Die dag toe ek gesterf het  

  • 9

Foto: Pixabay

Nabydood ervarings, of near death experiences (tewel NDE’s) was nog altyd ’n omstrede onderwerp. Aan die een kant van die kontinuum is daar die uitsprake van wetenskaplikes soos Stephen Hawking wat beweer dat daar hoegenaamd geen wetenskaplike bewyse vir lewe na die dood is nie; dat dit blote wensdenkery is “vir mense wat bang is vir die donker”. Aan die ánder kant van die spektrum is daar Christene wat die sg bewyse vir lewe na die dood gekaap het vir hulle agenda om momentum te gee aan die Bybelse hemel-en-hel-teorie. Hierdie gelowiges steur hulle nie aan die mediese wetenskap, of aan navorsingstudies wat reeds oor NDE’s onderneem is nie. Enige persoon wat ’n droom of visioen oor die nalewe gehad het, word sonder meer geglo. Ongelukkig het eksponente van die Christelike geloof ’n monopolie op die nalewe debat opgeëis en hulle wankelrige aanspraak is bloot gebaseer op teksverse en vertellings wat nie geverifieer kan word nie. En iewers, tussen eskatologie en die wetenskap, is skeptici wat probeer sin maak uit die eeue-oue vraag: Skei die gees van die liggaam na die dood, en is die eindbestemming inderdaad die hemel of hel? Natuurlik moet sulke navorsers waak teen Hawking se wensdenkerywaarskuwing, want dit sou wonderlik gewees het as ons in ’n dimensie sonder pyn, angs of konflik kon leef, onvoorwaardelike liefde en vrede kon ervaar en ons geliefdes weer kon sien.

......

En iewers, tussen eskatologie en die wetenskap, is skeptici wat probeer sin maak uit die eeue-oue vraag: Skei die gees van die liggaam na die dood, en is die eindbestemming inderdaad die hemel of hel?

........

Positiewe NDE’s behels die volgende – en in hierdie artikel verwys ek slegs na die ervarings van mense wat klinies dood was, maar weer via metodes van resussitasie na die lewe teruggebring is. Hierdie pasiënte beweer hulle het ’n sensasie dat hulle uit hul liggame beweeg het, gehad; hulle kon die mediese personeel aan hulle sien werk en met mekaar praat; hulle het geleviteer of teen die plafon gedryf en sonderlinge emosies van sereniteit, liefde en warmte ervaar. ’n Ontmoeting met die lig/Lig, of figure in die lig, kom ook algemeen voor, asook ander wonderwesens byvoorbeeld engele. Die pasiënte meld ook telepatiese gesprekke met die lig, wat Christene vertolk as God wat hulle teruggestuur het om ’n opdrag op aarde te voltooi. Sommiges beweeg deur ’n tonnel en sien hulle lewe in ’n oogwink by hulle verbyflits. Utopiese stede of natuurtonele is ook al gerapporteer – en party sterwendes het ’n grens, soos ’n muur, gesien wat hulle vermoed het die finale skeiding tussen die lewe en die dood moet wees. Euforiese herontmoetings met geliefdes word dikwels genoem.

Die “helse” NDE’s is vreesaanjaend en ondergerapporteer. Die pasiënte vertel van ’n donker en angswekkende plek waar hulle aangeval word, byvoorbeeld gebyt of verskeur word deur ander wesens/siele/monsters; die hel kan óf warm wees, byvoorbeeld met vlamme, óf yskoud en verlate; en van hierdie persone het “gebrand” in die vuurpoel, soos dit beskryf word in die Bybel. ’n Uiterste gevoel van wanhoop, asof hulle vir ewig afgesny is van God, word genoem. ’n Kentering of morele ommekeer kom dan voor: Oorlewendes van helse NDE’s kan tot bekering kom, en/of hulle lewens wy aan liefdesdiens teenoor hulle naaste. Hierdie mense is minder materialisties en meer empaties ná die episode. Die helse ervarings en gepaardgaande skok en onuitspreeklike gruwels dien as katarsis vir ’n “goeie” lewe verder. Hierdie pasiënte getuig soms by kerke oor hulle nagmerrie-ervarings en voel hulle tuis in ’n religieuse hawe.

Ongelukkig het heelparty Christelike boeke wat oor nabydood ervarings handel, nie altyd ’n goeie reputasie nie. The boy who came back from heaven (2010), geskryf deur die tienjarige Alex Malarkey (en sy vader, Kevin) is ontmasker as ’n bedrogspul – die seun self het aanlyn bely “that it was 1 of the the most deceptive books ever”, en dat die hemelse besoeke alles versinsels was. Alex het ’n ernstige motorongeluk oorleef en gegewe die winsgewendheid van nabydoodliteratuur het hy en sy vader die gaping gesien en die gewilde hemelse narratief wat lesers so graag wil hoor, neergepen. Die boek is ook verwerk as ’n televisiefilm, maar sedert die skokonthulling is die boek van die rakke onttrek en het pa en seun se hofsake met uitgewers begin. ’n Ander boek wat die wenkbroue laat lig het, is Heaven is so real! (2006) van Choo Thomas. Die werk is in Afrikaans vertaal as Die hemel is ’n werklikheid, en alhoewel Thomas intussen oorlede is, hang daar steeds ’n donker wolk oor die integriteit van die boek.

By blitsverkopers wat miljoene rand verdien, kan mens gerus twee maal wonder oor die geloofwaardigheid van al die vleeslike hemelinge wat hulle verhale vertel. YouTube-videos oor NDE’s tref ’n mens as ongeloofwaardig – selfs ’n blinde met ’n stok kan aanvoel dis meermale fantasieryke versinsels. Die kersie op die koek is seker die eiendomsagent Bill Wiese se boek en YouTube-video 23 Minutes in hell (2006). Bill was, om presies te wees, 23 minute en 10 sekondes in die hel. (Het hy ’n stophorlosie gestel?) En hy was nie dood nie; God het hom een nag weggeruk in ’n visioen hel toe sodat hy daaroor kan getuig. Mens het nie veel grysstof nodig om te besef dat Bill waarskynlik ideologies versteurd is en eerder in ’n psigiater se spreekkamer tuishoort as op ’n kerk se podium. Sy boek en YouTube-video is sardonies deur kritici ontvang en selfs sy simpatieke lesers het daarop gewys dat Bill nog nie die eksegese rondom die hel onder die knie het nie. Dit is teologiese fiksie. En dis gruwelfiksie wat selfs Stephen King hom sou beny. Lees op eie risiko.

Dan is daar meningsverskille tussen Christene. Die fundamentaliste haal graag Prediker 9:5 aan wat sê “[D]ie dooies … is bewus van hoegenaamd niks.” Satan en sy demone, sê dié gelowiges, doen hulle voor as engele van die lig en daarom is dié in nabydood ervarings duiwels. Ander, weer, verwys na Lasarus en die ryk man, of Jesus wat vir die misdadiger aan die kruis gesê het “Vandag sal jy saam met My in die paradys wees.” Die intrinsieke logika aan hierdie  sienings is dat net sekere bekeerdes ’n (eksklusiewe) hemel gaan beërwe – en die boarding ticket is hul geloof in Jesus. Afrikaanses se NDE’s baai ongelukkig in ’n trant van selfverheerlikende uitverkorenheid – hulle is immers teruggestuur om siele te red.

Die ontploffing in nabydoodliteratuur het eers in die sewentigerjare gekom. Raymond Moody, ’n sielkundige en filosoof, se ikoniese Life after life (1975) het die weg gebaan vir ’n legio seminare, boeke en TV-programme met NDE’s as onderwerp. Ook mediese dokters het hulle stem by hierdie netelige onderwerp gevoeg, byvoorbeeld die Amerikaanse kardioloog Maurice Rawlings, outeur van Beyond death’s door (1978), in Afrikaans vertaal as Anderkant die dood.

Rawlings het met pseudowetenskaplike metodes probeer om vas te stel of daar ’n nalewe is. As kardioloog het hy baie pasiënte sien sterf en via resussitasie teruggebring na die lewe. Hy het slegs met dié wat klinies dood was, onderhoude gevoer – geen hartklop en geen asemhaling nie, dít was die kriterium. Minute na kliniese dood tree biologiese dood (die “ware” dood) in agv ’n gebrek aan suurstof in die brein. Rawlings se verhaal is ’n interessante een. Hy het eendag ’n 48-jarige pasiënt in sy spreekkamer behandel wat eenvoudig dood neergeslaan het tydens ’n EKG. Telkens as Rawlings die man teruggebring het na die lewe, het hy angsbevange geskreeu: “Moenie ophou nie, ek is in die hel!” Die pasiënt het daardie dag drie maal klinies gesterf weens ’n hartblokkade, en Rawlings het met die hulp van noodmaatreëls en ’n pasaangeër sy lewe gered voor hy hospitaal toe vervoer is. Die dokter het sy as afgeskrik. Sowat van paniek het hy nog nooit in sy loopbaan gesien nie: Die man se nekhare het letterlik regop gestaan en sy geskree om hulp tydens die uitgerekte resussitasieproses het Rawlings erg ontsenu. Die pasiënt kon niks van helse ervarings onthou toe hy “terugkom” nie. Rawlings se navorsing het getoon dat heelparty van hierdie pasiënte se vreesaanjaende ervarings eenvoudig gewis word uit hulle geheue, terwyl dié met aangename NDE’s weer die grafiese besonderhede kon herroep.

Wel, pasiënt én dokter het hulle tot die Christelike geloof bekeer na die episode, en Rawlings het sy navorsing voortgesit. Gelukkig is die dokter ’n eerlike skrywer wat ook die sg morele diskrepansies gelys het. Ateïste wat klinies dood was, het die lig/hemel gesien; mense wat probeer selfdood pleeg het, dieselfde; en sommige pasiënte wat “goeie” Christene was, het helse NDE’s beleef. Alhoewel Rawlings nie sy Christelike agenda probeer afdwing in sy boek nie, voer hy, as Christus-apologeet, ’n versigtige balanseertoertjie uit tussen geloof en die mediese wetenskap. Hy erken ook ruiterlik dat van sy aannames nie gerugsteun kan word deur genoegsame data nie.

........

Ongeveer 4% volwassenes in Westerse lande beleef nabydood ervarings in die periode tussen kliniese dood en resussitasie. Tog is nabydood of selfs nadoodse ervarings opgeteken in bykans elke geloof en kom dit in alle kulture voor.

.........

Ongeveer 4% volwassenes in Westerse lande beleef nabydood ervarings in die periode tussen kliniese dood en resussitasie. Tog is nabydood of selfs nadoodse ervarings opgeteken in bykans elke geloof en kom dit in alle kulture voor. Na raming is die Egyptian book of the dead in 2500 vC saamgestel, en is Egiptenare skynbaar die eerste mense wat in die ontsterflikheid van die siel geglo het. Die boek bevat gebede en formules wat as leidraad in die volgende lewe moes dien. Liggame is versigtig gebalsem en saam met onder meer juwele, gereedskap, wapens en potte vol kos begrawe. Die Tibetan book of the dead is eers in 800 nC op skrif gestel, en verwys na glansende liggame, geestelike wesens wat mens teëkom in die nalewe, of die “helder lig” wat vrede en berusting bring. Kitsreise word gemeld, en ook dat die oorledenes deur soliede voorwerpe soos mure kan beweeg. Liefdevolle reünies met families en vriende kom voor, en hierdie verwysings stem op verstommende wyse ooreen met die verslae van moderne NDE’s. Die Franse sielkundige Victor Egger en Albert Heim het in die 1800’s die eerste maal na die dood as “kliniese sindroom” verwys, en NDE’s is aan die hand van hallusinasies verklaar. Raymond Moody het met sy blitsverkoper Life after life ruim geput uit die werk van Elisabeth Kübler-Ross en het ook vir die eerste maal die term near-death experience gemunt.

Ten spyte van die kampvegters vir die Christen-geloof wat die nabydoodnarratief probeer gebruik om hulle Bybelse hemel-/hel-siening te staaf, speel kruiskulturele faktore ’n rol in sterwendes se belewenis van die “lig”. Dit wat die persoon geglo (of gevrees) het, word teruggespieël na hom tydens ’n nabydood ervaring. Christene sien die lig as God of Jesus; die Hindoes sien onder meer Jama of Krisjna; Boeddhiste sien personifikasies van die Boeddha; en Moslems sien die lig as ’n manifestasie van Allah. Nabydood ervarings is universeel – die ontmoeting met die wese van lig, die reis deur die tonnel, of die liefdevolle herontmoeting met geliefdes. Dit is die religieuse en kulturele vertolkings daarvan wat subjektief verskil. Daarom is dit nie verbasend dat hierdie euforiese nabydood ervarings deur Boeddhistiese meditasiemeesters nagedoen kan word nie. In ’n studie, Meditation-induced near-death experiences: a 3 year longitudinal study, is bewys dat dieselfde ervarings wat mense wat klinies dood is, beleef, met diep meditasie gesimuleer kan word. Veranderde synstoestande, asook ’n verandering in tydruimtelikheid en die ontmoeting met wesens uit ’n hoër dimensie, kan ervaar word.

Maar wat sê medici wat NDE’s in geïsoleerde navorsingsituasies probeer bestudeer?

.......

Daar is verskillende modelle. Dokters erken dat ons eintlik bitter min van die brein af weet. 

........

Daar is verskillende modelle. Dokters erken dat ons eintlik bitter min van die brein af weet. Volgens die fisiologiese model kan persone NDE’s beleef agv hipoksie of anoksie – as suurstof en bloedtoevoer in die brein verminder (die sg sterwende-brein-hipotese), en tot hallusinasies lei. Neurochemiese sienings, byvoorbeeld dat medikamente soos Naloxone ’n helse ervaring aan die gang kan sit, word voorts in ag geneem. Abnormale aktiwiteite in die temporale lobbe is ook as een van die oorsake geïdentifiseer. Tydens lewensbedreigende situasies kan pasiënte flitsende ligte en gevoelens van euforie beleef, volgens die dissosiatiewe model. Ensovoorts.

Alhoewel van hierdie navorsing deels antwoorde mog bied, is daar nie genoeg data om dit te rugsteun nie. NDE’s bly in misterie gehul. Sam Parnia het tydens sy AWARE-projek (2012) in die Southampton-hospitaal prentjies van figure teen die plafon versteek (die mediese personeel het nie daarvan geweet nie) om vas te stel of pasiënte wat klinies dood is, wel uit hulle liggame uit beweeg (maw “ware” out of body experiences beleef). Van die nege oorlewendes wat beweer het hulle het NDE’s gehad, het slegs een persoon die prentjies gesien nadat sy hart en brein geen aktiwiteit op die monitors geregistreer het nie. Hierdie tipe navorsing is uitdagend – maar wie se speelveld is dit nou eintlik? Medici lewer ’n waardevolle bydrae tot die geloofwaardigheid van inligting, maar kan mens van ’n dokter verwag om antwoorde op esoteriese of paranormale kwelvrae te gee?  

Mens kan seker ook vra waarom alle mense wat NDE’s beleef het, min of meer dieselfde belewenisse het, soos die sien van lig, die reis deur die tonnel, ens. Die letterkundeprofessor Joseph Campbell het dalk ’n antwoord hierop. Hy verwys na die argetipe van “the hero’s journey” soos dit voorkom in mitologie, narratologie of Hollywood-films. Die held vertrek op ’n reis wat avontuur mag beloof, maar ook beproewende uitdagings inhou wat op hulle beurt lei tot ’n katarsis wat die held transformeer, en hy keer terug as ’n “beter” mens ná hierdie liminale gebeurtenis. Campbell noem dit die “monomyth” oftewel monomite. Bewustelik of onbewustelik is elke mens die held van sy eie verhaal, selfs al is hy (paradoksaal) ’n slagoffer, byvoorbeeld iemand wat ’n helse nabydood ervaring gehad het en daarna kragdadig tot bekering kom.

......

Die mediese wetenskap kan nie NDE’s bewys óf weerlê nie. Eskatologie, daarenteen, is gebaseer op geloof, nie navorsingsresultate nie.

........

Na die opbloei van nabydoodliteratuur in die sewentigerjare verbaas dit mens nie dat die diskoers verder as die nabydood gevorder het tot in die sfeer van die nalewe self nie. Neville Randall se blitsverkoper, Life after death (1975), is so ’n voorbeeld. Die Britse mediums Betty Greene en George Woods het meer as 500 gesprekke met mense wat dood is, oor ’n tydperk van 15 jaar op band opgeneem en dit verwerk in die boek verwerk. Die oorledenes het nie met stembande gepraat nie, maar via (ouditiewe) geesteskommunikasie tydens séances. Dit is ’n boeiende werk wat vertel hoe mense gesterf en “oorgegaan” het, en wat hulle in die verskillende dimensies in die nalewe doen. Die boek neem geensins stelling in tov dogma, of ’n plek soos die hel nie. Ongelukkig is niks hiervan verifieerbaar nie – en wat my gehinder het, was die feit dat al die siele in dieselfde stem en idioom “praat”. Daar is geen verskillende idiosinkrasieë tussen die sprekers teenwoordig nie; inteendeel, almal gebruik dieselfde hinderlike slang – selfs Oscar Wilde, wat ook met die mediums gesels. Mens kan tereg vra waarom hierdie eksperimente nie vandag, met verbeterde tegnologiese hulpmiddels, herhaal word nie. Ek vermoed spoke is nie juis tegnokrate nie … 

Maar terug na die wonderbaarlike en onverklaarbare. Die pasiënt wat die rekord hou as persoon wat die langste klinies dood verklaar was, is die 59-jarige Velma Thomas van die VSA wat in 2008 deur paramedici vir ’n hartstilstand behandel is. Na KPR het sy ’n flou pols getoon en haar hart het weer twee maal gaan staan. Dokters het haar op lewensondersteuningsapparaat gesit en haar liggaamstemperatuur hipotermies verlaag om breinskade te verhoed. Thomas het gesterf – en sy was 17 uur klinies dood; haar seun het genoem dat haar vel reeds begin verhard het. Tien minute nadat die dokters haar van die masjiene afgehaal (en haar familie begin begrafnisreëlings tref) het, het haar hart  begin klop en het sy genees. 

’n Ander misterie is die verhaal van Maria, ’n migrantewerker wat na ’n hartaanval in ’n hospitaal in Seattle uit haar liggaam uit beweeg het tydens ’n NDE, en ’n tennisskoen op die vensterbank van die derde verdieping sien lê het. Die skoen was nie sigbaar van binne die gebou nie en Maria het geen breinaktiwiteit tydens hierdie episode gehad nie.

Nog ’n voorbeeld is dié van Eben Alexander, ’n neurosjirurg en pasiënt wat onmiddellik genees het in die teenwoordigheid van die lig/Lig. Alexander het ’n 10%-kans gehad om ’n rare vorm van meningitis te oorleef. Ná ’n week in ’n koma (en ’n hemelse NDE) het hy sonder enige breinskade herstel en sy verhaal vertel in sy boek, Proof of heaven: A neurosurgeon’s journey into the afterlife (2012).

Daar is baie verskynsels wat die mediese wetenskap nie kan verklaar nie. Daar is kenners wat as alternatief teorieë uit die kwantumfisika as antwoord voorhou. Ons weet baie min van die bewussyn af; nóg minder van die mens se verbintenis met ’n kosmiese bewussyn. Die mediese wetenskap kan nie NDE’s bewys óf weerlê nie. Eskatologie, daarenteen, is gebaseer op geloof, nie navorsingsresultate nie.

Dalk sal ons eendag weet. Dalk nié.

  • 9

Kommentaar

  • Melodie Labuschaigne

    Uitstekende navorsing, Nini! Báie geluk met nog 'n puik en gebalanseerde rubriek! Ek kon nie ophou lees nie.

  • Sherrilyn Lloyd

    Dis so jammer dat jy nie glo nie! Ek is daardeur; en lewe na die dood is 'n werklikheid ... Geleerdheid kan ons menslike onskuld soms blokkeer.

  • Nini, ek het reeds twee keer probeer om op jou rubriek te antwoord, maar sonder sukses – ek weet nie waarom my respons nie verskyn het nie.
    Nietemin, laat ek nog een keer probeer.
    U maak geen melding van Susan Blackmore se baanbrekerswerk “Dying to Live” nie, en ek dink dat Carol Zalesky se “Otherworld Journeys” ook hier van toepassing is.
    Blackmore toon dat mens nie nodig het om naby aan sterf te wees om 'n NDE te ervaar nie.
    U noem dat mense se ondervindings heelwat eienskappe in gemeen het.
    U noem tereg ook dat NDE’s deur chemikalieë soos ketamien opgewek kan word.
    Volgens u is Velma Thomas op lewensondersteunende apparaat gesit en aan hipotermie onderwerp. Dit beteken geensins dat sy werklik dood was nie, en die beweerde verharding van haar vel, indien dit wel plaasgevind het, sou meer te wyte gewees het aan hipotermie as aan kliniese dood.
    Mens moet in gedagte hou dat baie mense wat sogenaamde klinies dood verklaar is en NDE's ondervind het, steeds KPR ondergaan het. Hul harte mag dalk nie meer self geklop het nie, maar omstanders was besig om hul sirkulasies en oksigenasie in stand te hou, met gevolglike mindere of meerdere breinaktiwiteit.
    Wat die neurochirurg Eben Alexander betref, sal dit miskien raadsaam wees om die volgende te lees:
    https://www.esquire.com/entertainment/interviews/a23248/the-prophet/
    Na my mening kan u gerus ook die volgende skakels raadpleeg:
    https://digitalcommons.liberty.edu/cgi/viewcontent.cgi?article=1340&context=lts_fac_pubs&sei-redir=1
    asook:
    https://inews.co.uk/news/long-reads/i-overwhelming-feeling-love-126015

  • Dit is baie interresant. Ek weet nie of ek al ooit "dood" was nie, maar ek het ook al "ervarings" gehad wat die dame beskryf. Elke keer is ek "terug gestuur" met 'n boodskap "dit is nog nie jou tyd nie". Ek wroeg nie daaroor nie, maar dit bly in my liaseer stelsel.

  • Interessante onderwerp wat waarskynlik nooit werklik enige antwoorde gaan verskaf aan die soekers nie. Of jy waarskynlik hemel of hel toe gaan, is 'n kwessie van watter geloof jy aanhang. Ek het ook al interessante weergawes daarvan gelees en was altyd gefassineerd deur hóé verskillend die mense se ervarings was. Een het die hel gesien as die die liggaam van 'n vrou. Vir 'n ander was dit 'n poel van vuur, byvoorbeeld. En dan die "beskrywings" van die hemel. Elkeen se voorstelling daarvan was anders. En dan is daar die kwessie van "teruggestuur". As die hemel dan so wonderlike plek is, hoekom sal jy wil terugkeer? En die ouens wat hel toe is... wel: Hoekom kry net sekere mense (siele) 'n tweede kans?
    Op 29 Januarie 2015 het ek "gesterf", volgens my chirurg het ek "gesterf" oomblikke nádat ek ontwaak het na 'n operasie om my oog te verwyder. Hulle het ure lank gespook om my by te bring (en ek het die merke daarvan op my gesig en keel gedra), maar ek het oorleef. Op geen stadium was ek bewus van enigiets nie; en ek sou nie vergeet het nie, ek sou beslis in die hel beland het.

    Ek moes miskien soos baie van die sg. mense wat boeke geskryf het, van die geleentheid gebruik gemaak het om so paar Rand te verdien, maar dis nie iets waaroor kan lieg nie.

    Ek sê nie daar is níé lewe ná die dood nie, ek sê net ék het dit nie ervaar nie...

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top