
Prente: https://www.kknk.co.za/; https://www.meldiestorieverteller.co.za/
Yolanda du Toit praat met Mel die Storieverteller oor haar vertoning wat binnekort by die KKNK plaasvind.
Internet Sensasie is jou derde stand-up-vertoning. Waaruit put jy inspirasie en kry jy jou idees?
Vir hierdie spesifieke teks het ek inspirasie gekry uit al die dinge wat ek die afgelope vier jaar op die internet geobserveer het. Mense is my grootste inspirasie vir enige komedie of teks – want mense is rêrig mal en anders en baie interessant. Almal het ’n ander agtergrond en verwysingsraamwerk en dit beïnvloed hoe hulle reageer op sekere dinge. Daai klomp verskillende reaksies is wat my soveel materiaal gee.
Jou biografie noem dat jy ’n katliefhebber is. Hulle is op sigself komiese troeteldiere. Lei hul kat-kenades soms tot ’n idee?
Definitief. Ons het drie jaar terug ’n Maine Coon gekry, Valkyrie, en onlangs vir haar ’n swart Maine Coon boetie, Gulliver, bygekry. Die sussie-boetie-kaskenades en -drama maak vir baie lekker sosiale media-inhoud. Baie mense volg die twee se stories en hoe hulle verhouding vordering maak. Ek oordryf natuurlik sekere katscenario’s en hou daarvan om snaakse musiek of captions by te sit.
Het jy al ’n toneelstuk saam met iemand gedoen of hoe maklik/moeilik is die uitdaging in ’n eenvroutoneelstuk?
Ek het laasjaar ’n vertoning saam met Corlea Botha gedoen, Trou. Dit was so een Sondagmiddag by die Atterbury-teater. Hierdie jaar doen ons hom by die Innibos-fees. Dit was heerlik om saam met haar te werk – sy is vinnig, soos ek, en baie kreatief. Sy verstaan hoe iets funksioneel moet werk en ’n lyn moet volg.
...........
Die uitdaging van ’n eenvroustuk skryf is, jy is net een; ek kan van niemand afspeel nie, ek moet al die stemme uitbeeld en opmaak en dan ook uit almal se oogpunte uit na ’n situasie kyk. Omdat ek nie ’n karakter speel nie, maar uit my eie mond praat, moet ek ook my woorde baie goed filter en natuurlik soveel elemente inbring om seker te maak niemand in die gehoor raak verveeld nie.
..............
Die uitdaging van ’n eenvroustuk skryf is, jy is net een; ek kan van niemand afspeel nie, ek moet al die stemme uitbeeld en opmaak en dan ook uit almal se oogpunte uit na ’n situasie kyk. Omdat ek nie ’n karakter speel nie, maar uit my eie mond praat, moet ek ook my woorde baie goed filter en natuurlik soveel elemente inbring om seker te maak niemand in die gehoor raak verveeld nie.
Internet Sensasie handel oor elektronika – soos jy verwys na ’n ander dimensie: een binne ons fone. Jy noem dat die tema geïnspireer is deur jou tweede lewe – die een op die internet. Wat het jou geprikkel om ’n stand-up hieroor te doen?
Ek is aktief op Facebook, Instagram en TikTok en het meer as 400 000 volgelinge oor die drie platforms. Min mense verstaan die wêreld, veral vanuit ’n inhoudskepper se ervaring. Ons weet hoe moeilik dit is om konstant video’s te produseer, die gehoor geïnteresseerd te hou en te reply op comments en boodskappe – sodat mens ’n verhouding behou met jou followers. Omdat ek ook verskillende mense op die internet sien – hulle comments, foto’s en video’s – amuseer dit my vreeslik. Hoe influencers die nuwe bemarkers en nuusverspreiders geword het en hoe jongmense dit rêrig kan sien as ’n beroep. En dan ook hoe die ouer generasie nie ’n idee het hoe die goed werk nie – dis vreeslik komieklik en mens kan baie daaroor sê.
Vir 80 minute laat jy die gehoor skater. As jy die geheim wil verklap, hoe onthou jy alles?
Ek weet self nie hoe alles in my kop bly nie, want oor die algemeen is my geheue nie baie goed nie. Ek sien dit as ’n storie met prentjies in my kop en dan vertel ek dit soos ek dit in my kop sien. So, ek vertel nooit my stories op dieselfde manier oor nie; elke vertoning is ’n klein bietjie anders.
Hoe aktief is jy persoonlik op sosiale media, buiten jou karakter? As ek kyk na jou beskrywing oor die komedie: “[Jy] verklap wat [jy] dink van die elektroniese oerwoud vol honger leeus, ywerige flaminke en ontaktvolle (sw)ape.” Wat is jou opinie oor sosiale media: vir of teen en hoekom?
Ek is baie aktief, post ten minste een keer elke dag op my stories en probeer soveel ek kan snaakse video’s maak. Ek probeer soms oor bietjie meer ernstige goed ook te praat so tussendeur die grappies. Sosiale media het my hele lewe verander, maar soos enige goeie ding moet dit met matigheid voor oë gebruik word. Wanneer jy dit reg gebruik, kan dit baie voordelig vir jou wees.
...........
Sosiale media het my hele lewe verander, maar soos enige goeie ding moet dit met matigheid voor oë gebruik word. Wanneer jy dit reg gebruik, kan dit baie voordelig vir jou wees.
..........
Quicket verwys na jou as “waarskynlik een van die grootste deurbraak-komediante van 2023”. Wat was jou motivering om die stand-up-mark te betree en het jy verwag dat die gehore gaande oor jou gaan wees?
Ek het drama gestudeer en in 2008 gegradueer aan die Universiteit Stellenbosch. Ek wou nog altyd, vandat ek jonk is, my eie vertoning hê – dis lekker want jy kan dan jou eie reëls maak. Ek hoef nie iemand anders se woorde in my mond te sit nie. Toe my aanlyn following begin groei, het ek dadelik besef, hmm, miskien is ek rêrig snaaks en dalk kan ek rêrig hierdie nou doen. Soos Farren Cloete sê: “Geroep vir ’n tyd soos dié” – ek was reg om in 2023 eers te begin. Ek is eerlik nou nog baie humbled dat mense opdaag en my vertonings vinnig uitverkoop. Ek is so dankbaar wanneer mense my vertonings geniet, want dit is tog op die ou einde die doel van alles – om mense net te laat vergeet van hulle stresse en lekker te laat lag.
Dit stel ook die kerf hoog – hoe bou jy voort op dit en verbeter?
Hierdie was een van my grootste bekommernisse toe ek begin werk het aan my derde vertoning. Maar ek het vir myself gesê elke show hoef nie beter as die vorige een te wees nie; dit moet net in ’n manier vars en anders wees. En ek wil die proses om te skryf en die ding aanmekaar te sit geniet. Ek wil nie hom vergelyk met sy vorige boeties en sussies nie; hy moet kan staan op sy eie. Solank hy lekker is en vol energie en nuwe temas, sal die mense hom geniet.
Dit is Internet Sensasie se debuut by die KKNK. Waarna kan feesgangers uitsien?
Hoe exciting! Feesgangers kan uitsien na drie unieke nuwe liedjies en musiek, produced deur Peach van Pletzen, interessante snaakse stories, waarhede wat sag slaan, nuwe kostuums en baie energie!
Waar sal Internet Sensasie ook te siene wees ná dié kunstefees?
Mense kan gerus gaan kyk op www.meldiestorieverteller.co.za.
Lees ook:
KKNK 2025: In gesprek met Veronique Jephtas oor Sonde met die spoke