"Ek wou jou nog vertel": ’n onderhoud met Ryno Eksteen

  • 12

Prent deur Ryno Eksteen geteken en verskaf (volledige erkenning in die Vimeo-video onderaan die onderhoud)

Ryno Eksteen praat met Naomi Meyer oor "Ek wou jou nog vertel", Ryno se aanlyn kunsuitstalling. Die samestelling van die uitstalling is deur Lize Beekman en die musiek deur Jaconell Mouton.

Ryno, waar kry jy die tyd vir hierdie kuns en hoekom máák jy daardie tyd? Is jy ’n kunstenaar van beroep?

Sekere dinge kom op ’n mens se pad waarvoor jy dalk nie eers gevra of gehoop het nie. En dan doen jy dit net, sonder voorbehoud of meet en pas waar die tyd daarvoor vandaan gaan kom. Teken en verf maak ’n groot deel van my dagtaak uit.

Ek woon in Worcester en is ook op ’n wye gebied betrokke by organisasies vir gestremde mense, meer spesifiek wat betref administrasie, ondersteuning en algemene bystand van doofblindes.

........

Ek woon in Worcester en is ook op ’n wye gebied betrokke by organisasies vir gestremde mense, meer spesifiek wat betref administrasie, ondersteuning en algemene bystand van doofblindes.

.........

Waarom het jy besluit om hierdie kunsuitstalling aan te bied, ten spyte van die virus wat alles kom deurmekaarkrap?

Hierdie is reeds die derde uitstalling wat ek in die tyd van die virus aanbied. Om virtueel uit te stal pas my soos ’n handskoen. Die fokus is direk op die prente en niemand kan kla oor die kaas en koeldrank op openingsaand nie.

Prent deur Ryno Eksteen geteken en verskaf (volledige erkenning in die Vimeo-video onderaan die onderhoud)

Vertel asseblief van die titel van die uitstalling: "Ek wou jou nog vertel".

My denkproses is langdradig en soms gefragmenteerd en my gedagtes raak gereeld weg. Daar is altyd nog iets wat ek wou gesê het, maar in die oomblik kon ek dalk nie die regte sin formuleer nie. Hopelik help my prente om iets te kommunikeer wat ek moontlik nie in woorde kan vertaal nie.

Ons praat ook al hoe minder met mekaar. Daar is baie mense vir wie ek graag nog iets sou wou vertel of vra. Binne hierdie lewe en aan dié wat reeds aanbeweeg het.

Hierdie beantwoording van jou vrae, Naomi, help ook om te vertel-vertel. Dankie daarvoor.

Jou uitstalling is potloodsketse van foto’s – meestal natuurtonele met ’n sekere atmosfeer, of ander spirituele ruimtes. Erkenning aan die oorspronklike bronne/fotograwe word telkens gegee. Hoe het jy besluit watter prente om te teken?

........

Soos boeke, mense en films kom meld die regte prent op die regte tyd by my aan. Dit is meestal afgeleë, stil ruimtes of tonele waar die gebeure vir ’n oomblik stol wat die sterkste tot my gemoed spreek en derhalwe vra om weergegee te word.

........

Soos boeke, mense en films kom meld die regte prent op die regte tyd by my aan. Dit is meestal afgeleë, stil ruimtes of tonele waar die gebeure vir ’n oomblik stol wat die sterkste tot my gemoed spreek en derhalwe vra om weergegee te word. Waar dit nie my eie foto is nie, voel ek baie sterk daaroor om die oorspronklike fotograaf se toestemming te verkry voordat ek dit as bron gebruik. Heelwat mense stuur dan ook vir my foto’s aan om na goeddunke te oorweeg. Soms stoor ek foto’s vir ’n lang tyd voordat hulle asof vanself na die oppervlak terugkeer.

Jou uitstalling gaan gepaard met musiek en kamerawerk. Die musiek is deur Jaconell Mouton en die samestelling deur Lize Beekman. Het hulle saam met jou aan die projek gewerk?  Dis ’n multimediavertoning en die gehoor word intiem betrek met die naby-kameraskote.

Dis was met Lize se aanmoediging dat ek hoegenaamd hierdie elektriese roete begin loop het met my kuns. Ek sal haar ewig dankbaar wees daarvoor. Nadat ek die werke voltooi het, stuur ek die foto’s daarvan vir haar aan. Sy doen dan towerkuns en maak die volledige uitstalling. Ek vertrou haar ten volle en sy verras my telkens met die eindresultaat. Vorige kere het Lize haar eie musiek bygewerk, maar hierdie keer het sy vir Jaconell gevra om die klankbaan te verskaf. Ek is innig dankbaar vir hulle tyd en aandag.

........

Vorige kere het Lize (Beekman) haar eie musiek bygewerk, maar hierdie keer het sy vir Jaconell gevra om die klankbaan te verskaf. Ek is innig dankbaar vir hulle tyd en aandag.

........

Die realiteit van aanlyn uitstallings is dat mens nie ’n lewende gehoor in die saal het nie. Wat was vir jou die moeilikste aspek van die besluit om die uitstalling aanlyn aan te bied, of wat was die tegniese uitdagings?

Vir my as betreklik onbekende kunstenaar is die aanlyn roete ideaal. Daarom is dit soveel te meer nodig dat my aanbieding eg en eerlik is – om byvoorbeeld glad nie hulpmiddels in te span wat die kunswerke beter of in ‘n ander lig sal vertoon as hoe dit in werklikheid lyk nie. Kykers kan ook die prente omdraai en van naby daarna kyk, selfs weer en weer besoek. Ek dui ook die afmetings aan sodat mense ’n goeie idee kan kry van die formaat van elke prent.

Prent deur Ryno Eksteen geteken en verskaf (volledige erkenning in die Vimeo-video onderaan die onderhoud)

Tog kan mens nou jou uitstalling baie verder en wyer neem, en ’n internasionale gehoor bereik. Wat was vir jou positief daaraan om ’n uitstalling aanlyn aan te bied?

Alles kan tog nie onder die bed bly lê tot “eendag” nie. Een of ander tyd wil hulle gewys word. Ek is trots daarop om my handtekening onderaan elke prent aan te bring en my werk met ander mense te deel. En met aanlyn hoef ek nie bekommerd te wees dat die prente van die mure gaan afval nie.

Beoog jy om, wanneer dit weer moontlik is, ’n gehoor na ’n saal te lok waar hulle na jou kuns kan kom kyk? Is jou kuns wat hier aanlyn uitgestal word, ook te koop? Wat is jou kunstoekomsvisie?

Miskien duik daar iewers in die toekoms ’n geleentheid op om deel te neem aan ’n regte uitstalling en dan sal ek dit beslis oorweeg. Tot dan is ek tevrede om so een maal per jaar op jou skerm uit te stal. Ek is dankbaar vir almal wat my werk ondersteun, hetsy met hierdie uitstalling of deur middel van opdragwerk wat die pot aan die kook hou.

Tans keer ek terug na een van die basiese elemente van kunsmaak, naamlik om merke te maak op papier. In monochroom. Volgende jaar ontgin ek dalk weer kleur en ander plekke en ruimtes.

RYNO EKSTEEN AANLYNUITSTALLING "Ek wou jou nog vertel" from Ryno Eksteen on Vimeo.

  • 12

Kommentaar

  • Liewe Ryno
    So bly ek het al 'n handjievol van jou werke teen my mure en 'n begeerte na meer! Baie baie geluk met hierdie uitmuntende werk. Alle sukses met aanlyn verkoping. Dis 'n voorreg om jou te ken.

  • Ai Ryno ek ken jou van studentedae, wat 'n voorreg. Een van daai studente wat my meer geïnspireer het as ek vir jou! Dankie dat jy aanhou vertel. Ons het dit nodig.

  • O, liewe land, Ben Nel! Jy het my nie net geleer hoe om 'n potlood vas te hou nie, maar veral hoe om te kyk en raak te sien. Dankie.

  • Karen Visagie

    Sjoe Ryno! Wat ‘n besonderse versameling werke. Jy het so baie talent om emosie so raak vas te lê met ‘n potlood.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top