Commendatio: kykNET-Rapport Boekresensent van die jaar 2017: Fiksie – Danie Marais

  • 0

Danie Marais – “Die Kook en geniet van oneerbiedigheid” (oor Anton Kannemeyer en Conrad Botes se Bitterkomix 17, Media24-dagblaaie, 4 Julie 2016)

 

Danie Marais se diepgaande kennis oor die onderwerp waaroor hy skryf verhef sy resensie van Bitterkomix 17 tot ’n hoër vlak. Nuwe lesers – diegene wat nie bekend is met Bitterkomix en die werk wat deur die jare in dié comic-tydskrif gepubliseer is nie – word gou op die hoogte gebring met ’n deeglike, bondige terugblik wat inlig en kontekstualiseer sonder om vervelig te raak.

Hier het ons nie net gewoon ’n resensie van ’n teks nie: die resensent bou ’n boeiende storie rondom die fenomeen van (wit) verset, en bied Bitterkomix as gevallestudie aan. Buiten die beoordeling van Bitterkomix word dit ook ’n beskrywing van onlangse politieke en artistieke geskiedenis wat vir die leser waarde toevoeg. Dis ook nie ’n geval van ’n “anonieme” resensent wat “objektiwiteit” probeer voorgee nie: die resensie toon ’n eie visie en mening oor méér as net die boek wat ter sprake is. Daar is ’n opstapeling van feite oor die inhoud en samestelling van hierdie spesifieke uitgawe van die comic-tydskrif wat telkens ook lei na ander aanvullende inligting en verdere konteks.

Daar is werklike diepgang in Marais se beskouing van Bitterkomix en ’n wye verwysingsveld word by sy bespreking betrek – van die filosoof Slavoj Zizek tot die Poolse digter en Nobelpryswenner Wislawa Szymborska en die akademikus Christi van der Westhuizen – maar die resensie verval nooit in ’n vaal Akademiaans nie. Die liefde, respek en geesdrif waarmee hy oor sy onderwerp skryf sleur die leser mee, sodat selfs diegene wat nie gewoonlik comics lees nie uiteindelik met nuwe oë na die hele genre móét kyk.

Marais se taalgebruik is beeldryk en lewendig, en die leser van die resensie kan hom- of haarself aan sy aanwending van subtiele humor verkneukel sonder om ooit te voel dat iets belaglik gemaak word of afgelag word. Die resensie is ’n skitterende voorbeeld van hoe die gesprek rondom boeke kan uitkring en deel word van die breër diskoers rondom politiek, seksualiteit en identiteit – eintlik enige onderwerp of aktuele kwessie – en lesers bedag kan maak op gebeure en ontwikkelinge in die boekwêreld, maar ook in die breër samelewing.    

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top