Boekresensie: Die Dorslandtrek deur Nicol Stassen

  • 4

dorslandtrek400

Nicol Stassen 2015. Die Dorslandtrek 1874–1881, 711 ble (teks, nege bylaes, 11 kaarte, 4 tabelle en eindnotas, ʼn bronnelys en register). Protea Boekhuis. ISBN: 9781485301059. Ook as ʼn e-boek beskikbaar.

  1. “Weens ontevredenheid”

Kommandant Jan Greyling het ʼn vergadering behoorlik ontwrig toe hy ʼn verslag moes lewer oor ʼn besoek aan opperhoof Khama. Daar was onduidelikhede oor die trekkers se voorgenome deurtog deur sy gebied, wat hy probeer uitstryk het. Greyling het daarop aangedring om die voorsitter van die terugvoervergadering te wees, anders lewer hy nie sy verslag nie (206). Hy het nie sy sin oor die voorsitterskap gekry nie, skryf Stassen in Die Dorslandtrek. En die verslag? Daarvan het niks gekom nie (206), en die vergadering is onverrigtersake uiteen.

Dit was nie net Greyling wat so obsternaat was nie. Sy trekmaats, en talle medeburgers, was net so weerbarstig, en het dié houding selfs deel van hulle daaglikse lewenswyse op die trek gemaak. Stassen vertel van die Dorslandtrekker Petrus van Loggerenberg wat deur die kerkraad betig is toe hy as jong man al sulke tekens van onversetlikheid getoon het, en hy merk op dat hy hierdie karaktertrek “met meer Dorslandtrekkers gedeel het” (216). Die onderlinge koppestamp het al van ver af gekom, en die trek het nie ʼn einde daaraan gemaak nie. Splintergroepies het kort-kort met splinter-ingewings na vore gekom, en selfs gedreig om hulle eie trekke te trek. Soms het dit gebeur.

In die vestigingstyd na die Groot Trek kon daar onder baie van die Transvaalse burgers ʼn “koppigheid en ʼn onwil om die gesag van iemand anders te aanvaar” (49) waargeneem word. Kan die Greyling-geval teen hierdie agtergrond verstaan word? En die verstaan van die Dorslandtrek? Dalk sê die Greyling-optrede ook iets daaroor.

Onder die inwoners van die Transvaal van daardie tyd het ʼn saambindende nasionale gevoel ontbreek, wat saamgehang het met die gebrek aan ʼn “behoorlike staatkundige bestuur” (40), wat neerslag gevind het in ʼn apatiese houding teenoor die regering van die dag. Eers met die Eerste Vryheidsoorlog (1880–81) het daar ʼn nasionale bewussyn ontwaak (83).

Dit was nie net individue wat dwars opgetree het nie. Die groep voornemende trekkers het hulle by geleentheid net so weerbarstig gedra. Verbroedering het kritiese denke gesmoor en het die inteling van ondeurdagte opinies wat ʼn gesonde skeut wantroue oor enigiets vreemds ingehou het, gestimuleer. Grys gebiede het nie bestaan nie. Politieke, kulturele, ekonomiese en intellektuele isolasie het hand aan hand geloop met ʼn betreklik lae geletterdheidspeil (49, 116, 117, 123, 431). Horisonverbreding deur lees was nie moontlik nie. Die wêreld buite die onmiddellike omgewing was vreemd, en het by tye dreigend nader gekom. Om te trek sou in verskeie opsigte na ʼn aantreklike moontlikheid gelyk het: mits die klein vertroude wêreld saam op trek geneem word.

Lank voor die trek werklikheid geword het, het dit bekend geword dat ʼn aantal burgers lus is om die ZAR te verlaat. In ʼn berig daaroor is die veelbetekenende waarneming gemaak: hulle wil trek “weens ontevredenheid” (133).

dorslandtrek1

Dorslandtrekgrafte by Bothaskop naby Rusplaas, 1950 (Foto uit Die Dorslandtrek)

1.1      Oogmerke

Stassen se boek is baie vollediger as ander beskrywings van die Dorslandtrek wat omvang en inhoud betref. Hy probeer die redes vir die trek ontrafel, en vertel onderhoudend van die aanloop tot die trek, oor die trek self, en van die mense wat getrek het. Hoe het hy dit reggekry?

  1. ʼn Dwaaltrek?

2.1      Om moeilikheid te soek

Buitestanders wat gesprekke oor die trekplanne gehoor het, het dit as “ziekelyke piëtisme” bestempel, soos ʼn skrywer in ʼn berig daaroor in De Volksstem (70) hom uitgelaat het. Maar die voornemens om te trek was nie regtig onderhandelbaar nie, en trek is daar getrek – ʼn tog wat Gustav Preller later ʼn “Dwaaltrek” genoem het (449).

Die tragiese tweede trek het daarna die uitmergelende gebeure van die hele Dorslandtrek gesimboliseer. Stassen gee ʼn goeie aanduiding van die sameloop van die omstandighede wat meegebring het dat hierdie klompie dae in die loop van Mei 1877 so onuitwisbaar in soveel mense en hulle nasate se geheues ingegrif is.

Vir hierdie tog, wat op Maandag 7 Mei begin het, en wat hulle deur die gevaarlike “dors” sou neem, het die trekkers die vorige aand goeie planne gemaak. Dit was nodig. Die waterbronne langs die pad was maar karig, omdat dit nie reëntyd was nie. Miskien het hulle vermoed dat daar nie genoeg water vir so ʼn groot groep mense en diere sou wees nie? Met die waterplekke moes daar in elk geval omsigtig te werk gegaan word. Partykeer kon daar by die water uitgekom word eers nadat die sand bo-op weggewerk is. Ander kere moes die water van onder af deur ʼn kleilagie gesyfer het. Die klei het verhoed het dat die water weer wegsink. Dié lagie moes nie versteur word nie, anders bly die water nie bo nie. ʼn Vertrappery tot modder sou enige waterbron lank onbruikbaar maak, om nie eers te praat van daardie fontein met die kleilagie nie.

Daar is afgespreek dat klein groepies trekkers sowat drie dae na mekaar sou vertrek, dan kan die water weer deursyfer, en die toetrap en moddertrap van fonteine kan voorkom word. En hulle baie vee? Wat van die 7 500 beeste, 480 perde, en dan nog skape, hoenders en honde ook? Magiel Prinsloo het voorgestel dat die waens eers deurtrek, en dan kom haal hulle die beeste later. Hy was maar 19 jaar oud, vermeld Stassen. En sy goeie voorstel? Dit is nie aangeneem nie.

Die eerste putte kon na 19 km deur swaar sand bereik word. Daarna het ʼn tog van 74 km, en een van 10 km, na beter water toe gewag. En dan was dit nog nie die einde nie. Die grootste uitdaging moes daarna oorkom word. ʼn Afstand van 67 km het nog voorgelê. Oral het sand en stof gewag, en soms moeilik deurdringbare struikgewas, waar daar stuk-stuk pad gemaak moes word. En malaria het nie gewag tot die trek verby is nie.

Stassen verskaf baie gegewens, ook uit herinnerings en korrespondensie, oor wat gebeur het nadat daardie Maandagoggend aangebreek het.

dorslandtrek2

Nicol Stassen (foto: Izak de Vries)

2.2      Nie ʼn goeie begin nie

Die aanpak van die trek deur die Dorsland het op verre na nie verloop soos dit beplan is nie. Toe die eerste waens wegtrek, het die ander so haastig agterna gevolg dat ʼn stormloop ontketen is. Almal oorhaastig die Dorsland in.

Dit in beswaarlik moontlik om by terugblik die gebeure daarna voor te stel. Stassen beskryf dit goed. Die stofwolk wat die beestroppe veroorsaak het, die moddervertrapte fonteine, en die dors van die mense en die diere. Mense wat na ʼn dag of wat aanhoudend bid en psalms sing, in bome klim en na uitkoms roep, hulle besittings uit die waens uitgooi, modder probeer kook om water daaruit te kry, wat enigiets drink – drank en selfs asyn – en dan die gevolge daarvan moet hanteer, en wat in die hitte aanhou stap, kinders dra, en hulle oor siekes en swakkes ook bekommer. Die sagte kant wat agter hulle hardkoppigheid lê?

Van die osse het lateraan van uitputting in die jukke gevrek, ander omdat hulle modder gevreet het; party het in die vure ingestorm en van dors aan die vlamme gelek, ander het in groot troppe bulkend begin rondmaal en in die woesteny ingehardloop, dalk op soek na water ...  

  1. Beproewing en Ontnugtering

Waarheen was die Dorslandtrekke op pad?

Daar was minstens sewe trekke wat gesamentlik as die Dorslandtrek bekend staan, skryf Stassen. Dit is veral die drie trekke tot 1883 wat die meeste aandag getrek het, alhoewel Stassen daarop wys dat die aandag wat historici daaraan gewy het, maar gebrekkig was, en dat interpretasies van die trekkers se optredes meermale nie in die kol was nie. Dit is moeilik om agterna te begryp dat die eerste Dorslandtrekke nie duidelike trekdoelwitte gehad het nie (217, 226), maar dit was wel die geval.

Met die eerste trek al goed aan die gang het die trekkers op die plan gekom om grond in Namaland (Suidsentraal-Namibië) en Hereroland (Noordsentraal-Namibië) te bekom. Na twee jaar het die onderhandelings niks opgelewer nie, en het hulle tou opgegooi. Hulle eindbestemming in Angola was blote toeval. Die Portugese wou graag die trekkers se landbouvernuf tot hulle voordeel aanwend om die inkomstegaping te vul wat met die beëindiging van hulle slawehandel ontstaan het; die trekkers kon vir hulle ʼn buffer teen die inheemse volke vorm, help om orde te skep in die anargie wat onder hulle bestuur ontstaan het (406); en die gebruik van hulle vaardighede as geleentheidsoldate is ook gretig in vooruitsig gestel (407). Tydens so ʼn veldtog het Johannes Kruger, toe hy nog baie jonk was, gesneuwel. Hy is onthou omdat hy vreemde tale opvallend vinnig aangeleer het en ʼn belangrike rol as tolk gespeel het.

Na die eerste drie trekke het nog vier groterige trekke gevolg, asook ʼn aantal kleineres (17). Daar is tot in 1907 nog getrek.

Naas die beproewing van die trek was daar ook die ontnugtering van die uitmergelende lewe op die trek, en na die trek. ʼn Petisie aan generaal Hertzog in 1927 illustreer die ontgogeling van die Dorslandtrekkers. Hulle het geskryf: “Ons word stelselmatig vernietig en moet te gronde gaan as U Eksel[l]ensie en U Regering nie tussenbeide kom en ons help in die hopelose toestande” (Stassen, Afrikaners in Angola, 2009:36).

Op pad na Angola was die ellende van die trek nie tot die tweede trek beperk nie. Was dit nie vir latere hulp uit Kaapstad nie, sou die eerste trek dalk tot niet gegaan het (164). En die onvervangbare menseverlies? Hoe kan dit bereken word? Van die deelnemers aan die eerste trek het 25% gesterf, soos dit ook die geval was met die lede van die tweede trek (164). Van Gert du Preez se trek van 10 gesinne (ongeveer 65 mense) het daar net drie vroue en 19 kinders oorgebly, en een os, ʼn koei en drie of vier donkies (321–3). Op 1 Julie 1883 het daar ʼn skamele 325 mans, vrouens en kinders Angola hulle nuwe tuiste probeer maak (435).

dorslandtrek3

Nicol Stassen (foto: Naomi Bruwer)

  1. Is begrip vir die trek moontlik?

4.1      Wat het die Dorslandtrekkers anders gemaak?

Stassen se hoofdoelwit met die skryf van hierdie boek was om te probeer verstaan waarom daar getrek is. ʼn Byna onbegonne taak as daar gedink word aan die griewe en motiewe wat so deureenloop. Hy slaag daarin om strominge aan te dui, argumenteer nuut oor omstandighede en oorsake wat met die aanloop tot die trek saamval, probeer veralgemenings vermy, en vermy motiewe wat ook onder die mense wat nie getrek het nie, geldig sou wees. Die algemene trekgees wat onder die Boere sou geheers het, word byvoorbeeld nie as ʼn oorwegende trekoorsaak beskou nie: die skrywer fokus op die Dorslandtrekkers, en die oorwegings wat op hulle van toepassing was: Wat het die Dorslandtrekkers so anders gemaak dat juis hulle getrek het?

4.2      Groepvorming

Een van die talle veranderlikes waarna Stassen gekyk het, was die trekkers se groepvorming, al van vroeg af. Dit lyk inderdaad of dit naby daaraan kom om die trek te verklaar.

Die saad vir die planne wat later op die Dorslandtrek sou uitloop, is heel waarskynlik al dekades voor 1873 onder die voornemende Dorslandtrekkers se voorsate geplant, omdat die meeste van die Dorslandtrekkers al van voor die Groot Trek af (1835) ʼn lang pad saam geloop het – ou idees sou onder hulle rypgekoester kon word. Later, teen Junie 1873, skryf Stassen, het daar “gerugte begin rondgaan ..., dat baie mense, spesifiek lidmate van die Gereformeerde Kerk, van plan was om na die Zambezi te trek”. Hierdie gerugte het in 1874 waar geword, en daar is tot trek gekom, weliswaar nie na die Zambezi toe nie, hoewel die trekplan blykbaar nie baie saak gemaak het nie. (Daar was ander trekkers wat met ander trekgeleenthede hulle visier wel in daardie koers ingestel het.)

In die “besonder klein geografiese area” van die Colesberg-omgewing (37–8) waarvandaan hulle gekom het, het die Dorslandtrekkers al ʼn identifiseerbare groep gevorm. Met die Groot Trek het baie van hulle nie ingeskakel by die Voortrekkers nie (36), en het hulle op hulle eie Transvaal toe getrek. Een van die gevolge van hulle groepsvorming was dat “[b]ykans al die trekkers op die een of ander manier familie van mekaar” was (88). Ou vriend- en vyandskappe wat deur oor-en-weer-huwelike besweer is, kon teruggevoer word na hulle herkomsstreek toe. Die verbroedering het so ver gegaan dat die paar medetrekkers wat aan ander kerke as die Gereformeerde Kerk behoort het, en op die Dorslandtrek saamgetrek het, nie op dieselfde manier ondersteun is as wat dit met bloedverwante en kerkgenote die geval was nie (389).

Groepsdruk het maklik oorgegaan tot intimidasie, wat ook op familievlak sy kop uitgesteek het. Van spontane trekdeelname was daar onder sulke gevalle nie sprake nie. En toe die trek eers aan die gang was? Die druk het meegebring dat terugkeerplanne nie sommer waar geword het nie, en indien wel, is die omdraaiplanne onder groot geheimsinnigheid uitgevoer (294).

dorslandtrek4

4.3      Die Gereformeerde element

Met die kyk na die oorsake van hierdie trek moet ook die samebindende rol van die sterk Gereformeerde element onder die Dorslandtrekkers (98) verdiskonteer word. Nie minder nie as 85% van hulle was lidmate van die Gereformeerde Kerk (71). Hierdie onderlinge verbintenis ondersteun ook die vermoede dat idees wat in ʼn beskutte omgewing ontwikkel word, nie so maklik uitgedaag word as daarbuite nie. Daarbuite sou die onhoudbaarheid wat daar in trekpraatjies kan skuil, dalk makliker ontmasker kon word (soos wat die brief aan De Volksstem illustreer (2.1)).

Hulle hegte saamgroepering binne hulle kerkverband onderskei die Dorslandtrekkers van die lidmate van ander kerke wat nie aan die trek deelgeneem het nie en ook allerhande griewe gekoester het. Naas die Gereformeerde Kerk was daar nog twee ander susterkerke in die ZAR, waarby ook enkele verdere onderverdelings (47) bygereken kan word.

Die Gereformeerde Kerk is op 11 Februarie in 1859 op Rustenburg gestig, met 310 lidmate (47). Meer as 50 van die stigterslede van die kerk het van die begin af saamgetrek. Die grootste gros van die Dorslandtrekkers, toon Stassen aan, het uit die Rustenburg-Pretoria-omgewing gekom. Nog ander het later gevolg (119). In die Colesberg-wêreld het dié groep al bekend gestaan as Doppers (35, 97). Hierdie naam het later, met die stigting van die Kerk in Rustenburg, herleef. Die Gereformeerdes was “in baie opsigte nog konserwatiewer as die ander Afrikaners,” merk Stassen op (35).

President Kruger en generaal Piet Joubert se name is ook aan die Dorslandtrek verbind (121). Dit is onwaarskynlik dat Joubert by die trekplanne, en die trek self, betrokke sou gewees het. Stassen wys daarop dat hy, toe die trekkers aan die Limpoporivier bymekaargekom het, die waarnemende president was (1875–76), en dat hy dit om politieke redes nie kon bekostig het om hom met die trek te verbind nie. Hy was buitendien nie ʼn lidmaat van die Gereformeerde Kerk nie. Die trekkers sou sy goeie samewerking met president Burgers hulle in elk geval nie laat welgeval het nie. Met Kruger was dit miskien anders gesteld. Verskeie van sy familielede, waaronder sy dogter, was lede van die trekgeselskap. Hy het hulle besoek voor hulle vertrek het, maar het hom ook duidelik téén die trek uitgespreek (122).

4.4      Sekondêre trekredes

Onder die inwoners van die Transvaal van daardie tyd het ʼn saambindende nasionale gevoel ontbreek wat saamgehang het met die gebrek aan ʼn “behoorlike staatkundige bestuur” (40), wat neerslag gevind het in ʼn apatiese houding teenoor die regering van die dag, en eintlik ook teenoor enige bestuurstruktuur. Hierdie ingesteldheid teenoor die VOC-bestuur het generaal Janssens al ʼn driekwarteeu vroeër ook opgeval. Eers met die Eerste Vryheidsoorlog (1880–81) het daar ʼn nasionale bewussyn ontwaak (83).

Gewaande selfstandigheid was belangriker as betrokkenheid by ʼn landstreek (43), en minder gekompliseerd as om aan ʼn toekomsvisie aandag te gee. Lojaliteit? Miskien darem, op ʼn manier, aan die onmiddellike groep?

Stassen verwerp arbeidsprobleme as ʼn trekoorweging. Waarom het daar nie ook uit die Vrystaat trekkers gekom nie, voer hy aan, waar arbeiderstekorte groter was as in die Transvaal? In Angola is hierdie knelpunt in elk geval nie opgelos nie.

Vir die voornemende Dorslandtrekkers was president Burgers se onderwyswet, waarvolgens godsdiensonderrig afsonderlik van skoolvakke onderrig moes word, vir hulle onaanvaarbaar, en veralgemenend ook sy “dwaalleringe” en die regering se “ongodsdienstigheid” (73). Alhoewel hierdie wet nie deurgevoer is nie, was daar steeds teenkanting teen die gewysigde wet. Is dit vreemd dat president Burgers se ander vernuwende idees onder hierdie groep ook die wind van voor gekry het? Hulle wou die meerderheidstem (2 964 stemme teenoor 388!) waarmee Burgers as president verkies is, net nie aanvaar nie. En toe ʼn verwelkomingsadres (74–5) later vir hom in Rustenburg aangebied is? Voorspelbaar het hulle verseg om saam te werk.

4.4.1   Moeilikheid in die Gereformeerde Kerk

Die Gereformeerde Kerk-lidmate se meelewing met hulle kerk het, ironies, ook meegehelp om tot trek te kom. Die ander ZAR-burgers het hierdie omstandigheid nie gedeel nie. Toe daar moeilikheid in die Gereformeerde Kerk opgeduik het, het hierdie groep hulle daarvan gedistansieer. Watter beter manier was daar as om daarvan af weg te trek?

Kerksake kon ook ʼn rol kon gespeel het in Hendrik du Toit se deelname aan die trek. Sy geval het ʼn interessante aanloop gehad. Die kerkraad van Rustenburg het hom in 1877 skuldig bevind omdat hy die vorige Nuwejaar gedans het (222). Om vonnis vry te spring was saamtrek nie ʼn slegte plan nie. Het sy dansery op die ou einde ʼn noodlottige einde gehad, gesien die talle sterfgevalle, ook onder jongmense, tydens die trekke? Daardie mense was in die meeste gevalle deur familiebande verbind tot saamtrek, Hendrik du Toit nie. Stassen gee naamlyste van die lede van die eerste drie trekke, en van die sterfgevalle wat daar voorgekom het. Kan die uitkoms van sy besluit daaruit duidelik word? Sy naam staan nie by die lede van die eerste trek nie. ʼn Hendrik du Toit wat in 1861 gebore is, van Zeerust af kom, en ʼn lidmaat van die Rustenburgse Gereformeerde Kerk was, se naam kan wel gekry word onder die deelnemers aan die tweede trek (471). Hy was in 1877 16 jaar oud, en kan die man wees wat op Nuwejaar “balke!” kon uitgeroep het. Hy het op sy eie getrek, staan daar. In die kolom onder die opskrif “Trek Terug” staan dit dat ʼn Hendrik du Toit nie die trek voltooi het nie. Was hy miskien dáárdie Hendrik du Toit, wat toe van plan verander het?

ʼn Soeke na ʼn gelukkiger lewe en beter lewensomstandighede onderlê die besluit van die meeste mense wanneer daar aan trek gedink word. Die gedagte dat ʼn “Nuwe Jerusalem” op die trek teëgekom kan word, weg van die bekende sondige wêreld, het ʼn rol in die voornemende trekkers se besluitneming gespeel, nieteenstaande goedbedoelde vermanings dat so ʼn utopie nêrens bestaan nie. Hierdie drogsiening weerspieël ʼn gebrek aan kennis wat met die ontbreek aan onderwys gepaard gegaan het (49, 116, 117, 123, 431). Die Dorslandtrekkers was in sekere opsigte ʼn betreklik geïsoleerde groep, maar het politieke, kulturele, ekonomiese en intellektuele agterstelling met ander Transvalers gedeel. Van die ongeveer 6 000 kinders van skoolgaande ouderdom was daar in 1877 maar 442 kinders in staatskole. Die swak geestelike leiding van daardie tyd kon ook nie die lugspieëlings van ʼn “Nuwe Jerusalem” hokslaan nie. Dit is opvallend dat al vyf Gereformeerde gemeentes op ʼn stadium sonder ʼn predikant was, nadat ds Swart besluit het om ook te bedank. Hy het later by die Engelse Episkopaalse Kerk aangesluit, en is deur die Boere Judas Iskarioth genoem (76).

4.4.2   Onderlinge beïnvloeding

Die trekkers het alreeds ʼn ontevrede groep gevorm. Sou wedersydse opruiing binne die groep makliker plaasgevind het as daarbuite? Dit lyk of vereenselwiging met oningeligte voorpraters, inteling van ondeurdagte opinies met ʼn gesonde skeut wantroue oor enigiets vreemds hierdie groep trekkers se gedagtegange beïnvloed het. Die tweede trek sou byvoorbeeld nog iets kon gered het na hulle katastrofiese wegspring en die tog deur die “dors” later weer aangepak het as hulle omgedraai het toe dit duidelik word dat hulle op ʼn ramp afstuur. Hulle het egter self ʼn klimaat geskep wat omdraai verhoed het. Hulle het onder mekaar ʼn gerug versprei dat opperhoof Khama terugkerendes voorlê, waarin daar geen waarheid gesteek het nie. Hulle het mekaar ook die skrik op die lyf gejaag met voorspooksels dat hy kleiner trekgroepies maklik kan en wil uitwis. Daardie plan wat op die vergadering geneem is om nie in een groep te trek nie, was gedoem. Om van daardie voorneme afstand te gedoen het, noem Stassen ʼn “kardinale fout”.

Die trekkers se beswaar oor “de geheele vrijmaking der gekleurden; en andere onbestaanbare wetten” (80) is nog ʼn voorbeeld van ʼn molshoop wat ʼn berg geword het. Die paswet van 1873 het aan arbeiders die reg gegee om hulle arbeid na willekeur te verhuur, en die inhoud daarvan is in onderlinge gesprekke heeltemal verdraai. Die gerugte wat SJ du Toit gehoor het, dat president Kruger en generaal Piet Joubert dalk ʼn groot trek uit die Transvaal uit kan lei, illustreer hierdie bontpratery verder.

In hulle bogenoemde beswaar teen die paswet was rasondertone heel moontlik ook aanwesig.

Wat het later van dié houding geword? Talle Afrikaanse meisies was in Angola betrokke by verhoudings en huwelike met Portugese (Stassen, Afrikaners in Angola, 316 ev) en mense van ander bevolkingsgroepe. Verder het kleiner groepies Dorslandtrekkers ander bestemmings gevind en daar ingeburger geraak. ʼn Groep van sowat 50 mense, bekend as “Khama se Boere”, het op Molepolole gaan woon. Hulle nasate woon vandag nog daar (439), naby Molepolole, op Mokgopeetsane.

4.5      Ander moontlike oorsake

Stassen redeneer (83 ev) dat vrees vir Engelse oorheersing heel waarskynlik nie bygedra het tot die trek nie, en noem dat daar Dorslandtrekkers was wat teen ʼn Engelse regering gekant was, maar ander weer nie. Die houding teenoor Engelse vertel ʼn afsonderlike storie. Iets daarvan kry mens in Burgers se opmerking dat “anti-Engels” en “antivooruitgang” vir talle Transvalers sinonieme sou wees (88).

Die “onbestaanbare wetten” en belastings was vir die meeste Transvalers wat die regering as ʼn vrywillige organisasie beskou het (92), ook ʼn steen des aanstoots, maar dit definieer nie die Dorsland-trekgroep nie. Die ander ontevredenes het nie getrek nie.

Die soek na nuwe jagvelde klink op die oor af na ʼn moontlike trekrede, maar Stassen argumenteer daarteen, en hy maan ook teen die opvatting van die bestaan van ʼn algemene trekgees wat met die Dorslandtrek uiting sou gevind het.

Het die skynbaar suksesvolle afloop van die Groot Trek, wat nog vars in die Dorslandtrekkers se geheue en in hulle narratiewe gelê het, nie ook ʼn voorbeeld gestel wat nagestreef kon word nie? Loop die mites oor trekke op die ou einde, ná ontberings en stryd, nie goed af nie?

dorslandtrek5

4.6      Finansiële gewin?

In die reël gaan verhuisings gepaard met ʼn vooruitsig op die verbetering van finansiële omstandighede. Steyn (1980, Tuiste in eie taal, 152) wys daarop dat dit “ʼn verarmde bevolking [was] wat hulle na die Trek in die twee republieke gevestig het”. In 1893 het ds Andrew Murray hulle sukkelbestaan bevestig. Dit is daarom onvermydelik om te dink dat daar nie van die trekkers was wat ʼn verbetering van hulle lewensomstandighede deur te trek in gedagte gehad het nie. Die Dorslandtrekkers wat sulke gedagtes gekoester het, sou ontnugter gewees het.

Stassen se navorsing oor die materiële situasie van die Dorslandtrekkers bring verontrustende besonderhede na vore. Hy moet krediet kry vir hierdie ondersoek – dié soort besonderhede oor trekgeselskappe is maar skaars. Hulle was “nogal behoeftig” (101), en het met die loop van die trek verder verarm. In baie gevalle was die verarming dramaties. In die sewe jaar wat die trek geduur het, het die gemiddelde boedelwaardes afgeneem, dui die skrywer aan. Aan die einde van die trek het dit gemiddeld slegs 5% beloop van die boedelwaardes aan die begin van die trek (102, tabel 3). In Angola was die armoede van die Boere skaars beskryfbaar (435).

  1. Onderweg

Daar is heelwat gegewens oor die lewe op die Dorslandtrek bekend (21). Oor hulle jagaktiwiteite is verhale volop. Biltong? Van omtrent alle diere is biltong gemaak. Leeustories is legio. Stassen vertel ʼn paar, maar draai ook rem aan. ʼn Verskeidenheid gewere is gebruik, en as daar vier koeëls uit ʼn pond lood gegiet kon word, is ʼn vierponder daarmee gelaai. ʼn Twaalfponder het ʼn kleiner koeël gehad, wat anders is as wat leke vandag uit dié jagterme verstaan. Wild is op groot skaal gejag. Wanneer wildsvleis gebraai word, kan dit maar droog wees. ʼn Oplossing is om seekoeispek afwisselend daarmee aan ʼn spit te ryg en dit so te braai. Behalwe dat dit makliker geëet het, was dit ook besonder lekker, en is ʼn “bontspan” genoem.

Op die trek is trekkers se name by geleentheid aan boomsoorte gekoppel, soos dolfhout (kiaat) wat na Rudolf Holtzhausen vernoem is (133). Die trekkers se gewoonte om onderskeidende byname te gee, soos om die twee Hermanus Groblers Hermanus Hakkelaar en Hermanus Makatees te noem (260), laat dink aan vertellings van Elias P Nel (waarop ook Frank Hendricks gewys het) oor mense wat steeds in die Binnelandse taalgebied woon, met byname soos Alwert Skuinsnek en Martiens Hessekwa.

Die Letterboom was een van die bakens vir die Dorslandtrekkers. Dit is ʼn hardekool, vermeld Stassen, wat in Tswana motswere genoem word. Vanwaar die naam? Miskien omdat sy stam hol was, met die gevolg dat briewe (Engels letters) daarin agtergelaat kon word. Die ander verklaring is ook (ongelukkig) moontlik: verbygangers kerf die letters van hulle name in die boom (273).

Tussen die trekkers en die inheemse bevolkings het daar gespanne verhoudings geheers (119), wat die trek nie altyd laat vlot het nie. Stassen skets daardie omstandighede, en die trekkers was nie altyd die onskuldige party nie. Tydens onderhandelings met opperhoof Khama oor toestemming om deur sy grondgebied te trek, is hy by geleentheid laat weet om na die trekkers toe te kom, hulle gaan nie na hom toe nie. Hy was gesteurd met dié houding, en ook toe hulle sy beloftes neergeskryf wou hê. Sy woord was goed genoeg, het hy gesê.

Die trekkers het nie graag ondergeskikte rolle vervul nie, en het ook nie daarvan gehou om aan die ontvangkant van enigiets te staan nie – wát ook al die omstandighede. Van voor die trek al het hulle dit gewys. Toe daar onderweg vir hulle noodlediging opgedaag het, georganiseer deur komitees in die Vrystaat en die Kaap, en die skip in Walvisbaai gelê het, is hulle daarvan in kennis gestel. Daar was van hulle wat gesê het die voorrade moet liewers na hulle toe gebring word, hulle wou dit nie daar gaan haal nie. Verder sou party eerder melkkoeie verkies bo die voorrade wat moeisaam aangestuur is (400).

Stassen maak ook melding van die siektes wat die trekkers onderweg geteister het. Malaria, waarteen hulle nie voorsorg getref het nie, was boaan die lys, met meer as 160 sterfgevalle gedurende die trek (226), en masels, pokke, giftige veldkos, “vleisvretende” bakteriële infeksies (316), ongelukke, tsetsevlieë, perdesiekte en roofdiere het gedurig hul tol bly eis. Die buitengewoon hoë sterfgevalle aan masels kan toegeskryf word aan ondervoeding en vitamien A-tekort, het Stassen agtergekom (420). Lyers aan sistiese fibrose (202), wat die gevolg is van die deel aan ʼn beperkte genetiese poel, se sweet was so sout dat dit die malariamuskiete afgeskrik het. Stassen voeg by dat sulke lyers besonder vrugbaar was. Die Bernard-Soulier-sindroom het ook onder die trekkers voorgekom. Oormatige bloeding in hulle kinderjare is een van die simptome daarvan. Andries Piek het die skaars siekte osteogenesis imperfecta gehad (199). Hy was skaars ʼn meter lank, met ʼn ontwikkelde bolyf en die onderlyf van ʼn jaar oue kind. Hy kon goed skiet, en perdry, mits iemand hom op- en aftel.

  1. Afrikaans

Stassen merk op dat historici die Dorslandtrektema onverklaarbaar afgeskeep het (17). Maar wat van Afrikaans? Oor die verwaarlosing van Afrikaans deur historici kan dieselfde gesê word as wat Stassen oor Dorslandtrekgeskiedskrywing sê. Stassen se hantering van Afrikaans in sy boek is ongelukkig ʼn goeie voorbeeld.

Die skrywer is sensitief vir besonderhede oor ander tale. Hy meld dat die Ovambo’s die Otjiherero-sprekers OvaShimba noem, terwyl hulle self “OvaTjimba” sê (365); dat daar drie tale in die naam Kamanjab vervat is (370); dat “ongolo” in die OvaMbandja se taal die woord vir “kwagga” is, met die meervoud “onthongolo” (382), wat ook die naam is vir die trekkers se perde; dat die OvaKuvale as Mondombes bekend gestaan het – in Portugees Macubal, met die meervoud Macubais (378); en dat die VaMbunza se taal teen die tyd van Dorslandtrek al byna uitgesterf het (337). Hy wys ook op allerhande ander taalinteressanthede, soos die naam vir die hardekool in Tswana (die letterboom, waarna hier bo verwys is).

Hy lê egter nie dieselfde taalgevoeligheid oor Afrikaans aan die dag nie. Vir die Dorslandtrekkers was die bewaring “van hulle eie godsdiens en taal” (431) baie belangrik. Oor hulle godsdiens is daar in dié boek heelwat geskryf. Oor hulle taal, daarenteen, nie. Opmerkings oor Afrikaans, soortgelyk aan dié wat hier bo oor ander tale gemaak is, sou ʼn welkome toevoeging gewees het tot die bydrae wat hy alreeds met hierdie boek maak. Die Register sonder ʼn inskrywing vir Afrikaans onderstreep hierdie leemte.

Die trekkers het ander Afrikaanssprekende bewoners op hulle trek teëgekom wat ʼn halwe eeu voor hulle (langs ʼn ander roete, en om ander redes) hulle trek getrek het. In sommige gevalle is daar nog vir lank getrek. Hulle het nie dieselfde Afrikaans gepraat nie. Hoe pas hierdie verskillende soorte Afrikaans in die legkaart van Afrikaans in? Die Dorslandtrek het gemaak dat hulle Afrikaans, en dié van die gevestigde inwoners, by mekaar uitgekom het, soos die briewe van Frederick Flermuis (168) en Andries Lambert-hulle (169) wys. Hulle Afrikaans, met ʼn eie idioom en al (ek grootman = leier, wat dalk verband hou met betekenisfasette van die groot van Grootrivier (Khoi Garie-b)), is weggesteek agter Briefnederlands, in die voorbeelde wat hier opgeneem is. Sou dit nie ʼn opmerking werd gewees het nie? Gelukkig is meer daaroor uit ander bronne bekend. Hierdie briewe, en ander, sou in die oorspronklike vorm hierdie boek aanmerklik verryk het.

Stassen gee self ʼn aanduiding wat op die taalkundige waarde van die taal van hierdie groep betrekking kan hê. Hy het hulle geïdentifiseer as ʼn min of meer geslote groep, wat van net na die begin van die negentiende eeu, of dalk al van vroeër af, onderskei kan word. Vir die taal van sulke groepe spits taalkundiges hulle ore. Hans du Plessis noem die taal van sulke groepe kronelekte (Aspekte van Suidwes-Afrikaans met spesiale verwysing na die Afrikaans van die Van der Merwes, 1987). Die terugvoer van hierdie Afrikaanse kronolek van die Dorslandtrekkers na die Cradock-gebied toe, word vir die eerste keer deur Stassen in hierdie boek gemaak. Sal ʼn noukeurige kyk na hulle taal nie dalk groepsidentifiserende merkers ontbloot nie?

Maar kan daar besondere waarde aan die Afrikaans van die Dorslandtrekkers geheg word, en is hulle Afrikaans so onlosmaaklik vervleg met die trek dat dit wel aandag verdien? Stassen gee self ʼn aanduiding wat op die taalkundige waarde van die taal van hierdie groep betrekking kan hê. Hy het hulle geïdentifiseer as ʼn min of meer geslote groep wat van net na die begin van die 19de eeu, of dalk al van vroeër af, onderskei kan word. Vir die taal van sulke groepe spits taalkundiges hulle ore. Die afbakening van hierdie Afrikaanse kronolek word vir die eerste keer deur Stassen in sy boek gemaak. Sal ʼn noukeurige kyk na hulle taal nie dalk groepsidentifiserende merkers ontbloot nie?

Op grond van hulle herkoms uit die Binnelandse taalgebied kan die Dorslandtrekkers se taal as die variëteit Oosgrensafrikaans geïdentifiseer word – een van ʼn reeks ineengestrengelde 19de-eeuse Binnelandse variëteite van Afrikaans. Reste daarvan duik meermale in hulle taal op. Kan Dorslandafrikaans as ʼn subvariëteit daarbinne geïdentifiseer word? Die Afrikaans van die Dorslandtrekkers is in elk geval belangrik as ʼn voorbeeld van Afrikaans wat nie bevoordeel is met die vernederlandsing van die bo-klas Afrikaanssprekendes se taal aan die begin van die 20ste eeu nie. Stassen kom nie daarby uit nie.

Die sogenaamde mak volk (124 ev) wat in die loop van die geskiedenis op die periferie van die Dorslandtrekkers se bestaan vermeld word (hulle het van die “Dorstrek” gepraat), se Afrikaans kon nog vir lank in daardie wêreld gehoor word. In die vertelling van Hans du Preez (317) word daar besonder interessante voorbeelde van hulle Afrikaans gebruik. Hierdie Afrikaans is by die trekkers aangeleer en was die enigste taal wat hulle geken het. Opnames wat Hans du Plessis gemaak en getranskribeer het (Aspekte van Suidwes-Afrikaans met spesiale verwysing na die Afrikaans van die Van der Merwes, 1987), bring ondersoekers naby aan Dorslandtrekafrikaans. Om hierdie Afrikaans as ʼn kronolek te rekonstrueer is elke besonderheid oor hulle taal belangrik.

  1. Evaluering en betekenis

Die Dorslandtrek bevat baie nuwe gegewens wat bydra tot die bestaande kennis oor ʼn besondere groep Afrikaanssprekende mense wat as voorposmense in die binneland van Suid-Afrika begin woon het. Wat hier oor hulle vertel word, geld in ʼn hoë mate ook vir die mense wat nie hierdie trekke meegemaak het nie. Die vertelling gaan oor soveel mense wat ʼn skim van ʼn soort vryheid nagejaag het, en verwys na hulle individualiteit, reaksie op bedreigings, deursettingsvermoë, betrokkenheid by mekaar, eiewysheid en die verwerking van hartseer en isolasie. Wat hiervan in Die Dorslandtrek vertel word, maak van dié publikasie meer as ʼn gewone geskiedenisboek.

Die afdrukke van meer as 200 foto’s, meestal gemanipuleer tot besondere duidelikheid vir sulke ou foto’s, is ʼn fees vir rondblaaiers. Hulle vertel op hulle eie ʼn verhaal van die Dorslandtrek. Die pragtige kleurafdrukke van werke van Thomas Baines dwing meermale tot terugblaai, en weer kyk. Kleurkaarte maak die trekroetes duidelik, wys die trekkers se herkomsgebied uit, en nuttige bylaes help met naslaanwerk. ʼn Werk wat met groot sorg geskryf is, weliswaar met minder gedetailleerde besonderhede aan die einde as aan die begin.

Die Dorslandtrek stimuleer vrae na vergelykings met die Groot Trek van ʼn 40 jaar vroeër. Van daardie trek is daar nie eerstehandse gegewens oorgelewer nie. Hoe sou die denkwêrelde en motiewe van die trekkers van die Groot Trek verskil het van dié van die latere Dorslandtrekkers? Kan ʼn projeksie van die kennis oor die Dorslandtrek onduidelikhede oor die binnewêreld van die mense van die Groot Trek ophelder?

Was die Dorslandtrek die moeite werd? Dié vraag wat Stassen vra, kan nie eenduidig beantwoord word nie. Hierdie gesaghebbende werk, met ʼn magdom nuwe gegewens en koherente argumente, maak dit ten minste die moeite werd om vanuit nuwe hoeke gesprekke te voer oor die Dorslandtrek en oor die mense wat daaraan deelgeneem het. Beslis ʼn bydrae tot die geskiedenis van die Afrikaanse mense in Suid-Afrika.

 

 

  • 4

Kommentaar

  • Christo Coetzer

    Baie interessante boek. Ons weet bitter min van dié geskiedenis. My oupagrootjie (Johannes Hendrik Coetzer) se ouers (Wentzel Coetzer en sy vrou) was ook deel van die Dorslandtrek. Die beskrywing van die jagongeluk van 20 September 1879 (Hoofstuk 12) is foutief deurdat dit in werklikheid JH Coetzer (Wentzel se seun) is wat sy swaer Ernst Eloff per ongeluk raakgeskiet het. Eloff het voordat hy dieselfde aand dood is in 'n verklaring bevestig dat dit 'n ongeluk was en dat daar geen kwade gevoelens tussen hulle was nie. JH Coetzer was nie deel van die Dorslandtrek nie, sy ouers was wel.
    Ek sal graag met Nicol Stassen in verbinding wil tree. Ek het JH Coetzer se handgeskrewe boek oor sy lewe laat oortik (letter vir letter soos in die oorspronklike spelling en taalgebruik). Hierdie jagongeluk en daaropvolgende gebeure en hofsaak word oa breedvoerig in die boek beskryf.

    • Die Coetzers en Eloffs is familie van my moeder Anna Magrieta Coetzer van Rustenburg wat nog leef en my skoonpa was een van die Dorslandtrekkers wat ook nog leef. Frederick Jacobus Engelbrecht en ek glo hy sal meer lig kan werp oor die onderwerp. Hy is nou 88 jaar oud.

  • Francois Pelzer

    Ek geniet die boek terdeë en staan verstom oor die detail en sorgsaamheid waarmee die skrywer hierdie werk saamgestel het. Uitstekend!

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top