Gif deur Annerle Barnard en Franco V Heyn: ’n lesersindruk

  • 0

Titel: Gif
Skrywers: Annerle Barnard en Franco V Heyn
Genre: Jeugfiksie
Uitgewer: LAPA Uitgewers
ISBN: 978-0-6370-0550-0 (gedruk)
ISBN: 978-0-6370-0551-7 (e-boek)

Hierdie lesersindruk is uit eie beweging deur die skrywer daarvan aan LitNet gestuur.

“Djoes djy?” Enige ouer wat die agterblad van Gif onder oë kry, mag dalk wonder watse taal is die? My baas het dit bekyk en gesê hy verstaan djy, maar is djoes ooit ’n woord? Die harde werklikheid van sportprestasies en onwettige stimulante is die sentrale tema van die boek, terwyl vriendskapsverhoudinge en vertroue ook sterk aangeroer word.

Joe Scutte en sy pelle, Nathe en Thabo, leef vir rugby. Dinge in die span verander en dit voel vir hulle of hulle spanmaats oornag groter en sterker word. Natuurlik is daar praatjies en Nathe vat ’n vet kans om vir Henk te vra: “Djoes djy?” Ná sy ondeurdagte vraag breek ’n epic fight in die aantrekkamers uit.

...
In Gif waag hulle om oor sportaanvullings te skryf – en nie dit wat jy oor die toonbank kan koop nie.
...

Joe moet Coach in sy kantoor gaan sien voor hy huis toe gaan en kry die slegte nuus dat hy sy plek as eerstespansenter aan Henk moet afstaan. Coach lê klem daarop dat Henk meer stamina het en harder speel. Hy is ook groter as Joe en Joe sal meer spiermassa moet bou. Coach stel voor dat Joe met sy pa praat oor aanvullings of iets.

Thabo verloor ook sy plek in die span aan Sticks en word B-span toe geskuif. Die driemanskap besluit hulle moet iets doen om uit te vind wat aangaan. Joe se pa het allerhande techno gadgets en met die hulp van die sexy buurdogter, Joanne, begin hulle inligting bymekaarkry.

Joe besluit om vir Sticks, wat ook deesdae groter vertoon en langs hom in Wiskunde sit, te vra oor juice. Hy vermoed iemand het hom dalk gehoor toe hy venynige kyke kry. Joe besef dinge raak gevaarlik toe hy eers ’n dreigoproep kry omdat hy vrae vra en daarna amper omgery word toe hy saam met Sticks huis toe stap.

Die driemanskap vat baie kanse wat my letterlik laat asem ophou. Alhoewel hulle soms naelskraap wegkom, besef hulle darem hulle moet ekstra versigtig wees om nie betrap te word nie. Joe bekommer hom oor Sticks. Sy ouer suster, Nina, is ook vir hom ’n bekommernis ... veral toe hy een aand ’n oproep van haar selfoon ontvang en iemand anders op die lyn is en hom wéér dreig. En deur dit alles moet Joe sorg dat sy ouers niks agterkom nie.

Gaan die driemanskap agter die kap van die byl kom sonder om seer te kry? Hoe gaan hulle maak dat enige iemand hulle storie glo? Gaan geregtigheid seëvier?

Gif is Annerle se vierde jeugboek. Haar debuut, Sweepslag, verskyn in 2019, nadat dit in 2017 die kortlys vir die Sanlam Jeuglektuur-prys (Afrikaanse kategorie) gehaal het. Sy skroom nie om temas soos die realiteite van mensehandel, kinderpornografie, dwelmhandel en moord aan te raak nie. Dieselfde jaar verskyn Sindikaat en sy word bekroon met die Silwer Sanlamprys vir Jeuglektuur. Weer eens skroom sy nie om die werklikheid van bendes aan te roer nie, maar ook die uitdagings waarmee tieners daagliks worstel, soos liefde, vriendskap, seksualiteit en lojaliteit.

Twee jaar later doen Annerle dit weer: Haar derde boek, Spel, word bekroon met die Goue Sanlamprys vir Jeuglektuur. Met Spel waag sy haar hand aan ’n wetenskapfiskieverhaal en ons leer woorde ken soos kuborge en transterrane. Ja, dis dalk ’n bietjie vergesog, maar hoeveel van ons het nie in ons jeug wetenskapfiksieflieks gekyk nie? Dink maar net aan die gewilde Star Trek en Back to the future.

In Gif waag hulle om oor sportaanvullings te skryf – en nie dit wat jy oor die toonbank kan koop nie. Sommige mense mag dink dat hierdie onderwerp nie realisties is in die lewe van tieners nie. Die skrywers het egter baie goed navorsing gedoen hieroor en dit is vandag ’n harde werklikheid, veral waar ouers genoeg of te veel geld het en kinders gedruk word vir bomenslike prestasies.

Gif word beslis aanbeveel vir lesers van 15 jaar en ouer. Hulle word bewus gemaak van die gevare van sportaanvullings, maar ook tot die besef gebring dat ’n mens nie net moet opstaan vir wat reg is nie, maar dit ook moet doen.

Lees ook:

Krag deur Fanie Viljoen: ’n resensie

It will shock, upset and educate, a review of Guns and needles by Clinton van der Berg

LitNet loof maandelikse Crito-prys vir lesersindrukke uit

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top