LitNet Akademies-resensie-essay: Die heelal op my tong deur Anoeschka von Meck

  • 0

Titel: Die heelal op my tong
Outeur: Anoeschka von Meck
Uitgewer: Penguin Random House South Africa
ISBN: 9 781485 904106

 

1. Inleiding

Anoeschka von Meck, skrywer van onder meer die blitsverkoper, Vaselinetjie (2004) se opspraakwekkende nuwe roman wemel van atipiese liggame. Lyflikheid word voorop gestel en kom tot volle uiting in die protagonis, Wille Willemien se stryd teen die skaal. Alhoewel Von Meck ontken dat haar jongste roman outobiografies is, is die boek "’n saluut" aan haar biologiese pa, Vloog Theron, ’n berugte dollarboer. ’n Foto in die kolofon toon Theron as jong huursoldaat en aide-de-camp vir Moïse Tshombe van die Kongo in 1962. In ’n Graffiti-aanlyn kuier (2020) noem die skrywer dat sy daarvan hou as die leser wonder oor wat outobiografies is en wat nié – woorde wat sy dan ook eggo in ’n artikel in Huisgenoot (Van Zyl: 2020). Dis waarskynlik veilig om na Die heelal op my tong te verwys as outobiografiese illusie.

Von Meck het as uitvloeisel vir haar PhD in skeppende skryfkuns ook ’n proefskrif, getitel "Vet in fiksie. ’n Foucauldiaanse kritiese diskoersanalise van die liggaamsbeskouing in uitgesoekte hedendaagse Noord-Amerikaanse vetfiksie" voltooi. Dit spreek die groot leemte rondom vetstudie en eetverseurings binne die Afrikaanse letterkunde aan. Naas ’n blog deur Taljard (2018), wat handel oor die digter, Aniel Botha se bundel Pirouette (2012) en die uitbeelding van balletdanseresse se anoreksie, is hierdie onderwerp nog ’n braakveld. In ’n ánder blog wys Bennett op die verband tussen eetversteurings en die Instagram-kultuur (2019). Karakters met eetversteurings figureer onder meer in Barrie Hough se jeugfiksie, Vlerkdans (2014) en die drama, Die pad byster (2014) deur Nicola Hanekom. Binne die romankuns is daar ’n vetsugtige karakter in Eben Venter se Horrelpoot (2006), maar dit is geïsoleerde gevalle en die oes is maar skraal as dit kom by vetsugtige protagoniste en vetfiksie in Afrikaans.

Die heelal op my tong word gefiksionaliseer as ’n strokiesprent en van die karakters het sprokiesprentname, byvoorbeeld die protagonis, Wille Willemien is ontleen aan dié gelyknamige en gewilde strokiesprent wat in die tagtigerjare in Rapport Tydskrif verskyn het. Die skrywer hou die spel tussen werklikheid, fiksie en fantasie vol van begin tot end. Die skrywer waarsku in haar skadeloosstelling voorin: "Hierdie verhaal is bisaro-fiksie. Glo dit op eie risiko." Bisaro-fiksie, ook bekend as Bizarro-fiksie, is ’n hedendaagse literêre genre wat gekenmerk word deur elemente van die absurde, satire, die groteske en pop-surrealisme om ’n aweregse, vreemde ("weird") en hoogs vermaaklike werk te skep. Die toetssteen van bisaro-fiksie lê in sy vreemdheid ("weirdness").

 

2. Oorskouend: die verhaal

Daar het selde so ’n driedimensionele, volronde karakter en vetsugtige protagonis in Afrikaanse fiksie verskyn as Wille Willemien, die spil waarom die narratief draai.

.........

Daar het selde so ’n driedimensionele, volronde karakter en vetsugtige protagonis in Afrikaanse fiksie verskyn as Wille Willemien, die spil waarom die narratief draai.

...........

Willemien en haar suster, Precious Cargo, onderneem ’n reis na die Richtersveld om hulle oorlede pa se kluis vol geheime met ’n winkeltrollie van ’n krans af te stoot. Die verhaalgegewens word geaktiveer deur Willemien se notaboeke en ou foto’s en sy begin spontaan te bieg oor haar onkonvensionele lewe tot dusver; oor haar disfunksionele kinderjare. Haar preokkupasie met kos, restaurante, eet as troosrituele en selfs hongerly in haar ouerhuis word sedert haar laerskooljare belig. Willemien vertel aan haar veel jonger suster van die verskillende skole waarin sy was en van haar pa se skaduagtige besigheidstransaksies. Haar ma het aan "slaapsiekte" gely (dis onduidelik of dit narkolepsie of depressie was), en verder het sy chronies dieet – en oorlog teen kaas verklaar. Alhoewel die moeder mooi en slank gebou was, is daar tog ’n onderliggende suggestie van anoreksie. Want Willemien se pa het geen imperfeksie by sy vrou of dogters geduld nie. Die ouers was banger vir vet as vir ’n grondeis. Dit is ironies dat Willemien se pa, wat polio gehad het as kind, misvormde voete gehad en by tye van ’n rolstoel gebruik moes maak en sy eie gestremdheid op sy gesin geprojekteer het. 

Willemien was nog op laerskool toe haar pa geëmigreer het na Amerika. Sy het saans haar tas gepak en op die trappe vir hom gewag om terug te kom. In haar standerdsesjaar is sy gemolesteer deur die skoolhoof by ’n nuwe, plattelandse Afrikaanse skool. Sy moes tydens "privaatinspeksies" in sy kantoor van al haar skoolklere ontslae raak. Willemien word aanvaar deur ’n groep meisies wat aan bulimie ly en "skytpille" drink, (178) en ontvang komplimente omdat sy so mooi gebou is. Maar in haar sestiende jaar verhuis sy Amerika toe, omdat die skool kwansuis nie langer ’n leerder met so ’n erge eetsteurnis kon akkommodeer nie. (Die waarheid is dat die skoolhoof bang was dat sy "privaatinspeksies" op die lappe sou kom.)

Willemien se herontmoeting met haar pa (en sy nuwe vrou) is alles behalwe idillies. Hy is ’n aggressiewe vreemdeling; glad nie die man wat sy onthou nie. Sy hou vir drie maande op met eet en beland in die hospitaal. "Voer haar net bietjie binneaars. Dis beter as dat sy vet raak." (182) Dít is Willemien se pa se woorde aan die dokter, en mens kan nie help om te wonder oor die subtiele mishandeling; die onverskillige aanmoediging tot anoreksie nie. Dit is ook skokkend wanneer haar pa haar van haar fiets af stamp met sy stasiewa en dit duidelik maak dat daar nie plek vir sy dogter uit Afrika in sy nuwe lewe en huwelik in die VSA is nie. Willemien hou op eet en praat. Terug in die rehabilitasiesentrum walg sy in die anoreksielyers en besef sy wil nog lag, liefhê en vrywees – en sy word ontslaan: "Ek is ’n fake versteurde" (192).

Die volgende hoofstuk in Willemien se ontstuimige jong lewe breek aan wanneer die 38-jarige Willis Howelis, ’n kennis van haar pa, haar nooi om by hom te kom bly. Hy reageer nie op haar openlike attensies om hom te verlei nie, behalwe om te swig en haar oor kersfees te soen. Die enigste vrou(e) wat dié eksentrieke alleenloper liefhet, is sy vintage-motors. Nadat Willis hulle saamwoonverbintenis beëindig het, is Willemien verpletter en begin sy te eet – en tel 38 kg op (Willis is, interessant genoeg, 38 jaar oud).

Willemien maak kennis met ecstasy ("Stacy") en woon tydelik by haar Amerikaanse ouma in Palm Springs, ’n paar blokke van haar pa af. En steeds is niks wat Willemien doen, goed genoeg vir haar kritiese vader, wat intussen ’n welaf man geword het nie. Hy maak vriende met die FBI-agente en regeringsamptenare wat op sy spoor is, maar in stede van arrestasies, trakteer hy hulle rojaal. Willemien voltooi haar skoolloopbaan aan ’n Amerikaanse hoërskool en trek San Francisco toe, waar sy aansluit by ’n skoonmaakdiens om te werk as skoonmaker en inskryf vir ’n graad by die plaaslike universiteit. Sy bly egter konstant honger en bly smag na ecstasy.

Wat my na San Francisco toe getrek het, was die aardige studierigtings en omdat dit naby Berkeley is – bekend vir sy dwelmvriendelike kultuur van die sestigs en sewentigs, ’n besonderse tyd in die Amerikaanse psige se soeke na iets méér. My doelwitte is deeglik uitgewerk: Neem soveel chemikalieë of plante moontlik in om my pineale klier oop te skiet: kom onder Pa se beheer uit: maak kontak met die ware SkepperGod (238).

Sy knoop ’n verhouding aan met Kandy, ’n Hindoe en welvarende sakeman wat sy tydens haar een-en-twintigste verjaardag in ’n jacuzzi ontmoet. In ’n tuimeltrein van gebeure, soos ’n bonatuurlike gebeurtenis (sy het Liberace se astrale gedaante in die pad gewaar nadat hy gesterf het), en ’n vernietigende dwelmdieet in Sri Lanka, ontspoor Willemien heeltemal. Die beskrywings van die psigose wat die amfetamiene, wat haar moes help om gewig te verloor voor sy en Kandy trou, is skokkend en surreëel, en die roekelose spel tussen werklikheid, waan en fiksie word meesterlik gedryf as ’n leemte in die protagonis wat nooit gevul kan word nie. Die dwelmmisbruik herinner aan Willemien se verorberingsrituele, maar ook aan ’n stigmata, soos later in dié essay belig sal word. Die dwelmdieet is ’n contradictio in terminis – om ’n lewensgevaarlike en onwettige roete van selfopgelegde lyding te volg om te verslank ten einde mooi en sosiaal aanvaarbaar te wees. Die roman is gelaag in ’n legio subtekste, waarvan een Willemien se soeke na God is.

Clifford O’Kill, een van Willemien se pa se meelopers, het haar in Sri Lanka gaan haal en haar veilig in die sorg van Ouma Okahandja besorg. Dit is dan die einste Clifford met wie Willemien later trou. "My eie-eie onrondfokbare Tintin" (305). (Dié strokiesprent was op ’n stadium in Afrikaans bekend as Die avonture van Kuifie.) Willemien het in Clifford dieselfde eienskappe as in haar pa raakgesien – ’n onblusbare lewensvreugde, vreesloosheid en robuustheid. Clifford was as seun in ’n motorfietsongeluk waartydens sy liggaam in twee geruk is. Nadat die medici hom vir dood gelaat het, het hy wonderbaarlik oorleef en ná ’n jaar sy bewussyn herwin. Maar die huweliksgeluk was van korte duur: Clifford raak verslaaf aan dwelms, en Willemien en haar skoonma Rosemary se stryd om aanhoudend die terugkoopgeld op Willemien se Mini Cooper te betaal, het begin. Intussen begin Willemien te werk as joernalis by ’n plaaslike dagblad, maar haar lewe word oorheers deur Clifford se dwelmverslawing en om hom los te koop uit smokkelhuise en die mag van dwelmbendes. Eers heelwat later verneem Willemien van Clifford se ontrou en sy probeer hom omry met haar Mini – nét soos haar pa haar destyds van haar fiets afgestamp het met sy stasiewa. Na twee geheimsinnige huurmoorde verdwyn Clifford oorsee, waar hy op 45 sterf aan ’n hartaanval. Parallel met hierdie gebeure verarm Willemien se pa, voor sy gesondheid vermoedelik ná ’n hartaanval of beroerte in duie stort. Dit is eers met die afstoot van hul pa se swaar kluis, sy sneeujas en Clifford se stafie as teen ’n krans, wat Willemien vrede vind.

Tydens ’n onderhoud noem Von Meck dat sy spiraalromans skryf – en nie romans met ’n chronologiese verloop nie. Hierdie vereenvoudigde sinopsis van die verhaalgebeure verloop nie noodwendig liniêr nie en het slegs ten doel om as raamwerk vir enkele teoretiese perspektiewe te dien.

 

3. Die meerduidige titel

Die titel, Die heelal op my tong, is hiperbolies en meervlakkig in betekenis. "Dood en lewe is in die mag van die tong: en elkeen wat dit graag gebruik, sal die vrug daarvan eet." – Spreuke 18:21. Die Bybelteks verskyn as inleidende motto voor in die boek. Asook: "Woorde het krag. Dit kan jou bind of vryspreek" (360).

Ek smeer Vicks aan my lippe, want ek het myself droog gepraat. Áls! Dit is asof alles wat ek in my kinderjare opgegaar het toe ek by tye ophou praat het teen my stembande ophyser om by my mond vry die ruimte in te klank (360).

En ook: "Die heelal is op jou tong" (382). Dít is die woorde wat die onbekende pelgrim onthou voordat hy by die Tabernakel ingaan; woorde wat ’n serene skaapwagter lank gelede vir hom gesê het, maar hy het nooit die betekenis daarvan gesnap nie.

Een moontlike betekenis van die titel is die metafisiese krag en lading van taal. Willemien het haarself "dun" gepraat en, in tandem met die swaar kluis, ook die metaforiese gewig van soveel jare se onuitgesproke woorde van haar afgegooi. Sy is nou lig. Sy het die hele reis na die Richtersveld teenoor haar suster, Precious Cargo, gebieg.

’n Tweede moontlike betekenis is die hiperboliese assosiasie met eet, eetversteurings en verorberingsrituele, wat op groteske wyse voltrek word.

Foto van Anoeschka von Meck: https://www.litnet.co.za/anoeschka-von-meck-1967/

 

4. Vetstudie

Volgens Von Meck (2018:iv) is vetstudie ’n interdissiplinêre navorsingsveld wat ’n afgebakende aspek van vetsug en obesiteit ondersoek. Die fokuspunt is die liggaamsbeskouing (body image), ’n begrip wat vetsug stigmatiseer as die abnormale, die onbeheerste en die walglikheid van ’n liggaam en aptyt sonder perke. Vetfiksie handel oor ’n korpus fiksie (in verskillende genres) wat oor oorgewig protagoniste gaan. Alhoewel daar verskillende denkrigtings rondom vetstudie bestaan, byvoorbeeld vetfeminisme, of Foucault se siening van die menslike liggaam binne magsverhoudinge, die kruks van die saak is: om oorgewig te wees, is sosiaal onaanvaarbaar. Die oorgewig liggaam is die multi-gestigmatiseerde draer van kultuurkodes wat met negatiewe persoonseienskappe soos disfunksionaliteit, depressie, onnoselheid, luiheid, lae status, gebrekkige selfsorg en dies meer geassosieer word. Atipiese liggame (deviant bodies), wat oorgewig liggame insluit, voldoen nie aan die sosiale verwagtinge van die ideale liggaam nie. Vetfeminisme, op sy beurt, is dié deel van feminisme wat gemoeid is met die aspekte wat ’n rol speel in hoe oorgewig vroue in die samelewing beskou en gekritiseer word, omdat hulle nie aan die voorgeskrewe standaarde van normaliteit en skoonheid voldoen nie (Von Meck 2018:7).

In Kristeva se Powers of Horror intensifiseer sy die siening van obesiteit as "veragtelik". Só gestigmatiseerde identiteit posisioneer die vetsugtige outomaties as die Ander teenoor die dominante kulturele en sosiale meesterkodes, die Self.

Valentine (2020:18) haal die filosoof en feminis Sandra Bartky aan:

Massiveness, power, or abundance in a woman’s body is met with distaste. […] Hunger must always be monitored, as food is needed to live but also forbidden in fear of fatness. Women are meant to take up less space. While a man taking up space exudes power, a woman is not meant to have this space. Under the current ‘tyranny of slenderness’ women are forbidden to become large or massive; they must take up as little space as possible.

Die konsep, Framing fat (Valentine 2020:21) breek die dilemma van vetsug in vier kategorieë vir raamanalise op. Eerste is die keuse-/verantwoordelikheidsraam wat fokus op die vetsugtige individu se vrywillige verbruik (of misbruik) van kos, en die gevolge wat só persoon as gevolg van vetsug moet dra. Die tweede raam is die sosiaal-geregtigheidsraam, waar daar na ongelykheid en diskriminasie teen vetsugtige mense gekyk word. Die derde raam is die gesondheids-/mediese raam, die mees dominante raam wat waarsku dat vetsug ongesond en gevaarlik kan wees. Die vierde raam is die estetiese een, óók ’n dominante een, waarin mode en skoonheid die pas aangee, met modelle en vroue wat vietse lyfies het. Hierdie raam besluit dat vetsug lelik en "normaal" of skraal mooi en aanvaarbaar is. Dis ook dié raam wat die massamedia en advertensiewese oorheers en die boodskap uitdra dat vetsug abnormaal is, tot ongelukkigheid en verwerping lei, en dat oorgewig mense mislukkings is. Vice versa vir dié wat slank is. En van estetika gepraat – alhoewel die plus-grootte kleregemeenskappe heelwat ondersteuning geniet, word hierdie ekstragroot vroue nooit genormaliseer nie. Plusgrootte-klere word gemarginaliseer in winkels, óf dit word verkoop in eksklusiewe ekstra-groot winkels, vergesel van hulle eie tydskrifte en modelle. Hierdie vroue met hul modes bly randfigure en almagameer moeilik met die hoofstroom-modes.

Volgens Labuschaigne (2008:79–80) het religie vroeër ’n liggaam-gees-skeiding verkondig: die liggaam was nie belangrik nie, die siel (en die redding daarvan) het menslike gedrag dikteer. Die liggaam was ’n "dop" wat begrawe sou word, terwyl die siel die ewige saligheid of verdoemenis sou beërwe. Die liggaam het ook as gevolg van streng godsdienstige voorskriftelikheid sy drange onderdruk en negeer. Met die opkoms van die verbruikerskultuur is die liggaam erken as objek wat gemanipuleer, verpak, vertroetel, mooigemaak, geoefen, gemasseer, getatoeëer, bemark en verkoop kon word. Die ligaam is potensieel die lokus van plesier, begeerte en geluk. "I consume, therefore I am". Nadat mense vir eeue hulle lywe misken het, teiken die verbruikerskultuur mense se liggame vandag op meedoënlose wyse. Vroeër was dit die gees wat gered moes word; vandag is dit die liggaam: "Whereas salvation previously was seen to lie in the focus on the soul and the denial of bodily desire, the body today has become the object of salvation" (Labuschaigne 2008:79–80).

Anoeschka von Meck (1967–)

 

5. "Fattertainment"/vetvermaak, selfspot en -ironisering

Fattertainment, wat ek vertaal as vetvermaak, is aan die orde van die dag as dit kom by die gestigmatiseerde en spottende uitbeelding van vetsugtige mense in die media. Films soos The Nutty Professor, Norbit en Shallow Hal verdien miljoene dollar by die loket. Vetvermaak/fattertainment is die teelaarde vir negatiewe stereotipes, maar waarom is dit so gewild? Waarom lag en die spot dryf met oorgewig mense? Waarom word dit deur die samelewing gekondoneer? Een antwoord is moontlik dat die Amerikaanse kultuur glo dat jy in beheer is van jou eie lot en kry wat jy verdien. ’n Tweede moontlikheid lê in die aanbod van humor en komedie as verdedigingsmeganisme: "Almost all the research out there about using comedy as a self-defence mechanism is in the form of comedy itself." (Krishna 2019) Selfverdedigingsmeganismes is patrone van onbewustelike sielkundige strategieë wat help om angs, wat spruit uit potensieel skadelike stimilu, te verminder. Volgens Freud word hierdie meganismes ingespan om die werklikheid te manipuleer, te ontken of te verdraai om die inherente angs aan só sosiale situasie af te weer en so die individu se waardigheid te beskerm (Krishna 2029).

..........

Die heelal op my tong word gekenmerk deur hope selfspot, humor en selfironisering. Eetsteurnisse en vetsug word aan die hand van burleske karakters en absurde situasies voorgestel. Die keersy van die munt is die fel emosionele pyn wat die vetsugtige protagonist. Willemien, moet verduur.

...........

Die heelal op my tong word gekenmerk deur hope selfspot, humor en selfironisering. Eetsteurnisse en vetsug word aan die hand van burleske karakters en absurde situasies voorgestel. Die keersy van die munt is die fel emosionele pyn wat die vetsugtige protagonist. Willemien, moet verduur. In Von Meck se roman word vetvermaak gebruik as antidoot teen die pynlike werklikheid van vetsug. Dit wemel van voorbeelde, byvoorbeeld:

Gaan ek as ’n vegan, ’n vegetariër, ’n Banter, ’n gewone, gesonde persoon met ’n klein aptyt, of gaan ek inpak net wat ek wil? Gaan ek verbode kos inpak wat beteken daar gaan middernag ’n afsnypunt wees? Wat ek teen dan nog nie ingeprop het nie, moes ek presies om twaalfuur skelm by die badkamervenster van my huis op Paternoster in ’n boog vir die bure se hond gooi. Soms mik ek sleg en dan hang halwe blokke kaas die volgende oggend aan die heining. Gelukkig hou sekere voëls daarvan (321).

In ’n rehabilitasiekliniek in Spanje is Willemien aan die woord: "Aspris het ek nie vir hom gesê hier gaan altyd iemand saam met jou toilet toe nie, en as jy klaar is, kom inspekteer hulle die bak. Hier word jou opelyf intens aan etenstafel bespreek, asof dit ’n invloed op aardverwarming het" (30).

Hierdie vetvermaak is in lyn met die aanbod van bisaro-fiksie. Die protagonis, Wille Willemien, is ’n spottende en ironiese parodie op dié strokiesprentkarakter, die wulpse en slanke Willemien wat in elke strokiesprent haar opwagting in óf haar bikini óf haar seksie onderklere maak. ’n Ander voorbeeld is Willemien se pa se burleske optrede: "Dit was mý pa wat ’n gat deur kolonel Wendelle Stevens se spyskaart geskiet het. Op ’n dare. […] In die eighties" (11).

 

7. Die heelal op my tong as narratief van atipiese liggame

Gaventa (2003: 2) verduidelik Foucault se siening van lyfmag:

Physical bodies are subjugated and made to behave in certain ways, as a microcosm of social control of the wider population, through what Foucault called "bio power". Disciplinary and bio power create a "discursive practice" or a body of knowledge and behaviour that defines what is normal, acceptable, deviant, etc. —but it is a discursive practice that is nonetheless in constant flux.

In hierdie gedeelte gaan ek fokus op die atipiese liggame in Die heelal op jou tong: dié liggame wat nie noodwendig konformeer met die meesterkodes – die sosiale, kulturele, morele en regskodes, soos die samelewing van die dag dit voorskryf nie.

Die roman word gekenmerk deur karakters met atipiese liggame. Die spilpunt is Wille Willemien wat van kleins af sukkel met chroniese honger en ’n gevoel van onversadigbaarheid, ’n leemte, asook prikkelbare dermsindroom, bulimie, anoreksie en ’n verslawingsprofiel. Sy sien haar obesiteit as ’n gestremdheid. Maar haar pa is ook gestremd – hy het as kind polio opgedoen en swaar en pynlik herstel met ysters en ’n rolstoel, en by tye het hy met moeite geloop. Ten spyte van sy gestremdheid, het hy sport gedoen, perd gery, en was hy ’n huursoldaat – hy het sy gestremdheid "oorkom". Maar vader en dogter se onderskeie gestremdhede is egter onlosmaaklik vervleg. "Eintlik wil ek gesels. Klarigheid kry oor sake wat ek as kind nooit bevraagteken het nie. Hoe praat ’n mens in vrede met ’n man vir wie jou logge liggaam vyandskap spel omdat dit hom aan die tekortkominge van sy eie gebroke lyf herinner?" (20)

Elders noem die verteller dat haar pa se voete misvorm is, dat die vel besonder sensitief is, en dat hy nie sy eie toonnaels kan knip nie.

Willemien se stryd teen dwelms resoneer ook met haar pa s’n: "… eintlik was hy verslaaf aan adrenalien. En afleiding. […] Pa was ’n junkie" (21).

Binne-in my lyf het ek aan die slaap geraak. So het ek diep en lank genoeg weggesink in ’n vrees waarin ek my stelselmatig gepantser het. En dit is die belaglike ironie van obesiteit. Hoe sigbaarder jou logge lyf word, hoe onsigbaarder is jy as mens. Waar die skaal nou staan, is nog net my tande en my mooi ore deel van my oorspronklike self.

Obesiteit beteken om gestrem te wees.

Het ek my onbewustelik só met my pa vereenselwig dat ek in die pyn en beperkinge van sy lyf wou deel? (27)

Die antwoord is onomwonde ja; en die konsep "negatiewe empatie" kom hier ter sprake: "En hier staan ek, ’n onbekende obese vrou wat antwoorde van hom wil hê. Sy spieël. Die een waarin hy nie wil kyk nie. En sekerlik die een wat hy stukkend wou bliksem" (20). Volgens Cohen (2011:3–4) bestaan daar verskillende soorte empatie. Empatheia kan soms negatiewe emosies soos vyandigheid of vooroordeel teenoor ’n geliefde betrek, soos wanneer daardie persoon ’n bedreiging vir die empaat inhou. Die gevoel tussen vader en dogter is egter wederkerig: "… maar op die dag wat Pa my laat uitgooi het, was dit asof Pa besef het dat hy self die gevaarlikste aanklaer in sy huis toegelaat het.

Vir my. Sy dogter" (20).

Maar nadat Willemien haar pa sterwend in sy geplunderde woonstel aantref, sien sy weer sy geliefde sneeujas.

Ek haal die jas van die hanger af. Al die jare het ek dit onthou as groot en bonkig. Size xxx-large, om te pas vir ’n man wat in sy eie tyd deur sommige vir ’n skurk en deur ander as ’n legende aangesien is.

Ek steek my arms in die moue met die verwagting dat die sneeujas my gaan insluk. Maar dit pás my perfek. Hoe is dit moontlik? Eenhonderd-sewe-en-vyftig kilogram van slaap in jou eie lewe later" (373).

Die jas, wat perfek pas, is ’n simbool van jare se verlange na haar pa, haar bewondering vir hom, haar vrees vir verwerping, asook die empatie (positief en negatief) wat sy met sy gestremdheid gehad het. Sy het as’t ware deur ’n onbeheerste obesiteit haarself misvorm tot ’n eenvormigheid aan ’n vaderfiguur vir wie sy geweldig lief was. Dit is dan Precious Cargo wat vir Willemien sê dat sy met ’n man nes haar pa getrou het. Clifford O’Kill. "… jy het in Pa se tipe lewe ingetrou. Jy het Pa se eie lewe in jou huwelik herskep" (344). Die korrelaat tussen Willemien se pa en Clifford is duidelik: ook laasgenoemde het ’n atipiese liggaam gehad na sy motorfietsongeluk; en nog later, ’n gebroke liggaam as dwelmverslaafde. En in beide gevalle was Willemien blootgestel aan onsekerheid, om altyd op vader en eggenoot te wag, om hulle los te koop uit onwettige praktyke, en om hulle te versorg. Claire (2019) beaam Precious Cargo se siening:

This is your psyche returning to the scene of the crime. You’re picking somebody who has the same issues [as your father] so that you can fix it and do a better job this time around. In other words, despite recognising that your relationship with your father is unhealthy or even abusive, that doesn’t stop people craving what’s familiar.

Van al die atipiese liggame in die roman is Precious Cargo die sterk, gesonde en konformerende een. Sy is ’n geharde militaris en dit is insiggewend dat Willemien se kleinsus, met ’n gesonde en normale liggaamsbeskouing, dan juis die klankbord word wat haar help om te genees.

Willemien se ma het onderliggende anoreksiese neigings, ’n fobie vir suiwel en selluliet, en sy ly aan slaapsiekte (soos reeds genoem, dis onduidelik of dit depressie of narkolepsie was).

Willemien se eerste (jeug-)liefde is Willis Howelis, ’n kennis van haar pa. Nadat sy ’n nota dat sy hom beter wil leer ken onder sy motor se ruitveër gelos het, kom laai hy haar op nadat sy ontslaan is uit rehab. Willemien is smoorverlief op die 38-jarige Willis en neem in die geheim sekslesse by ’n prostituut, genaamd Misty. Maar Willis, wat nooit van ’n ou liefdesteleurstelling herstel het nie, het sy liefde vir vroue geprojekteer op sy vintage-motors wat sy huis volgestaan het. Ook Willis suggereer ’n atipiese liggaam met sy liefde vir sy motors as die objektivering van die vroulike liggaam: "Hoop nie Betsy pla nie. Sy’s ’n 1959-Nash Metropolitan convertible en dis haar staanplek dié" (199). Asook: "‘Laat ek jou voorstel aan Dorothy,’ het hy trots beduie en haar deur oopgemaak. […] ‘Dié een is ’n 1947-Dodge D-24 en sy’s ’n liefling’" (203). Nadat Willis Willemien se attensies bly vermy het, het hy haar die trekpas gegee.

Op haar een-en-twintigste verjaardag ontmoet Willemien vir Kandy, ’n Hindoe (en welvarende sakeman). Alhoewel sy nie werklik lief was vir hom nie, was hy ’n veilige of stabiele opsie as lewensmaat en het die twee trouplanne gehad. Maar ook Kandy het die smet van die menslike kondisie in hom gedra en ’n geskokte Willemien op ’n boot in Hong Kong bekend gestel aan ’n seksorgie (275). Nadat sy besluit het om gewig te verloor vir hulle troue, het Kandy haar in Sri Lanka agtergelaat vir besigheid en haar dwelmdieet gefinansier. Die idee was om met die hulp van amfetamiene, wat eetlusdempers is, so vinnig as moontlik te verslank, ongeag die risisko’s van pyn en waansin. Meer hieroor later.

Dit is egter Clifford O’Kill, met wie Willemien impulsief sou trou, wat die mees atipiese liggaam van al die karakters in die roman het. Soos reeds genoem het Clifford as seun ’n ernstige motorfietsongeluk teen alle verwagtinge in oorleef. Nadat hy vir dood gelaat is, het net sy ma Rosemary bly glo dat hy sou leef. ’n Jaar later het hy sy bewussyn herwin. Clifford was, soos Willemien se pa, charismaties; hy het oor ’n buitengewone pyndrempel beskik en sy omgang met mense was uitdagend – en later gewetenloos; en hy was vreesloos en doodsveragtend. Maar sedert die begin van die huwelik was dit Ma Rosemary wat die kitaar geslaan het. Die verhouding tussen ma en seun was disfunksioneel, om die minste te sê, met vreemde erotiese ondertone. Sy het hom byvoorbeeld gebad en sy liggaamshare afgeskeer. Ten spyte hiervan het skoonma en skoondogter later, toe Clifford verslaaf geraak het aan tik, crack en kokaïene, in simbiose opgetree om hom los te koop uit smokkelhuise en uit die kloue van gevaarlike dwelmbendes. Dit is dan ook Willemien wat aan Precious Cargo bely dat Clifford ’n feeder was. ’n "Feeder" dui op ’n seksuele fetisj waar ’n man ’n vrou vet voer of vetsugtig hou om mag en kontrole oor haar te bekom of te behou. "Dit was net liefde en wellus op die laagste vlak" (364). Willemien het gewonder of Clifford dalk mense verkrag het tydens sy dwelmorgies in die smokkelhuise – en of hý dalk verkrag is. Sy het kennis geneem van sy buite-egtelike verhoudings en kinders, maar het eers ná twee wrede huurmoorde haar suspisies gehad en hom verlaat. Hy is op 45 oorlede, en sy stafie as is saam met Willemien se pa se sneeujas aan die kluis vasgemaak en by die krans afgestoot.

Ander atipiese liggame is Mandise, wat saam met Willemien in ’n kloosterskool in Kaapstad was. Sy het intussen ’n suksesvolle hoëklas gesellin geword. Behrouz, Willemien se pa se skerpskutter, is in Iran tereggestel en het "aan ’n outydse galg geswaai" (372).

Die heelal op my tong word gekenmerk deur lyflikheid. Von Meck skep as teenvoeter vir die hiperrealiteit van atipiese liggame wat gebroke, besmet, siek, of krimineel is, ook magiese of fantasieliggame, byvoorbeeld die verwysings na strokiesprentkarakters soos Tintin (Kuifie); mistieke karakters soos byvoorbeeld die ligwesens en pylstertengele en die naamlose, soekende pelgrim aan die einde van elke hoofstuk; paranormale liggame (soos die astrale liggaam van Liberace wat sy gesien het); Messiaanse liggame, byvoorbeeld LiefdJeevis, die Rooiseeloper en die koninklike maanhaar; fiktiewe liggame uit die Western-wêreld van Louis L’Amour, op wie se boeke haar pa versot was, en gestorwe liggame (Clifford se as).

Fotobron: https://www.powercube.net/other-forms-of-power/foucault-power-is-everywhere/

 

8. Die rol van die vader in eetversteurings

In sy MA-studie oor die rol van vaders in hul dogters se eetversteurings, kom Mouton (2011:166–8) tot die volgende gevolgtrekking:

First, eating disorders are perceived as relational artifacts of the father-daughter relationship (i.e., marking important moments in the relationship, fostering tensions between closeness and distance, etc.). Eating disorders contribute to the dialectical tensions experienced in the father-daughter relationship as fathers and daughters struggle with closeness and openness […]

Die navorser postuleer dat dit nie net die moeder nie, maar óók die vader is wat ’n belangrike rol in die ontwikkeling van hul dogters se eetversteurings speel (2011:168). Hierdie bevinding korreleer met ’n legio voorbeelde in Die heelal op my tong. Sedert Willemien kon onthou, was daar ’n diskontinuïteit in haar verhouding met haar pa. Hierdie is inderdaad ’n breuk wat op fisieke en ruimtelike nabyheid en afstand dui, maar ook ’n emosionele geslotenheid versus ’n emosionele ontvanklikheid. Haar pa het besluit wanneer hulle kommunikeer – daar was nie ’n oop kanaal van kommunikasie nie. As klein dogtertjie onthou Willemien dat haar pa vir weke – of selfs maande – op ’n slag verdwyn het; nie huis toe gekom het nie en sy op hom gewag het. Die ontwikkeling van eetsteurnisse as verhoudingsartefakte by die protagonis is duidelik herkenbaar in die teks. Die assosiasies aan kos boekstaaf haar jeugherinneringe aan haar pa, byvoorbeeld:

"Sy is ’n staatmakertjie," sê Pa. "Sy mag kry net wat sy wil hê."

Ek bestel wat ek altyd bestel, want ek soek baie kos. Nie iets wat gou op gaan wees nie. ’n Stapel-hamburger en groot porsie tjips. Pa gaan nog van my tjips ook eet, dus tref ek voorsorg, want hy eet soveel vinniger as ek. Vir die paar minute wat ons eet, is Pa in ’n goeie bui (147).

Willemien se pa het haar met kos beloon – in bovermelde geval omdat sy soet en geluidloos in die kattebak gelê het terwyl hy ’n duistere saketransaksie beklink het. Wat nog vreemder is, is dat sy met ’n flits haar huiswerk in die kattebak gedoen het. In baie tonele word die gulsigheid van pa en dogter wat saam eet, en wat later Willemien se verorberingsrituele sou kenmerk, beskryf.

In die kombuis staan ek op pa se skoot en kyk in die yskas om te sien wat daar is om te eet. Pa is altyd honger as hy op iemand geskiet het. Ek ook. Pa maak eiers en daarmee saam eet ons kreefstert en romerige mayonnaise. Ons eet dat strepe op ons wange lê. ’n Lekker aand (116).

Die toneel verwys na die 1977-onluste waartydens Willemien se pa op oortreders in sy tuin in sy luukse huis in Constantia geskiet het. Die klein Willemien het meegedoen met haar plastiekpistool. Die emosionele nabyheid tussen vader en dogter word weer eens aan die hand van ’n eetritueel beskryf.

............

Maar kosvergrype is nie die enigste verhoudingsartefakte wat Willemien en haar pa se verhouding kenmerk nie: daar is tye wat hy nie tuis is nie en wat daar letterlik geen kos in die huis is nie, omdat haar ma feitlik niks eet nie, en die huiswerker, Stella, die oorblywende kos vaslê. Dit is slegs met die terugkeer van haar pa dat kos, restaurante, smulbederf en lekkernye die gebroke band tussen vader en dogter moet herstel.

.............

Maar kosvergrype is nie die enigste verhoudingsartefakte wat Willemien en haar pa se verhouding kenmerk nie: daar is tye wat hy nie tuis is nie en wat daar letterlik geen kos in die huis is nie, omdat haar ma feitlik niks eet nie, en die huiswerker, Stella, die oorblywende kos vaslê. Dit is slegs met die terugkeer van haar pa dat kos, restaurante, smulbederf en lekkernye die gebroke band tussen vader en dogter moet herstel.

Oor die rol van Willemien se pa se ruimtelike afstand en die ontwikkeling van eetversteurings: "Ek was vyftien toe Pa uiteindelik vir my ’n vliegtuigkaartjie stuur. […]. Ek wou weg van Ma sodat sy my nie meer kon keer nie. Ek wou myself uitwis, kilogram vir kilogram. Ek sou self my delete-knoppie druk" (75).

Asook: "Ek het pa genuine jammer gekry omdat hy kon wonder waar sy een dogter haar geografies bevind, terwyl sy ander dogter, reg voor hom, lankal vermis word.

"Dalk het hy nie eens besef hy het jou verloor nie," sê my suster sag" (66).

Willemien se jonger suster, Precious Cargo, was hul pa se oogappel. Willemien was die sensitiewe een en haar kleinsus die "maklike" een. Die verhouding tussen Willemien en haar pa het emosioneel sodanig verbrokkel dat sy figuurlik in sy oë as "vermis" aangegee is.

Willemien se jeugherinneringe aan haar pa/eet, aktiveer op sy beurt haar eetsteurnisse. Die tragiek van hierdie roman lê waarskynlik in Willemien se pa se verwerping van sy obese dogter; en hoe sy van kleins af gesmag het na sy goedkeuring, op hom gewag het en hom bewonder het – maar slegs in sy sterwensnood volledig met hom versoen en ’n band gevorm het. Die simbool van die sneeujas kom weer ter sprake as Willemien haar pa se reusagtige jas aantrek en besef dat dit perfek vir haar pas: "’n Enkele oomblik van geborgenheid onder my pa se arm het ek eenvoudig ’n leeftyd lank herskep. ’n Lyf wat in dié jas sou pas" (374).

 

9. Die soeke na die vader/Vader: selfmutilasie en anoreksie as heilige stigmata

’n Ander noodmaatreël is om kaas op te gooi. […] Moenie wag nie, bely dit onmiddellik!

Jy is ’n sondaar wat willens en wetens satanslym huisves. […]

Ek weet Ma bely haar oortredinge, want ek het haar al hoeveel keer op haar maag uitgestrek op die mat of in die badkamer gekry. Dan gaan sit ek op die toe toilet en vryf haar rug. "Toemaar, Mamma. Al die kaas is nou weg. Jy’s vergewe" (126).

Bogenoemde toneel herinner aan ’n aflaatboete; Willemien se bulimiese ma het kaas geëet (en "oortree"), en deur middel van selfgeïnduseerde braking daarvan ontslae geraak – die boetedoening. Dit herinner aan ritualistiese religieuse praktyk.

In Die heelal op my tong word eetsteurnisse verbeeld as ’n tipe stigmata, ’n vorm van selfmutilasie wat ooreenkomste toon met die rituele van die vroulike heiliges binne die Rooms-Katolieke kanon.

Volgens Robert F Mullen (2010:97–8) kan anoreksie dui op ’n diepgewortelde begeerte om te transendeer; om in ’n mistieke beswyming in te gaan. "Heilige anoreksie" by vroulike heiliges, op sy beurt, toon patologiese ooreenkomste met anorexia nervosa soos ons dit vandag ken (vergesel van gevoelens van dissosiasie en depersonalisasie). Die gebruike om te vas om nader aan ’n heilige godheid te beweeg deur sulke beswymings (of trances), is al vir eeue en in verskillende kulture aan die mens bekend. In die geval van anoreksie word die uitgeteerde liggaam (onbewustelik) stigmaties; in die geval van vroulike heiliges was heilige masochisme die dryfveer. Die woorde beswyming/trance is afgelei van die Grieks, ekstasis, en met Willemien se smagting na ecstasy is dit súlke vondste wat van dié merkwaardige roman afgesien van bisaro-fiksie, ’n goddelike komedie maak.

Willemien was reeds as klein dogtertjie besonder vatbaar vir die spirituele. Wanneer sy in haar oupa se stoepkamer geslaap het, het sy haar verkyk aan ’n skildery van "LiefdJeevis" (Jesus) (131). Sy het Hom uit die skildery sien klim en was gelukkig, omdat sy geweet het Hy waak oor haar. Haar pa vertel haar dan van die pineale klier wat mens in staat stel om met God te kommunikeer. "‘Pniel is die plek van ontmoeting binne-in ons,’ tik ek met my vinger op my voorkop. ‘Die plek waar ons God van aangesig tot aangesig kan sien.’ […] ‘Wat jy ook al in jou lewe aanvang, Pa wil hê jy moet nooit ophou soek na Pniel nie, hoor?’" (149)

Pniel beteken "die gesig van God" en verwys na Genesis 32:30 waar Jakob met God gestoei het.

Ten spyte van Willemien se onkonvensionele lewensloop (en dat sy die pad byster raak by tye), bly sy deurlopend soek na God, al is dit op ’n aweregse manier: "My doelwitte is deeglik uitgewerk: Neem soveel chemikalieë of plante moontlik in om my pineale klier oop te skiet: kom onder Pa se beheer uit: maak kontak met die ware SkepperGod" (238). Die gebruik van dwelmmiddels om via die derde oog kontak te maak met God, skrik haar nie af nie. Haar minnaar, Kandy, finansier haar dwelmdieet in Sri Lanka sodat sy kan verslank vir hulle troue. Stimulante is eetlusdempers en Willemien is nie gepla oor wát se dwelms sy in haar gestel inneem nie, net solank sy gewig verloor. Uit die roman blyk dit duidelik dat die protagonis ontvanklik is vir mistieke (of transendentale) ervarings, wat korreleer met die diepgewortelde begeertes van ’n anoreksielyer. Willemien verwys na die "enlightenment" wat ecstasy haar bied, maar in stede van ’n mistieke verligting, is die dwelmdieet, wat speed insluit, besonder onaangenaam. Sy hallusineer, is rusteloos, slaap en eet weinig (of niks) en krap haarself stukkend tot die bloedhale oor haar liggaam lê. Sy verloor kontak met tyd en ruimte en los die dwelms, maar beleef steeds ’n volskaalse psigose. Manja, een van Kandy se huishoudsters wat Willemien moes versorg tydens haar dieet, is van mening dat bose geeste werksaam is in Willemien: "As sy my soggens met die bloedstrepe aan my lyf aantref, sien ek hoe haar gesig bleek word van vrees. ‘These spirits are always thirsty for blood’" (288). Willemien se katarsis noop haar pa om in te gryp en haar veilig by Ouma Okahandja te besorg. Willemien, met haar "nuwe", maer (uitgeteerde) voorkoms, gebore uit selfmutilasie en dwelms, het in haar soeke na God op ironiese wyse haar liggaam afgetakel tot ’n stigmatiese een. Maar steeds: "Ek’s te vet, Ouma. Moenie dat Ma kom nie, asseblief! […]

"My kind, jy’s vel en been. Nie een van ons het jou al ooit so gesien nie. Watter onsin praat jy tog?" (293)

Willemien vereenselwig haar deurlopend met Christelike simboliek: die Rooiseeloper (Christus), die koninklike maanhaar, die pelgrim in die Tabernakel in die dorpie Eilat, Israel, ensomeer. Soos reeds genoem is Die heelal op my tong gelaag in substekste, waarvan die mistieke deel uitmaak. Von Meck gebruik Christelike simboliek op ’n onderbeklemtoonde wyse: nêrens word dit uitgespel, of geloofskwessies in die leser se keel afgedwing nie; dit beweeg binne die mistieke sfeer. Wanneer Willemien haar siek en sterwende pa red uit sy woonstel, sê sy vir hom: "Ja, Pa. Jy is nou in jou Rooisee. Volg Hom net. Dis ’n baie nou paadjie, maar Hy sal Pa anderkant uitlei. Ons is almal Rooiseelopers" (371).

Die verligting waarna Willemien so gesmag het en nóg in kos, nóg in dwelms gekry het, ervaar sy wanneer sy en Precious Cargo hul pa se kluis oor ’n krans afstoot. Willemien se versoening met haar pa het begin toe sy hom opgespoor en gered het uit sy woonstel, weg van sy vyande. Maar dit is heling wat begin nadat die swaar kluis, wat ook simbolies is van haar obesiteit, oor die krans stort. "Die Subaru se stofwolk toring van ver die lug in. Die leë winkeltrollie en die flappende helderkleurige kombers op die dak maak dit ’n vrolike gesig. Die Rooiseeloper glimlag met die krag van iemand wat sonnestelsels soos klokkies aan die soom van Sy priesterskleed dra.

"Nou is sy vry."

 

Bibliografie

Bennett, N. 2019. Die moderne gesig van eetversteurings. Versindaba. https://versindaba.co.za/2019/06/07/nini-bennett-die-moderne-gesig-van-eetversteurings/ (4 Desember 2020 geraadpleeg).

Claire, M. 2019. So, are you dating your dad? Marie Claire. https://www.marieclaire.co.uk/life/sex-and-relationships/men-like-your-dad-9182 (1 Desember 2020 geraadpleeg).

Cohen, M. 2011. Stigmatization of Patients with Chronic Pain: The Extinction of Empathy. Pain Medicine. Wiley Periodicals, Inc. https://pubmed.ncbi.nlm.nih.gov/22054062/ (2 Desember 2020 geraadpleeg).

Gaventa, J. 2003. Foucault: Power is Everywhere. PowerCube. https://www.powercube.net/other-forms-of-power/foucault-power-is-everywhere/ (1 Desember 2020 geraadpleeg).

Graffiti aanlynkuier met Anoeschka von Meck. 2020. YouTube. https://www.youtube.com/watch?v=Cl9aIRK0sPI (4 Desember 2020 geraadpleeg).

Heuer, C.A. 2010. "Fattertainment". Obesity in the media. https://www.obesityaction.org/community/article-library/fattertainment-obesity-in-the-media/ (2 Desember 2020 geraadpleeg).

Krishna K, G. 2019. Humour as a self-defense mechanism. Feedsnitt.com. https://feedsnitt.com/2019/10/16/humour-as-a-self-defense/ (3 Desember 2020 geraadpleeg).

Labuschaigne, M. 2008. Human bodies in law: arbitrary discursive constructions? Stellenbosch Law Review (31)2: 71–100.

Mouton, A. 2011. Dynamic disorders: Narratives of eating disorders and the father-daughter relationship. Unpublished master’s thesis, Colorado State University.

Mullen, R.F. 2010. Holy Stigmata, Anorexia and Self-Mutilation: Parallels in Pain and Imagining. Journal for the Study of Religions and Ideologies. March, pp. 97–9.

Taljard, M. 2018. Inwaarts en immer opwaarts. Versindaba. https://versindaba.co.za/2018/06/24/marlies-taljard-inwaarts-en-immer-opwaarts/ (4 Desember 2020 geraadpleeg).

Valentine, E. 2020. Weighted Identities: Deviant Fat Bodies and the Power of Self-Representation. Unpublished master’s thesis, Arizona State University.

Van Zyl, P. 2020. Klaar gewroeg oor my gewig. Huisgenoot. 29 Oktober 2020, ble. 96 – 7.

Von Meck, A. 2018. Vet in fiksie. ’n Foucauldiaanse kritiese diskoersanalise van die liggaamsbeskouing van vetsugtige protagoniste in uitgesoekte hedendaagse Noord-Amerikaanse vetfiksie. Ongepubliseerde PhD-proefskrif, Universiteit van Pretoria.

—. 2020. Die heelal op my tong. Kaapstad: Penguin Random House.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top