’n Oog vir ’n oog

  • 3

Die nag is besig om te wyk. In die dounat sand kan sy die spore van die wit Toyota Corolla sien glim. Sy durf nie beweeg nie, maak nie saak hoe ongemaklik haar posisie is nie. Nie voordat sy doodseker is hulle is regtig weg nie.

Vroegmôre ruk sy wakker. Sy moes in hierdie gehurkte posisie op die stang van die ou trein aan die slaap geraak het. Die helder sonstrale verblind haar. Haar bene het pynprikkels van ure se ongemaklik sit.

Hulle moet nou al weg wees. Die mans in die Corolla wat haar en Pam agtervolg het; wat teen dié tyd heel moontlik al mince gemaak het van Pam. Hopelik het hulle háár al vergeet en koers gekry na hul huise en vrouens toe.

Sy sien nog die gretige hande van die dronk mans wat deur die oop ruite na hulle toe gryp, die uitgevrete uitdrukkings in hul oë en die vulgêre uitroepe, asof jong meisies vir hulle maar net speelgoed is. Asof meisies wat in kuierplekke rondhang, goedkoop vermaak is vir besope mans om na willekeur te gebruik.

Sy strek haar bene en arms en kom regop. Haar oë bespied die gebied en toe sy seker is sy is veilig, begin sy aanstap in die rigting van die hoofpad en dan woonbuurt toe. Hoe nader sy aan die woonbuurt kom, hoe vinniger stap sy. Met net een gedagte wat oor en oor deur haar kop maal: Here, laat Pam tog net ongedeerd wees.

Sy sien die ineengekrimpte figuur teen een van die nuwe sinkhokke wat nog aan’t bou is, nes sy al ’n ent in die woonbuurt ingeloop het. Behalwe ’n paar mans wat daar naby sit en rook, is dié deel van die buurt doodstil.

Sy stol in haar spore. Sy herken Pam slegs aan haar dik vlegsels wat woes bokant haar kop in alle rigtings hang. Haar gesig is so dik geswel soos ’n sokkerbal en haar donker vel het plek-plek donkerrooi blink vlekke. Sy sit-lê skeef teen die sinkplate, haar kniekoppe styf teenmekaar, tot teenaan haar kennebak getrek. Haar hele lyf ruk soos sy bewe.

“Pam?” Wena sluk. Die leegheid in haar ingewande dreig om deur haar keel te stoot. “Dis ekke, hoor jy my?” Here, sy wou loskom, en sy sweer sy sou wou teruggaan om Pam uit die kar te gaan ruk na hulle dit reggekry het om die skraal lyfie daar in te boender. Maar sy kón nie. Sy kon nie haarself ook aan hulle uitlewer nie.

Pam se kykers sit groot in haar oogkaste. Hulle roer skaars.

“Wena.” Haar mondhoeke trek, effens bewerig.

Dit neem ’n goeie klompie dae voor Pam weer soos Pam lyk. Dae waarin Wena haar moet versorg en vertroetel soos haar eie ma nog nooit gedoen het nie. Maar Wena doen dit. Haar eie skoolwerk ly hieronder. Maar hoe kan sy wat Wena is, saans skoolwerk doen, skool toe gaan en aangaan met haar lewe asof niks gebeur het nie? Sy en Pam het mekaar op straat leer ken. En hulle het mekaar aangeneem. Vir mekaar die ouers gewees wat hulle nie wou gehad het nie.

Die dooie uitdrukking in Pam se oë wyk nie waar sy teen die spierwit provinsiale kussings teruglê in die hoop dat haar lyf sal herstel nie.

Saterdagaand is Wena weer by die dansplek. Deur die week is daar hier en daar iemand wat sorg dat hulle iets te ete kry. Maar naweke het hulle geleer om dronk mans se sakke te ruk by die dansplek. Nooit het hulle gedink hulle sou hul rieme só styfloop nie.

Dit word hard gelag en gul gekuier. Die poeiertjies vloei bykans vinniger as die drank, maar Wena en haar sesmanskap is houtnugter. Almal seuns ouer as sy en Pam. Almal kinders wat aan hul eie genade oorgelaat is. Maar nou al hardebaarde is. Gebrei deur die lewe se stampe en stote. En nou oorgehaal en op die uitkyk vir die Corolla en sy manne.

Hulle daag nie die eerste Saterdagaand na Pam se verkragting op nie. Ook nie die tweede Saterdagaand nie. Die derde Saterdagaand begin Wena se tjomme fed-up raak van nugter bly en vat ’n paar biere. Hulle wraakgedagtes daarmee heen. Die inkommers wat Pam so opgemors het, het duidelik ander weivelde gaan soek.

“Vleis!” Wena het self nou maar hul wraakplanne vergeet. Maar sy skrik haar in ’n ander dimensie in. Die drie mans wat by die deure ingekom het en nou doodluiters by die kroeg sit om die dansende lywe uit te check, laat haar nekhare rys. Pam is byna haarself en lankal by die huis, maar toe sy hulle sien, kom elke vesel in haar in opstand.

Die ou met die ronde brilletjies herken sy as die bestuurder van die Corolla. Sy kap byna Vleis se ribbes flenters soos sy sy aandag probeer trek.

Soos blits versprei die nuus na al die kamerade van die sesmanskap. Wena moet aas wees, besluit hulle, terwyl hulle sorgvuldig seker maak hul wapens is op die regte plekke.

Wena voel bewerig toe sy en Sylvi, Pam se niggietjie, later by die klub se deur uitploeter. Sleeptong, luidrugtig en swaaiboude. Sy het nie eens in haar dronkste oomblikke so dronk gelyk nie, tik sy haarself op die skouer.

Maar buite kom sy nie agter dat hulle agtervolg word nie. Hulle hou die toneelspel vol terwyl hulle so tien of vyftien minute buite die gebou geselsies maak en op karre se musiek dans en met bekende manne flirt. Maar die mans van die wit Corolla kom net nie uit nie. So ook nie Vleis en die ander vyf nie.

Sylvi raak later moeg en naar tegelyk en wil huis toe. Wena is te teleurgesteld om haar teen te gaan. Sy kan anyway sien die meisiemens is siekerig. Dis nou van allerhande gemors drink. Sy haak by haar in en hulle begin deur die donker stegie aanstap, dan koers kry deur die oop stukkie veld, verby die verlate treinstasie, woonbuurt toe.

Wena slaap ’n dooie hou toe sy laat in die nanag op haar kooi wakker geruk word. Voel of haar hart haar hele lyf vol klop. Vinnig en hard.

“Kom kyk.” Alwyn kan homself skaars beteuel.

“Sjuut, jy sal Pam wakker raas,” fluister sy.

Wena gryp haar sweetpaktop en hol kaalvoet agter hom na buite. Na waar lanterns en karre se ligte die oop stukkie veld naby die stasie verlig. Dit lyk of die hele woonbuurt hier saamdrom.

Alwyn beur deur die skreeuende skare en klou Wena se hand vas selfs toe hulle deur almal gebeur het om die gedruis in die middel van die skare te aanskou.

Wena gryp met haar los hand na haar mond toe sy die prentjie voor haar aanskou. Knyp dan haar oë toe. Sluk aan die knop in haar keel. Probeer haar gevoelens beheer. En moet saam met die skare padgee toe ’n klip na hulle kant toe spat. Want daar in die middel van die verwoede skare lê die drie mans van die wit Corolla vasgebind. En rondom hulle is ’n gemeenskap besig om maande en jare se misdaad teen hul jong meisies te wreek. Die een klip na die ander. Soos in die Bybelse tyd. Toe die polisie, nes beskermende ouers, nêrens gefeature het nie, word die drie mans met yslike klippe gegooi … gestenig en gepynig met elke gooi. Sodat hulle die pyn van Pam en almal soos sy kan voel. Sodat almal wat dalk nog wil, twee keer sal dink.

Wena draai haar rug, loop blindelings die nag in, en ritmies hoor sy die woedende gooi van klippe en nog klippe … in haar hart bid sy vir die drie lewelose figure wat tussen die stof en bosse agterbly. En vir Pam.

  • 3

Kommentaar

  • Aletta Beukes

    Die baie seer, maar dis waarmee ons daagliks konfronteer word. Die boosheid is oral. Wel gedaan aan die skryfster.

  • Wilhelm Fourie

    Hierdie stuk is so ontsaglik relevant! 'n Mens vergeet dat dit fiksie is: die krag van goeie skryfwerk.

  • Mêrie Scheepers

    Sterk gestel. Gevoelvol en op die man af. Die waarheid sonder tierlantyntjies. Dalk maak meer sulke skrywes die regte mense wakker.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top