Commendatio: Van Ewijck-prys toegeken aan Ingrid Glorie

  • 1

Ingrid Glorie (foto: Naomi Bruwer)

Die Van Ewijck Stigting se prys vir die bevordering van die kulturele betrekkinge tussen Suid-Afrika en Nederland word vanjaar toegeken aan Ingrid Glorie. Die jaarlikse prys van R75 000 is vir prestasies wat reeds gelewer is. Dit sluit alle vertakkinge van die kunste of wetenskap in.

Ingrid Glorie is sedert 2014 die inisieerder en organiseerder van die Week van de Afrikaanse roman en sedert 2018 die hooforganiseerder van Festival voor het Afrikaans, twee gereelde feesgeleenthede in Nederland wat ’n betekenisvolle bydrae lewer tot die belangstelling in die Afrikaanse letterkunde en kultuur in Nederland en kontak tussen Suid-Afrikaanse en Nederlandse skrywers en kunstenaars. In 2015 het sy in samewerking met die Nederlandse kunstenaar Herman van Veen die musiekfees "Harlekijn en de Afrikaanse dagen" georganiseer. Tydens hierdie fees is die versamel-CD Byvoorbeeld… bekendgestel, waaraan ’n groot aantal Afrikaanse kunstenaars meegewerk het en wyd in die Lae Lande versprei is.

As ’n gasdosent het sy uiters gewilde kursusse oor Afrikaanse letterkunde aangebied aan die universiteite van Utrecht en Leiden. Sy het reeds ses Afrikaanse boeke in Nederlands vertaal. Die toekenning "Vertaalengel" is deur die Nederlandse Auteursbond aan haar toegeken vir haar rol om werkswinkels met Afrikaanse skrywers vir Nederlandse vertalers te organiseer. Sy het ook in 2000 die voortou geneem om ’n leeskring oor die Afrikaanse letterkunde in Zuid-Afrikahuis, Amsterdam, op te rig.

Sy was van 2012 tot en met 2019 redakteur van die tydskrif van die Zuid-Afrikahuis, Maandblad Zuid-Afrika, later Zuid-Afrika Spectrum. Sedertdien lewer sy gereeld artikels oor die Afrikaanse taal en letterkunde vir onder meer die Nederlandse tydskrifte Voertaal, Spectrum en Neerlandia.

Vanaf 2021 is sy die inisieerder en samesteller van ’n nuwe reeks praatjies van die Zuid-Afrikahuis in samewerking met die Nederlandse Taalunie (’n Nederlandse en Vlaamse regeringsorganisasie), "Boeken uit het Huis", oor Afrikaanse boeke. Tydens hierdie gesprekke, wat ook aanlyn beskikbaar is, word gebruik gemaak van die beginsel van "luistertaal", waarby Nederlands en Afrikaans op ’n natuurlike wyse afgewissel word.

Onder verdere projekte tel ’n nuwe leerboek Afrikaans vir Nederlandstaliges, iets wat nie onder reeds gelewerde prestasies tel nie, maar wel bevestig dat haar hele lewe in die teken staan van die versterking van kulturele bande tussen die Afrikaanse en die Nederlandse tale, kulture en letterkundes.

Lees ook:

Week van de Afrikaanse roman

Ingrid se Glorie: Maandblad Zuid-Afrika

Afrikaanse literatuur in de Lage Landen

Onderhoud: Afrikaanse musiek in Nederland, byvoorbeeld ...

Foto's: Harlekijn en de Zuid Afrikaanse Dagen

Verslag symposium "Om te behoort. Transtaligheid, samehorigheid, en die konstruksie van Suid-Afrikaanse gemeenskappe" (1)

Verslag symposium “Om te behoort. Transtaligheid, samehorigheid, en die konstruksie van Suid-Afrikaanse gemeenskappe” (2)

Programma: Week van de Afrikaanse roman 2019

ATR-Kokertoekenning 2019: bedankingswoord vanaf Ingrid Glorie

De nieuwe leerstoel in Zuid-Afrika gaat verder dan de traditionele neerlandistiek

Ingrid Glorie wen Vertaalengel 2018

 

  • 1

Kommentaar

  • Herman Meulemans

    Een betere ambassadeur om de culturele betrekkingen tussen Zuid-Afrika en Nederland te promoten vind je niet. En wat me in haar pennenvruchten altijd opvalt, is dat ze kristalhelder schrijft in het mooiste Nederlands. Om van te snoepen.
    Van harte proficiat aan de laureaat van de Van Ewijck-Prijs.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top