"Ons is opgewonde om te hoor of lesers meer van die Bitterbosbende wil lees"

  • 0

............ 

Titel: Bitterbosbende 1 – Die geheim van die nuwe hoof
Deur: Anzil Kulsen
Uitgewer: Tafelberg
ISBN: 9780624090434

Kurt, sy suster Nieke en hul maats is in graad 5 in Laerskool Bitterbos, en bly in die koshuis. Die nuwe skoolhoof waai soos ’n yskoue onweerswind by die eerste saalbyeenkoms in. Daar’s ’n NW-taak wat moet klaarkom, as groepwerk.

Toe Kurt-hulle se idee vir ’n sonkragoondjie te goed werk en hulle ’n mini-ontploffing in die vierkant veroorsaak, word hulle na die hoof se kantoor ontbied – met verrassende gevolge.

 

............ 

Cliffordene Norton gesels met Anzil en Keenan Kulsen oor die inspirasie agter die Bitterbosbende-reeks, en oor hoe dit is om as ma en seun saam te werk. Hulle het ook advies vir voornemende skrywers.

Keenan en Anzil Kulsen (Foto: verskaf)

Wat is die inspirasie vir die Bitterbosbende-reeks?

Die idee vir ’n lekker bangmaakstorie het ontstaan toe ons uitvind dat ’n gebou waarin ons destyds vir vakansie oorgebly het, gedeeltelik op ’n begraafplaas gebou is. Oeee ...

Aanvanklik sou ek net een storie skryf, die verhaal oor ’n boetie en sussie, Kurt en Nieke, hul maats Zia, Bongi, Leonard en Simone, en natuurlik mevrou Bosman, die nuwe skoolhoof van Laerskool Bitterbos, wat die kinders op groot avonture en ’n ontdekkingstog neem.

In plaas daarvan om hulle te straf toe hul eksperiment verkeerd loop en ’n groot ontploffing veroorsaak, daag mevrou Bosman hulle liewer uit om iets nog groter aan te pak.

Na die verhaal aanvaar is, het die uitgewer gevra of dit dalk in ’n reeks kan ontwikkel. My gesin is altyd my klankbord as ek stories skryf. Dit was toe juis met die ontwikkeling van idees vir ’n tweede en derde boek in die reeks dat Keenan aangebied het om te help.

Die tweede boek in die reeks, Die been in die bos, verskyn in Junie 2020. Hoeveel boeke is daar in die reeks? Beplan julle die reeks vooruit of ontwikkel dit meer organies?

Op hierdie stadium is daar drie boeke in die Bitterbosbende-reeks wat in 2020 verskyn. Die moontlikheid op meer boeke is nie uitgesluit nie. Ons is opgewonde om te hoor van lesers of hul meer van die Bitterbosbende wil lees.

Hoe het die skryfproses met jou seun, Keenan, as medeskrywer gewerk?

Keenan het die beplanning en idees vir die tweede boek, Die been in die bos, in ’n dokument op die rekenaar opgesom en my aangemoedig om dit net verder uit te brei. Ons het dwarsdeur die skryfproses saam beplan, en heelwat kere verskil, maar dit was ’n lekker proses. Die tweede boek speel glad nie by Laerskool Bitterbos af nie; in hierdie boek kamp die Bitterbosbende langs die rivier en raak hulle hopeloos te waaghalsig.

In die derde boek, Grafsangers, wat in September verskyn, is hulle weer terug by Laerskool Bitterbos. Die grafte en mynskag, waarheen hulle eintlik verbied is om te gaan, hou net te veel misterie in. Hulle kan maar net nie daar wegbly nie.

............ 

Titel: Bitterbosbende 2 – Die been in die bos
Deur: Anzil Kulsen
Uitgewer: Tafelberg

Die Bitterbosbende kamp langs die rivier. Toe Zia en Nieke een aand badkamer toe loop, begin ’n hond verwoed blaf. Die ligte op die kampeerterrein verdoof skielik en toe die hond op hulle afstorm, buk Nieke om na ’n stok of klip op die grond te soek.

Alles gebeur tegelyk: die blaffende hond, die trein iewers naby wat kwaai rem aanslaan en dan die geluid van ’n botsing. Net so skielik is alles stil en die hond weg. Dis eers toe Zia gil dat Nieke sien wat in haar hand is ... Die res van die bende het uit hul tente gekom en staar in afgryse na die been in haar hand.

“Dis net die oorblyfsel van een of ander diertjie. Dalk ’n springbokkie,” lag sy senuweeagtig. Sy sal tog vir meneer Louw gaan wys en vra, neem sy haar voor en los die been in hul tent. Maar elke aand pla iets haar. En so begin die soeke na die geheimsinnige stoomlokomotief wat passasiers in die sewentigerjare vervoer het, wat hier naby ontspoor het. Wat het van die slagoffers, wat kinders en ’n hond insluit, geword?

............ 

Die titel van die reeks, Bitterbosbende, verwys na die skool wat die karakters bywoon. Hoe belangrik is ruimte in hierdie reeks? Al die avonture speel glo nie by die skool af nie.

Ruimte speel ’n groot rol in elkeen van die boeke in die reeks – dit help om die nodige atmosfeer te skep. Die laerskool met sy digte bome daarnaby, die rivier en mynskag sal die leser ’n kykie in die Bitterbos-omgewing gee. Kurt, Nieke en hul vriend, Bongi, se ouers is argeoloë wat gedurig op soek is na artefakte van honderde jare gelede. Dis ook die rede hoekom hulle in die koshuis op Bitterbos is; dalk ook die rede hoekom mevrou Bosman hulle juis uitsonder om haar groot ontdekking te maak.

Speel die verwagtinge van lesers, veral in ’n kinderboek, ooit ’n rol in jou skryfwerk?

Wanneer ek skryf is dit vir my belangrik om die storie self te geniet, en soms raak ’n mens baie nou betrokke by jou karakters of verhaal. Heel dikwels ontwikkel die karakters sommer ’n wil van hul eie. Ek hou die lesers in gedagte en wanneer ek met kinders gesels, deel ek my storie-idees met hulle en toets hulle reaksie. Dis egter moeilik om vooraf te bepaal hoe lesers op ’n storie gaan reageer. As skrywer kan mens net hoop hulle geniet dit ook soos jy tydens die skryfproses.

Wat is die moeilikste soort boek om te skryf: ’n kinderverhaal of ’n tienerboek?

Ek skryf vir kinders, jong volwassenes en die volwasse leser. Om vir jonger kinders te skryf, is beslis ’n groter uitdaging. Met ’n volwasse roman het jy ’n groter aantal woorde om jou idee oor te dra. Kinderboeke moet die leser boei en teen ’n sekere spoed beweeg, en hoewel dit fiksie is en jy met die verbeelding van die leser werk, is daar steeds hope feite waarvan jy seker moet maak. En dit alles met minder woorde. Ek dink elke storie wat ek skryf, het sy eie stel uitdagings. Ek het al baie lank met een kortverhaal gestoei.

Wat is jou wenke vir voornemende jeugverhaalskrywers?

Elke idee wat nie ontwikkel word nie, is ’n slegte idee. Jy sal nooit weet of jou storie kan werk as jy nie aan jou idee werk nie. Dit begin met een enkele sinnetjie. Een woord op ’n slag. En dan as jou storie klaar is, en jy oor en oor daaraan geskaaf het tot jy tevrede is, soek jy ’n uitgewer wat saam met jou in die storie glo. As so ’n uitgewer dan nog veranderinge voorstel, spring jy weer aan die werk. Jy skryf en skaaf en skuur tot jou storie die lig sien. Dis nooit maklik nie, maar dis die heerlikste gevoel om daai boek, wat eens net ’n idee was, in jou hande vas te hou.

Keenan

Wat was vir jou die aanmoediging om te begin skryf? Wou jy altyd ’n skrywer wees?

Ek dink nie ek wou nog altyd skryf nie. Dis net soms vir my lekker om op my eie verbeeldingstog te gaan as ek skryf. Ek het al vandat ek klein was, verhale op my ma se rekenaar getik. Sommige van hulle het ek selfs geïllustreer ook, maar ons het nooit regtig iets daarmee gedoen nie. Ek skryf ook my eie Engelse inspirerende aanhalings wat ek op spesiale dae aan vriende en familie stuur.

Hoe het die skryfproses gewerk met jou moeder?

Ek het met al die belangrikste idees vorendag gekom, en my ma moes al my idees inkleur en sorg dat die storie die regte getal woorde bereik. My ma tik ook baie vinniger as ek, dit het net beter gewerk dat sy die groot werk doen. Soms moes ek met haar verskil, omdat ek kon sien ’n idee gaan nie werk nie. Ons het lekker verskil ook, en moes dele oorskryf, maar op die ou einde het dit darem uitgewerk.

Wat is jou wenke vir voornemende skrywers?

As kinders ook hou van skryf, sou ek hulle aanmoedig om net solank te begin. Ek dink ons kan ons eie stories beter vertel as grootmense, haha. Hulle moet ook lees wat ander skrywers doen – lees help om mens se verbeelding aan die gang te hou.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top