Nuwe Stories 2013-kortverhaalwedstryd: Eerste weergawe van "Behoede my"

  • 0

Die eerste weergawe van Human & Rousseau en LitNet se Nuwe Stories 2013-kortverhaalwedstryd word anoniem geplaas.

 


 

Behoede my

Die skool het verdaag en ek staan en weifel voor die dokter se spreekkamer. op pad huis toe. Te erg is te erg. Ons is nou maar skaars vir ses maande op reis en egskeiding kom vinniger nader as ons eerste huweliksherdenking. Dit gaan nie help om doekies om te draai nie – elke 28 dae is ons lewens in gevaar. Ek stoot teensinnig die spreekkamer se deur oop en beduie woordeloos vir die ontvangsdame ek wil môre die man kom sien. Danielle sal tog verstaan? Ek tel in my kop die dae op die kalender af en byt bekommerd op my lip. O vrek, die rooi ligte het al gister begin flikker, maar slegte tydsberekening of nie, vlees en bloed kan net soveel verduur.

Die saak staan so: ek en Danielle het besluit om ons splinternuwe vrou-x2-huwelik te vier met ’n lang wittebrood in Asië, met trots geborg deur die Suid-Koreaanse regering se sappige Engels-onderwyser-pakket. Gratis behuising, vliegkaartjies, medies, pensioen en ’n stewige salaris. Ons kan albei die Rooitaal gooi en hou (in teorie) van kinders. Een streng voorwaarde: niémand mag uitvind die juffers is eintlik mevrou nie.  Asië dink skeef is ’n Westerse siekte en moffies hoort slegs in anderland. Om stert tussen die bene (of juis nié) inderhaas landuit te vlug, is nie ons idee van romanse nie.

Einde laas jaar het ons die ruim studentewoonstel in Hatfield opgepak, aweregs bruilof gehou en skaars gesê: “Belowe? Belowe!” of die vliegtuig styg op. Die verpligte tien-dag-oriëntering was lukraak, die Konglish bitter verwarrend, en pleks van vry op ’n goue strand sit en werk ons ander soort lesplanne uit. Witrys, rysbrood, ryskoekies, rys-skyfies, gedroogde rys, gepofte rys, rys-lekkers, ryswyn, ryspap en rysmeel. Ja-nee, ons is op reis.

Ses jillende skrefiesoogkinders keer my voor in die skamele tien treë van my skool na ons 30-verdieping woonstelgebou. “Oh, Teecha!” gil hulle ekstaties asof ek ’n bekende filmster is. “Home? You? Where? Oh, Teecha!” Hulle is verstom dat die buitelander op straat mag rondloop. Ek is baie lus om à la Garbo te pruil: “I want to be left alone,” maar ek groet halfhartig terug en vlug by die deur in, dis elke dag se storie dié.

Hygend klim ek ses stelle steil trappe op. Magtag, dink ek knorrig, dink die spul dan ek slaap saans in die skool se besemkas? Alhoewel dit streng gesproke nogal na aan die waarheid is. Die gratis “behuising” wat die skole per kontrak verskaf is só klein, mens kan soggens bly lê en vir jouself ontbyt in die bed bring. Een muur is die slaapkamer, twee plate en ’n skotteltjie herinner vaagweg aan ’n kombuis, teen een muur staan die kas en jy kan óf piepie óf stort. Ek en Danielle woon albei skelmpies in mý knap vierkante meter en die enkelbedjie pla nog nie. Pasgetroud. Verbeel ons dis ’n hotelkamer.

Ons woon reg bo ’n taekwondo-studio, direk onder ’n musiekskool, oorkant die dokter, apteek en slaghuis, en daar′s ’n supermark en hardebaardkroeg op die grondvloer. Die bure vry of baklei sonder ophou en ons hoor daagliks hoe hulle kos en/of liefde maak. Karma het onthou toe ek destyds ons buurvrou se keffers verkla het, en boontjie kry haar loontjie in stereo.

Ek is eindelik by ons voordeur en tik uitasem die deurkode in. Danielle sal net rede móét verstaan, dink ek weer en wag vir haar om hui- . . . kamer toe te kom. “’Skuus, bietjie laat,” sms sy en ek wip van die skrik vir die foon se piep. “Jihi is lastig.” Genade, kan jy bedaar? dink ek vies vir myself. Jy gaan haal verniet die haelgeweer agter die kas, jy weet nog nie hoe die wind waai nie. Ek gaan maak solank tee en sien my hande bewe effens.

Dié Jihi is Danielle se hulponderwyser: elke buitelander kry een Koreaanse kollega wat dien as hoeder, moeder en tolk. Hulle onhandige, geradbraakte “sorg” dryf ons teen die mure uit, en ons is boonop doodbang hulle vind uit van die ware lê van sake. Maar tot dusver vermoed niemand enige dubbelspel nie. Ons lyk vir hulle nés sussies met enerse lang, donker hare. Dis te skattig hoe ons handjies vashou in die strate, seker doodbang ons verdwaal. Sussies nee, sústers wel.

Danielle is lank en skraal en die Koreaanse mans dink sy’s vreeslik mooi, net jammer sy troon kop en skouers bo hulle uit. “Man say you beautiful, too high to kiss,” verduidelik Jihi laggend. Ek is jaloers op Danielle se ongewensde-attensies afskrikmiddel: ek is kort, welbedeeld en my “eksotiese” blou oë en kuiltjies laat die spul omtrent skuim om die mond. Soos ’n publisiteitsku bekende kruip ek pal weg agter ’n groot donkerbril en het nuutgevonde simpatie met ware celebs wat skroei in die kollig.

Ons vind gou uit daar is ’n magdom Russiese prostitute wat vir hulself ’n warmer kooi in welvarende Korea kom loswoel, en ek lyk op ’n haar na (ai!) soos dié hoertjies. Die k’s en g’s van Afrikaans klink boonop Oos-Europees genoeg vir elke katoolse Korjaan om die verkeerde gulp by die broeksgat te bring. Ek word byna weekliks geproposisioneer, selfs wanneer ek netjies aangetrek my gang ongesiens probeer gaan op onskuldige plekke soos die kruidenierswinkel, helder oordag.

“How muchee?” Vonkel in die oog, bonkel in die broek.

My nekhare rys van ergernis en ek probeer myself oppof soos ’n blasende kat. Ek druk die inkopiemandjie beskermend tussen my en die suggestiewe grinnik.

“Jammer, hoor, ek vry net vir liefde . . . en boonop slegs vir die ander span. Maar het jy gesien daar’s ’n uitverkoping op blouvitrioel?” sis ek op Afrikaans. Saam met die dóódkyk kry hulle gou die idee.

Tot dusver vermy ons die handjievol buitelanders in ons industriële dorpie, want ons is bang ons geheimpie lek uit (ahem). Maar as die week se frustrasie, eensaamheid en kajuitkoors op ons senuwees werk, gaan drink ons soms ’n dop traansterk soju by die enigste half-Westerse kuierplek in die liggiebesaaide, deftige bodorp. Een so ’n Vrydag toe ons instap, staan twee dronk Koreane feitlik op aandag.

“Wonder seker wat is my uurlikse fooi,” sis ek onderlangs vir Danielle en kyk stip na die grond toe ons verbyloop. Sy glimlag paaiend vir my argwaan en verskuil my so goed sy kan teen die mans se luskyke. Ons gaan sit dóér in ’n donker hoekie, onsigbaar. Die knape verrek hulle nekke in ons rigting, probeer oënskynlik uitwerk hoeveel ’n kwartier se plesier sal kos, maar ’n gebrek aan Engels skrik hulle af. ’n Paar drankies later vra hulle ewe dapper vir die kelnerin om namens hulle by ons voorbrand te maak.

“Two man . . . think you gotta good face. They wanna . . . play with you tonight. OK? Wanna play with them?” vra sy onskuldig. Ai, lust in translation.

Toe Danielle oplaas by die voordeur opdaag, het ek my storie gereed. Dis verstommend hoe die maandelikse skeut testosteroon my dierbare, rustige vrou handomkeer kan verander in ’n prikkelbare steekvarkie met giftige penne. En ek is seker nog erger, ’n emosionele wipwaentjie waarop Dr Jislaaik en Mrs Hide my redelike denke bloots ry. Dubbel-PMS elke maand is nie vir sissies nie, nog minder in so ’n klein ruimte. Dis moeilik genoeg om kop te hou met die kultuurskok, eensaamheid en verlange sonder dat bose biologie jou verder opkeil. Erger nog, ons is siklies uit ritme: Danielle is die een helfte van die maand dik bedonnerd en ek die ánder helfte. Tussenin is daar skaars ’n dag se wapenstilstand. en ek is bang vir gesinsmoord.

Enya speel strelend in die agtergrond terwyl ek beduie dis tyd vir geboortebeperking óf sterilisasie, ek is bang vir gesinsmoord. My stem is neutraal-eweredig, – Danielle se nyd-tyd is naby en die geringste vals noot kan die hormoonbom ontketen. Ek sit vir haar ’n koppie tee neer en staan versigtig ’n paar treë terug. Kamilletee. Kalmerend.

Sy vat ’n klein slukkie en kyk vir ’n paar oomblikke deurtastend na my. Ek sluk senuweeagtig en wonder of sy die versteekte Resque-druppels in die soet tee kan proe. En hoeveel Calmettes het laas maand oorgebly? Die hemele help ons as al die kalmeerpille op is, spoedpos uit SA vat ’n volle twee weke . . .

Dan glimlag sy breed. “Dis nou ironies – óns twee op die Pil?” Sy skaterlag vrolik en ek slaak heimlik ’n sug van verligting. “Dit vat seker die koek vir die beste voorsorg op aarde!” Ironies of nie, môre gaan spreek ons die dokter.

“Ek sal saamgaan, maar jý gaan verduidelik.” Danielle pak vroegoggend vir haar ’n boek in en ons stap na die afspraak. Ek koes by voorbaat vir die gillende kinders, maar dis vroeg Saterdagoggend en die straat is nog leeg. Danielle gaan sit rustig in die wagkamertjie en die twee ontvangsdames beduie ek kan solank deurstap. Die ouerige dokter ken my so ’n bietjie. Ons was kort-kort hier met ’n verkoue toe ons pas aangekom het en immuniteit teen die nuwe kieme moes opbou. In Korea maak hulle nooit die spreekkamerdeur toe nie; ek moes laas my hoese proes met almal in die spreekkamer wat elke snak gehoorslaan.

“Hoe gaan dit vandag?” vra die dokter vriendelik.

“Nee, goed, dankie, jou konkoksies werk soortvan.”

“Gaaf, gaaf. Goed om te hoor. En hoe help ek vandag?”

Als in gebaretaal, die man sê skaars “hallo”.

Ek haal diep asem. Kom ek begin by iets wat hy hopelik ken, om hom ten minste by die regte liggaamsfunksie te bring. Die Koreaanse vrouens noem dáái tyd van die maand hulle “magic time” na aanleiding van ’n Koreaanse TV-advertensie waarin ’n bloedjong meisie ’n tampon vrolik rondswaai en jou gelukwens met jou “magic day”. Buiten dat dit voel asof ’n trop unicorns in my baarmoeder galop, voel ek nie juis maandeliks betower nie. Maar te oordeel aan die piepklein vroueprodukte vloei Oosterse vrouens so effentjies soos ’n hamster met ’n bloedneus, en is die beeldspraak verlore op Westerse uteri.

“Magic time?” vra ek hoopvol. Mag die besoek ten minste met ’n eufemisme begín. 

Hy staar na my met totale onbegrip en ek skuif ongemaklik rond op die stoeltjie. Ek noem al die sinonieme op wat hom dalk op die regte (bloed)spoor kan bring en kyk veelbetekenend af na my towergrot.

“Period?” Niks.

“Menstruation?” Aikôna.

“That time of the month?” Nada.

“Die tannie met die rooi karretjie?” Hy verstaan nie.

Ek praat stadig, spel dit uit en beduie uitdruklik na my onderlyf. Net toe my ore begin suis van verleentheid, snap hy oplaas en slaan sy handjies uitgelate saam.

“Ahhh! Mens? Mens?” roep hy. Ja, ja, hy’s by.

Reg, kom ons vat dit van daar af. Ek verduidelik hortend en stotterend die delikate probleem: Mens irregular and apa (seer). Van die sware PMS sê ek vir eers niks.

“I,” (vingertjie op die bors) “want” (bedelaarshandjies) “con-tra-cep-tive” (wie nie waag nie, sal nie wen nie).

“Condom?” vra hy verstom.

Nee, nee, geen kondoom nie. Ek trek my neus vies op en wys heftig “nee”.

“Sex?” vra hy en kug.

Ek gooi wal en beduie vinnig dis net vir regulering, want ek en Danielle tjank en moor mekaar uit en in Suid-Afrika deel hulle dit links en regs uit, sommer verniet! Selfs net as Sussie vrypuisies kry of haar hakskeentjies word rooi! Die trane sit later vlak, maar hy volg nie.

  “Baby, anio!” wys ek uitdruklik en skud my kop woes (die kjend, ek wil hom nie!)

Ek wys met een handjie: “Condom?”

Hy knik.

Ek wys met die ander handjie: “Contraceptive?”

Hy knik.

Ek skud die contraceptive-handjie stadig: dís wat ek soek.   

Eureka, daar gaan skielik ’n liggie aan. Hy knik streng en afkeurend; Korea is preuts. Dis baie duidelik dat hy dink die verlange het een aand te veel geword en daar was ’n glipsie met iemand wat wou troos en nou’s ek doodbang daar’s ’n ryskoekie in my oondjie.

“You . . . want . . . no-baby-pill?” vra hy stadig.

Jaaa, maar nie soos in morning-after nie, perd. My wange gloei en ek begin weer van voor af. “Sex, no!” (afhangende van jou definisie daarvan). “Man, no!” (dis ten minste die waarheid). “Baby, no! Mens pain, irregular. Contraceptive to regulate!”

Ek oorweeg vir ’n oomblik om summier uit die kas te klim sodat hy kan snap ek’s nie bang vir ’n bybie nie. Ek wil-wil vir Danielle uit die wagkamer gaan roep ter illustrasie, maar hoe beduie ek van ware liefde en vrye keuse? Hy gaan bloot dink albei sussies sit saam op die paal. Ek besluit liewers daarteen.

Hy probeer kliphard verstaan en ons speel ’n paar rondtes vulgêre stomstreke.

Danielle sit en skaterlag in die wagkamer, maar ek hou my stokdoof. Sy volg mý deel van die storie, en die ontvangsdames sit en vergaap hulle aan die Koreaanse weergawe wat die dokter luidkeels verskaf.

Ten einde laaste gee hy moed op en pluk sy selfoon uit. Ek probeer inderhaas keer – laas met die verkoues het hy halfpad deur die ondersoek sy twaalfjarige seun gebel en dié moes oor die foon probeer tolk. Die jonger generasie Koreane praat effe beter Engels as die ouer garde, te danke aan ingevoerde onderwysers soos ons. Tóé was dit darem onskuldige instruksies soos my pa sê drink die wit pilletjies soggens en die rooi enetjie saans.

Die dokter praat lank met die kind oor die foon. Ek sit kop onderstebo en wag terwyl hy hom vermoedelik eers inlig oor die feite van die lewe. Dan gee hy die selfoon vir my.

“Hallo, jong,” sê ek met ’n sinkende hart.

“Hello . . . Teecha?” Die stemmetjie klink bloedjonk en baie verward.

Ek gee ’n gesmoorde snik en ’n stroom opgekropte woorde bars los in die stomme kind se oor. “Man, ek héttie gekafoefel nie, ek hou nie eers van mans nie! Ek wil net ’n verdomde pilletjie hê sodat ons weer in dieselfde siklus kan kom en soms weer kan vry en dit moenie so móéilik wees nie! In South Africa it’s for free!”

Doodse stilte aan die ander kant.

“Yes, Teecha,” stamel hy dan. “OK!”

Bleddie leuenaar.

Ons stuur die foontjie koorsagtig heen en weer. Ek-kind-dokter-kind-ek-kind. 

“Father say . . . sex with man, eat pill . . . hurry, hurry! Five hours, eat pill. OK? How many you wanna?” vra hy. 

“No, no! I want many pill, not just one time!” Nie vir morning after nie, magtag! My stem is skril en ek is sopnat gesweet. “Keep-going pill, maybe three months? Six months? Every day I want to eat one pill!”  

Ek kan hóór hoe die wiskunde van ses maande se elke-dag-dinge by hom insink en hy begin dink jislaaik, buitelanders is die antwoord en ek het nooit geweet my juffrou is eintlik Russies nie.

Ek gee die foon terug vir die dokter en beduie nee wat, los maar, ek het nou só gebloos daar’s nie genoeg bloed oor vir ’n maandstonde nie. Die dokter knik en sê vir die kind baai, ek sal vanaand vir jou die res van die feite vertel, gee die foon terug vir jou ma.

Ek tel my handsak op en mik vir die deur. Oorwonne.

“I understand,” sê die dokter skielik kalmpies. “You wanna . . . contraceptive, go to gee-na-kolo-geest. I . . . just doctor, no give. OK?” 

“En nou?” vra Danielle terug in ons woonstel toe sy eindelik kan ophou lag.

Ek vee die laaste lastige trane af en sê met ’n bewende stem: “Nee, nou moet ons mekaar maar verdra tot ons saam menopouse tref. Ek gaan waaragtig nie daai storie herhaal met my bene in stiebeuels nie.”

Maar nou verstaan ek ook hoekom is daar 50 miljoen Koreane.

 


 

Lees Suzette Kotzé-Myburgh se keurverslag

Terug na die lys Nuwe Stories-kortverhale

Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet's free weekly newsletter

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top