Die Schreiner Karoo Writers’ Festival, ’n fotoblad

  • 9

Die Schreiner Karoo Writers’ Festival het van 16 tot 21 Junie 2022 in Cradock plaasgevind. Die boekpraatjies is oor twee dae gehou en ek het toe gaan inloer.

Die fees word grootliks georganiseer deur Lisa Antrobus-Kerr, wat ook die Victoria Hotel en die Tuishuise bestuur.

Die Antrobus-familie het ’n straat langs die hotel gerestoureer en bedryf nou die lieflike ouwêreldse akkommodasie.

Groot dele van die fees het ook in die hotel plaasgevind.

Melina Smit was ook nou betrokke by die beplanning.

Op 17 Junie is Olive Schreiner gehuldig met ’n program wat in haar toenmalige woning plaasgevind het.

Beverley Thomas, direkteur van Amazwi, het die program geopen. Amazwi is ’n borg van die fees.

Etienne van Heerden het hierdie mooi foto van my en Beverley voor die Schreinerhuis geneem.

Daarna het drie lede van Amazwi, Crystal Warren, Jeannie McKeown en Marike Beyers, gedigte voorgelees wat gepubliseer is deur Modjaji, ’n uitgewery wat op vroueskrywers fokus.

Crystal Warren

Jeannie McKeown

Marike Beyers. Sy het kort hierna ook ’n lesing gegee oor Kobus Moolman se Karoopoësie.

Paul Walters en Jeremy Fogg het daarna ’n lesing gegee oor Olive Schreiner se reis na die landstreek wat vandag as Zimbabwe bekendstaan. Hulle het beurte gemaak om dele van die reis te belig. Melina Smit het voorgelees uit Schreiner se briewe. Dit was soos ’n mini-opvoering.

Paul Walters

Jeremy Fogg

Dean Allen het oor sy boek Frontier land gesels.

Daisy Jones het daarna gepraat oor haar boek Love you madly wat sy saam met Lucinda Hooley geskryf het.

Op pad terug na die hotel is almal aangemoedig om in te val by die Arts Hub, waar kuns, meestal deur hoërskoolleerders geskep, uitgestal is.

Neville Prinsloo (regs) het die projek byeengebring. Melina Smit het daarmee gehelp.

Daardie Vrydagmiddag is ’n High Tea gehou – met melktertjies ook op die spyskaart.

Dit het die agtergrond geskep om oor Sally Andrew se roman The milktart murders te gesels.

Tony Jackman het met Andrews gesels.

Sy het ook voorgelees om seker te maak die nimlike tannie Maria deel in die geleentheid.

Uitgevat: Tony Jackman

Daarna het die joernalis-egpaar Chris Marais en Julienne du Toit oor hulle reeks boeke Karoo roads gesels. Dit het met ’n skyfievertoning gepaard gegaan.

Daardie aand was daar ’n oop uitnodiging aan enige een om op te tree. Liza Badenhorst het die sessie gelei.

Bridget Harrison het musiek verskaf.

Crystal Warren, Marike Beyers en Zongezile Matshoba, van Amazwi het gedigte voorgedra. Matshoba het onder andere die gedig “Hamba bhekile” voorgedra wat ek die volgende dag opgeneem het en wat nou op LitNet verskyn.

Die aand is afgerond met Alex Jenkins se toertjies. Hy het begin met balle.

Daarna het verskillende ander “speelgoed” gevolg.

Uiteindelik het hy buite in die straat met vuur gespeel.

Saterdagoggend is afgeskop met ’n paar humoristiese staaltjies en vertellings deur vier skrywers uit Cradock: Jimmy Simons, Elona Rasmeni, Freda Froelick en Corné Slabbert.

Ek het toe ’n onderhoud gevoer met Etienne van Heerden oor sy boek Die biblioteek aan die einde van die wêreld.

Van Heerden het ook inligting verskaf oor LitNet en oor sy droom om met LitNet voort te bou op die tradisie van die sogenaamde “little magazines” wat in die ’70’s en ’80’s protes uitgespreek het teen die status quo.

Daarna het ’n gesprek oor die bou van netwerke plaasgevind. Dorothy de Kock (regs) het die gesprek gefasiliteer. Ek het verduidelik hoe instansies soos PEN Afrikaans, met die interaksie van ander PEN-sentra, met PEN International skakel. Sally Andrew het gesels oor die manier waarop haar boek verfilm is. Etienne van Heerden het oor LitNet gesels. Martin Welz van Noseweek het gesels oor hoe sy loopbaan gevorm is. (Foto: Mariné le Roux)

Zongezile Mathshoba en Beverley Thomas het verduidelik hoe Amazwi kan help om skrywers te bemark en te publiseer.

Chris Marais en Julienne du Toit het verduidelik hoe hulle te werk gaan om hulle eie boeke uit te gee en te bemark.

Hierna het Tony Jackman en Martin Welz staaltjies uit hulle loopbaan gedeel tydens ’n middagete wat die hotel se sjef volgens ’n resep van Jackman gekook is.

Jackman is die redakteur van foodSTUFF in Daily Maverick.

Welz is die redakteur van Noseweek.

Vir my was die gesprek tussen Des Lindberg en Tony Jackman ’n onverwagse hoogtepunt. Jackman is al dekades lank bevriend met die Lindbergs en het vir wyle Dawn goed geken.

Dawn Lindberg is aan Covid oorlede. Net voor haar dood het sy en Des hulle gesamentlike outobiografie, Everyday is an opening night, klaargemaak. Des het gesorg dat dit gepubliseer word.

Die gesprek was deels feestelik en deels hartseer. Die Lindbergs het gereeld met die staat gebots weens hulle linkse politiek en aandrang daarop om byvoorbeeld met “gemengde” groepe op te tree.

Tot daardie aand het Des nie weer in die openbaar gesing sedert sy eggenote se dood nie, maar daar in die Karoo het hy sy kitaar uitgehaal en die waarderende gehoor vergas op “Die gezoem van die bye”.

Die seer van Dawn se dood is egter ook nog rou en beide Lindberg en Jackman was by tye emosioneel. Dit was ’n sonderlinge ervaring.

Ná sy optrede het Des en Sally Andrew vir mekaar boeke geteken en gegee.

Hierdie skrywersfees in die Karoo is klein en intiem. ’n Mens leer die sprekers en die gaste ken. Dit is gans anders as die groot nasionale feeste waar die sprekers op die verhoog sit en ’n mens nie regtig na aan hulle kan kom nie.

Hier eet almal saam, die sprekers luister na mekaar en daar is ’n heerlike interaksie tussen dié wat optree en die wat die gesprekke en ander items bywoon.

Die lieflike Victoria Hotel en die Tuishuise bied ook ’n unieke, warm platform vir die fees.

  • 9

Kommentaar

  • Teresa Opperman

    Puik oorsig van 'n goed georganiseerde geleentheid waarop Cradock en omliggende dorpe trots kan wees. Dankie, Lisa Ker en span, vir al jul insette.

  • Thersia Craven

    Izak, is dit moontlik om jou onderhoud met Etienne van Heerden oor "Die Biblioteek..." te lees of luister te kry, asseblief?

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top