Gedagtes rondom Orania

  • 13

Ingang tot Orania, Noord-Kaap. Foto’s met toestemming gebruik.

*

Lees Yves T’Sjoen se reaksie op onderstaande artikel.

*

1. Inleiding

’n Klompie maande gelede is ek deur middel van e-pos deur lede van Orania, die Afrikaanse kultuurenklawe in die Noord-Kaap, genader om hulle te help om ’n “volksliedkompetisie” te beoordeel.

’n Artikel het in Die Burger verskyn en daarin pryk ek en my medeskrywer, Daniel Hugo, op ’n foto aan weerskante van ’n monument in Orania wat die woord “waarheid” in ’n leuse bevat. Die foto is deur Orania se media-afdeling geneem en aan die koerant verskaf. (Die koerantstorie verskyn hier).

Daar is nou verwardheid oor waarom ek as skrywer my met ’n “twyfelagtige” politieke entiteit kan assosieer. ’n Belgiese kollega van my, Yves T’Sjoen, het my per e-pos gevra om my deelname te verantwoord. En as daar verdere vrae is, sal ek dit met hom op die webtydskrif Voertaal uitklaar.

Ek kan sien waarom Yves verbaas is. In Nederland en België het Orania ’n reputasie as ’n hardkoppige wit, rassistiese enklawe. Ek en ook Daniel Hugo het in 1999 saam met ander Afrikaanse digters die latere Nederlandse vaderslandsdigter Gerrit Komrij deur Nederland en België op ’n bekendstellingsreis vergesel wat wyd gesien is as teken van die verbreking van die kultuurboikot teen apartheid.

My eie digwerk bevat deurgaans werk wat besinnend omgaan oor die apartheidsverlede. Maar dit is nou ook ’n tyd om dieper na die Suid-Afrikaanse problematiek te kyk in ’n tyd waarin nuwe terme hulself al stollende uit die newel aanbied en die landskap van politieke denke besig is om bykomende nuanses te verkry.

Dit staan Orania natuurlik vry om sy eie suggesties met die foto te bevorder. So ook is Yves vry om uit sy baie spesifieke hoek te kom en ’n verantwoording te vra. Ek gebruik nou graag dieselfde vryheid om my eie vertolking van my besoek aan Orania te verskaf.

Eerstens: Daardie monumentleuse is nie myne of Daniel Hugo s’n nie, dit is Orania s’n. Enige iemand wat my werk as skrywer of kommentator ken, sal weet die idee van “die waarheid” is by my ’n uiters geproblematiseerde saak.

Tweedens: Ek en Daniel het histories soms baie wyd uiteenlopende idees oor die letterkunde gehuldig, hoewel sommige van ons menings, oor sê maar die sonnet, wel oorvleuel. Ek vertrou Daniel respekteer die reg op die bestaan van my menings, soos ek die reg op die bestaan van sy menings ten volle respekteer. Ons verskille in die verlede was soms heftig, en dus was dit vir my goed om weer vriendskaplik met hom om ’n tafel te kon sit. Die feit dat ons op een foto verskyn, beteken geensins dat ons nou sinoniem met mekaar is nie, of sinoniem met Orania is nie.

Wat Orania betref, hul gasvryheid was onberispelik. Ek beveel ruimhartig aan reisigers aan wat van noord na suid reis en andersom, om besoek aan hierdie seldsame nedersetting aan die Gariep (Oranjerivier) te bring. Julle sal by ’n lang lys openbare persoonlikhede aansluit vir wie dit nie benede hul waardigheid was om Orania te besoek nie: Nelson Mandela, die Reserwebank van Suid-Afrika, Julius Malema, en meer onlangs die Orania-bewonderaar en politikus Gayton McKenzie, om maar ’n paar te noem.

Derdens, oor Orania se “volksliedkompetisie”: Orania se amptenare het skryfkundiges genader om as kundiges hul insette te kom gee oor die genre van die loflied, waarby die “volkslied” aansluit, sodat hulle wat Orania is, ’n ingeligte keuse kan maak. Ek en Daniel het – onafhanklik van mekaar – ingestem om van hulp te wees.

Vierdens, oor myself en Orania: Orania se versoek was “Help ons asseblief met ons kompetisie en die eienskappe van hierdie soort literêre produk, en ons verskaf aan jou en jou metgesel ’n gratis naweek in Orania op die rivier; ons betaal ook jul reiskoste heen en terug.” Ek het vanuit Gauteng gereis, Daniel vanuit die Wes-Kaap.

.....
As passievolle ondersteuner van beide die Suid-Afrikaanse Grondwet van 1994 en die Suid-Afrikaanse nasionale staat wat in 1910 tot stand gekom het, het ek geen gewetenswroeging ervaar om Orania, ’n de facto-privaatbesit-entiteit wat op wettige wyse ’n onafhanklike en uiters suksesvolle munisipaliteit geword het, te help met ’n verskompetisie nie.
.....

Ek het die aanbod aanvaar omdat dit ’n goeie geleentheid vir my sou wees om as skrywer en navorser ’n besoek aan die omstrede Orania te bring wat ek andersins nie sou kon bekostig nie. As passievolle ondersteuner van beide die Suid-Afrikaanse Grondwet van 1994 en die Suid-Afrikaanse nasionale staat wat in 1910 tot stand gekom het, het ek geen gewetenswroeging ervaar om Orania, ’n de facto-privaatbesit-entiteit wat op wettige wyse ’n onafhanklike en uiters suksesvolle munisipaliteit geword het, te help met ’n verskompetisie nie. Terloops, dit is die kliënt, Orania – nié ek nie – wat die kompetisie ’n “volksliedkompetisie” genoem het. Ek self het deurgaans van ’n lofliedkompetisie gepraat.

My deelname beteken nie dat ek die oogmerke van Orania om uiteindelik ’n “onafhanklike staat” te word, ondersteun nie. ’n Vergelykbare situasie sou wees as ek ’n kerkgemeente in Alex, Johannesburg sou help met ’n kerkliedkompetisie. Dit beteken nie ek deel hul spirituele oortuigings nie. Ek deel wel ’n respek vir hul inspirasie.

Beswaardes oor my betrokkenheid moet die de facto-situasie van Orania ten volle verreken. Ek herhaal, dit is ’n wettige privaatbesit-entiteit wat ’n stuk grond bewoon wat van niemand afgeneem is nie, wat teen markwaarde gekoop en ontwikkel is, waarin niemand onderdruk word nie en waarin mans en vroue (sover ek kan sien) in ewe maat amptenare is. Dit bedryf ’n ontwikkelingsprojek met ’n eie, wettig geregistreerde ontwikkelingsbank, wat só vindingryk en suksesvol met sy projekte is dat die Reserwebank van Suid-Afrika by geleentheid amptenare gestuur het om meer van die bank se formules te leer.

Die Munisipaliteit Orania se ideale om onafhanklik van Suid-Afrika te word, is ’n nieverbandhoudende toedrag van sake, ’n verbeelde saak, wat ek nie sonder meer kan of wil ondersteun nie. Teen die agtergrond van die heersende verbeeldingloosheid en intellektuele armoede van Suid-Afrika se regering, behou ek egter ’n oop gemoed daaroor.

2. Orania, “apartheid” en “rassisme”

Orania se visie sal onmoontlik tot alle Afrikaanse mense, selfs nie eens alle wit Afrikaanse mense nie, spreek. Ek self het geen behoefte om deel van Orania of enige soortgelyke formasie te word nie.

Ek sien egter geen rasvoorwaarde in die lidmaatskapreëls van Orania nie. Ek het al swart aangenome kinders van wit Afrikaanssprekende mense ontmoet, vriende van my, wat praat en dans en presteer en hulself aanbied soos enige ander Afrikaanse kind wat dieselfde Afrikaanse skole bygewoon het. Ek het min rede om te dink dat so ’n swart Afrikaanse persoon, indien hy of sy sou besluit om die kultuurvisie van Orania te omarm, deur Orania verbied sou word om deel van die gemeenskap te word as hy of sy sou aansoek doen daarvoor. Orania se grondwet praat van hul lede as Afrikaanse mense van Europese afkoms. Daar is geen rasterm in nie. So ’n swart jongmens soos wat ek beskryf het, wat dermate Afrikaans grootgeword het, sou beslis kon kwalifiseer as “Afrikaans van Europese afkoms”. (Orania se segspersone is vry om my op hierdie punt reg te help as ek verkeerd is.)

Verder het ek dit op goeie gesag dat Orania – in ’n land waarin die meeste munisipaliteite aan’t skerwe en bankrot is en nie meer funksioneer nie – by meer as een geleentheid ander munisipaliteite en swart dorpstrukture van raad en bystand bedien het ten einde hul probleme aan te spreek. Hierdie is nie slegs ’n na binne gekeerde organisasie nie.

Verder het ek geen indruk gekry dat die inwoners van Orania die reuse-historiese onreg wat apartheid teenoor die land se swart bevolking was, ontken nie. Ek is redelik oortuig daarvan dat hul intellektuele leier, Carel Boshoff IV, dit nie ontken nie. Hul strewe is ’n soeke om te lewe ingevolge ’n ontologie waarin hulle hulself kan herken. Of ander nou dink hul strewe om dit te bereik is nodig of nie, dit is nie ter sake nie. Húlle dink so.

.....
Eweneens sien ek nie my navorsingsbesoek as ’n miskenning deur my van die tragedie en misgryp wat apartheid was nie. Ek is beslis nie besig om die kritiese skryfprojek wat my lewe kenmerk, die rug te draai nie. Ek is wel altyd op die uitkyk vir groter nuansering vir my denke
.....

Apartheid was iets anders. Dit was die aandrang daarop dat die wit ontologie beter is as enige ander, en is sonder konsultasie op die res van die land afgedwing. Dit het sigself in stand gehou met verdrukkende wette wat bewegingsvryheid ingeperk het; mense na onbekende gebiede verskuif het omdat hulle ’n sekere tongval of velkleur had; en nog meer. Orania se strewe om ’n bepaalde lewensontologie uit te lewe waarin húl weergawe van hul taal en geloof sentraal staan, het niks met die voormalige apartheidstaat se verdrukking van andere te doen nie. Ek het niemand in Orania gesien wat verdruk word of wat gedwing word om sy lyf en lewe te verkoop ten voordele van ander mense nie.

Eweneens sien ek nie my navorsingsbesoek as ’n miskenning deur my van die tragedie en misgryp wat apartheid was nie. Ek is beslis nie besig om die kritiese skryfprojek wat my lewe kenmerk, die rug te draai nie. Ek is wel altyd op die uitkyk vir groter nuansering vir my denke.

3. Het Orania iets vir Suid-Afrika se problematiek te sê?

Die Suid-Afrika van vandag bevind hom in ’n posisie waar sy sterk program van sentralisme, deur die ANC van stapel gestuur, besig is om klaaglik uitmekaar te val. Verskeie kenners het al opgemerk dat Afrika, en Suid-Afrika in die besonder, “nie gemaak is vir sentralisme nie”. Daarmee bedoel hulle onder meer dat daar nie genoeg brûe vanuit die historiese voorstaatlike diversiteit beskikbaar is om sentralisme vir genoeg mense oortuigend, deursigtig en betroubaar te maak nie. Dit veroorsaak ’n wydverspreide gebrek aan vertroue in die sentraliserende projek en ek sou argumenteer dat dit ’n sterk bydraende faktor tot die korrupsie en die selfverryking is wat die ANC-orde kenmerk. Natuurlik speel die skade wat deur apartheid en kolonialisme veroorsaak is, in die agtergrond ’n rol. Dit het historiese vertrouensbreuke veroorsaak wat die huidige vertrouensbreuke verskerp.

Daar is egter tans ’n bepaalde ontwikkeling wat dalk iets verklap van die dieper malaise. Hoe meer en verder ons landsbestuur in duie stort, hoe sterker klink die oproepe uit hoofsaaklik swart geledere op dat die land moet “dekolonialiseer”.

Daardie oproep is niks anders nie as ’n wekroep vir ’n soeke na ’n Afrika-ontologie wat Afrikane vermoedelik meer in voeling met hul “eie geskiedenis”, hul “eie kulturele geheue” sal plaas en aan hulle die middele sal verskaf om hul premoderne erfenisse in ’n moderniteit te omskep waarin hulle hulself kan herken.

Hulle wil hul “eie geheue” opdiep en dit dan vertaal in ’n moderniteit “van hul eie”. Hierdie stelswyses kom nie geredelik voor nie, maar as jy van naderby kyk, is dit waaroor dekolonialisering gaan. Hoe meer die nuwe swart orde die een na die ander infrastruktuur wat deur die vorige wit orde aan hul nagelaat is, vernietig laat – tot almal se nadeel – hoe meer vra hulle vir ’n wegbeweeg van Europese geheue, en hoe meer defensief word hulle oor die moedswillige vernietiging.

.....
Sit hier dalk ’n verborge boodskap in? En kan die kleine Orania ons ook iets van hierdie malaise vanuit ’n ander hoek vertel?
.....

Orania herinner enersyds aan die Spadereën-geloofsgemeenskap (die sogenaamde Blourokke) wat ’n lewenswyse van ingekeerdheid nastrewe en ’n asketiese nedersetting gevestig het, en andersyds aan ’n Europese stadstaatjie uit die ou Europa voor nasiestate. Beide hierdie verskynsels is legitieme Europese vroegmoderne konstruksies, indien nie premodern van aard nie. Die Spadereën-geloofsending het egter in Suid-Afrika sy beslag gekry en bestaan al vir bykans ’n eeu op amptelike erkende en wettige manier.

Orania herinner slegs baie oppervlakkig aan enige iets uit apartheid of kolonialisme (soos verskeie Europese joernaliste wil beweer). Dit lyk of die toevallige term van “wit wees” wat hul lede deel, die enigste (toevallige) ooreenkoms met apartheid is.

Koeksistermonument in Orania. Foto's met toestemming gebruik.

Die orde in Suid-Afrika wat vandag die sterkste aan apartheid herinner, is nie Orania nie, maar die ANC-regering: die eindelose raswette; die vermeende eie ontologie wat gebruik word om die verdrukking van “die ander” (eers “swartes”, nou “wittes”) te regverdig; die onkritiese en manipulerende magsentralisme; die maatskaplike manipulasie; die morele posturering wat twyfelagtige subjektiewe strewes as “universele waardes” opdis; die burokratiese obstruksies; die werkreservering onder die dekmantel van regstelling; die invoer van behendighede uit “vriendelike” lande wat ’n buffer tussen die orde en ander Suid-Afrikaners kan skep (onder apartheid was dit Duitsers en Nederlanders; onder die ANC is dit Kuba); die gevolglike sosiale agterdog; en die onhaalbaar groot onkostes ter wille van ideologie ... Die lys is langer.

.....
[Orania] is ’n onverwagse oord van diepgaande inligting oor waarom die nasiebouprojek van Suid-Afrika skripbreuk ly. En diepgaande inligting is wat ons nodig het.
.....

Dus, wat Orania betref: Ja, dit hét iets vir die problematiek van Suid-Afrika te sê. Dit is ’n onverwagse oord van diepgaande inligting oor waarom die nasiebouprojek van Suid-Afrika skripbreuk ly. En diepgaande inligting is wat ons nodig het.

4. Nuwe oplossings deur nuut te kyk

Kyk ons noulettend genoeg na die faktore ten grondslag van Suid-Afrika se bestuursverval?

My besoek aan Orania het my ’n lewende museum van organiese vroegmoderne bestuur gekoppel aan eietydse tegnologiese middele gewys, en hoe dit ’n sukses kan wees. Die struktuur van menseverhoudinge daar – menseverhoudinge en ’n gedeelde geloof lê alle bestuur ten grondslag – toon hoe die prille begin van enige moderne staatsvorming lyk. Presies dit waarin Suid-Afrika klaaglik misluk het, en nie om dowe neute nie. Ek wil ’n klip in die bos gooi: Die orde wat die bestuur in Suid-Afrika moet deursien, voel hulself vervreemd daarvan omdat hulle skynbaar hulself nie in die ontologie daarvan genoegsaam herken nie. Hier is ’n ontsaglike probleem en dit gaan nie sommer net weggaan nie.

Suid-Afrika bestaan uit wyd uiteenlopende ontologieë. Dit is nie “apartheid” om dit aan te voer nie. Presies die teenoorgestelde. Om dit te ontken is besonder kolonialisties en selfs rassisties, soos ek voorts sal aantoon – en dit is ’n ontkenning waaraan vele Europese kommentators oor Suid-Afrika meedoen. Hierdie ontologiese uiteenlopendheid vra om historiese begrip en lê juis ten grondslag van die oproepe vir “dekolonialisering”.

Daar word gesê dat die ANC se flirtasie met Rusland gebou is op die steun wat die Sowjetunie in die stryd teen apartheid aan die ANC gegee het. Is dit al rede? Rusland roem hom daarop dat hy ’n ander ontologie oor die lewe het as “die Weste”, en dit is vir die ANC genoeg rede om hom aan Rusland se kant te skaar. As jy nie die verbintenisse tussen jou eie historiese geheue en die staat wat jy geërf het, genoegsaam kan vind nie – onder geweldige plaaslike en internasionale druk om op te hou soek daarvoor – is die tweede beste opsie om enige ander geheue, in hierdie geval die nie-Westerse geheue van Rusland, aan te gryp ten einde die “koloniale” geheue ten minste te kan opponeer. Dit is ’n moedswillige maar neurotiese kreet wat gaan oor verlies. En die ganse Suid-Afrika, van die koningskappe van KwaZulu-Natal en Limpopo, tot die mankolieke staatsdiens, ly onder die miskenning dat hierdie verlies-ervaring bestaan.

5. ’n Eietydse Europese kolonialisme ten opsigte van Suid-Afrika?

Die onafhanklike moderne Europese staat het nie oornag in sy huidige vorm begin bestaan nie. Dit staan op vele historiese bene. Dit staan op die bene van ’n velerlei assosiasies – kultureel, lewenswêreldlik, regionaal, ekonomies, diplomaties, en wat nog. Hierdie assosiasies het oor ’n lang tyd vertrouensverhoudinge met mekaar opgebou en uiteindelik het die vertrouensverhoudinge uitgemond in Europese state. Hierdie verhoudinge het ontologiese oorgange aangebied waarin sommige dinge dieselfde gebly het en ander verander het – totdat ’n bepaalde staat moontlik geword het. (Natuurlik het mag en interne Europese kolonisasie ’n vernietigende rol gespeel, maar die oorwegende hermeneutiese verhoudinge het nie fataal skade gely nie.)

So ’n evolusionêre ontwikkeling was nie Suid-Afrika voor óf na 1994 beskore nie, en die verlies was die oortuigende vind van aansluitingspunte om ’n nasieverbintenis op die duur oortuigend te maak. By ons was die eenheid sedert 1910 – die begin van die nasiestaat – gebou op die bevordering van waardes wat met een soort “beskawing” en “moderniteit” gelykgestel is: die proto-Europese – en bemagtigde dele van die inheemse swart bevolking ondervind dit nou as eensydig. Die vraag wat hulle vra is: Wie se beskawing, wie se moderniteit?

.....
Ek kry die indruk dat daar dikwels deur Europeërs aangeneem word dat “beskawing” en “nasie” – inderwaarheid eindpunte van ontwikkeling wat deur spesifieke, kontingente faktore gelewer is – vir Suid-Afrika probleemloos as ’n beginpunt van ons nasieskap sou kon deug: Just add water.
.....

Dit word toenemend baie duidelik dat die antwoord hierop vir Suid-Afrika komplekser is as wat ons dink. (Dit is waarskynlik ook komplekser as wat die “dekolonialiseerders” dink, maar dit vir eers daar gelaat.)

Ek kry die indruk dat daar dikwels deur Europeërs aangeneem word dat “beskawing” en “nasie” – inderwaarheid eindpunte van ontwikkeling wat deur spesifieke, kontingente faktore gelewer is – vir Suid-Afrika probleemloos as ’n beginpunt van ons nasieskap sou kon deug: Just add water.

Wat egter eerder vereis word, is om te dink in terme van ’n hipotetiese beginpunt wat nog nie ingevul is nie. Vir Europese state is dit nie meer nodig om daardie beginpunt te verbeel nie, want die voorafgaande assosiasies het reeds hul rol gespeel. Die staatkundige evolusie het reeds plaasgevind en hulle is die produkte daarvan. Vir ons het dit nog glad nie gebeur nie.

Vir ons, in Suid-Afrika – indien ’n eenheidstaat gaan oorleef – is die aanvaarding van so ’n oningevulde hipotetiese beginpunt in beginsel die eerlike ding om te doen. Om daardie beginpunt – as hipotese – nie kardinaal te stel nie, kom eintlik neer op voortgesette kolonialisme. Om te dink in terme van ’n gegewe eindpunt wat elders heel gaaf bestaan, verswyg die spesifiekheid wat ons eie aansluitingspunte vir ons nog moet lewer. En daardie spesifiekheid kan oortuigend gelewer word slegs deur volle asemhalingsruimte te gun aan watter komponente en entiteite en platforms ook al hulle wil aanmeld vir ’n gedeelde staatkundige ideaal. Hulle moet almal ewe welkom wees tensy hulle die bestaande Grondwet oortree. So ’n oortreding gebeur nie in Orania se geval nie.

.....
’n Joernaliskollega wys my op die volgende: Kyk na al die ander enklawes wat in Suid-Afrika bestaan, allerlei klein “staatjies” agter slot en grendel. Enklawes, enklawes, enklawes. As jy ryk genoeg is, word jy toegelaat.
.....

Hoor ek: “Maar Orania wil dan juis afskei?” Ek reken as die enklawe die asemhalingsruimte gegun word waarvan ek praat, sal dit nie meer nodig wees vir hulle om te wil afskei nie. Hulle sal ’n werkbare verbintenis binne ’n nasiestaat kan nastreef. Sonder klakkelose, gemanipuleerde sentralisme. Sonder die waansinnige ideaal van ’n vooraf vervaardigde identiteit wat op almal afgedruk word.

Vergeet nou maar eers van Orania.

’n Joernaliskollega wys my op die volgende: Kyk na al die ander enklawes wat in Suid-Afrika bestaan, allerlei klein “staatjies” agter slot en grendel. Enklawes, enklawes, enklawes. As jy ryk genoeg is, word jy toegelaat. Orania, daarenteen, begunstig nie ryk mense nie – juis nie! Dít het my beïndruk. Dit begunstig ontwikkeling, wat behoeftige mense insluit. Orania aanvaar graag behoeftige mense.

Dit is in die besef van strukturele vertroue en ’n werkbare verhouding met ontologie waar Orania die huidige heersers ver vooruit is – so vroegmodern en premodern soos wat Orania in ander opsigte mag wees. Dalk is dit juis belangrik om nou “agter die tyd” te wees. Want “die tyd” verbloem die aard van ’n werkbare beginpunt vir Suid-Afrikaanse staatkundige eenheid.

Laat ek dit in ander woorde stel: Ek dink Orania verstaan baie beter wat sommige swart Suid-Afrikaners met “dekolonialsering” bedoel as vele akademici en politici en Europese weldoeners van Suid-Afrika.

Die doel vir Suid-Afrika behoort te wees om sy verskillende politieke formasies in ’n eerlike, doelmatige en redelik vrye hermeneutiese interaksie van uiteenlopende ontologieë te laat interageer. Dit sal die moontlikhede en die begrensings van die verskeie agente in die praktyk kan bepaal. Die uitkristallisering van daardie interaksies behoort nie vooraf voorspel te word nie. Dit moet onder die beskerming van die huidige grondwet kan plaasvind. Dit is ons beste kans om die eenheidstaat te red.

Borsbeelde in Orania. Foto's met toestemming gebruik.

6. Suid-Afrika en ahistorisiteit

Suid-Afrika was nog altyd ’n seldsame, ahistoriese verskynsel. Ek gebruik nou Europese geskiedenis as die verwysingspunt ter wille van my argument. Die Europese nedersettings te lande, soos ook in sommige plekke in die VSA, het tot redelik onlangs in relatiewe afsondering van die res van die wêreld bestaan. Dit is een van die faktore wat apartheid moontlik gemaak het. Apartheid het bekend geword in ’n tyd waarin die Europese en Nederlandse wêrelde met intense skaamte van hul eie rasverlede bewus geword het – en hier vind hulle nou mense wat soos hulle lyk, selfs soos hulle praat, wonende in ’n ander wêrelddeel, en dié groep mense verklaar hul geloof in ’n beleid genaamd apartheid, wat die Europese rasverlede beliggaam, en hulle doen dit met 17de-eeuse trots! Dit kan nie ontken word nie dat die Afrikaner die rol van ’n soort voedoepop, of ’n “intention doll”, vir die verligte moderne Europeër van die tweede helfte van die 20ste eeu gespeel het – steek spelde daarin, en jou eie rassisme sal jou nooit, ooit weer pla nie.

.....
Dit kan nie ontken word nie dat die Afrikaner die rol van ’n soort voedoepop, of ’n “intention doll”, vir die verligte moderne Europeër van die tweede helfte van die 20ste eeu gespeel het – steek spelde daarin, en jou eie rassisme sal jou nooit, ooit weer pla nie.
.....

Apartheid was weliswaar ’n beleid van intense verdrukking van ander mense wat dieselfde stuk aardbol bewoon, deur ’n selfgenoegsame, redelik onervare en geïsoleerde politieke mentaliteit wat toenemend roekeloos geword het onder internasionale politieke druk en ’n globale magspel genaamd die Koue Oorlog. Maar die wyse waarop die ahistorisiteit van die apartheid-Afrikaner sig geleen het tot ’n soort fetisjistiese selfreinigingsimbool vir die ontwikkelde hoogmoderne Europese psige wat geneig was om sigself te sien as die toppunt van die ontwikkeling van die rede, dit kan mens net wrang laat glimlag.

Ahistorisiteit as mentaliteit bly in sommige uithoeke van die wit Afrikaanse kultuur voortlewe. Daar ís diegene wat steeds ontken dat apartheid ’n diepe onreg was, en – in terme van die ervaring van die slagoffers daarvan – ’n politieke misdaad. Sulke mense is min. Daar is ’n groot waarskynlikheid dat daar van hierdie individue in Orania sit, hoewel ek hulle nie daar ontmoet het nie. Ek het wel sulke skepsels in Johannesburg ontmoet. Hulle is eensaam in ’n stad wat dalk een van die rasvreedsaamste plekke op aarde is.

Om op sulke yl verspreide ontkenningsgedrag, gebaseer op voortslepende ahistorisiteit, te hamer, gaan nou geen bydrae lewer tot die dringendheid waarmee die nuutste Suid-Afrikaanse staatkundige tragedie om ’n oplossing vra nie.

Ahistoriese mentaliteit is wyd aan te tref onder ander groepe in die land ook. Daar is mense soos die vorige president, Jacob Zuma, wat glo dat veelwywery ’n unieke Zoeloe-kultuurfaset is. Dit is sy manier om die globalisme te bestry! Veelwywery word egter in premoderne kultuurgewrigte oral in die wêreld aangetref, en selfs passievol nagestrewe. Dit bly verdoembaar vanuit die mees ontwikkelde raamwerk wat aan ons as spesie tans beskikbaar is.

Ahistorisiteit is natuurlik geen verskoning vir morele vergrype nie. Dit het apartheid oor homself uitgevind, en dit sal die huidige regime in Rusland ook nog hopelik uitvind. Ons moet egter nie nalaat om vergrype in die historiese konteks te sien waaruit dit voortgekom het nie.

7. Slotopmerkings

Ek het in hierdie artikel my betrokkenheid by ’n liedkompetisie in Orania verduidelik. My verduideliking behoort vir die leser onwaarskynlike punte van kontak tussen oënskynlike antagoniste uit te wys. Jy kan nie die wekroepe om ’n eie ontologie in die dekolonialiseringsgeledere erken en nie dieselfde vir Orania gun nie. Ondanks my eie punte van kritiek staan ek meer simpatiek teenoor Orania as anachronistiese verskynsel as vroeër. Dit is in elk geval nie veel meer anachronisties as die huidige Suid-Afrikaanse regering se kwasi-Sowjet-idees oor staatkunde nie.

.....
Die grootste gevaar vir die eenheidstaat kom nie uit Orania nie. Dit kom uit die Suid-Afrikaanse parlement, ’n kakistokrasie wat op die mees onbevoeg denkbare wyses krisisse skep pleks van oplos.
.....

Die grootste gevaar vir die eenheidstaat kom nie uit Orania nie. Dit kom uit die Suid-Afrikaanse parlement, ’n kakistokrasie wat op die mees onbevoeg denkbare wyses krisisse skep pleks van oplos.

Lees ook:

Volksliederen voor de Afrikanertuiste Orania

Ons kan heelwat by Orania leer

Orania, koeksisters en ek

’n Netwerkontleding van die instellingsnetwerk op Orania

  • 13

Kommentaar

  • Dietloff van der Berg

    'n Werklik insiggewende bespreking, met veral die gedagte dat ons ontologies die huidige tydsgewrig as nuwe beginpunt moet sien, wat getref het.

  • Maklik een van die 10 mees bedinkwaardige opstelle oor Suid-Afrika wat ek die afgelope 30 jaar gelees het. Ek onthou nie die ander 9 nie.

  • Chris Marnewick SC

    Uitstekende artikel (referaat?). Ek het nog altyd gedink die samesmelting van die vier Britse "kolonies" in 1910 was 'n fout omdat dit die verskillende kulture - en die verskille was erg - in een, ja, die gesentraliseerde Europese model gedruk het.

    Dit het na my mening die tafel gedek vir aggresiewe (eerder as passiewe) allesbeherende apartheid, en na 1994, vir die allesbeherende kakistokrasie van vandag.

  • Een van die mees genuanseerde beskrywings van projek RSA post '94 wat ek nog gelees het! Hierdie opstel behoort verpligte leesstof te wees vir elke eerstejaarstudent.

  • Hierdie stuk is wetend of onwetend 'n bemarkingstraktaatjie vir Orania.
    Die skrywer kom voor as apologeet vir hierdie wit enklave.
    Orania herinner aan die Amish-gemeenskap in Pennsylvania. Hulle het baie in gemeen.
    In albei groepe speel konserwatiewe godsdienstige oortuigings 'n groot rol.
    Albei groepe is uitsluitlik wit.
    Hulle deel ook 'n kulturele band met hul voorsate, die Amish Duits en Orania die Afrikaner.
    Vir kinders gebore in albei gemeenskappe moet dit later bitter moeilik wees om te integreer in die breë wêreld buite hul eie waarnemingsveld.
    In 'n wêreld waar ras, taal en godsdiens van minder belang is, sal hulle maar sukkel.

  • Jou denke is verstar in jou eie Stellenbosch-enklave, Charl. Orania se skoliere presteer wêreldwyd en hulle Bo-karoo-opleidingstudente is gesogte loodgieters en elektrisiëns omdat hulle in hulle eie taal opgelei word.

  • Hans Richardt

    Wel, Charl Adams, ek gaan na tandarts op die kant van lokasie in Kimberley. Dis bekostigbaar.
    Orania het geen wet vir "afskeiding" nie, maar ons het strewe om federalisme op plaaslike vlak te bevorder. Orania is nie net 'n woongebied nie, maar 'n eie distrik, waarin op sommige plase tog swart en bruin plaaswerkers bly en werk. Die boere en werkers koop in Orania, maar woon nie binne munisipale grense nie.
    Solidariteit en filiale bevorder selfstandigheid buite Orania in stede en dorpe, dmv eie Afrikaanse instellings, bv Akademia. Bo-karoo opleiding is nou 'n onderdeel van Soltech in Pretoria. Orania gaan hopelik 'n satelietkampus kry van Akademia.
    Ons het nie net oorgegee en etnies geamalgemeer nie, dit is tog elke ou se privaat keuse van assosiasie? Die ANC se rasgedrewe wette is nie die begin of einde van ons bestaanswêreld nie.

  • Hans Richardt

    Orania is ook oorkant die Garieprivier aan Vrystaat kant. Die plase langs die rivier se boere assosieër hul met Orania se strewes, tog val hul nie binne die dorpsgrense nie en hoef nie aan die verblyfregvoorwaardes te voldoen oor wie op hul plase werk en woon nie.

  • Hans Richardt

    Charl-Pierre Naudè, die Reserwe bank doen oudits by gemeenskapsbank. Die Wêreldbank se lede het kers kom opsteek oor "formule" van ons gemeenskapbank se sukses.

  • Pieter du Plessis

    Preek en lees Jes 8:20, Jer 6:16, lees Ps 33 verse4 tot 22. Vra vir Gustav Opperman by Helpende Hand Solidariteit. Ek is lief vir die Here en Orania. Bou op vaste fondament. (Ek is 'n ou man, 84 jaar, en oud soldaat.)

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top