Oor die film Kanarie: ’n ope brief aan Izak de Vries

  • 8

Foto van Ryno Eksteen: Izak de Vries

Beste Izak

Destyds, met die uitreiking van die film Kanarie, was ek tussen die duiwel en die diep see. Ek kon en wou nie daarna gaan kyk in ’n bioskoopteater nie. Die blote herinnering aan “daardie tyd” het my van voor af naar gemaak. Jou foto-essay op LitNet, asook ander skrywes in dié verband, het my diep geraak en die gedagte aan die film het my telkens herbesoek. Onlangs het ek myself sover gekry om dit op DVD te kyk. Sodat ek kon stop indien nodig. Vir opgooi of water drink of ’n lang draai loop. Of so.

Aan die meriete van die film bestaan geen twyfel nie. Dit is ’n uitsonderlike fliek. Welgedaan aan al die betrokke partye vir julle waagmoed, veral. Ek salueer julle!

Máár ...

Sien, my omstandigheid rakende die tyd van dowwe kolle en kamoefleerdrag val in ’n kategorie sonder naam, en sekere goed daarrondom bly steeds vir my traumaties om te aanskou. “Dienspligontduiking” sou nie naastenby die volle verhaal vertel nie. En hoewel dit nou baie jare later is, kleef die wurggreep van destyds steeds soos klein kaktusdorinkies aan my gemoed.

Reeds op skool tydens sogenaamde weerbaarheidsperiodes was ek ongemaklik met die hele gedoente. Ek kon nie werklik my gevoelens teenoor enigiemand verwoord nie en my “besware” sou afgemaak word as adolessente nonsens, wat “sal oorwaai”. Al wat ek geweet het, was dat ek nêrens inpas nie. Heelwat later in my lewe sou ek met die hulp van kenners meer insae in my komplekse samestelling kry en ook ’n paar antwoorde en berusting vind.

Kadette. Soos poppe in ’n ry; marsjeer en salueer; ja, meneer, nog ’n keer. Tot opgooiens toe. Die kampterreine wat jaarliks deur ’n paar testosteroongedrewe balkrappers uitgedink is, het gewissel van ’n verlate skuur as basis tot ’n oop stuk veld en die skougronde. Ek onthou een nag onder sterre het iemand ’n paar slaapsakke van my af gebulder: “Ek voel koud, miserabel en kak.” Maar dit het geklink asof hy dit geniet. Ek het my lyf tussen die klippe probeer inlê en my vingerpunte teen mekaar gedruk om ’n sirkel rondom die driekwartmaan te maak. Van slaap was daar nie sprake nie. Die Saterdagmiddag mag ons na die treffersparade op radio geluister het; as diep gelowige vergunning van die hoofkorporaalmajoorluitenantkaptein, of wat hy homself ook al genoem het. Hy’t gesê ons mag nie “Another brick in the wall” van Pink Floyd geniet nie, want dit is indoktrinasie, en allerverskriklike goed sal met ons gebeur as ons die woorde van die liedjie onthou. In die koorgedeelte het sy stewelvoet op en af beweeg.

Toe ek 16 word, het die eerste van vele oproepinstruksies deur die pos gekom. Ek moes aanmeld vir Nasionale Diensplig te Grahamstad. “Oor my dooie liggaam,” het ek gedink. As ek net ’n manier kon vind om tot heel bo op een van die graansilo’s te kom. Die afkomslag sou bevryding bring. Ek het dit ook oorweeg om by die stasie te gaan wag op ’n goederetrein en saam te ry tot waar dit ook al stop, maar ek was te bang. My bedrading was effentjies aanmekaargesweis. In elk geval, met my geluk sou die trein net tot by Karringmelksrivier ry om veevoer af te laai en dan weer terugstoot na ons klein dorpie in die rûens.

Gelukkig hoor ek toe dat ’n mens tydelike uitstel van verpligte weermagopleiding kan kry vir studiedoeleindes. Ek sou nooit die kanseliersmedalje vir akademie ontvang nie, maar probeer sou ek probeer. Dit was my enigste verweer.

Na skool het ek dan ook hierdie opsie om by verskeie instansies te studeer uitgeoefen. Eers maatskaplike werk probeer. Ja, ek was voorbeeldig, man. Net in ’n verekussing gevloek en nie voor grootmense gerook nie. Tot by argitektuur gedraai. Maar ek sou eers my plek en rigting vind in Bloemfontein, waar ek sou leer van verf en teken en die waansinnige talent van Auguste Rodin en die wonder van kreatiewe energie. Onder andere. Dit was goeie jare vir my. Die lewe het sy lekker stukkies vir my gewys.

In daardie tyd het ek die toneelstuk Diepe grond van Reza de Wet in die Sterrewagteater op Naval Hill gesien. Ek het dit seker drie keer gaan kyk. By ’n huispartytjie een aand na ’n vertoning ontmoet ek die spelers en is in vervoering. Doris Sihula, wat die rol van Ou Alina gespeel het, het die mooiste armbande gedra. Sy het een afgehaal en gesê: “It’s yours.” My lewe het daardie aand in die kleine verander. In daardie eenvoudige gebaar van haar het ek suiwer aanvaarding en menslikheid ervaar. Net twee gewone mense wat aanklank vind by mekaar.

Daar was ander soortgelyke geleenthede, waar ek mense van verskillende kulture, rasse en agtergronde kon leer ken en waardeer. My oë het begin oopgaan vir die ware toedrag van sake in ons liewe land. My ontvanklike vroeë-twintigjarige siel het tegelyk gejubel en geween. Teenstrydig soos ’n hartseer hanswors wat die heeltyd glimlag. Ek het die onregte teenoor ander mense en my bevoorregte bestaan ernstig begin bevraagteken en plek-plek begin verstaan van diskriminasie en haat.

Die army het egter nie van my vergeet nie en twee maal per jaar het ek die koevert met oproepinstruksies ontvang wat my ma gewoonlik saam met ’n pakkie van die huis af gestuur het. Daar was ook ’n brief van haar in, met Pa wat groete stuur en vra hoe lank ek nog gaan leer. En beskuit en bedsokkies. Bloem in die winter is soos oorsee, hoor hulle daar in die Suid-Kaap.

Na ’n paar vrolike en suksesvolle studiejare het die generaalpresidentdirigent se korrespondensie aan my egter meer intiem en streng geraak. Nog net ses maande, het hy gesê, daarna niks meer uitstel nie. Hulle soek my met seer harte en gaan my nie uitlos nie.

Op die boonste vlak van die hoogste gebou in Bloemfontein was ’n draairestaurant. Ek sou maklik tot daar kon kom. Fok, dis ver ondertoe. Die sisteem van rigiede oorheersing tesame met my komplekse samestelling het gemaak dat ek al minder uitkomkans of rede kon insien. Die afkomslag van daar bo af was my laaste uitweg, het ek redeneer. Ek het myself in geen sin as troep of geroep kon insien nie. Not de fok, die army sien my nie. Ek kon nie voor ander mense stort of toilet nie; selfs om tande te borsel met iemand anders in die omtrek was moeilik. Dit is net enkele, mindere “redes” wat ek kon aanvoer. Die oorlog na binne was veel meer intens en verwoestend. En sou enigiemand hoegenaamd kon verstaan hoe hewig die innerlike veldslag my bietjie vir bietjie opvreet?

Met die hulp van ’n simpatieke sielkundige het ek egter staande gebly. Haar motiverings en verslae aan die oorlogmense het gehelp dat hulle ten minste na my rede sou luister. Daai verskynings voor ’n raad by Tempe was van die mees vernederende ervarings van my lewe. Ek kon weens my sensitiewe geitigheid as emosioneel versteurd verklaar word, het hulle, onder andere, voorgestel. Se moer, het ek protesteer. Maar hulle eintlike probleem met my was dat ek as gewetensbeswaarde gemerk is. Fok, ek het nie eers geweet wat dit beteken nie. Ek het nie die verbale vlugheid of op-my-voete-dink-vermoë gehad om sinvol met lelike ooms in kakiebroekpakke te redeneer nie. Hulle volmondige, finale besluit was dat ek in Februarie van die volgende jaar moet aanmeld in Upington. Die alternatief is tronkstraf. Nogal.

My laaste maande in die Vrystaat was ’n warboel van emosionele wipplankryery. Selfs goeie vriende wat reeds die army-ding gedoen het voordat hulle begin studeer het, se stories dat dit eintlik nie so sleg is in die army nie en hoe lekker dit is om met ’n MAN-vragmotor oor ruwe aarde te jaag, het my eerder verder vervreem as bemoedig. Dit was ’n alleen en eensame stryd.

Die term van “gewetensbeswaarde” wat die skuttersersantluitenantkommandant my geleer het, het wel gemaak dat ek skielik anders na myself gekyk het. Ek was nie mal of depressief op medikasie nie, allesbehalwe ’n moeilikheidmaker, en nog minder ’n verraaier. Al wat ek saggies gevra het, was dat alle mense gelyk en regverdig behandel word.

Steeds met gebrekkige kennis oor my nuwe status as “potensiële vyand van my eie mense” reageer ek toe op ’n klein advertensie van die End Conscription Campaign in Vrye Weekblad. Daar was vyf telefoonnommers. Ek bel na die een in Grahamstad. Ek het my bes probeer om my storie aan die vriendelike man aan die ander kant te vertel en hy het sy bes probeer om my storie te volg. Hy het voorgestel dat ek Nederland toe gaan. Alles kan gereël word. Ag, hemel tog, ek het skaars geweet waar dit op die wêreldkaart is, wat nog te sê daar gaan bly. Die vriendelike man se hoog-Engels en my lang stiltes was nie die beste bestanddele vir sinvolle kommunikasie nie. Ek het die gehoorstuk saggies neergesit en verder gehuil. Vir lank.

Die Desembervakansie sou my laaste tyd op aarde wees. Ek het my vriende een vir een gegroet, sonder dat hulle weet dat ek eintlik vir ’n laaste keer koebaai sê. Vir die een het ek ’n programnota van Sukovs se produksie van die opera Madame Butterfly gegee. Vir daardie een het ek ’n pampoentjieskulp van Stilbaai gegee, toegedraai in dubbellaag-toiletpapier. Vir my beste vriendin ’n verekussing en ’n gedig van Antjie Krog, neergeskryf op ’n servet van Mike’s Kitchen.

Kort voor Kersfees in die doodsnikke van die tagtigs van die vorige eeu word verpligte militêre diensplig in Suid-Afrika afgeskaf. Op ’n manier het ek daardie aand voor die TV-nuus ’n nuwe lewe gekry.

Mag dit met ons almal goed gaan.

Groete

Ryno

Lees ook:

Kanarie: ’n dorp is ’n plek in jou kop

Kanarie: persoonlike indrukke

Kanarie ’n uitdagende grensverskuiwing: ’n filmresensie

  • 8

Kommentaar

  • Ryno, ek hoor jou en ek voel jou. Ek was bang vir die army, maar ek moes gaan - as kapelaan nogals. Ek het vir mense vertel God is lief net soos hulle is. Ek was daar vir twee jaar, en die aand toe die TV nuus vir jou lewe gee, was die aand voor my uitpassering.

  • Ryno, soveel respek en dankbaarheid vir jou eerlikheid!

    Ek is ook dankbaar vir jou lewe!

    En dat my seuns nie hierdeur hoef te gegaan het nie!

  • Ryno. Die maklikste uitkoms uit die Army is as jy erken jy is homoseksueel. Dit het ‘n baie goeie vriend van my sy opleiding voorkom. Ek was opgeroep en het besluit om die beste van ‘n slegte saak te maak. Ek het elke moontlik kursus vir bevordering voltooi en het uiteindelik as Kaptein my tyd uitgedien. Dit het van my net ‘n beter mens gemaak. Ek dink jy het ‘n wonderlike lewe verloor deur nie jou opleiding te voltooi nie. DIT IS MY PERSOONLIKE OPINIE.

  • Ludwig, dit is uiteraard net jou mening. Nie almal is in die wieg gelê vir dieselfde dinge nie. As jou tyd in die weermag van jou 'n beter mens gemaak het, is ek om jou onthalwe bly. In my dae was homoseksualiteit nie 'n verskoning nie. Hoe dit ook al sy, ek was op die Grens. Die wedervaringe wat ek moes deurstaan, het nie van my 'n beter mens gemaak nie. Moord, ongeag die omstandighede en in die geval van oorlog omdat jy daartoe verplig word deur jou regering, maak van niemand 'n beter mens nie. Goddank het ek niemand se lewe geneem nie. Maar ek het die resultate daarvan aanskou. En ook die mense wat dit wel gedoen het. Van hulle het vandag nog sielkundige letsels. Deur vir Ryno te vertel dat hy 'n wonderlike lewe gemis het omdat hy nie op 'n grens geveg het en mense doodgemaak het nie, is myns insiens nie alleen kontensieus nie, dis belaglik. Wat weet jy wat vir 'n ander 'n wonderlike lewe is? Die weermag is alles behalwe my idee van 'n wonderlike lewe, net so min as wat tronkstraf is. Ek is bly jy het jou tyd in die weermag geniet. Ek het myne verafsku en weet tot vandag toe dat ek daarsonder kon doen.

  • Ryno, soos al jou skrywes het jy 'n manier om met mense te praat deur woorde voor mens se geestesoog te skilder.
    Ek het om dieselfde rede eers gaan studeer, en dis in my eerste jaar op universiteit dat verpligte weermagdiens afgestel was. My hart was net so verlig.

  • Avatar
    Christiaan Carstens

    Jip, so is ek ook toe 'army' toe ... twee laaaaang jare. Ek het glad nie geweet hoe om los te kom nie. Toe was studies ook tydelik 'n uitkoms. Al wat ek geweet het, is dat my ouers in hul klein dorpie die skindertonge sou moes hanteer ... 'landsverraaier', ‘gay’ is allermins die dinge wat hulle van hul oudste sou hoor. Ek het deurgedruk, 'army' toegemaak ... en ek weet jou nog nie of ek 'n beter mens of man uitgedraai het nie.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top