Die Stella-moorde: Stefaans Coetzee gesels met Susan Cilliers

  • 0

Titel: Die Stella-moorde
Skrywer: Susan Cilliers
Uitgewer: LAPA Uitgewers
ISBN: 978 0 6396 0200 4

Susan Cilliers het met haar blitsverkoper Huis van gruwels haar naam bygevoeg by joernaliste soos Jacques Steenkamp (Die Griekwastad-moorde, 2014), Julian Jansen (Die De Zalze-moorde, 2017) en Marida Fitzpatrick (Die staat vs. Oscar, 2014) wat ware-misdaad-boeke skryf.

In Die Stella-moorde vertel sy van die tragiese gebeurtenisse waarin die 16-jarige Marna Engelbrecht en haar boesemvriendin, Sharnelle (Lallie) Hough, op 26 Mei 2018 in die meisieskoshuis van die Hoërskool Stella vermoor is. Die 19-jarige Xander Bylsma is kort daarna vir beide moorde gearresteer.

Op watter stadium het jy besluit om ’n boek oor die Stella-moorde te skryf?

Ek het soos die saak verloop het met die gedagte begin speel, omdat die saak mense so geïnteresseer het – ons kon dit duidelik aan ons leessyfers op Netwerk24 sien. Hier teen die einde van die saak het ek byna nie kans gesien nie, omdat ek besef het hoe ’n groot taak dit gaan wees om al die inligting oor die saak van byna drie jaar in boekvorm oor te skryf en aan te vul. Ek sou dit alles na-ure moes doen terwyl ek voltyds werk. Toe LAPA my kort na die uitspraak en vonnis nader om die boek te skryf, het ek besef dit sal my altyd pla as ek nie die geleentheid aangryp nie. Dit was vir my ’n persoonlike uitdaging en ook ’n manier om in een dokument saam te vat hoe die proses van geregtigheid vir hierdie twee meisies en hul families verloop het.

Jy het die hofsaak breedvoerig vir Netwerk24 gedek. Gaan ons lesers enigiets nuut raaklees?

Ja, daar is nuwe inligting wat nie gedurende die hofsaak uitgekom het nie – onder meer oor presies waar Marna en Sharnelle se ouers was toe hulle van die moorde gehoor het, asook inligting oor Xander se vroeë kinderjare. Ek kon meer volledig oor sielkundige en maatskaplike verslae skryf as wat ek in nuusberigte kon doen, en het ook bykomende onderhoude gevoer, onder andere met Marna se ma, Rianet, wat nooit gedurende die hofsaak onderhoude toegestaan het nie. Sy is die enigste van die meisies se ouers wat Xander vergewe het. Die onderhoud met haar is byvoorbeeld ’n hele hoofstuk op sy eie.

Was die skryf van Die Stella-moorde moeiliker as met jou blitsverkoper Huis van gruwels?

Die skryfwerk was in sommige opsigte moeiliker: Ek moes meer bronne raadpleeg en ander nuusberigte en tydskrifartikels kombineer met my eie nuusberigte oor die gebeure. Dit was dus ’n meer komplekse proses as met Huis van gruwels, waar ek hoofsaaklik op een persoon gefokus het en minder aanvullende onderhoude gedoen en bronne gebruik het. Wat wel makliker was met die Stellaboek, was die styl. Ek het nie nodig gehad om in iemand anders se kop te klim nie en kon meer skryf soos waaraan ek gewoond is: feitelik en uit die oogpunt van iemand wat alles van buite beleef.

Hoeveel navorsing is in die boek?

Die navorsing was, soos genoem, bykomende onderhoude en ’n volledige bestudering van die hofdokumente en polisiedossier. Daar was gapings wat ek moes vul met alles wat nie in die verhoor en ander onderhoude uitgekom het nie. Die inhoud van die dossier is ook nie volledig in die hof aangebied nie, so ek het deeglik daardeur gelees en heelwat bykomende inligting gekry uit onder meer beëdigde verklarings wat nie volledig in die hof voorgelees is nie.

Hoe hou jy jouself objektief tydens so ’n verhoor?

Objektiwiteit is vir my eintlik maklik in die verhoor, want jy kry juis daar al die verskillende weergawes en perspektiewe. ’n Mens kan en moet oor alles skryf en hoef dus nie self ’n oordeel te fel nie. Ja, mens vorm mettertyd ’n mening, maar jy bly steeds in jou beriggewing en met die skryf van die boek gefokus op die feite vanuit verskillende hoeke en die monde van die verskillende rolspelers.

Hoe het jy dit reggekry om die spanningslyn te behou met ’n hofsaak wat so breedvoerig in die media gedek is?

Ek het kop gekrap hieroor, want baie mense het die saak gevolg en almal het reeds geweet Xander is skuldig bevind. Ek het besluit om die spanningslyn te behou deur nie dadelik al die besonderhede oor veral die moord en bekentenis bekend te maak nie, maar dit stukkie vir stukkie te onthul in dieselfde chronologiese volgorde as wat die saak ontvou het. Dis juis wat mense ook nuuskierig gemaak het tydens die saak – mense het bespiegel en gewonder, en dan het daar op ’n dag inligting daaroor in die verhoor uitgekom. Een voorbeeld is die bekentenis. Die eerste hoofstuk gaan oor die moord, maar ek het glad nie daar al weggegee wat die inhoud van die gesprek tussen Xander en Sharnelle was voordat hy haar vermoor het nie. Dit het ek gelos vir die fase in die verhoor toe die bekentenis die eerste keer voorgelees is, en mense se monde oopgehang het oor die inhoud daarvan. Ek het byvoorbeeld ook nie die inhoud van Xander se biegsessie met die private speurder Chris Saunders bekend gemaak toe ek beskryf het hoe hulle na die polisiestasie gery het nie. Ek het dit eers heelwat later gedoen toe ek geskryf het oor die speel van die bandopname in die hof tydens die verhoor. Ek kon verder die spanningslyn bou deur die gebruik van nuwe inligting, waarna ek in my vorige antwoorde verwys het.

Alhoewel ons jou koerantberigte soos ’n storie gevolg het, vergeet mens soms dat dit vir ander mense ’n werklikheid was. Het die families maklik met jou gepraat of het hulle jou as joernalis wantrou?

Al die families het wel gedurende die byna drie jaar wat die saak verloop het in verskillende stadiums met my gepraat. Van hulle wou aanvanklik glad nie praat nie. Ek dink daar was ’n mate van wantroue omdat hulle my nie geken het nie en natuurlik oor die persepsie dat die media net daar is om te aas. Mettertyd het ek van hulle se vertroue gewen en veral van die rekord af taamlik gesels. Dit was vir my wel bemoedigend dat Marna se ma se openhartig gesels het nadat die saak afgehandel is. Die ander ouers het teen die einde nie weer kans gesien nie; ek dink hulle was mediavoos en totaal uitgeput. Ek het egter steeds ’n goeie verstandhouding met Sharnelle se ma ook. Sy en Marna se ma het albei byvoorbeeld gehelp om foto’s vir die boek te verskaf. Albei die meisies se pa’s wou egter teen die einde glad nie praat nie. Xander se ma het aanvanklik maklik gepraat, maar later wou sy nie meer nie. Sy het gesê Xander het haar verbied, maar ek glo ook daar het wantroue ingesluip weens sommige joernaliste se hantering van die saak en die feit dat Xander se weergawe mettertyd al hoe onwaarskynliker begin lyk het. Xander se pa wou nooit eintlik praat nie. Ek het nou en dan van die rekord af met hom gepraat, maar hy was altyd wantrouig en sy reaksies was meestal vol woede en wantroue. Ek skryf dit toe aan wat ek dink hy gevoel het: skaam-kwaad en die feit dat vir hom baie moeilik was om te erken dat sy seun skuldig is aan so ’n ernstige misdryf.

Hoe het die Stella-moorde jou laat voel?

Aanvanklik was ek, net soos die res van SA, uiters geskok. Ek kon nie glo so iets het in ’n plattelandse dorp gebeur met mense met wie ons almal identifiseer nie. Dit was vir my van die begin af en tot aan die einde pynlik om met die families te praat, omdat dit vir my ondenkbaar was om te dink hoe ’n ouer dit verwerk as hul kind so sterf. Ek het dit hanteer deur grotendeels agter die feite weg te kruip. Dit was vir my ’n verligting tot die verhoor eindelik begin het en ek daarop kon fokus. Die druk was toe minder om agter die skerms eksklusiewe nuus uit te snuffel. Ek het daardie deel gehaat; ek was baie ongemaklik daarmee. Met die hofsaak het dit vir my gevoel ek kon oor die gebeure berig op ’n manier wat meer my persoonlikheid en ingesteldheid pas: meer afstandelik. Ek kon ook die families en mense naby aan hulle help deur die verrigtinge feitelik te boekstaaf. Al was hulle gereeld in die hof, hoor ’n mens nie altyd alles nie. Ek kon dit nou alles saamvat en mense se nuuskierigheid bevredig deur slegs oor die hofgetuienis te skryf.

Watter terugvoer kry jy oor die boek, veral van die naasbestaandes?

Oor die algemeen is die terugvoer tot dusver baie positief. Mense wil graag die boek lees en diegene wat dit klaar gelees het, sê dis boeiend. Ek het wel ’n paar negatiewe kommentare gekry, soos dat ek die geldgod dien en ander mense se seer uitbuit, en dat dit onvanpas en swak smaak is om die families se hartseer so verder te ontgin (in ’n boek). Dis vir my heeltemal logies dat daar sulke reaksies sal wees en ek dink mens moet dit verwag. Ek hanteer dit bloot deur vir mense te sê daar is ’n groter prentjie as die sogenaamde sensasie. Dit gaan vir my ook daaroor om die meisies se nagedagtenis te eer en te wys hoe geregtigheid eindelik vir hulle geskied het. Daarom dra ek ook die boek aan hulle en hul families op. Die saak wys ook dat ons regstelsel dikwels goed werk. Verder het een van my ondersteuners ’n geldige punt gemaak: Die boek is ook ’n groot stuk navorsing waardeur die gebeure wat gefragmenteerd ontvou het in een dokument geboekstaaf is. Dis eintlik ’n stuk geskiedenis wat gedokumenteer is. Chris Saunders, die private speurder, asook die staatsadvokaat Johann Smit, het kommentaar gelewer. Hierdie kommentaar beteken vir my baie, omdat hulle die feite van die saak so goed ken. Ek het nog nie terugvoer van die meisies se families gekry nie – ek het vir almal gratis kopieë gepos. Ek wil hulle nie druk nie, maar ek sal wel oor ’n maand of wat dalk bel en vra hoe dit gegaan het. Ek aanvaar dit moet vir hulle baie erg wees om dit te lees, maar hopelik bring dit ook afsluiting en berusting.

Lees ook:

Die Stella-moorde deur Susan Cilliers, ’n lesersindruk

Die goeie dae toe dagblaaie nog joernaliste in die buiteveld gehad het

Gehalteberiggewing in die buitekantoor van ’n Suid-Afrikaanse dagblad

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top