(6 Augustus 1947 tot 11 Januarie 2025)
Johan se dood is ’n groot verlies – veral vir Afrikaans, die breër taalgemeenskap en woordkuns oor die algemeen.
Johan was by uitstek ’n kenner en liefhebber van taal, veral Engels, Afrikaans en Latyn, en was geseën met ’n skerp intellek en lewendige belangstelling in die wêreld om hom – van letterkunde, taalkunde, finansies en terminologie, poësie, wêreldsekuriteitsmarkte tot fynproeweretes, goeie wyn, Kubaanse sigare, goeie boeke en, as gevolg van sy eiesoortige humorsin, die draak steek met alledaagse konvensies (soms gepas en soms minder gepas).
Nadat hy sy meestersgraad aan die Randse Afrikaanse Universiteit behaal het, was hy ’n ruk lank taalonderwyser voordat hy as taalpraktisyn sy liefde vir taal verder begin uitbou het. Met ’n gesonde belangstelling in die finansiële sektor, betree hy die korporatiewe wêreld. Vanaf 1979 kan hy as hoof van Nedbank Groep se taaleenheid en later as dokumentasiehoof, tot sy uittrede in 2007, sy passie en loopbaan kombineer en ’n tasbare bydrae tot doeltreffende kommunikasie op hoofsaaklik finansiële gebied, en veral die ontwikkeling en standaardisering van saketerminologie, lewer. Bydraes op dié gebied het beslag gekry in verskeie woordeboeke Finansiële Woordeboek/Financial Dictionary, Groot Finansiële Woordeboek/High Finance Dictionary, Sakewoordeboek/Business Dictionary, Drietalige Sakewoordeboek/Trilingual Business Dictionary en Nuwe Sakewoordeboek/New Business Dictionary in gedrukte en digitale formaat, waarvan hy mede-outeur was en wat algemeen as ’n maatstaf in die bedryf beskou word. Hy is ook mede-outeur van ’n handboek vir vertalers, Finansiële teksvertaling, wat as basis dien vir gaslesings aan honneursstudente in Toegepaste Linguistiek oor finansiële, tegniese en regsvertaling (waarvan hy mede-aanbieder by die Randse Afrikaanse Universiteit was).
As mede-outeur is hy ook betrokke by stylgidse en publikasies, soos The write stuff en Business writing for South Africans, wat vir talle korporatiewe skryfopleidingskursusse gebruik word en in die meeste taal- en kommunikasieafdelings as verwysingsbron aangetref word.
Met meer as 60 jaar se ondervinding as spesialis en mentor op die gebied van skryf, redigeer, terminologieskepping en vertaal- en redigeeropleiding, was Johan ’n gereelde gas tydens taalverwante radiopraatjies en seminare. As lid van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns, die Engelse Akademie van Suid-Afrika, die SA Buro vir Standaarde se Komitee vir Terminologie en Ander Taalhulpbronne, die Sentrum vir Regsterminologie in Afrikatale, die Nasionale Taalliggaam en professionele verenigings soos Prolingua, gooi hy sy gewig in en lewer deurlopend ook ’n praktiese bydrae op die gebied van kommunikasie, taal en terminologie.
Johan se voorliefde vir kreatiewe skryfwerk sorg ook vir sy nalatenskap op dié gebied. Sy Afrikaanse gedigte verskyn aanvanklik gereeld in Standpunte, terwyl hy graag sonnette in Engels skryf, wat ook in Standpunte en in Contrast gepubliseer word. Later volg talle digbundels, A crossing of gods, Pellucid paradigm, Structured space, Son of the sun en The third way, asook Psyspy, ’n spioenasieriller waarin hy die draak steek met taalteoretici. Ook die mediese professie loop onder sy pen deur in Fool’s enterprise, ’n satiriese roman waarin hy saam met Hans Falkena daarop sinspeel dat die professie meer daarby baat om mense siek te hou as gesond te maak.
Ten slotte was Johan ook vir die vertaling van Die apokriewe evangelies en die knap vertaling en verwerking van Sonnette van Shakespeare verantwoordelik.
As iemand wat die fyn net van die woord geken, bemeester, verstaan en liefgehad het, is die wêreld sonder Johan voorwaar armer. Hamba kahle, Johan, en dankie vir jou nalatenskap …
Johan word oorleef deur sy vrou, Sonnette, en drie kinders – Johann, Elzabé en Laurie.
Kommentaar
Johan (of JDU, soos ons hom aangespreek het) was een van die utsonderlikste mense wat ek ooit ontmoet het. Ons het ontmoet by Senbank (waar hy dit bewimpel het dat sy assistent, Sonia van Schalkwyk, later my vrou, by mekaar uitkom). Na my vertrek na Nedbank, het ek aanbeveel dat hy ook daar aangestel word, waar hy onder Afrikaans- en Engelssprekende kollegas, 'n gewilde en uiters nuttige kollega geword het.
My innige simpatie aan Johan se naasbestaandes. Iemand wat werklik 'n uitsonderlike bydrae gelewer het. Sonder sy insette sou Afrikaans beduidend armer gewees het.
Rus in vrede Johan. Jy was 'n besonderse mense-mens wat oral 'n impak gemaak het.
Dankie vir die huldeblyk, Bittie. Johan was uniek, interessant en het gesorg vir intelligente geselskap. 'n Lojale vriend wat láng lunches kon kombineer met goeie wyn en staaltjies uit (en in) Latyn.
Johan se heengaan laat ’n groot leemte. Vir my was hy ’n vriend wat in sy besige lewe altyd tyd gehad het om te kom kuier en te gesels oor boeke en poësie. Ná ’n paar uur van saamgesels tydens ons greelde middagetes het die wêreld sommer blinker gelyk en was die lewe weer vol boeke om te lees, nuwes en bekendes.
Johan het nooit opgehou skryf nie. Volledigheidshalwe kan The Easter Visitor (Gnomic Press, 1999) ook gemeld word, sowel as Gospel 2000 (2007) en Bad Blood (2011), albei op lulu.com. Daar is ook verskeie lang ongepubliseerde gedigte.
Ons innige simpatie aan Sonnette en die kinders.