Die eenheid van die reënboog: ’n Vredesentrum ten bate van transformasie

  • 3

Die waterkrisis en protes by skole oor taal en toegang oorheers die nuusopskrifte. Ockie Grundling gesels met Naomi Meyer oor ’n nuwe vredebousentrum en hoe belangrik dit nou, meer as ooit, nodig is vir mense om met mekaar te praat.

Ockie, wat behels die Boland Kollege se vredebousentrum? Waarmee is julle besig en wat het julle langtermyn hiermee in gedagte?

Die wesentlike bestaansrede van die Boland Kollege Vredesentrum is gesetel binne die groter konteks van die Suid-Afrikaanse transformasieproses. Daar is ’n ernstige wanpersepsie dat die transformasie van die historiese konflikstruktuur van Suid-Afrika afgehandel is met (1) die veelparty-onderhandelingsproses se ooreenkoms, (2) die 1996-Grondwet, en (3) die 1994-verkiesing en die nuwe regering wat daarna aan bewind gekom het onder leiding van Nelson Mandela. Die vreugde wat veroorsaak is deur daardie belangrike ooreenkoms het veroorsaak dat die politieke leierskap nie voldoende strategiese aandag gegee het aan die krities noodsaaklike vereistes vir die institusionalisering van ’n volhoubare vredeskultuur nie.

Vredebou is in dié verband ’n uiters noodsaaklike proses wat nasionaal, provinsiaal en plaaslik in ’n multidissiplinêre konteks geïmplementeer moet word. Vredebou volg normaalweg die amptelike versoeningsfase op. Versoening vereis in die eerste plek inklusiewe skuldbelydenis. Inklusiwiteit is krities belangrik en impliseer/vereis dat alle rolspelers in die konflik hul betrokke aandeel in die konflik moet erken en bely. Dit het nie in die Suid-Afrikaanse proses op ’n inklusiewe grondslag gebeur nie.

In die tweede plek vereis dit inklusiewe vergifnis. Ook dit het nie in Suid-Afrika volledig inklusief gebeur nie. Die Waarheid-en-Versoeningskommissie het ’n rol gespeel, maar dit het nie voldoende gefokus op ’n inklusiewe vergifnisproses deur die betrokke leierskappe op alle vlakke nie (nasionaal, provinsiaal en plaaslik).

Institusionele vergifnis word in die derde plek opgevolg deur die implementering van geregtigheid. Belangrik is egter dat inklusiewe vergifnis straffende geregtigheid uitskakel en dit met herstellende geregtigheid (“restorative justice”) vervang. Vergifnis haal veroordeling en straf van die tafel af, maar die kernprobleme wat deur die historiese konflik veroorsaak is, moet steeds opgelos word en kan nie onder die mat ingevee word nie. Die hantering daarvan word met herstellende geregtigheid nie meer op ’n veroordelende “skuldenaarsmentaliteit” benader nie, maar in die gees van vergifnis – dit word dus ’n “ons-benadering” waar die voormalige strydende groepe saamwerk om die konflikoorsake te transformeer. Om dit moontlik te maak, vereis uit die aard van die saak sielkundige en geestelike denketransformasie. Suid-Afrika het nog ’n lang pad om te loop op die weg na sielkundige en geestelike versoening en vredebou.

Boland Kollege se Vredebousentrum sien homself as ’n rolspeler op hierdie terrein van  sielkundige en geestelike versoening- en vredebou-uitdaging. ’n Groot gedeelte van die kollege se studentebasis kom uit gemeenskappe wat tans en histories deur ernstige armoedeprobleme geteister word. Die grootste probleem van armoede is nie die ekonomiese tekorte nie, maar die psigiese en geestelike gevolge van daardie tekorte. ’n Denkraamwerk van ’n “ek kan nie”-kultuur ontwikkel. Die gevolge daarvan kan dikwels gesien word in die groter konteks in die vorm van swak eksamenuitslae op skoolvlak in vergelyking met skole in meer welvarende gemeenskappe. Verder word hierdie gemeenskappe deur ernstige gesinsdisintegrasieprobleme/-konflikte geteister. Die gevolge daarvan kan gesien word in bendevorming met die welbekende gevolge dáárvan. Sielkundig word bendes die instrument om die “ek kan nie”-denkraamwerk onder die kombers weg te steek.

Om hierdie redes poog die Boland Kollege Vredebousentrum om studente van die kollege asook die groter relevante gemeenskap toe te rus met vermoëns en vaardighede om die intra- en interpersoonlike konflikte, verskille en hindernisse te transformeer ten einde volhoubare mense-ontwikkeling en ’n inter- en intradimensionele vredeskultuur te bou.

Die sentrum sal ook navorsing doen oor relevante en gepaste vredeboustrategieë en strategiese vredebouleerskole plaaslik en internasionaal. Die sentrum beplan ook publikasies oor gepaste vredebouprogramme binne Suid-Afrika se gemeenskapskonteks. Die sentrum sal ook konflikoplossing, versoening en vredeboufasilitering doen ten einde ’n volhoubare vredeskultuur te help vestig deur die transformasie van destruktiewe konflikgedragspatrone op weg na volhoubare vrede.

Hoe kan ’n vredebousentrum help om alledaagse armoede, honger, woede en ongelykheid aan te spreek?

Die sentrum kan binne bepaalde stede, dorpe, landelike gebiede en gemeenskappe ’n armoedetransformasieproses, waarby konflikoplossing ingesluit is, fasiliteer. In die proses sal die sentrum ’n “toegangsproses” vir prosesbeplanning doen. In die proses sal al die kritieke rolspelers/belangegroepe geïdentifiseer word en deur voorafgespreksprosesse poog om hulle te oortuig van die noodsaak van sodanige deelname. Die kritieke rolspelers moet uit die aard van die saak ook die munisipale owerhede, sakesektor, religieuse gemeenskap, burgerlikesamelewingsorganisasies en nieregeringsorganisasies insluit.

Die formele proses sal die “sirkelkaart” as fasiliteringsinstrument gebruik om bogenoemde probleme tydens so ’n gefasiliteerde proses te ontleed. Die sirkelkaart is oorspronklik deur Roger Fisher van die Harvard Negotiation Program ontwikkel. Hy is reeds oorlede, maar was ’n absoluut internasionaal gerespekteerde kenner op die terrein. Ek het as deel van my doktorale studie die sirkelkaart verder ontwikkel en die werke van John Galtung, Mark Anstey, John Burton en John Paul Leaderach daarby geïntegreer. Die sirkelkaart ontleed die onderliggende struktuur van die konflik of probleem en lei die deelnemers om deur die fasiliteringsproses ooreenkoms te bereik oor die onderliggende oorsake van die konflik/probleem. ’n Ooreengekome konflikdefinisie word ontwikkel. Aan die hand daarvan word die waardes waarop die oplossing gegrond moet word, ontwikkel. Daarna word daar wegbeweeg van gevegte oor oplossings deur die fase van oplossingsontginning wat op die benadering van ’n dinkskrum gegrond is. Niemand se voorstelle word dus veroordeel of afgeskiet nie. Na die dinkskrumfase begin die besluitnemingsproses, wat ook gesamentlik en inklusief gedoen word. Die werktuig wat daarvoor gebruik word, is ook deur Fisher ontwikkel en staan bekend as die Currently Perceived Choice. Die voor- en nadele van ’n ja- en ’n nee-besluit word daardeur ontleed. Elke motivering word ’n waarde uit 10 gegee. Die opsie met die hoogste ja-gradering en die laagste nee-gradering is dan die besluit. Die voordeel daarvan is dat die oplossing se sterk punte sowel as risiko’s geïdentifiseer word en dan in die implementeringsbeplanningsproses in ag geneem word. Die implementeringsfase van die besluit word dmv projekbestuursimplementeringstappe beplan om te verseker dat elke besonderheidsaspek verreken word.

Dié soort werkswyse transformeer gesindhede en psiges van vyandskap na samewerking en medemenslike vertroue. Daarbenewens word die rolspelers deel van die oplossing en die implementering daarvan, wat belangrike beginsels in die paradigma van volhoubare ontwikkeling is.

Gepraat van konflik: taal versus toegang in skole – hoe gemaak? Gee asseblief ’n paar wenke wat julle sentrum kan verskaf?

Ek beveel dieselfde proses as in punt 2 aan, aangesien die proses empatie/begripontwikkeling asook gesamentlike wesentlike nie-onderhandelbare behoeftebevrediging fasiliteer. Omdat die proses empatie-ontwikkeling fasiliteer, neem mense mekaar diepliggend in ag, verstaan hulle mekaar beter en begin hulle saam dink oor hoe om by oplossings uit te kom wat elke belangegroep in ag neem. Dit verander ook konflikgerigte persepsies oor byvoorbeeld die taalkwessie, omdat mense mekaar nou beter verstaan. Die taal is in wese slegs die simptoom van die probleem. Dit is die kwessie wat gebruik word as regverdiging om dieperliggende kwessies aan te val.

En oor water (in die Wes-Kaap, maar ook landwyd): Wie het, wie het nie, en hoe gemaak om konflik hieromtrent te hanteer?

’n Werkswinkel op nasionale-, provinsiale- en plaaslikeregeringsvlakke is krities belangrik. In die proses kan die waterprobleem sowel as die gevolge daarvan, asook die toekomstige risiko’s daaroor, ontleed word. Daar kan ook gekyk word na die faktore wat die probleem vererger / laat eskaleer. ’n Dinkskrum oor hoe om die probleme te hanteer en te bestuur kan ’n belangrike rol speel en aan die hand daarvan kan moontlike oplossings ontleed word vir besluitneming en implementeringsbeplanning. Krities belangrik is die beginsel dat water nie verpolitiseer moet word nie.

Ten slotte: jy skryf dat so ’n sentrum soos wat julle visualiseer, kan werk slegs as dit binne gemeenskappe wortelskiet. Hoe kan dit gebeur?

Die sentrum wil werkswinkels binne die gemeenskap hou rakende die relevante probleme wat jy in jou vrae geïdentifiseer het. Die sentrum sal byvoorbeeld die kerkleiers van alle denominasies wil betrek om hulle toe te rus vir die praktiese implementering van konflikoplossing, versoening en vredebou. ’n Baie belangrike beginsel wat besef moet word, is dat die kerke in Suid-Afrika, ongeag hul denominasionele verskeidenheid, kritieke rolspelers is – meer nog, ’n “Mannetjies Roux-gaping” in die huidige konteks het. Die kerke moet dit besef en daardie gaping strategies en doelgerig begin gebruik om vrede, waardes, ’n gees van versoening en ’n vredeskultuur in gemeenskappe te help vestig. Die hart van ’n vredeskultuur is nie die afwesigheid van verskille nie, maar die vermoë om verskille effektief tot voordeel van al betrokkenes te hanteer. Fisher het altyd gesê ’n mens het geen beheer oor waarmee en met watter gesindheid mense na jou toe kom nie, jy het slegs beheer oor hoe jy reageer. Sy antwoord was dat jy altyd die mens van die probleem moet skei – wees sag teenoor die mens (respekvol, verdraagsaam, empaties, ens) maar taai teenoor die probleem. Die beginsels sluit baie nou aan by Jesus se riglyn: mens moet jou naaste liefhê soos jouself. Probeer die mens verstaan soos jy wil hê hy/sy moet jou verstaan. Van uiterste belang is dat ’n destydse kollega van Fisher, William Ury, ná Fisher se afsterwe gaan navorsing doen het oor die redes hoekom partye op internasionale grondslag nie tot “ja” kan kom as hulle sy beginselgerigte benadering gebruik nie. Hy het bevind dat in die oorweldigende meerderheid van gevalle die probleem nie die opponent is nie, maar die persoon self, wat nie interne vrede met homself het nie. Dit sluit dus aan by Jesus se beginsel soos bo verduidelik.

Die kerk ervaar die werklikheid van talle interdenominasionele verskille. Die Mannetjies Roux-gaping is dat die kerk in al die gemeenskappe is en dat die Bybel wat gebruik word, gemeenskaplik aan almal is. Almal wat tot die kerk behoort in al die gemeenskappe behoort dus saam te stem oor die belangrikheid van versoening en vrede. Indien hierdie gemeenskappe toegerus word met die diepliggende bewussyn en verbintenis om die beginsels van vrede en versoening prakties uit te leef, en indien hulle toegerus word om hierdie vrede en versoening uit te leef deur toerusting soos in die vrae hier bo verduidelik is, kan dit ’n groot transformasie-impak op ons land hê.

Die sentrum wil graag ’n fasiliteringsrol in hierdie verband in die gemeenskap speel. Ek stem 100% met Tutu se reënboognasie-begrip saam: sien die mooi in die eenheid van die reënboog.

  • 3

Kommentaar

  • Johann Basson

    Geagte mnr Grundling,
    Definieer asseblief eenvoudig en eenduidig wat is "die Suid-Afrikaanse transformasieproses" waaroor alle Suid-Afrikaners konsensus moet hê en dieselfde begrip daaroor het.
    Wat is die vertrekpunt van "die Suid-Afrikaanse transformasieproses"? Die aankoms van die swartmense in Suid-Afrika, Jan van Riebeeck se aankoms, die Britse omvangryke slawebedryf, Anglo-Boereoorlog, Grondonteiening 1913, NP 1948?
    Wat is die doelwitte?
    Wat is die meetbares, metings en meetinstrumente wat gebruik gaan word om "die Suid-Afrikaanse transformasieproses" se uitkomste te meet?
    Teen welke kriteria of standaarde gaan die omvang van sukses of nie-sukses gemeet word? En waarteen gaan die uitkomste vergelyk word?
    Is daar enige Gantt-kaart(e) vir die program en projekte?
    Sonder om sinies te wees: So kan ons aanploeter vir nog 100 jaar, 1,000,000 doktorsgrade en 1 triljoen publikasies terwyl die bevolkingsaanwas ongebreideld voortgaan en kompetisie om oorlewing toeneem totdat daar geen water en kos meer vir mens en dier is nie.
    "So who ever, what ever, when ever, where ever, how ever. SO WHAT?"

  • GatvolBoereseun

    So in kort: Iemand moet al weer (nog steeds) jammer sê vir iets uit die verlede. Solank as wat almal daarop hamer kan julle daai idilliese reënboog op julle pense skryf.

  • Johann Basson

    Mnr Grundling verwys tereg na drie vereistes vir die versoeningsfase en vredebou: 1) inklusiewe skuldbelydenis 2) inklusiewe vergifnis en 3) implementering van geregtigheid.
    ‘n Groot probleem in Suid-Afrika is dat vele Suid-Afrikaners nie vertroud is met die wêreld- en Suid-Afrikaanse geskiedenis asook hul eie familiegeskiedenis nie. Wat het hulle geleer uit die foute van die verlede? Hulle hang al te maklik aan die lippe van politieke opportuniste.
    Wat weet vele Suid-Afrikaners van die betrokkenheid van hul voorouers in die omvangryke slawehandel in Suid-Afrika oor die tydperk 1562 tot 1910? Hoeveel Suid-Afrikaners weet dat van hul voorouers, ongeag kleur, deur ondermeer hul eie soort verslaaf is en aan slawehandelaars en slawebesitters verkwansel is? Hoeveel Suid-Afrikaners weet dat van hul voorouers slawehandelaars was? Hoeveel van die voorouers, ongeag kleur, was slawebesitters, “Masters” van “Indentures Apprentices” of besitters van “Prize Negroes”? Wie se voorouers, ongeag kleur, was almal betrokke by slawevang-ekspedisies in die Suid-Afrikaanse binneland? En welke groepe, ongeag kleur, het ander groepe die vorige 900 jaar van hul gronde verdryf en oorwonne groepe se vroue en kinders verslaaf?
    En welke voorouers het met die imperialiste en kolonialiste saamgewerk ter bevordering van die imperialiste en kolonialiste en slawehandelaars se oogmerke?
    Welke groep in Suid-Afrika woon in glashuise en durf waag om eensydig klippe na enige ander groep te gooi en eensydige skuldbelydenis opeis? Wys die wysvinger na andere en drie vingers van dieselfde hand mag na jouself terug wys.
    Kom ons leer uit die foute van die verlede, neem hande en bou aan ‘n voorspoedige volhoubare toekoms vir ons nageslagte. Suid-Afrikaners se toekomssleutels is EERLIKHEID, selfondersoek, geduld, verdraagsaamheid en wedersydse respek.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top