Mark Behr: Die Judas, sy dertig silwerstukke en die Goldies-verraad

  • 0

Ek moet erken: Hierdie stuk het ek begin, neergesit, weggeskuif en na veel gewik en geweeg weer nadergetrek. Ek wou nie skryf oor Mark Behr nie. Hy behoort aan ’n gedeelte van my lewe wat ek liefs wil vergeet; of eerder, hy verpersoonlik die tipe mens wat ek liefs nie in my lewe wil hê nie.

Ek het al vergeet van hom toe ek die eerste berigte oor sy sterfte sien. In elk geval, mens praat mos nie sleg van die dooies nie. Asof die dood outomaties al die skade uitwis wat aangerig is. Ek het selfs nie enigeen laat weet hy’s dood nie. Hoekom moes ek? Die nuus het my nie geraak een of ander kant toe nie; ek was nie bly of jammer dat hy dood is nie.

Wat my egter genoop het om wel te begin skryf, was die talle kommentators wat hom verromantiseer as hierdie tragiese held. Hy is dit nie.

Hy’s ’n verraaier en ’n opportunis. Hy’s ’n lafaard wat vele lewens vernietig het, en agterna geskuil het agter onsekerheid oor sy seksualiteit om dit te probeer verduidelik.

In 1989, in my tweede jaar as Matie, was ek op die huiskomitee van Goldfields, destyds die enigste koshuis wat bruin, swart en Indiërstudente akkommodeer het. Ons was ook uniek in die sin dat ons die enigste koshuis op kampus was wat beide manlike en vroulike studente gehuisves het.

Dit was die jaar toe ons protes aangeteken het teen die feit dat koshuise op grond van ras gesegregeer is. BSOS, NUSAS en ons by Goldfields het saam beplan en geskaaf. Die meeste van die vergaderings het by Goldfields plaasgevind, in ons eetsaal.

Mark Behr was getrou by elke vergadering, vol entoesiasme en planne, almal se maat, kameraad en vertroueling.

Die dag van die protes het ons op die Rooi Plein bymekaargekom en dadelik opgelet dat daar ’n paar ouer, aggressiewe wit mans staan en toekyk het. Hulle was duidelik nie deel van die universiteit nie. Ons het afgelei dat hulle deel van die veiligheidspolisie moet wees.

Terwyl ’n groep studente, duidelik voorbereid en georganiseerd, ons bestook het met allerhande goed en die sprekers doodgeskree het, het ons op die trappies van die Rooi Plein gesit en probeer onthou dat ons protes vreedsaam was. Altans, ek het aanvaar dis studente. Ek het eers later jare besef dit kon net sowel ’n groepie wees wat deur die veiligheidspolisie georganiseer is. Ek erken ruiterlik – ek was vrekbang. Nie vir tronk toe gaan nie; daai vrees het eers later gekom. Ek was bang dat daai groep hatige jong mans gewelddadig sou word. Dit was die begin van sekerlik die stresvolste paar weke van my lewe – en ek was glad nie sentraal aan die drama nie.

Theo Adams, primarius van Goldfields, Johan de Jongh, voorsitter van BSOS, en Leslie Durr van NUSAS is middernagtelik voor ’n dissiplinêre komitee bestaande uit die dekaans van die meeste fakulteite gedaag. Leslie is geskors. Theo en Johan is onskuldig bevind. Dit was duidelik dat die universiteitsadministrasie goed geweet het wat op die vergaderings bespreek is. Ons het geweet daar moet iewers ’n impimpi wees; dit was die enigste logiese verduideliking.

Nie een van ons het Mark Behr verdink nie.

My ma het kort daarna ’n brief ontvang waarin sy gewaarsku is dat ek geskors sou word weens my politieke aktivisme, tesame met die mededeling dat die veiligheidspolisie hulle oog op my het. Ek het later uitgevind al die Goldfields HK-lede, asook sommige lede van NUSAS en BSOS se ouers het soortgelyke briewe ontvang. Vir ’n rukkie het dit gevoel asof die dosente in my klasse my fyner dophou as gewoonlik. Terselfdertyd het ons ook agtergekom dat die koshuis dopgehou word. Elke dag het ’n man met ’n kamera foto's geneem van almal wat in- en uitgaan. Hy’t homself nie eens probeer wegsteek nie. Dit was die senutergendste ervaring van my lewe. Ek kan onthou hoe huiwerig ons was om alleen terug te stap koshuis toe – dit was immers die tyd toe aktiviste spoorloos verdwyn het, in polisie-aanhouding hulleself doodgeval het op stukkies seep, deur geslote vensters probeer spring het in selfmoordpogings.

Op kampus het ’n bakkie eendag op die sypaadjie geklim om my te probeer omry. Gelukkig het ’n student wat agter my gestaan het, besef wat gebeur en my uit die pad gepluk, anders sou ek waarskynlik net nog ’n tragiese statistiek van ’n tref-en-trapongeluk gewees het. ’n Ander Goldie was op ’n roltrap in die Eikestad Mall toe ’n wit student haar afpluk met die woorde: ”’n Hotnot staan nie voor my nie.”

By my volgende beursvergadering is daar pertinente vrae oor my politieke bedrywighede gevra. Daar was geen probleem met my klaspunte nie, en ek kon nie verstaan hoedat hulle in die eerste plek sou weet van die protes nie. Ek was gelukkig – die persoon wat die onderhoud met my gevoer het, het ons heimlik ondersteun. Dit kon egter so maklik anders gewees het, en dan sou ek my beurs en my kans om te studeer kwyt wees. Die enigste verklaring, weer eens, is dat iemand my beurshouer in kennis gestel het.

Nie een van ons het met onbeperkte geld tot ons beskikking studeer nie. ’n Beurshouer wat finansiële steun onttrek, sou rampspoedig wees vir ons toekoms.

Mark Behr het nie een van daardie dinge gedoen nie, maar sy verraad het die deur oopgemaak vir ander om ons te kon teiken.

Ons het hom nooit verdink nie.

Dis wat sy verraad so erg maak. Ons het hom vertrou, en intussen het ons mekaar met agterdog bejeën. Skielik het ons twee keer gedink voordat ons iets vir mekaar sê, want ons het nie geweet wie die impimpi is nie.

Dit was ’n verligting toe ek jare later in die koerant lees dat Mark Behr die verraaier was. Dit was nie een van ons nie. Ek dink ek sou nog kon saamlewe daarmee as hy ideologie aangevoer het as die rede vir sy verraad – maar geld? Vele lewens in die gedrang gebring vir dertig silwerstukke?

Daar word groot gewag gemaak van die feit dat hy verskoning gevra het vir almal wat hy te na gekom het. Tot vandag toe het nie een enkele Goldies HK-lid ’n verskoning ontvang nie. Hy’t nie enige pogings aangewend om enigeen van ons te kontak nie. So, vergewe my as ek sinies is oor sy hartsverandering.

Hy’t voor die Waarheids-en Versoeningskommissie getuig omdat hy kwytgeskeld sou word van vervolging. Hy’t in die openbaar erken dat hy ’n spioen was toe dit blyk die waarheid gaan in elk geval uitkom. Die ekstra publisiteit kon nie skade doen met ’n boek in die werke nie. In elk geval, na al die leuens, hoe kon ons enigiets glo wat uit sy mond kom? Hy’t met groot oortuiging vir ons gelieg toe hy vir die veligheispolisie spioeneer het. Hy’t skynbaar met ewe groot oortuiging vir hulle gelieg toe hy vir die ANC begin spioeneer het.

Verraad is nooit net een enkele handeling nie. Dis die opbou van ’n klomp dade, want voordat jy iemand se vertroue kan verbreek, moet jy dit eers wen. Vir dié wat agtergelaat word om die skerwe op te tel, is daar ’n klomp vrae, want skielik weet jy nie meer of enige interaksie eg was, en of alles ’n fyn berekende manipulasie was nie. Elke glimlag, elke gesprek, elke grap is nou verdag, want daar is altyd die wete in jou agterkop dat jou gesprekke nooit privaat was nie, dat jy die heeltyd gemanipuleer is. Vir dertig silwerstukke. En omdat hy glo nie vrede gemaak het met sy seksualiteit nie.

Hier moet ek ’n oomblik stilstaan. Een van my beste vriende tot vandag toe het op universiteit aan my bely hy’s gay. Hy was ’n offisier in die vloot, primarius van sy koshuis, kaptein van die eerste rugbyspan. Gay. Hy’t nooit enigeen verraai in die tyd toe hy sy seksualiteit prbeer uitwerk het nie. Hy’t sy lewe met integriteit gelei, selfs al het dit by tye beteken hy het sy kop uitgesteek. Hoeveel ander Afrikaanses, en Afrikaners, het met hulle seksualiteit geworstel sonder om enigeen te verraai?

Nie een enkele Goldie met wie ek gepraat het, het Mark se boeke gelees of belang gestel in sy skryfloopbaan nie. Daar word groot gewag gemaak van die geweldige skryftalent wat nou verlore gegaan het. Is talent egter ’n groter oorweging as menslikheid? Hitler het geverf. Beteken dit Jode moet nou maar sy vernietigende boosheid vergeet en sy talent geniet – daar het mos darem immers jare verloop, water onder die brug en so aan? Bill Cosby is een van die suksesvolste komediante van ons tyd. Beteken dit sy slagoffers moet sy talent onthou en sy wandade vergeet? Michael Jackson was waarskynlik die grootste pop-ikoon ooit. Sekerlik kan sy kinderslagoffers verstaan dat sy talent sy dade verskoon?

Is daar nie juis ’n groter verantwoordelikheid op kunstenaars en talentvolles om met integriteit op te tree nie? Kom menslikheid nie juis voor talent nie?

Is daar plek vir vergifnis? Natuurlik, maar hoe doen mens dit as die oortreder nooit sy aandeel in die skade wat jy berokken is, erken het nie?

Hoe herstel woorde in elk geval die vertrouensbreuk as dit nie met opregte dade van berou gepaard gaan nie? Maak dit nie die woorde waardeloos nie? En ten spyte van al die mooi woorde wat Mark oor die jare geuiter het, het ek nie veel dade gesien nie.

Sondagmiddag het my woonstelmaat van universiteitsdae my gekontak. Sy was destyds betrokke by NUSAS. Dis die eerste keer dat ons oor Mark gepraat het, en sy noem toe dat hy haar gebel het om verskoning te vra.

Haar reaksie?

Whatever.

Whatever, inderdaad.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top