Inleiding
It can be difficult to apologize to those we’ve hurt and hard to forgive those who have hurt us. But sometimes the benefits outweigh the costs. (Coleman, 2021)
Deesdae is dit ’n betreklik eenvoudige proses om iemand te ontvriend (unfriend) op sosiale media. Die blote druk van ’n knoppie en siedaar, die persoon verdwyn van die lys vriende, tydelik of vir ewig en altyd. In rekenaarwetenskap word na unparenting verwys, wat beteken dat ’n objek ontkoppel word van die oorspronklike moederobjek.
Hoe dikwels sou unparenting in gesinne voorkom? Wat sou die redes daarvoor wees?
Ek het onlangs weer eens diep onder die indruk gekom van die impak van gesinsvervreemding toe ek ’n goeie kennis op sy verjaarsdag telefonies skakel. Hy deel my mee dat hy selfs op sy verjaarsdae oor die afgelope tien jaar nie ’n woord hoor van sy twee volwasse kinders en sy enigste kleinkind nie. Die kommunikasie in daardie sisteme is totaal afgesny. Daar is geen salf meer aan die verhoudings te smeer nie. Die kanse op herstel is swak. Die Amerikaners verwys hierna as cutoff, byna soos om ’n snoeiskêr of saag te gebruik om ’n tak van ’n boom permanent af te sny.
’n Mens wonder onwillekeurig hoe die gesinsdinamika sou vertoon indien al die betrokkenes hul eie subjektiewe perspektiewe ten opsigte van die vervreemding in bogenoemde geval op die tafel sou sit. Wat sou die implikasies wees indien een van die betrokkenes te sterwe sou kom voordat die konflik aangespreek of opgelos kon word?
Die verskynsel van gesinsvervreemding is natuurlik geensins nuut nie, gesien teen byvoorbeeld die agtergrond van die gelykenis van die verlore seun (Lukas 15:11–32). Dit sou waarskynlik veiliger wees om die gelykenis in sy geheel (die jongste seun se vroegtydige aanspraak op en aanvra van sy erfporsie en sy gevolglike vervreemding van sy gesin van oorsprong) eerder in terme van die Grieks-Romeinse kultuur wat destyds aan die orde van die dag was, te interpreteer.
In teorie word normaalweg van die standpunt uitgegaan dat persoonlike verhoudings in die kerngesin van ’n hegte en stabiele aard behoort te wees. Die gesin waarvan ’n positiewe gesinsklimaat kenmerkend is, is gewoonlik ’n veerkragtige fort waarvandaan die aanslae van die eksterne wêreld trotseer word. Die praktyk skets egter dikwels ’n totaal ander prentjie.
Ek het gaan lig opsteek by ’n paar kollegas, almal geregistreerde sielkundiges met uitgebreide ondervinding in die privaatpraktyk. Die inligting is per e-pos deur middel van ’n kort vraelys (bestaande uit nege items) verkry. Dit het vrae ingesluit oor die oorsake van die vervreemdingsverskynsel spesifiek binne die kerngesin; gepaste behandelingstrategieë; die prognose asook bepaalde etiese kwessies wat op hierdie soort gevallewerk van toepassing sou wees.
’n Operasionele definisie vir gesinsvervreemding (Blake 2017), is soos volg vir die doeleindes van die vraelys geformuleer:
-
- Daar was vir ’n aaneenlopende periode van 30 dae geen direkte of suksesvolle kommunikasie tussen die betrokke gesinslede nie.
- Die kommunikasiebreuk word doelbewus deur een persoon in stand gehou.
- Gesinslede weet hoe om mekaar te kontak; niemand het dus verdwyn nie.
- Dié wat betrokke is, regverdig die verhoudingsbreuk op grond van spesifieke misstappe deur die ander persoon of persone.
- Die vervreemding is doelbewus en vrywillig.
Terugvoer vanuit die praktyk
Die vyf sielkundiges¹ het gemiddeld 22 jaar praktykervaring gehad en het die volgende registrasiekategorieë verteenwoordig: voorligting-, kliniese en opvoedkundige sielkunde.
Hier onder volg uittreksels uit hul terugvoer. Dit dui daarop dat vervreemding binne die kerngesin beslis ’n wesenlike en komplekse probleem in terme van hul eie praktykervaring is:
Oorsake
Die verskynsel behels verskeie fasette. Een daarvan het betrekking op die toenemende beklemtoning van "menseregte" en die gepaardgaande stel van grense om die sogenaamde regte te beskerm. Dit wil voorkom of kinders wat hulself vervreem, van mening is dat ouers nie noodwendig hul uniekheid en vryheid respekteer nie en dan interpreteer hulle die selfopgelegde vervreemding as ’n metode om grense te stel en hulself te beskerm.
Dit wil ook voorkom of kinders in sekere gevalle die ouerhuis "ontgroei" en verkies om self die lewe te ontdek sonder die insette van ouers. Hierdie besluit van kinders gaan baie keer gepaard met trauma wat gedurende die kinderjare binne die ouerhuis ervaar is en die kind poog om die traumatiese herinneringe op so ’n wyse te ontsnap.
Wat ouerskapstyle betref, word inkonsekwentheid dikwels as ’n rede vir gesinsvervreemding aangegee, en die voorkoms daarvan spruit dikwels voort uit die inkonsekwentheid wat die ouers self destyds as kinders in hulle eie gesinsverband beleef het.
Egskeiding kan woede en jaloesie in die hand werk, veral indien een ouer die situasie wil manipuleer of die ander ouer wil "straf" vir hulle keuse om te skei. Indien ’n intense magstryd ontstaan wanneer die een ouer nie sy finansiële verantwoordelikhede nakom nie, word ’n vrugbare teelaarde vir gesinsvervreemding geskep. In sulke gevalle word na derdepartyvervreemding verwys.
Indien ’n egskeiding nie voortdurend sinvol en met insig bestuur word nie, word ’n basis maklik geskep vir geleidelike vervreemding tussen ’n kind en een van die betrokke ouers. Aansluitend hierby is die veranderinge wat in die dinamika van ’n gesin ontstaan wanneer ’n nuwe eglied die sisteem betree na die dood van ’n moeder of vader; of ongelukkigheid oor erfporsies ontstaan; of ’n persoon word gedwing om kant te kies; ’n houding van vergelding (’n "ek-kry-jou-terug"-houding) ontstaan; of die effekte van middelafhanklikheid. Seksuele misbruik, gesinsgeweld en verwaarlosing word as verdere redes vir gesinsvervreemding genoem.
Behandeling
Individuele sowel as gesinsterapie word as ’n behandelingstrategie vir gesinsvervreemding aangedui. Indien gesinsterapie gebruik word, is die rasionaal dat die vervreemding ontstaan het terwyl die gesinslede bymekaar was, daarom is die beste opsie om almal byeen te bring tydens die behandeling van die probleem. Die doel in hierdie geval is om wedersydse begrip en insig te bevorder vir die uiteenlopende gesigspunte en verwagtinge wat deur die onderskeie gesinslede gehandhaaf word.
Indien verhoudingsterapie gebruik word, is sukses afhanklik van al die partye se gewilligheid om aan die gebroke verhouding te werk. In so ’n geval word ’n sensitiewe sistemiese ingryping ontwikkel waar elke individu as subsisteem se unieke rol in die verbrokkelde verhouding met empatie en begrip verstaan word. Psigo-opvoeding oor die kompleksiteit van verhoudings is essensieel. Die terapeut bepaal, deur middel van ’n sistemiese evaluering in samewerking met die verskillende individue, watter verhoudingsvaardighede terapeuties verken en ontwikkel moet word. Rolspel tydens individuele terapie, sowel as groepsessies kan baie waardevol wees. Die modellering van konstruktiewe kommunikasietegnieke, empatie, onvoorwaardelike positiewe agting en kongruensie tydens elke individuele en groepterapiesessie is waardevol vir oordrag na die gesin-/familiesituasie buite die terapeutiese omgewing. Individuele en gesinstrauma kan met erkende traumaberadingstegnieke behandel word.
Indien seksuele misbruik of gesinsgeweld as ’n oorsaaklike faktor na vore kom, word die gesin normaalweg na ’n maatskaplike werker verwys.
Kanse op herstel
Die prognose vir gesinsvervreemding wissel van geval tot geval en het bepaald te make met aanspreekbaarheid, emosionele intelligensie en motivering vir persoonlike groei.
Die prognose word bepaal deur die mees destruktiewe houding of ingesteldheid. Indien iemand in die groep byvoorbeeld nie aanspreeklikheid aanvaar nie en ’n onverbiddelike standpunt soos "nee" inneem, dan bepaal hierdie ingesteldheid ’n betreklik swak prognose vir die bepaalde gesin. Indien daar egter ’n geskiedenis van gesonde en sekure verhoudings in die gesin in die verlede was, is die moontlikheid op herstel beter as in ’n geval waar die binding tussen die ouers en kinders deurspek was met onsekerheid ("insecurity") en onveiligheid.
Indien die ouer(s) bereid is om saam te werk en bereid is om met die kind wat vervreemd is, kontak te maak, is die prognose soveel beter. Ook wanneer hulle nie moed opgee nie en aanhou probeer om die narratief te herskep deur "uitsonderlike" maniere van hulle liefde ten toon te stel.
Etiese oorwegings
Die terapeut moet deurgaans duidelikheid hê oor watter gesinslid die primêre kliënt is. Is dit die individu wat die eerste afspraak gemaak het of is dit die hele gesin? Wie het ingestem tot die proses? Ingeligte toestemming is ook hier spesifiek ter sprake. Geen terapeut kan waarborg dat die terapeutiese proses die verhouding sal herstel nie. Alle partye moet deeglik hiervan kennis dra. Die handhawing van vertroulikheid is natuurlik ook belangrik. Sodra meer as een persoon betrokke raak by die proses, is die handhawing van vertroulikheid altyd ’n uitdaging.
Wat etiese vereistes betref, moet die behandelingsproses voortdurend ’n opbouende karakter aanneem. Wanneer een van die partye nie instem tot ’n bepaalde besluit, prosedure of standpunt nie, moet die behandelingsprogram spoedig afgesluit word.
Dit is moeilik om afsonderlik met die ouers te werk en vertroulik met die inligting van elke party te werk. Dit kan nie in ’n "sy’t gesê, hy’t gesê"-situasie ontwikkel nie. Die sielkundige moet fyn trap om te voorkom dat die situasie vererger. Daar is ook dikwels ’n regsaspek aan hierdie tipe gevalle gekoppel en duidelikheid moet oor die rol van die sielkundige verkry word. Die stel van grense moet ook uitgesorteer word.
Wat sê die literatuur?
Dit sal interessant wees om te bepaal watter aspekte van gesinsvervreemding tans in die internasionale navorsing aandag ontvang, wat die belangrikste bevindings was, en op watter wyses dit aansluiting vind by die sielkundiges se terugvoer.
Vir dié doel is die bekende akademiese navorsingsdatabasis Ebsco Host gebruik om enkele onlangse en goedgefundeerde navorsingstudies oor gesinsvervreemding te identifiseer.
Perspektiewe oor redes vir vervreemding
Carr (2015) en haar medewerkers het die redes ondersoek wat vir gesinsvervreemding aangevoer word deur ’n groep Amerikaanse ouers (n=546) en ’n aparte groep volwasse kinders (n=352). Die gemiddelde ouderdom van die ouers was 56 jaar en die kinders 40 jaar. Die ouers was gemiddeld reeds vir vyf jaar van hul kinders vervreemd, terwyl die kinders gemiddeld reeds vir nege jaar van hul biologiese ouers vervreemd was.
Die hoofredes wat die kinders aanvoer vir gesinsvervreemding was hul persepsie van die ouers se toksiese gedragspatrone en die feit dat hulle min of geen ondersteuning ontvang het nie en as individue misken en verwerp is.
Die ouers, daarenteen, se hoofrede was die impak van die kind se verhouding met ander persone buite die gesin van oorsprong. Dit sluit in die kind se verhouding met hul eggenoot, kêrel of meisie ("dating partners"), skoonouers, stiefouers of enige ander persoon buite die gesin van oorsprong.
Soos verwag, is ’n wye spektrum redes deur albei partye aangevoer. Die aard van die hoofredes wat deur ouers en kinders onderskeidelik aangevoer word, het ook verskil. In die geval van die ouers is die oorsaak gesoek in faktore wat buite die gesin van oorsprong geleë is, terwyl die kinders die vingers na die ouers se toksiese gedrag en optrede (maw intrapersoonlike faktore) verwys het. Beide partye is dus geneig om ’n eksterne lokus van kontrole te handhaaf, vandaar die perseptuele verskille tussen ouers en kinders wat die werklike redes vir vervreemding is. Hierdie situasie kan natuurlik die psigoterapeutiese proses bemoeilik en die prognose verlaag.
Anders as wat verwag is, dui hierdie studie ook daarop dat gesinsvervreemding nie noodwendig tydens adolessensie begin nie, maar ook op ’n later stadium kan plaasvind.
Interessant genoeg is geografiese skeiding nie deur een van die twee groepe beklemtoon as ’n belangrike faktor in gesinsvervreemding nie. ’n Rede daarvoor kan wees dat, in vergelyking met Suid-Afrika, minder Amerikaanse kinders emigreer. Indien die studie in Suid-Afrika gedupliseer sou word, sou geografiese skeiding dalk as ’n beduidende rede uitgelig kon word. Indien Carr (2015) voorsiening gemaak het vir die statistiese kontrolering van die invloed van geslags- en sosialestatusverskille, sou die resultate veel meer sinvol gewees het.
Laastens, wanneer ’n persoon te sterwe kom voordat die gesinsvervreemding suksesvol opgelos is, word hierna as "terminale vervreemding" verwys. Indien vervreemding van een geslag na die volgende oorgedra word (vader-seun-vervreemding word byvoorbeeld oorgedra na grootouer-kleinseun-vervreemding), staan dit as oorgeërfde vervreemding bekend. Dit blyk dat kinders meer dikwels geneig is om hul verhouding met hul ouers te beëindig as andersom.
Funksionele gesinsvervreemding
Blake (2017) wys daarop dat ’n breër konseptualisering van gesinsvervreemding as funksioneel of disfunksioneel nuttig gebruik kan word om ’n ander perspektief op die verskynsel te plaas.
Die afwesigheid van of gebrek aan ’n normale verhouding tussen ouers en kinders word gewoonlik beskryf in negatiewe terme soos "beëindiging", "afsluit", "finaliteit", "inploffing", "verwerping", "opbreek" en "vyandigheid". Sulke terminologie weerspieël die einde van die funksionering van ’n verhouding of die einde van ’n proses wat voorheen as ’n normale proses gesien is.
Alhoewel gesinsvervreemding gewoonlik voortspruit uit negatiewe verhoudings, is vervreemding op sigself nie altyd ’n negatiewe gebeurtenis nie. Gesinsvervreemding kan ook as ’n positiewe respons op ’n ongesonde situasie gekonseptualiseer word. Dit kan ’n reaksie wees met die potensiaal om konflik te verminder en sodoende sielkundige welsyn en veiligheid bevorder asook konflikvermindering in die hand werk.
Funksionele gesinsvervreemding kan dus vir sommige beteken dat die verhouding nie finaal verbreek of opgeskort word nie, maar eerder op ’n onderhandelde skikking neerkom om misverstande, ongelukkigheid, geweld of selfs misbruik te voorkom. Hierdie benadering kom neer op sekondêre voorkoming.
Dié soort benadering kan die basis skep vir die ontwikkeling van die sinvolle vertrekpunt "om met vervreemding saam te lewe". So ’n ingesteldheid kan selfs op die lang termyn die klimaat vir vergifnis en versoening skep. Ware versoening vereis egter persoonlike insig en sluit aspekte in soos selfkennis, hantering van emosies, bou van veerkragtigheid en ’n opregte en "warm" belangstelling in die vervreemde persoon (Connidis, 2017).
Vervreemde studente en toelating tot universiteitsonderwys
Gesinsvervreemding hou normaalweg verreikende gevolge vir alle betrokkenes in.
’n Voorbeeld wat hier genoem kan word, is dié van studente wat aansoek doen om toelating tot universiteitsonderrig en wat van hul gesin vervreemd is. In Suid-Afrika word van NSFAS- (Nasionale Finansiële Hulpskema vir Studente-) beursaansoekers vereis dat ’n middeletoets van die gesin gedoen word. Die vraag ontstaan egter hoe sodanige middeletoets uitgevoer kan word indien die kontak tussen ’n vervreemde student en die gesin van oorsprong vir meer as 12 maande afgesny was en geen kommunikasie tussen die partye plaasvind nie.
Volgens Bland en Blake (2019) ressorteer vervreemde studente wat aansoek doen om toelating om universiteitstoelating in Groot-Brittanje onder die mees kwesbare studente in ’n gegewe universiteitsgemeenskap. Vir hul navorsing gebruik hulle 564 vervreemde student onder die ouderdom van 25 jaar. Dié studente is nie alleen skaam, geïsoleerd en uiters versigtig om hul vervreemde status aan universiteitsamptenare openbaar te maak nie, maar beskik ook nie oor die nodige middele, ervaring en selfvertroue om ondersteunde derdepartybronne soos maatskaplike werkers, sielkundiges of studente-ondersteuningsdienste te raadpleeg nie. Hierdie deskundiges verleen hulp in die verkryging van volledige dokumentasie en samestelling van aansoeke om toelating. Dikwels verdiep hierdie studente se armoedige lewenstyl, en verswak hul geestesgesondheid weens die lang vertragings in die verwerking en afhandeling van aansoeke.
’n Aanname het gevolglik ontstaan dat baie van hierdie studente net eenvoudig moed opgee, verdwyn en hul genadelose daklose lewe verder op hul eie voortsit.
Gevolgtrekkings
Omdat slegs na enkele navorsingstudies in erkende vaktydskrifte verwys is, kan nie daarop aanspraak gemaak word dat alle aspekte van gesinsvervreemding verreken is nie. Die resultate van die enkele studies hier bo, in samehang met die terugvoer van die praktiserende sielkundiges, dui egter aan dat gesinsvervreemding ’n komplekse verskynsel is en dat dit meer dikwels voorkom as wat die algemene verwagting is.
Addisionele vrae om te beantwoord, sluit die volgende in: Is dit moontlik vir ouers om "modelouers" te wees en steeds deur hul kinders vervreem te word? Gesinskonflikte verskuif deesdae van materiële kwessies na sielkundige kwessies. Wat sou die beste strategie wees om laasgenoemde te voorkom en te hanteer? Indien kinders sou besluit om hul verhoudings met hul ouers te beëindig, is die ouers in ’n sekere sin magteloos. Watter implikasies hou dit vir beide partye in?
In hierdie artikel word hoofsaaklik op die kerngesin en vervreemding tussen ouers en kinders gefokus. Daar is ook baie variasies op die tema, soos vervreemding tussen kinders (broers en susters), vervreemding tussen biologiese kinders en aangenome kinders binne dieselfde gesinsopset, en vervreemding tussen grootouers en kleinkinders. Daar was onlangs persberigte oor ’n selfdegeslagpaartjie wat ’n semenskenker aanlyn gewerf het om ’n swangerskap te bewerkstellig. Indien die persberig akkuraat en betroubaar is, was die skenker se identiteit aan die paartjie bekend. Op ’n latere stadium is alle kommunikasie deur die paartjie met die skenker verbreek en is hy vervreem van die kind wat deur sy toedoen verwek is. In hierdie geval ontstaan vrae oor behoorlike etiese kontrole en regulering wat noodwendig gepaard gegaan het met sulke prosesse en besluitneming. Indien doeltreffende regulering en kontrole wel toegepas is, kon hierdie pynlike trauma vir die betrokke partye voorkom gewees het.
Dit word onomwonde hier gestel dat unparenting ten alle koste voorkom moet word. Indien dit onmoontlik is, is sekondêre voorkoming die aangewese uitweg. Pogings behoort aangewend te word om gesinsvervreemding vanuit ’n funksionele perspektief te benader. Dit vereis ’n ingesteldheid deur alle betrokke partye om met gesinsvervreemding saam te leef. Indien daar geen salf aan die situasie te smeer is nie, aanvaar dit as sodanig. Respekteer steeds die ander partye en behou die hoop dat versoening in die toekoms wel ’n moontlikheid is.
Barbara LeBey, 2002:139² se wenke op grond van haar eie ervaring met gesinsvervreemding vat die situasie goed saam:
First, let your loved one know you want to fix the relationship. If you’ve done something terribly unkind, make a heartfelt apology. But focus on the present, not the future, not the past. Try getting outside help, a therapist, or a clergy member. Stay in touch, even if there’s resistance. You can send cards and presents on appropriate occasions. If there’s no response, don’t get angry. Just wait. Give up the need to be right. As a former judge I understand there can be two valid sides in any disagreement. Lastly, be gentle but persistent.
Eindnotas
¹ Die vyf sielkundiges wat reageer het op my uitnodiging om aan hierdie studie deel te neem, word bedank vir die tyd wat hul afgestaan het om die vraelys te voltooi.
² LeBey, B. 2002. Mending fences. People, 57(4):139.
Kommentaar
Dit is m.i. 'n nuttige artikel oor 'n belangrike onderwerp.
Ek was effens (en aangenaam) verras toe ek agterkom die skrywer meen funksionele terapatie kan dalk 'n heilsame uitwerking bewerkstellig (kyk bv ook http://www.functionaltherapy.co.za/?page_id=2).
Dit staan dan seker teenoor die hedendaagse in vogue kognitiewe gedragsterapie, hoewel 'n onderafdeling hiervan, nl. rasioneel-emotiewe gedragsterapie, seker ook van waarde kan wees, sou 'n mens die saak meer eklekties wil hanteer.
Uitstekend geskryf. Maar, dit is 'n hartseersaak wat duidelik met groot omsigtigheid hanteer behoort te word.
Inderdaad 'n komplekse verskynsel wat meer dikwels voorkom as wat ons besef en daarom 'n baie aktuele tema en baie sinvol gewees om ook 'n plaaslike kort vraelys-opname te gebruik.