) (Pan Macmillan)
Elsabé Steenbergprys vir vertaalde kinder- en jeugliteratuur
- Lampie vertaal deur Zandra Bezuidenhout (Protea Boekhuis) (Uit Nederlands vertaal. Skrywer: Annet Schaap)
- Skerwe vertaal deur Zelda Bezuidenhout (LAPA) (Uit Engels vertaal. Skrywer: Sally Partridge)
- Die brief vir die koning vertaal deur Daniel Hugo (Protea Boekhuis) (Uit Nederlands vertaal. Skrywer: Tonke Dragt)
- My eerste Afrika-avontuur vertaal deur Nandi Lessing-Venter (LAPA) (Uit Engels vertaal. Skrywer: Riaan Manser met Murray Williams en Chantal Tarling)
- Hotel Ietermagô vertaal deur Elsa Silke (Tafelberg) (Uit Engels vertaal. Skrywer: Dianne Hofmeyr)
Eugène Maraiprys (poësie/drama)
- Wanneer woorde asemhaal deur Maritha Broschk (Turksvy)
- Ontaard deur Pieter Odendaal (Tafelberg)
- Opdrifsel deur Philip Rademeyer (Protea Boekhuis)
Hertzogprys vir drama
- Mirre en aalwyn deur Nicola Hanekom (Protea Boekhuis)
- Droomwerk deur Pieter Odendaal (Protea Boekhuis)
- Opdrifsel deur Philip Rademeyer (Protea Boekhuis)
Keurders:
Die keurders is die Letterkundekommissie van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns: Willie Burger (voorsitter) verbonde aan die Universiteit van Pretoria, Marni Bonthuys, dosent by die UWK, Marius Crous van die Nelson Mandela Universiteit, Thys Human en Hein Viljoen, albei van die Noordwes-Universiteit, Valda Jansen, joernalis en vryskutskrywer, Bettina Wyngaard, regsgeleerde en skrywer, Amanda Marais en Andries Visagie, albei van die Universiteit Stellenbosch.
Die wenners word op Vrydag 19 April 2024 bekendgemaak.
Kommentaar
Riana Scheepers bly net eenvoudig 'n rare talentvolle mens.