Die klippe praat al harder

  • 0

Toe president Donald Trump vroeg in Julie vanjaar met vuur en swael die VSA se Onafhanklikheidsdag in ’n amfiteater voor die ikoniese Mount Rushmore-koor-in-die-kleine vier, was daar onvermydelik talle lae subteks. Die Pahá Sápa- (oftewel Black Hills-) bergreeks net buite die gehuggie Keystone in die suidweste van die deelstaat Suid-Dakota dra immers swaar aan simboliek en betekenis.

Maar laat ons by die teks self – dít wat Trump uitdruklik aan die gehoor gesê het – begin. Voor hom was daar steil opgestapelde rye oop gesigte wat, volgens die seremoniemeester Mary Hart, ’n voormalige mej Suid-Dakota, van heinde en verre aangekom het. Êrens tussen 7 000 en 8 000 siele. Diegene wat uit die deelstaat se hoofstad Fort Pierre die lang pad Keystone toe aangedurf het, sou drie ure lank gereis het. Dalk was daar selfs ’n Coen-agtige gesig of twee uit die legendariese dorp Fargo, in Noord-Dakota, wat met die aanryslag vir agt-en-’n-half uur op die pad sou gewees het.

Ja, oop, skoon gesigte, want byna sonder uitsondering het die vergaderdes hul COVID-19-maskers êrens langs die pad verloor. Inderwaarheid het Kristi Noem, die deelstaat se Republikeinse goewerneur, vooraf maskers en afstandhandhawing by die geleentheid in die ban gedoen.

Maar die pandemie, wat byna drie miljoen Amerikaners toe al onder lede had, van wie 130 000 se lewens geneem is, het president Trump so ver hy kon uit sy spraakbelle gehou. Eerder had hy dit oor wat hy as ’n linkse kulturele revolusie getipeer het, wat tans die Amerikaanse Revolusie tot ’n val dreig te bring. Presies wat hy met die idee van “die Amerikaanse Revolusie” in gedagte het, is nie volkome duidelik nie.

Wat egter wel weens die onlangse opvlamming van die Black Lives Matter-beweging in die VSA al hoe meer daar in gedrang is, is anachronistiese beelde wat die leiers van die Gekonfedereerde State van Amerika (1861–65) eerbiediglik in herinnering roep. Die Konfederasie het uit sewe suidelike deelstate bestaan wat in 1860 en 1861 eensydig hul lidmaatskap van die VSA opgeskort het. Met Abraham Lincoln, die nuutverkose president van die VSA, se walgooiery teen die uitbreiding van slawerny was hulle nie gediend nie.

Die rondwapper van die Konfederasie se vernaamste vlag – ’n witbesterde vlootblou kruis wat kruisbeen oor ’n rooi agterdoek span – is al vir geruime tyd iets wat hewige emosie ontlok. In baie ordentlike kringe word dit as ’n tipe sosiale oorlogverklaring beskou. In omtrent dieselfde tydsgewrig, vroeg-Julie, het ’n videogrepie juis op sosiale media geveldbrand uit ’n 1988-episode van The Golden Palace, ’n sitkom wat met ’n deel van die oorspronklike rolverdeling uit The Golden Girls vertak het, waarin Don Cheadle se karakter die argetipiese southern belle Blanche Devereaux die een en ander oor die vlag leer.

Só is dit ook met die Wit Mag-handgebaar gesteld: die duim en wysvinger wat ’n sirkel vorm terwyl die ander drie vingers uitdagend oopvlerk. Met Trump se voorstelslag het die gloedblonde Mary Hart (Mary Johanna Harum gedoop) rasieleieragtig tegelykertyd met beide haar hande daardie teken langs haar in die lug gemaak. Natuurlik het sy dit later, toe die media haar daaroor pols, met die Gaslight-erige verontskuldiging verduidelik: Dit was blote toeval; sy was die onskuld vanself.

(’n Interessante kameetjie uit Hart se biografie is dat sy van ’n uitwaaiering Noorweërs afstam. Weens haar pa se werk het sy as kind baie jare in onder meer Denemarke deurgebring. Sy praat vlot Deens.)

Trump se toespraak, daarenteen, was natuurlik in Trompengels – en boonop in die majeurtoon. Van die ou troop van ons en hulle was dit deurspek. Diegene wat hom durf teëstaan, het hy voorspelbaar genoeg as “slegte, bose mense” afgemaak. En sy teenstanders sluit ’n verskeidenheid minderhede in, vernaam swart Amerikaners. Namate 3 November 2020 naderspoed, sal dié tema, van verskillende Amerikaanse kampe, onvermydelik al hoe skriller word.

Maar die ruimte wat dáár by die Mount Rushmore National Memorial rondom Trump uitgestrek het, het vir die ingewydes ewe luid en duidelik as sy woorde gepraat. Hoog teen die swerk agter die verhoog waarop hy sy toespraak gelewer het, pryk immers vier bekende 18 meter hoë gesigte, uit graniet gekap. Van links na regs tuur die presidente George Washington (1732–99; die eerste president: 1789–97), Thomas Jefferson (1743–1826; die derde president: 1801–09), Theodore Roosevelt (1858–1919; die 26ste president: 1901–09) en Abraham Lincoln (1809–65; die 16de president: 1861–65) knus teen mekaar ingenestel, maar met elk se oë so half en half in sy eie windrigting gewend.

Lincoln, wat vir die afskaffing van slawerny verantwoordelik was, en Roosevelt, wat net meer as ’n eeu gelede die presidentsamp beklee het en ’n breedweg progressiewe beleid van stapel laat gaan het, is in die huidige tydsgewrig nog betreklik aanvaarbaar. (Tog word wandade uit hul onderskeie rekords al hoe meer opgehaal om te wys dat hulle ook allermins leliewit was.)

Washington en Jefferson, daarenteen, het self oor linies slawe beskik. Aanvanklik was Washington redelik kritiekloos daaroor – ’n houding tipies vir ’n boer in die deelstaat Virginia, waar sy landgoed Mount Vernon geleë was. Alhoewel hy gaandeweg al hoe ernstiger bedenkinge oor die instelling begin koester het, het hy dié gedagtes merendeels privaat gehou. In breë trekke kan dieselfde van Jefferson gesê word.

Tog sal Washington en Jefferson deur vandag (en môre) se morele prisma al hoe minder grasie gegun word op grond daarvan dat dit alleen weens die realpolitik van hul dag was dat hulle nie méér op die politieke arena gedoen het om slawerny af te skaf nie.

Ewe indringende kritiek teen die vier gesigte wat teen Mount Rushmore uitgekerf is, is die feit dat hulle enigsins daar – op daardie einste plek – is. Dat as daar gesigte daar móét wees – wat vir baie inheemse Amerikaners allermins duidelik is – hulle nie die gesigte van inheemse leiers is nie. Die ruie gebied rondom Mount Rushmore is immers van oudsher met die geskiedenis van ’n aantal inheemse groepe verweef. Dit was ’n gebied waar verskeie stamme om den brode gejag het; vir baie van hulle was en bly dit heilige grond.

Vanaf 1776, toe die Lakota-stam (wat een van die drie groot takke van die Sioux-volk is) die gebied by die Cheyenne-stam weggeraap het, was dit onder húl vaandel. In 1868 het die regering van die VSA met onder meer die Lakota die Tweede Verdrag van Fort Laramie gesluit. Artikel 2 van die Verdrag roep die Great Sioux Reservation in die lewe, wat groot dele van wat vandag Suid-Dakota is, onder meer die Black Hills, ingesluit het en sodoende daardie grond vir die “absolute and undisturbed use and occupation of the Indians” opsy gesit het.

Dít was maar vir enkele jare die toedrag van sake totdat die legendariese George Armstrong Custer in 1874 op ’n regeringsending daarheen in die einste reservaat goud ontdek het. Voorspelbaar genoeg het dit ’n goudstormloop ontketen, wat die regering oogluikend toegelaat het. Uiteindelik het die regering, verraderlik genoeg, die Black Hills-gebied teruggeneem en die Fort Laramie-verdragspartye elders heen verskuif. Verdrag? Watter verdrag?

Kortom: Dis allermins verrassend dat Mount Rushmore – wat boonop na ’n wit spekuleerder vernoem is – ’n omstrede monument is. Maar hoe gemaak met die vier founding fathers wat rysig daar sitgemaak is om konsuis die prestasie van die Amerikaanse demokrasie te versinnebeeld? Hoe bring ’n mens ’n ry klipbeelde wat uit ’n granietberg uitgekap is tot ’n val?

*

Maar nog is dit nie die einde nie.

’n Verdere troebel subteks lê opgesluit in die kunstenaar wat vir die ontwerp en bou van die Mount Rushmore-gedenkmonument verantwoordelik was: ene Gutzon Borglum (1867–1941).

Die idee vir die beelde het oorspronklik by die plaaslike geskiedkundige Jonah LeRoy “Doane” Robinson (1856–1946) ontspring as ’n slim manier om toeriste na die ietwat uit-die-pad-uit deelstaat te lok. Mettertyd sou hy by die beeldhouer Borglum uitkom, wat die projek in 1927 sou opneem – toe president Calvin Coolidge in ’n patriotiese gloor die eerste sooi kom omdolwe het. Met Borglum se afsterwe vroeg in 1941 was die reuseprojek reeds byna voltooi. Vanaf die middel-1930’s was sy seun Lincoln Borglum assistentbeeldhouer. Toe sy pa sterf, neem hy die leisels in die pylvak by hom oor.

John Gutzon de la Mothe Borglum is in 1867 in St Charles, toe in die Idaho-gebied, wat eers in 1890 deelstaatstatus verwerf het, gebore. Sy ouers was beide nuwe aankomelinge uit Denemarke. In 1809 het sy pa, Jens Møller Haugaard Børglum, in die dorpie Børglum in die kommune Hjørring in die verre noorde van Denemarke sy eerste lewenslig gesien. In 1820, toe Jens ongeveer 11 jaar oud was, het die eerste lede van die Kerk van Jesus Christus van die Heiliges van die Laaste Dae uit Salt Lake City in wat toe die Utah-gebied was, met sendelingstawe in Denemarke aangekom.

Gou is ’n gemeente in die hoofstad Copenhagen in die lewe geroep. Kort voor lank het die kerk se invloed wyer uitgekring – en ook vir Jens in sy vaarwater meegeswiep. Saam met ander bekeerlinge het Jens in ongeveer 1861 metterwoon uitgewyk na die Nuwe Sion wat buite Salt Lake City in aanbou was.

Met ’n mooi toeval neem Hans Christian Andersen in die sprokie “Die biskop van Børglum en sy manne”, wat ook in 1861 verskyn het, die dorpie as ’n vertelruimte op. Die sprokie handel oor ’n bose, gryplustige biskop wat aan die hand van ’n dorpenaar omkom – ook ene Jens.

Eers het onse Jens met net sy vrou Ida na die VSA gereis. ’n Jaar later het hy Ida se jonger suster Christiane ook laat kom. Sý word sy tweede vrou en Gutzon se ma. In sy roman Black Hills (2010) neem Dan Simmons dié boeiende historiese gegewens onder die loep.

Ná sy kindertyd in Utah en Kansas reis die begaafde jong Borglum vroeg in die 1880’s Europa toe om in die beeldhoukuns onderrig te word. In The Washington Post van 2 Julie 2020 skryf Diane Bernard: “There, Borglum became fascinated with art on a grand scale with nationalistic subjects, which suited what many described as his bombastic, egotistical personality.”

Met sy terugkeer Amerika toe pak hy ’n aantal monumentale beeldhouwerke aan wat figure uit die land se geskiedenis vererend in herinnering roep. Die vernaamste daarvan is die gedenkmonument vir die Gekonfedereerde State buite Atlanta, by Stone Mountain, ’n projek wat hy in 1915 aangepak het. Dié reusebeeld, in basreliëf uit die berg gekerf, is van drie leiers van die Konfederasie. Dit is geldelik deur die berugte voorstanders van wit heerskappy, die Ku Klax Klan, wat toe aan’t herrys was, gesteun. Ironies genoeg was dit juis ook tóé dat die KKK deur die skeppende werk van die kostuumontwerpers van regisseur DW Griffith se 1915-rolprent The birth of a nation sy moderne kledy op die koop toe gekry het: die onheilspellende wit kleed-en-punthoed-met-gate-vir-uitloer.

Bernard haal uit John Taliaferro se 2002-boek Great white fathers: The story of the obsessive quest to create Mount Rushmore aan. In ’n brief wat hy in die vroeë 1920’s aan ’n vriend stuur, skrywe Borglum: “Is it true you joined the Ku Klux Klan? I hope so. They’re a fine lot of fellows as far as I can learn and if they elect the next President, by gosh I’m going to join ’em.”

*

In die dorpie Sturgis, ’n halfuur se ry ten noorde van Keystone – deur Rapid City – kom daar die afgelope klompie dae derduisende motorfietsentoesiaste – bikers – uit elke uithoek bymekaar. Vir die 80ste uitgawe van die Sturgis Motorcycle Rally.

Maskerloos adem hulle die lug in wat die wêreld se bakermat van vryheid omgeef – nes ’n grondwetlike krisis dreig, ontketen deur inheemse mense wat, as COVID-19-teenvoeter, die maskerlose motorfietsers toegang tot hul reservate weier.

*

Die geskiedenis is almal die wêreld oor aan’t inhaal. Tog blyk dit dat nie almal dit besef nie.

Berigte doen immers tans die ronde dat Trump jare gelede al by Noem aangevly het – met die versugting dat sý gesig ook uit Mount Rushmore se klip gebeitel word.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top