Lesersindruk: Sylvester, ramkat van die Groot-Karoo, saamgestel deur Wendy Maartens

  • 1

Sylvester, ramkat van die Groot-Karoo en nog 21 lekkerleeslegendes, ware verhale en staaltjies (2019)
Samesteller: Wendy Maartens
Illustrasies: Linki Brand
Uitgewer: LAPA 
ISBN: 9780799394863

Hierdie lesersindruk is uit eie beweging deur die skrywer hiervan na LitNet se redaksie aangestuur.

Hierdie boek is een van daardie boeke wat mens ten minste een keer in jou lewe moet lees, of dit nou as volwassene vir plesier is, of vir jou kind of kleinkind. Dis 'n lekker slaaptydstorieboek met nuwe stories, ware stories en legendestories – almal in een boek.

Die pragtige voorblad is natuurlik die grootste trekpleister. Die titel en pragtige leeu voorop verwys na die bekende – of is dit nou berugte? – leeumannetjie Sylvester. Hy het homself in 2015 behoorlik in Suid-Afrikaners se harte ingewurm as die rondloperleeu wat vir 24 dae in die uitgestrekte Karoo rondgeloop het. Die ander mannetjies in sy trop het hom uitgeskop uit die Karoo Nasionale Park buite Beaufort-Wes. Baie mense het die wel en wee van Sylvester op radio, televisie en die nuus gevolg. Die sosiale media was behoorlik aan die gons oor sy nuutste maaltyd en waar sy spore gesien is. 

Wendy Maartens, die samesteller, dra die boek op aan Dorothy Molefi, wat haar van vergifnis geleer het. Baie van hierdie verhale bied ’n geleentheid om oor vergifnis, deernis en empatie te leer. In die hedendaagse samelewing kan dit net goed wees om vir ons kinders verhale te lees wat hulle wys hoe om iemand anders se lewe te respekteer, al verstaan jy dit nie, en om empatie met hul sorge te hê. Die verhaal van Sylvester, die ramkat van die Karoo, bind al hierdie verhale saam. Maartens stel dit so mooi in haar voorwoord: “Ek wonder soms: Is ons ons stories, is ons storie ons?” – ’n vraag wat die leser deurentyd sal saam dra met die lees van elk van hierdie verhale. Besoek gerus Maartens se webtuiste sou jy meer opwindende boeke wil ontdek. 

Linki Brand, die illustreerder, roep elke verhaal se unieke, kleurvolle karakters tot lewe. Dis kleurvol en treffend, maar word nie op elke bladsy gebruik nie. Dit sorg vir ’n goeie balans tussen teks en illustrasie. Elke illustrasie is eerder ’n portret wat pas by die betrokke verhaal, eerder as die verhale wat geïllustreer word. Daar is genoeg detail in elke illustrasie om ’n gesprek met ’n kind te kan voer oor wat in die verhaal gebeur. Dit dui op ’n goeie integrasie van die teks in die illustrasie en is ’n eienskap wat ’n kinderboek laat uitstaan. Ek vind dit gepas dat hierdie boek se voorste en agterste binneblad, asook hoofstukbladsye, met lekkergoedillustrasies versier is. “’n Sakdoek vir ’n Sanseuntjie” se hoofstukblad het byvoorbeeld ’n ronde lekker op met die gesig van ’n Sanseuntjie. Die lekkergoedtema word regdeur die boek geweef. Binne ’n Suid-Afrikaanse konteks assosieer baie kinders die Quality Street toegedraaide lekkers met spesiale geleenthede soos Kersfees of verjaarsdae. Beslis ’n goeie visuele keuse vir ’n besonderse boek soos hierdie. 

Hierdie lekker storieboek is goed nagevors en bevat ’n ryk skat van verhale vir alle ouderdomme. Almal hou van stories, en nie alle stories is net vir kinders nie. Daar is stories wat aangepas is uit volksverhale en legendes wat goed bekend is onder die ouer generasies, veral die verhale wat in die Kaap afspeel. In “Red die bruid!” word daar vertel van ’n vrou wat in ’n woeste Kaapse storm van ’n skip af gered moes word. Die skip het in die nag gestrand en op die rotse beland. Daar is ook ’n pragtige verhaal oor Macassar en ’n skaapwagter wat sjeg Yusuf se graf ontdek het. Die verskeidenheid verhale maak die boek uniek en ’n aanwins vir elke boekrak. Dit is ideaal vir voorlees of as 'n koffietafelboek vir die jongspan. Dalk iets wat kan help om die winterkouer te verdryf in die komende maande, veral in dié grendeltydperk.

Die illustrasies is uitstekend en neem die leser op ’n ware verbeeldingsvlug. Baie van die verhale kom uit historiese en ouer tekste wat aangepas is. Daar is byvoorbeeld ’n verhaal gekonstrueer uit navorsing oor die Bleek en Lucy Lloyd-versameling – ’n bekende versameling wat optekenings, sketse en tekenboeke bevat oor die slawe wat vir Bleek en Lloyd gewerk het, asook kinders wat hulle ingeneem het, soos die seuns in die verhaal “’n Sakdoek vir ’n Sanseuntjie”. Gaan loer gerus na van die sketse in hul versameling met hierdie skakel: http://lloydbleekcollection.cs.uct.ac.za.

Die skrywer het selfs brontekste van Boerneef en Pieter W Grobbelaar gebruik, soos Die berggans het ’n veer lat val (1998), Die mooiste Afrikaanse Sprokies (1969) en Die vermaaklike lewe van Tyl Uilspieël (1967). Alhoewel dit betreklike ou tekste is, en sou ’n mens verwag dat hierdie stories hul tyd uitgedien het, is dit in hierdie nuwe formaat herkanoniseer. Hierdie boek maak verhale oor die ou Kaapse storms, die Boereoorlog en ook verhale uit die Maleise en Afrika-kulture weer relevant vir vandag se lesers. Dalk selfs meer vir vandag se kinders, omdat hulle met al die tegnologiese vooruitgang nie meer stories hoor by die oumas, oupas, hoofmanne of tradisionele storievertellers nie.

’n Volwasse leser sal maklik die boek saam met 'n jonger leser kan geniet. Sylvester, ramkat van die Groot-Karoo en nog 21 lekker legendes, ware verhale en staaltjies (2019) is ’n besonderse boek wat net reg is vir Suid-Afrikaanse lesers, dalk selfs om die braaivleisvuur – waar stories altyd die lekkerste vertel word.

  • 1

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top