Huldeblyk: George Bizos

  • 4

Foto van George Bizos: wikipedia

Die uitnodiging om hierdie gedenkskrif vir LitNet by te dra, het ek dadelik en dankbaar aanvaar, want ek sou so bitter graag my persoonlike inset by ’n gedenkgeleentheid ter ere van George Bizos wou gelewer het. Nie dat ek enigsins wil afdoen aan die lofredes tydens die begrafnisplegtighede en andersins in die media nie, maar dié terapie moes ek vanweë die grendeldwang verbeur.

George was inderdaad die groter-as-lewensgrootte bydraer tot die aanbreek en vestiging van volwaardige demokrasie in Suid-Afrika. Hy het menige veiligheidsgetuie vreesloos en doeltreffend gekonfronteer, menige venynige aanklaer die stryd aangesê, menige afsydige regter twee maal laat dink. Dit was hy wat instinkmatig sy kantoor vir Ismail Mahomed en Duma Nokwe aangebied en hul sodoende professionele herberg gegee het toe die rasbehepte owerheid hulle kantoorruimte opsluit ontsê het.

Dit was hy wat meermale die langpad Brandfort toe gery het om die banneling Winnie Mandela in haar eensaamheid te gaan adviseer; méér nog, om haar geestelik te onderskraag. Toe sy polities en eties die pad byster raak, haar vriende vervreem en haar man se naam in oneer bring, was George Bizos daar vir haar, selfs toe sy met haar loslyf jong minnaar in die openbaar geflankeer het. Hy het haar met sy gebruiklike professionele toegewydheid in die smerige Stompie Seipei-saak verdedig, en toe ek dit waag om teenoor hom bedenkinge oor sy kliënt se homofobiese houding en sy gevolglike kruisondervraging te opper, het hy my met groot beslistheid tereggewys met: Dis nie vir advokate beskore om hul kliënte te kies of hul dade te beaam of te veroordeel nie.

Oor 65 jaar heen was hy Nelson Mandela se getroue konfidant, adviseur, vriend en soms segsman. Wie kan Mandela se perorasie in die Rivonia-saak vergeet: dat hy geleef het vir, en bereid was om desnoods ("if needs be") te sterf vir sy lewensideaal van gelykberegtiging vir alle Suid-Afrikaners? George het later erken hy was die outeur van die belangrike voorbehoud. Maar ondanks sy heftige ontkenning, was ek destyds oortuig – en is ek steeds oortuig – dat adv Bizos aansienlik meer van sy kliënt Nelson Mandela se wêreldberoemde verklaring geskryf het. Dit het nog altyd vir my alte veel na Bizos-retoriek geklink.

Ek kan ook getuig dat Bizos in 1987 ’n wesenlike vredesinisiatief bevorder het toe hy op versoek van Mandela (en met die mondelinge dog vertroulike instemming van Kobie Coetsee, destydse Minister van Justisie en Gevangeniswese) heimlik Lusaka toe gevlieg het om daar met die ANC-hoofbestuur tentatiewe gesprekvoering tussen Mandela en Coetsee uit te klaar. Vandag lyk die sending bra alledaags, maar destyds, in die hitte van die oplaaiende onrus en landswye geweld, asook die gepaardgaande verskerpte onderdrukking van owerheidsweë, was dit werklik asemrowend waagmoedig. Selfs vir my as blote getuie van die ooreenkoms was dit riskant; vir George was die risiko enorm. Van weerskante kon sy optrede gewelddadige reaksie ontlok het en bowendien kon strydlustige afwykendes, na links of regs, sy missie probeer fnuik het deur hom uit te skakel. Deurgaans was die Minister se instemming vanselfsprekend ontkenbaar. Bygesê, George, sy kliënt én die Minister het al drie ’n voorliefde gehad vir nuanse, versweë wenke, tentatiewe voelers uitsteek, proefballonne opstuur. In gedingvoering was hy ’n meestertaktikus op wie sy roemryke seniors Kentridge en Chaskalson kon staatmaak.

As advokaat was George in sy element. In advokateopleiding gebruik ek dikwels Bizos se kruisondervraging as voorbeeld – hoe hy stilweg, so in die gesels met die getuie, onopsigtelik as ’t ware om die hofsaal drentel, die deure sluit en die sleutelgate toestop, die vensters een vir een toe- en digmaak, die skrefies met kleefband verseël, en dan die getuie eensklaps konfronteer met die kernvraag – waarvan die bewoording natuurlik sorgvuldig voorberei was.

Daarbenewens was hy dan ook as advokaat subtiel, met die sonderlinge sesde sintuig om getuies soos ’n poligraaf waar te neem; afwykings in stemtoon, -sterkte en -tempo op te let; asemhaling, lyftaal, gesigsuitdrukking en hande te monitor; die swakplek in die relaas te bespeur; die invalshoek te bepaal. Juris, dié was hy nie, maar baasadvokaat bepaald. Oorwegend oorsaaklik was voorbereiding, voorbereiding en nogmaals voorbereiding. Bizos sou beter vertroud wees met die omringende feite as enigiemand anders in die hof. En wat ’n getuie twee dae tevore gesê het, onthou hy verbatim en gebruik hy meesterlik.

Gemeet aan die standaarde van die advokatuur was Bizos nie besonder wel ter taal nie, immers nie in Engels nie en allermins in Afrikaans. Maar ook daar was sorgvuldige voorbereiding die sleutel. Lang ure sou bestee word nie alleen aan die substansie van sy kruisondervraging of betoog nie, maar ook aan presisering van die woorde. Die identiteit van die regter, die kliënt en soms ook die opponent, en natuurlik die aard en sterkte van die saak, sou in samehang met die reg en die feite oorweeg word.

Polisiegetuies het gewoonlik daarop aangedring om in Afrikaans te getuig – waarop hulle natuurlik geregtig was, maar wat eintlik bedoel was om ’n Engelssprekende verdedigingsadvokaat van stryk te bring. Dan wy George ure aan die voorbereiding van sy Afrikaanse kruisondervraging en klop meermale by my aan vir die presiese woord. By geleentheid het hy byvoorbeeld ’n verkrampte taalpuris op die regbank vermaak deur dit aan ’n veiligheidsgetuie wat in ’n japtrap bekentenisse van etlike opgeleide ANC-beskuldigdes kon ontlok, te stel: "Kolonel, en toe ontpop u as ’n biegvader …"

In sy jare by die Legal Resources Centre (LRC), waar hy dekades lank aan die hoof van die konstitusionele litigasie-eenheid gestaan het, is tientalle, moontlik selfs honderde, histories benadeelde aspirantregslui met voorskrif en voorbeeld touwys gemaak, gewys hoe al daardie boekgeleerdheid in die praktyk wérk, hoe die reg menswaardigheid en gelykberegtiging kán bevorder, hoe jy jou ideale kan verwesenlik – en ook hoe jy jou onvergenoegde woede kan ontlont tot heil van die gemeenskap. Die mate waartoe die oopmaak van die regsberoep en regbank onder die nuwe bewind geslaag het, is wesenlik te danke aan die LRC, ’n merkwaardige instelling. Toe hierdie garde swart regspraktisyns in die nuwe bedeling voortydig belangrike poste moes begin beklee, was dit met die wapentuig waarvan die LRC hulle voorsien het – tot matelose voordeel van ons regspleging.

Met ’n "Comrade Bizos" voor en ’n "Comrade Advocate Bizos" agter probeer die ANC en die SAKP alte hard om George Bizos, of sy nagedagtenis, te kaap. Daar word geroem op sy optredes as verdedigingsadvokaat in tallose veiligheidsake onder die ou regime. Ook dat hy en Arthur Chaskalson as konsultante lede was van die ANC se konstitusionele taakspan by Kodesa en die skep van ons Grondwet. Daar word ook soms beweer die een of ander van hulle het by Bram Fischer as leier van die SAKP oorgeneem.

Wel, ons drie was meer as ’n halfeeu lank heg professioneel en andersins saam werksaam, by die Johannesburgse Balie, by die LRC, by Regslui vir Menseregte en by die Konstitusionele Hof – en ek en George, tot sy heengaan, by Freedom Under Law. Ons het male sonder tal in diverse hoedanighede saamgewerk – en saam gespeel – en ek kan die beweerde ANC/SAKP-lidmaatskap sonder enige huiwering verwerp. George het wel gestam uit ’n Grieks-linkse tradisie; hy en Chaskalson het wel (soos ek) vir Bram Fischer as advokaat bewonder en hulle het hom professioneel bygestaan. Ons simpatieë het ongetwyfeld by die vryheidstrewe van die alliansie gelê. Maar hulle het nie hul status as advokate in gedrang gebring deur lid van ’n verbode organisasie te word nie – en sou dit ook nooit doen nie. Daarin het hulle, soos talle van ons kollegas, prinsipieel – en hemelsbreed – verskil van doktrinêre kommuniste soos Bram Fischer en Joe Slovo. Hulle het nie hul professionele onafhanklikheid en hul plig as regslui deur ideologie laat oordonder nie –  en sou dit ook nooit doen nie.

Ofskoon hy sowat 30 jaar staatloos moes bly (en gevolglik nooit sy mense in Griekeland kon besoek nie) en eers deur die dringende tussenkoms van ’n regter uiteindelik Suid-Afrikaanse burgerskap gegun is, staan George se trou teenoor Suid-Afrika, en sy opregte liefde vir die land en al sy mense, bo twyfel. Hy het my eenmaal met lus vertel van sy omarming deur ’n effens aangeklamde Springbok-ondersteuner hoog teen die hang van Loftus se Oospawiljoen met: "Jirre, as die Griéke ook nou rugby kyk, watse kans het sokker?" Maar tog het hy diep wortels gehad in sy Griekse heimat, die kultuur en lewenswaardes van sy Peloponnesiese herkoms. Veral later van jare het hy toenemend teruggereik na klassieke Griekse drama en mitologie, waarin hy hom so gretig verlustig het en wat hy met enige gewillige (of nievoldoende teensinnige) luisteraar sou deel.

Want George was ’n mens-mens, ’n gretige geselsgenoot en kranige storieverteller. Daarvoor het hy ’n besonder goeie geheue gehad – so goed dat sy boesemvriend Arthur Chaskalson by geleentheid kon verklaar: "George onthou selfs goed wat nie gebeur het nie." George het lekker en opreg saam gelag. Wat natuurlik ’n ander kenmerk van George Bizos as beminlike mens illustreer – eintlik twee – naamlik ’n kostelike, droë humorsin met ’n aangebore aanvoeling vir ironie, en daarmee en daarom die vermoë om homself onverbloem te aanskou. Terwyl hy hom verlustig in die loftuitinge van die kinders van sy geliefde Saheti-skool, hom genoeglik daarin vaswikkel, of waardig luister na een of ander breedsprakige aan-die-woord-stelling, was daar so ’n half-verleë trekkie om ’n mondhoek en agterna ’n lakoniese opmerking.

En hy was volwaardig ’n gevoelsmens – hy kon hom bloedig vererg en hy kon driftig raak, veral oor hovaardige rassisme of onreg aan nederiges. Sy reaksie op die Marikanaslagting byvoorbeeld was half skrikwekkend – die passie, die verontwaardiging, sy oë flitsend en stem dik, en dan onmiddellik-instinkmatig aan die werk spring, die slagveld inspekteer, getuies raadpleeg en hul verklarings opteken, begin voorberei om die boosdoeners aan die kaak te stel. Maar hy kon ook met kwalik bedekte hartstog aanhaal uit Cavafy of Homeros, uitbundig lag vir een of ander ligsinnigheid, en aangedaan raak oor ’n kollega se heengaan. Origens is die herinnering aan George egter dié van besadigdheid rustig nadink, nugter en ewewigtig besin. Ek kan my nie herinner dat ek hom ooit sy stem hoor verhef het nie.

In murg en been was hy tot sy dood ’n stoere kleinboer, die seun van nederige kleinboere. Sy bejaarde moeder onderneem sowat 30 jaar ná sy en sy pa se vlugtog uit Nazi-besette Griekeland die lang tog Johannesburg toe, want, so hou sy vol, sy móét voor haar dood tog haar voorskoot deur ’n kleinseun laat benat. Ek sien haar soos gister op die Bizosse se voorstoep, ingedoke maar fier. Sy verstaan g’n woord Engels nie en my "kalimera" is bra ontoereikend, maar ons kuier gesellig en ek verstaan binne ’n kort tydjie waar die Bizos-broers vandaan kom. George en sy eerste en enigste liefde, Arethe, leef eenvoudig, hul verhouding heg maar ingetoë, die leefwyse na aan die grond. Sy stilteplek is die groentetuin wat sy moeder kom aanlê het, sy gesin sy leefkring, sy drie seuns sy trots. In haar laaste jare versorg George vir Arethe tuis met innige deernis en eerbiedige geduld. Die George Bizos wat waardig met staatshoofde kon omgaan, was in sy wese steeds ’n eenvoudige boorling van Wasilitsi.

Maar George Bizos was ook sy heilige naamgenoot sint George waardig, wie ook al die draak was: namens Nelson Mandela teen apartheid, Morgan Tsvangirai teen Zanu-PF, die weduwees en wese van Marikana teen die polisie. Millenniërs begryp nie hoe oorweldigend intimiderend so ’n saak kan wees nie, hoe uitgelewer en alleen ’n beskuldigde daar in die beskuldigdebank lyk – en hoe naak, onmagtig en bedreig die verdedigingsadvokaat by geleentheid voel nie. Advokaat Bizos het daardie uitdaging byna 70 jaar lank trotseer. Op sy oudag, swaarlywig sukkelend sonder ’n kierie, het hy nog in Pretoria deelgeneem aan ’n uitputtende straatbetoging ter ondersteuning van Johann van Loggerenberg se groepie belastinggaarders teen die bose aanslag van Shaun Abrahams en die staatskapers.

Iemand – ek dink dit was die President – het tydens die staatsbegrafnis vir George beskryf as ’n magtige eikeboom. Vir iemand anders was hy ’n seder. Die clichés is windskeef. Die man was ’n olyfboom, knoetserig en so amper verpot, ná aan die grond, gehard, droogtebestand, suinig met sy vrugte maar betroubaar, sonder hoë vertoon of ryk lower. ’n Kanniedood.

Daar was by my die behoefte aan afsluiting, ’n toonvaste koda aan die einde van ’n verbintenis van meer as ’n halfeeu. ’n Begrafnis bring finaliteit; die kluitklap op die kis is klinkklaar die slot. Ek kon vir George nóg op sy sterfbed nóg langs sy graf groet. Nou kon ek. Dankie.

 

  • 4

Kommentaar

  • Oubaas, jy vertel altyd die storie sodat ons almal voel ons was ook daar. Julle spruit voort uit 'n wonderlike periode van vreeslose regspleging. Ek hoop steeds ons kan eer bring aan die voorbeeld wat julle aan ons gestel het.

  • Avatar
    Stephan (Solly) van Nieuwenhuizen

    Regter Kriegler was en is nog steeds een van die beste eksponente van die Afrikaanse taal. Sy keurige woordgebruik is 'n voorbeeld vir ander Afrikaners. Ek was saam met George in Groep 836 en het ook die voorreg gehad om teen George op te tree in ’n 4 maande lange arbitrasie. In die terrein van arbitrasies was George ook ’n meester en het menige getuie sy rieme styf geloop in die geselstrant van sy kruisverhoor.

  • Avatar
    Frits van Oosten

    Johann Kriegler, is voorwaar 'n meester van die woord, of dit nou Engels óf Afrikaans is! Ek het vele lofbetuigings oor George Bizos gelees en aangehoor. Maar dié George Bizos wat ek geken het, word met 'n verrassende invalshoek, vlymskerp geskets, soos net Johann Kriegler dit kan doen. Wat my sal bybly is wat George vermag het: hy het dít waarin hy geglo het reg was en waarin hy uitgeblink het, tot die bittereinde met 'n ongekende passie volvoer. Ek was maar vêr George en Johann se junior by die Johannesburgse Balie, dus het ek hom nooit op só persoonlike vlak, soos waarvan Johann vertel, geken nie. George het wel by tye waargeneem as regter en het ek die voorreg gehad om appêlle saam met hom te verhoor. Soos Johann tereg weergee, 'n merkwaardige mens wat sy onuitwisbare voetspore op ons Geskiedenis nagelaat het!
    Alle eer aan Johann, jy het werklik daarin geslaag om George Bizos weer vir 'n paar kosbare oomblikke in lewende lywe voor my te laat opdoem. Dít was vir my ook afsluiting.

  • Avatar
    Neels Claassen

    Ek het George Bizos geken as medeadvokaat by die Johannesburgse Balie en as mederegter by geleenthede toe hy op die Johannesburgse Bank as regter waargeneem het. Die enigste bydrae wat ek tot sy lewe kon maak, was om te weier om op hom te spioeneer op versoek van 'n lid van BOSS wat nogal 'n medekerkraadslid van my was. Toe ek hom daarvan vertel het, het hy ewe lakonies geantwoord: "Neels, you are not the first to tell me of such an incident!"

    Ek is egter verheug oor die besondere akkurate en meesterlike lofbetuiging van Johan Kriegler oor George, die mens, George die briljante advokaat en George die nederige sielsgenoot met andere se leed. Hy was nog 'n ikoon wat Suid-Afrika opgelewer het in die geledere van Madiba en andere. Ek is ook besonder bly dat Johan dit in Afrikaans geskryf het sodat baie van George se teenstanders, nog in lewe en/of hul afstammelinge, sal verstaan dat daar tereg van George gesê kan word: "Stil broers, daar gaan 'n man verby!"

    Ek het nog 'n prent in my geheue van George wat geselsend en laggend middagete genuttig het in die Riental restaurant net om die hoek van Innes Chambers in Von Brandisstraat ... dit te midde van gespanne tye van sy vervolging deur die tirannie van die vorige bedeling. Teenoor my as Afrikaner was hy nooit veroordelend oor my afkoms, taal of kultuur nie. Hy het opgebou en nie afgebreek nie. Sy vriendelike saggeaardheid sal my altyd bybly.

    Rus in vrede my vriend in die wete dat jy jou lewenstaak uitmuntend afgehandel het met 'n nalatenskap wat welluidend in ons ore sal jubel.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top