Commendatio: kykNET-Rapportprys vir fiksie 2024

  • 1

Wenner: SJ Naudé vir Van vaders en vlugtelinge (Human & Rousseau)

Commendatio: Ryan Pedro

Op hierdie stadium moet SJ Naudé al vir die sameroepers en paneellede van literêre pryse soos ’n ou huisvriend voel. Die een wat sonder om te klop by die voordeur instap, suiker kom leen, en voor hy weer uitstap, in die voorhuis vassteek om gou-gou die laaste paar minute van The bold and the beautiful te kyk. Die een wat brokkies wysheid met hom saamdra soos ’n handvol sterklekkers wat hy eenkeer by die Spur in sy gatsak geprop het. Die een met die stories wat nooit opraak óf verveel nie. Die een wat gemaklik genoeg (én ballsy genoeg) is om vir jou te sê: “Kyk hier, ek en jy stap mos nou al ’n lang pad saam, so jy gee seker nie om as ek vir jou sê hoe vuil jou huis is nie?”

En wat doen mens sulke tyd? Jy trek maar net jou skouers op en sê: “Haai jirre, Fanie, ek weet nou nie of ek moet lag of huil nie …”

Dié toutrekspel tussen uiterstes is waarmee Van vaders en vlugtelinge sy lesers op die punte van hul leesstoele hou. Let byvoorbeeld op die taal – fyn afgewerkte sinne, glashelder beelde, metafore so uiteenlopend en delikaat soos spinnerakke. Resensente en literatore gebruik graag woorde soos “ekonomies”, “wetenskaplik” en “vakmanskap” wanneer hulle Naudé se ongelooflike aanvoeling vir taal beskryf. Die soort woorde wat die meeste van die tyd nét resensente en literatore opgewonde maak. Woorde wat dikwels samehangend is met “kil en klinies”. Dis egter nie die geval met hierdie roman, of met énige teks uit Naudé se oeuvre nie. Van vaders en vlugtelinge is ’n masterclass in hoe sinskonstruksie, paragraaflengte en woordkeuse aangewend kan word om ritme en tempo, en daarmee saam, emosie te beheer. Die mooiste oomblikke in die boek sleur mee, en die hartverskeurendstes sny regdeur die been, tot by die murg.

Kafka het iewers geskryf of gesê: “A book must be the axe for the frozen sea within us.” Ek vermoed hy’t van boeke soos Van vaders en vlugtelinge gepraat.

Wat verder opval, is die roman se hantering van manlikheid en vaderskap. As mans is hierdie karakters randfigure. As vaders is hulle selde outoriteitsfigure wat met respek hanteer word. En as seuns ontvang hulle geen leiding of beskerming nie. Hulle identiteite is gefragmenteerd, hul liggame blyk uit plek uit te wees in die landskap, en hulle is vasgevang in ’n liminale toestand waar vorm en struktuur ontbreek. Waar hulle met min kennis en hulpbronne self verantwoordelik is vir hul brose geestestoestande en generasionele trauma.

Die ironie van hierdie situasie is dat dié karakters – gebroke, verlore en magteloos soos hulle is – mekaar steeds misbruik, uitbuit en onderdruk. Dit illustreer hoe kompleks die verhouding tussen manlikheid en mag in hierdie roman is, en dat dit ’n verdere element verkry wanneer jy in ag neem dat die dekonstruksie van manlikheid gedoen word vanuit die ruimte van witheid en bevoorregting. Nie net illustreer dit hoe mag direk verband hou met gender, ras en klas in die postkoloniale konteks nie, maar dit bewys weer eens dat Naudé tekste lewer wat op ’n kritiese dog sensitiewe manier aansluit by die belangrikste diskoerse van ons tyd. Tekste wat nie poog om al die groot eksistensiële vrae van ons tyd op te los nie, maar wat eerder presies vir jou sê hoe ons tot op hierdie punt gekom het.

Soos daai ou huisvriend wat sy hand op jou skouer sit voor hy vir jou sê: “Kyk hier, ek gaan nou vir jou ’n klompie goed vertel, en dit gaan nie alles mooi wees nie, maar dis alles waar ...”

Hartlik geluk aan SJ Naudé met die ontvangs van vanjaar se kykNET-Rapportprys vir fiksie. Dit is, soos altyd, welverdiend.

Hier is die ander wenners van kykNET-Rapport-boekpryse vir 2024.

Lees ook:

Van vaders en vlugtelinge deur SJ Naudé: ’n resensie

Van vaders en vlugtelinge deur SJ Naudé: 'n leeskringbespreking

Van vaders en vlugtelinge deur SJ Naudé: ’n LitNet Akademies-resensie-essay

  • 1

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top