Harmonie van nuk en vonk – Johan Myburg oor die Hertzogprys

  • 5
Die Hertzorgprys vir poësie is pas aan Johan Myburg toegeken vir sy bundel Uittogboek. Melt Myburgh het met die digter gesels.
........................

Hertzogpryswenner Johan Myburg in sy huis in Johannesburg (Foto: Deon Raath/Rapport)

Baie geluk met die Hertzogprys wat vanjaar aan jou toegeken is, spesifiek vir jou digbundel Uittogboek. Met dié gesogte toekenning word die kroon op jou digterskap gespan. Voel jy oorweldig deur die eer? Wat was die reaksie in die huis toe die nuus jou bereik het?

Dankie, Melt. Oorweldig is dalk ʼn goeie beskrywing van hoe ek gevoel het toe ek die nuus gehoor het. Spesifiek ten opsigte van die onverwagsheid daarvan en terselfdertyd die opeenvolging van emosies wat ʼn mens beleef by die aanhoor van sulke nuus – van “is dit?” tot “dit is!”.

Die publiek het jou leer ken as ʼn fyn intellektueel vir wie kuns en musiek, benewens skryf, volwaardige passies is. Uiteraard voed dié kunsvorms jou poësie. Jy tree ook dikwels op as kurator vir kunsuitstallings en jy was op jou dag kunsredakteur van Beeld. Maar aan die begin van jou loopbaan was jy predikant; trouens, was jy nie Gereformeerde dominee in Oos-Londen toe jy in 1984 met Vlugskrif gedebuteer het nie? Is die teologie en die geloofswêreld steeds vir jou ʼn ankerpunt, of het jy soos baie ander predikante jou geloof ontgroei?

Nee, ek was besig met diensplig toe Vlugskrif verskyn het. Ek was 27 – wat ek nou dink in my geval te jonk was om te debuteer. Was dit Bernard Shaw wat gesê het: “Youth [like education] is wasted on the young”? Die ding is dat ʼn mens dit net terugskouend kan sê. Moontlik (en hopelik) het ek daar my les geleer om nie oorhaastig te wil wees nie. Dit verduidelik dalk ook die lang tyd wat verloop het voordat Kontrafak eindelik in 1994 verskyn het. Saam met Bernard Shaw se wysheid weet ek ook dat ʼn mens nooit enige ervaring kan afmaak as geheel en al waardeloos nie. Selfs nie diensplig nie. Al het dit bloot my renons in militarisme en nasionalisme versterk, was dit dalk van waarde. Eweso kry ʼn mens onderrig of raak jy gaandeweg onderlê in velde wat weliswaar wêrelde oopmaak. Sonder teologie sou ek nie die klassieke leer ken het nie. En ook nie filosofie nie. En ook nie sielkunde nie.

Ek hou van die onderskeid wat jy maak tussen teologie en die geloofswêreld. Vir die dogma van teologie (soos ook vir die dogma van sielkunde) het ek besieling verloor. Soos wat die DSM (Diagnostic and Statistical Manual of Mental Disorders) in sy vele gedaantes deur die jare blyke gegee het dat die mens se kennis beperk en ook tydgebonde is, het die stelligheid waarmee die “gans andere” God in teologie (wat volledig afhanklik is van die mens se begrip) ingeperk word, vir my onhaalbaar geword. As ek nie geleer het wat ek geleer het nie, sou ek nie geweet het wat ek nié wil weet nie. Ek wil nie alles haarfyn verstaan nie. Want ek kan nie. Ek wil byvoorbeeld nie oomblik vir oomblik bedag wees op die fisiologiese prosesse wat betrokke is by my asemhaling nie. Nietemin wil ek behaaglik asemhaal en bly wees oor die feit dat ek dit kan doen. Sonder asem kan ek nie.

As ʼn mens terugkyk na die ontvangs van Vlugskrif, en die manier waarop die bundels sedertdien – Kontrafak, Kamermusiek en Uittogboek – in die literêre sisteem opgeneem is, kan mens nie help om te wonder hoe jy vandag voel oor die punte van kritiek wat jy met jou debuut ontvang het nie. André P Brink het byvoorbeeld gewys op “’n naarstige nuk tot presisie, wat meermale ’n baie nette formulering tot gevolg het, maar ook soms die gevaar inhou van blóte tegniese versorging waaruit die vonk van die lewe ontbreek.” Het jy Brink se kritiek destyds as geldig ervaar en doelbewus jou werk wat sedertdien gevolg het, daarvolgens gerig?

Ek het reeds hierbo jou vraag oor Vlugskrif begin antwoord. Vlugskrif was ʼn waardevolle leerskool, as ek nou terugkyk. Ek hoor soms dat mense sê hulle steur hulle nie aan resensies nie. En selfs sê dat hulle nie resensies lees nie. Ek het my nog altyd aan elke resensie gesteur. Hoe gaaf of pynlik ook al. André Brink se kritiek was meer raad as kritiek, wat ek doelbewus in gedagte gehou het en steeds hou. Die nuk is steeds daar. Ek hoop wel daar is meer vonk ook. En dat nuk en vonk simbioties kan saamleef. Saam met Brink was Joan Hambidge se resensie van Vlugskrif fel, maar nie verdoemend nie. Ek het geweet ek sal versigtiger moet wees, op ʼn hele paar goed let as ek verder sou wou skryf. Wat nooit ʼn kwessie was nie. Dit is die een ding wat ek graag wou doen. Ek wou kon skryf.

Resensente doen van die verantwoordelikste werk (kom ons neem aan hulle doen hul werk goed) in die letterkunde. Benewens die broodnodige kontekstualisering en inweef in ʼn groter letterkunde, het resensente ook die geleentheid om (subtiel) te waarsku, te por, te twyfel en soms gewoon te jubel. Nie te ontmoedig nie, maar, soos Brink, in dié geval raad te gee wat my nou nog bybly.

In 2008 het Joan Hambidge daarop gewys dat TT Cloete se invloed aanvanklik jou eie stem verdwerg het, maar dat jy onder daardie vaderlike invloed uitgegroei het. Stem jy saam met Hambidge se opmerking van destyds? En is daar ander “vaderlike” of “moederlike” digterstemme wie se invloed jy moes temper om jou eie stem te laat gedy?

In daardie opsig was Joan Hambidge eweneens in die kol. In die onlangse Rapport-onderhoud met Jo Prins, het ek verwys na Cloete se literêre teenwoordigheid. En ja, Cloete was die reus, hoewel hy nooit enigiemand opsetlik sou wou verdwerg nie. Nietemin was die Cloete-invloed iets waarteen ek moes wal gooi. Miskien omdat ek by Cloete ook die “nette formulering” gesnap het waarna Brink verwys het. Ek het ʼn ruk lank Cloete nie gelees nie. Juis om te probeer hoor hoe ek dink. Nuwe blootstelling, ander omstandighede, ander ervarings en doelbewuste wegdink van ʼn Cloete-idioom het dalk daartoe bygedra dat ek met Kamermusiek daardie vaderlike invloed, soos Hambidge dit gestel het, ontgroei het.

Dalk staan ek te naby om ander digterstemme se invloed te bespeur. Dit sal mettertyd en terugskouend dalk duideliker blyk as nou.

Waarop ek bedag wil wees, is om versigtig om te gaan met éénstemmigheid. Ek bedoel dat ʼn mens só seker raak van jou “eie stem”, jou een stem wat jy gevind het, dat jy nou as ’t ware net een snaar het om op te tokkel. Al skuif jy jou eie stem telkens net ʼn aks. Dit bly die uitdaging.

In die tydperk sedert 1984 toe jy as digter gedebuteer het, het die wêreld geweldig verander. Suid-Afrika vandag lyk genadiglik nie meer soos die Suid-Afrika van destyds nie. Hoe voel jy oor die land en die dramatiese verwikkelinge sedert daardie tyd? En hoe raak dit jou lewe en digterskap?

ʼn Mens vergeet maklik hoe sleg die 1980’s was. Ek was in die Oos-Kaap van die middel-80’s en dit was een van die grootste leerervarings wat ek gehad het. Rof is relatief, maar maklik was dié jare nie. Nietemin is ek immer dankbaar vir daardie blootstelling en die universiteit wat die Oos-Kaap vir my was.

Soos demokrasie is menseregte en persvryheid en al die lofwaardige dinge waarvoor ʼn mens jou beywer het, nooit finaal gewaarborg nie. Jy moet dit deurentyd lewend hou, aanwakker, verdedig en bereid wees om weer daarvoor in die bresse te tree. Dié goed kry net gestalte in dié mate waarin ʼn mens dit lewend hou.

Hoe raak dit my lewe en digterskap? Waarvan ek oortuig is, is dat die manier van lewend hou nou anders is as toe. Woorde moet ʼn mens steeds versigtig kies, maar ek dink luister raak ʼn groter noodsaaklikheid. My geslag veral, neem aan ons weet. Ek dink ons moet minder dawer en meer luister. Die laaste ding wat ek hoop om te word, is bitter.

Soos ek hieroor dink, sou ek graag hieroor wou skryf.

In die Rapport-artikel word genoem dat jy reeds op skool (in Potchefstroom) bewus was van jou ontluikende digterskap. As jy nou vanuit die Hertzog-glorie terugkyk na daardie seuntjie in die Afrikaans-klas wat besield na die plakkate van digters teen die mure staar, wat sal jy vir daardie kind sê?

Sonder om Bernard Shaw weer by te haal is die wonderlike ding dat daardie kind, ongeag van wat ek sê of nie sê nie, in elk geval sy en haar eie lewe gaan lei en eie ding gaan doen. Dit is daardie vermoë wat ons anders (nie beter nie) maak as ons voorgangers.

Johan Myburg (Foto: Deon Raath/Rapport)

Klokslag Woensdagaande bring jy Afrikaanse luisteraars in RSG se Skrywers en boeke op hoogte van wat in die wêreldletterkunde aangaan. Hoe vergelyk dinge wanneer jy na gebeure en tendense in die wêreldletterkunde kyk, en dan jou blik swaai na die plaaslike, Afrikaanse letterkunde?

In die wêreldletterkunde het vertalings die afgelope paar dekades ʼn taamlike hupstoot gekry, onder meer deur die Booker International wat ook in prysgeld ewe veel waarde heg aan die skrywer en die vertaler. Op dié manier kry skryfwerk uit kleiner letterkundes ook blootstelling. Namate meer vertalings uit Afrikaans gepubliseer word, kry die vernuf van skryfwerk in Afrikaans ʼn groter gehoor en die ruimer wordende letterkunde die geleentheid om sigbaarder in die buiteland te word. So het Marlene van Niekerk se Triomf en Agaat in vertaalde vorm heelwat hiertoe bygedra toe sy in 2015 een van die benoemdes vir die Booker International was, en so ook Willem Anker vroeër vanjaar toe hy die langlys van dié prys met Red Dog gehaal het. Eweso verrig De Week van de Afrikaanse Roman wonders om die Afrikaanse letterkunde in Nederland en Vlaandere bekend te stel.

Jy tree gereeld op saam met die Nederlandse digter Nachoem M Wijnberg wanneer hy Johannesburg besoek. Geniet jy openbare voorlesings? Wat is jou siening hiervan en hoe het die gereelde samewerking met Nachoem begin?

Tydens een van Nachoem M Wijnberg se besoeke aan die land ʼn paar jaar gelede het ek saam met Josine Overdevest vinnig ʼn voorleesgeleentheid voor sy vertrek na Nederland gereël. Daarna het ons dit ʼn paar keer herhaal en telkens meer digters in die Johannesburg-omgewing probeer betrek. Alwyn Roux het soortgelyke geleenthede in Pretoria saam met Wijnberg aangepak.

Ek dink die belangstelling wat Gérard Rudolf se voorlesings tydens grendeltyd op Facebook gelok het, is aanduidend van ʼn behoefte om poësie voorgelees te hoor. Ek dink voorleesgeleenthede word onderskat as ’n manier om poësie bekend te stel, en om poësielesers miskien meer te bied as woorde op papier. Die visuele vorm op papier is belangrik, maar nie belangriker as die klank wat poësie voortbring nie – of dit in die vorm van voordrag of in voorlesing is.

Is daar jong Afrikaanse digterstemme wat jou opgewonde maak?

As ek drie debuutbundels kan uitsonder van skrywers wat my gewis opgewonde maak, is dit Jolyn Phillips met haar Radbraak (2017) “waarin suiwer poëtiese segginge onverpoos uit die afbraak van taal gemyn word”, om Nini Bennett aan te haal; Klara du Plessis vir die vindingryke manier waarop sy die grense van Afrikaans (in Engels) verken en tart in Ekke (2018); en Die waarheid oor duiwe (2020), ʼn soliede bundel verse waarin Gisela Ullyatt kwesbaarheid in hoeveel skakerings grys verwoord.

Daar verloop lang periodes tussen jou digbundels. Sou jy graag meer gereeld en met korter tussenvalle wou publiseer, of is dit glad nie belangrik nie?

Miskien kan ek jou vraag só antwoord: Ek is tans ná drie jaar verder met ʼn manuskrip (gedigte) as wat ek ooit ná drie jaar was. Kom ons kyk wat gebeur in die volgende sewe jaar.

Wat is jou boodskap aan Afrikaanse lesers wat lief is vir die poësie en wat digters ondersteun deur hul bundels te koop?

Allereers dankie vir elkeen wat ʼn bundel lees en soveel te meer vir elkeen wat ʼn bundel koop. En vir elke leeskring wat sorg dat hulle by bly met die jongste publikasies. Die belangrike woord hier is “sorg”. Ek is telkens verbaas oor die sorg wat leeskringe neem met hul leeslyste. En besprekings. Laastens: Sonder lesers bestaan ʼn letterkunde hoogstens, maar floreer nie noodwendig nie.

 

  • 5

Kommentaar

  • Margaret Cordier

    SALUUT!

    Die digter se fyn ingesteldheid, aanvoeling en intense waarnemingsvermoë deur die kreatiewe oë van die gees, siel en liggaam, asook sy uiterste vakmanskap met uitgesoekte woordboustene, laat vir ons 'n magnifique argitektoniese erfenis in Afrikaans.
    'n Huis vol estetiese genoegdoening en warm huislikheid.
    Ek sal graag in al jou bundels will tuisgaan.

  • Andries Bezuidenhout

    Heerlike onderhoud, Johan en Melt. Johan, hoe lekker lag ek vir "Ek is tans ná drie jaar verder met ʼn manuskrip (gedigte) as wat ek ooit ná drie jaar was. Kom ons kyk wat gebeur in die volgende sewe jaar." Op 'n meer ernstige noot leer ek ook nogal iets daaruit, oor 'n benadering tot skryf.

  • Josine Overdevest

    Thank you for this interview Melt, and Johan thank you for sharing your thoughts and insights! I am very touched by what you said about the way we need to keep democracy, human rights and press freedom alive by choosing our words carefully and the even greater necessity of listening. "Listening" speaks directly to what I've been struggling with these past few weeks thinking about what my role is in today's world, how I can contribute and use my privilege "for good" from a real, sincere place. I've experienced that true listening exposes me to discomfort and to the question how to sit with this discomfort other than responding with words, however carefully chosen. Like the spaces we facilitated to listen to poetry, wouldn't it be interesting to explore what kind of other "listening" spaces we could create?

  • Estelle Neerhling

    Hierdie onderhoud het my diep geraak. Johan Myburgh se stellinge, o.a. in verband met die verskil tussen die teologie en die geloofswêreld het veral getref. Ek kon dit nog nooit na behore verwoord nie: die dogma van die eersgenoemde en tweedens, die wonderlike oneindigheid, miskien selfs geheimsinnigheid, van die geloofswêreld.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top