Barmhartigheid aan duisende: ’n Familiesage uit die Sandveld: ’n onderhoud met Beatrix Kotzé

  • 0

Erkenning aan die ontwerper van die omslag: Karen Cronjé

Danie Botha het Barmhartigheid aan duisende vir Naledi as vryskutboekeredakteur geredigeer en gesels met Beatrix Kotzé oor haar boek.

Beatrix, vertel vir ons van die inhoud van Barmhartigheid aan duisende: ’n familiesage uit die Sandveld.

Dit is maar ’n storie met hier en daar ’n waarheidjie versteek. Dit gaan oor ’n vrou wat terugdink aan haar lewe en hoedat sy dikwels in haar jeug, en selfs later, die teenoorgestelde geslag te koketterig behandel het. In haar retrospeksie begin sy wonder of haar gene iets met haar uitlokkende gedrag te make het. Toe onthou sy dat haar ma haar vertel het dat haar oupa ’n man buite die eg was en ook dat haar oumagrootjie ’n nie te wafferse lewenswyse gehandhaaf het nie. Die storie loop oor vier-plus geslagte, begin in 1861 en eindig in 2020.

Iets oor die toepaslikheid van die boektitel? Ek onthou daar is ook ander oorweeg?

Ek wou eers die boek Casanovanna noem, omdat ek gedink het dat Casanova van lank gelede en my vrouehoofkarakters almal speels met die liefde omgegaan het. Later het ek gedink dat Tot in die derde en vierde geslag meer toepaslik sou wees. Jy weet, mense dink dat God die sonde van mense straf tot in die daaropvolgende geslagte, maar hulle lees nie die Bybelteks in Deuteronomium klaar nie. Toe besluit ek op Barmhartigheid aan duisende, wat die Bybelteks verder vat. Deesdae is barmhartigheid ’n baie deugsame karaktertrek, veral vir ons as Christene, maar ook vir niegelowiges.

Beskryf vir ons die omslag, met erkenning aan die kunstenaars, en hoe dit die inhoud en die omgewing weergee?

Die Sandveld se blomme lê my na aan die hart, veral die tanteletant op die voorblad. Ek het die woord geborg by die WAT ’n paar jaar gelede. ’n Vorige predikant van ons NG gemeente op Aurora se seun, Andre Jacobs, ontwerp motors in Italië. Hy is ook baie begaafd met skilder. Die voorblad het hy as ’n skildery vir my CD met my eie liedjies se omslag gedoen. Toe gebruik ek dit weer vir die boek se voorblad. Die koppie Soetgoedkop op die agtergrond is agter Aurora geleë. Ek het ’n paar jaar gelede ’n VLV- skryfstuk gedoen oor Soetgoedkop. Sal dit vir jou laat lees by geleentheid, Danie.

Die agterblad is ’n garsland vol in die aar met ons berge in die agtergrond. Spesiaal vir my, omdat dit die laaste oesland is wat my man afgestroop het in Oktober 2020. Hy is 82 en nie meer so gesond nie. Die Here gee oeste alhoewel mense dit nie verdien nie.

Jou lewensloop tot dusver?

Die lewe was besonder goed vir my as kind en later vir ons gesin deur amper 49 jaar. Deur swaarkry gebrei, om ds AG Auret se woorde te gebruik. Ons het nooit te veel gehad sodat ons sou roem nie en nooit te min sodat ons die naam van die Here sou vloek nie, soos die Spreuke-skrywer sê. In die Sandveld was daar deur die eeue nooit ryk mense nie. Net hulle wat diep afhanklik van die Vader gelewe het.

Tans geniet ek dit om rustig te wees, mooi musiek te luister en video’s van my kleinkinders te kyk, veral dié wat oor die water is.

Is dit jou allereerste werk wat in enige vorm gepubliseer word? Ek vra omdat ek as redakteur met stewige werk te doen gekry het.

Ek wens dat ek vroeёr begin skryf het aan meer substansiële werk, maar het maar net altyd kort stukkies geskryf in opdrag van wie ook al iets beskryf wou gehad het. Een van die lesers van my roman het voorgestel ek moet kortverhale skryf. Dit is ’n baie moeilike genre. Ek het so ’n paar verhale vir ’n tydskrif geskryf, maar dit nooit weggestuur nie. Mens sien maar dat dit wat gepubliseer word, beslis beter is as jou pogings en dan deins jy terug.

Hoe het die roman ontstaan? Ingewing; vertellings, ens?

Die genealogie het my as aanhanger gewen toe ek begin nadink oor my oumagrootjie wat dan "so los kinders gehad het", volgens my ma, nou reeds saliger. Toe wou ek opsluit weet wie die vrou was. Ongelukkig weet ek steeds nie. Ek het ’n oom, MHD Smith, wat ’n boek geskryf het, Boerepioniers van die Sandvekd, wat by die Argief hoog aangeskrewe is. Daar het selfs herdrukke verskyn in sagteband. My eie hardekopie daarvan is vol met kantaantekeninge soos ek deur die afgelope jare navorsing gedoen het.

Ek het redelik baie navorsing gedoen oor dope en sterftes in ons eie kerk op Aurora wat sedert 1906 bestaan, veral omdat my man se oupa die grond vir die dorp Aurora geskenk het, met die doel dat ’n kerk hier gebou moes word. Tevore het die Sandveld onder die gemeentes van Tulbagh, Malmesbury (Swartland), Hopefield (na ongeveer 1838) en Piketberg (1835), Clanwilliam, Springbok en Vanrhynsdorp geressorteer. Ek het baie interessante brokkies inligting uit doopregisters teengekom, veral wat mense nie elke dag van gepraat het nie. Jy weet, die ou mense het baie van die verhale mos verswyg. Ek het ’n spreuk uit die ou tyd teengekom by ’n dame in ons gemeente ’n paar jaar gelede: “Hoe dieper poog te delven, hoe meer verderf ontmoet!” Gelukkig is die mense van wie ek waarhede ingeskryf het, lankal oorlede.

Van waar jou liefde vir kerkmusiek? Jou eie sang?

........

Sonder musiek sou ek nie kon lewe nie.

.........

Sonder musiek sou ek nie kon lewe nie. My familie aan vaderskant is besonder musikaal. Hulle kon almal sing. Trouens, almal saam met wie ek grootgeword het, kon sing. Eers in my hoёrskooljare het ek iemand ontmoet wat toondoof was.

Daar was nie veel geleenthede om instrumente te leer speel op Aurora nie. My een broer het ’n ou trekklavier saamgebring op ’n keer. Toe dit so lê, trek ek met die een arm aan die een kant en probeer ’n wysie met die ander hand op die klawers. Die wysie was die eerste vyf note van "Die Onse Vader". Toe sukkel ek totdat ek die hele wysie onder die knie het. Ek was toe 10.

My pa het later eers ’n ou huisorrel in iemand se garage opgespoor en self gerestoureer. Ook ’n klavier tweedehands te kope gekry. Dit was die klavier van ds Minnaar van Redelinghuys in die eerste helfte van die 20ste eeu. My pa het gespeel uit die kop en my suster ook. My oudste broer was geniaal met trekklavier wat hy homself geleer het. My ander broer is baie goed met kitaar, want hy was altyd ’n rocker.

Koorsang was hoog op in ons huis, want my ouma en pa kon tonic sol-fa lees. Nooit bladmusiek nie. Ná standerd 4 het ek so ’n bietjie bladmusiek geleer by onderwysers, maar nooit eksamens gespeel nie. Dit het my goed gepas, want voordat ek die note van ’n musiekstuk kon lees, het ek die wysie geken en dit dan uit my kop gespeel. Enige onderwyser se nagmerrie. Vra maar vir ene meneer Speicer! Die skoolhoof het my eenkeer gevra vir ’n klaviersolo by die prysuitdeling. Ek kom toe vorendag met "Die klokkiewals" van Nico Carstens. Meneer Speicer vra my ná die tyd wie die komponis is. Duidelik had hy geen kennis van die formidabele Nico Carstens nie.

Ja, ek het altyd in die skoolkore alt gesing, want niemand wou ’n ander stem sing as sopraan nie. Het gedurig deurmekaar geraak. Dan kon ek vasstaan by die alt. Het maar onlangs agtergekom dat ek eintlik nogal ’n groot stemomvang het. Sedert ons op Aurora so 10 jaar gelede ’n briljante orreliste gekry het, sing ek in die koor wat ek vantevore afgerig het as kerkorreliste. Daardie beroep het ek 40 jaar lank gedoen sonder enige opleiding in orrel, helaas. Deesdae sing ek in die kerk enige stem waarvoor ek lus het, met masker en al – soms alt, soms tenoor, soms deskant, terwyl die gemeente die wysie sing. Geen pretensie, geen beheer.

Gee voorbeelde van die godsdienstige inslag van die boek?

........

Barmhartigheid aan duisende het ’n boodskap: Die Here sal diegene wat sy gebooie onderhou en Hom dien, nie straf nie, al was hul voorvaders ook hoe sondig, want Hy is genadig.

..........

Barmhartigheid aan duisende het ’n boodskap: Die Here sal diegene wat sy gebooie onderhou en Hom dien, nie straf nie, al was hul voorvaders ook hoe sondig, want Hy is genadig. Ek glo aan die Drie-Enige God vir die hede en die toekoms en ek wil graag wees soos Jesus, soos die Hallelujalied lui. Ek sing uit my Liedboek in my gedagtes saans as ek wil bid, want die liedere is gebede. Ek is lief vir die Liedboek van die NG Kerk, ook vir Engelse kerkmusiek. Toe ek vir ons dogter in Kanada gaan kuier het in 2018, het ek ’n Engelse liederebundel by ’n kerk daar afgebedel. Harmonie is my passie, in musiek en in die lewe. Ek hoop dat my boek daardie inslag sal oordra.

Heelwat van die kultuurgebruike kom voor. Vertel ’n bietjie?

Ek is lief vir ou meubels en die kultuur van ons streek. Matilda Burden se boek oor ou Kaapse meubels is op my koffietafel.

Ja, my pa, wat ’n boer was, het in ’n stadium ’n slaghuis gehad en my ma het haaksel en kaiings gemaak. Sy het selfs lewerwors gemaak en dan gedroog. Sy het vertel van bloedwors, maar ek onthou nie dat sy dit probeer het nie. Natuurlik het my ma self die derms geskraap. Gekoopte derms was daar nog nie in 1964 nie. Beslis ook nie in die 19de eeu op Sandveldplase nie. Ons kinders het grootgeword met varkslag so een of twee maal per jaar. (Ek beskryf so ’n geleentheid op bladsy 97.)

Ek het ook ’n boek oor boererate, byvoorbeeld vir medikasie. Lees daarvan in my boek waar Anna vermoed dat sy swanger is en iets soek om die vrug mee af te dryf (bladsye  148 en 150).

Met dié dat ek vanaf 1972 tot 2011 kerkorrelis was op Aurora, moes ek alle kerkdienste bywoon. ’n Blinde prediker uit Redelinghuys, Tinie Rust, het by geleentheid gesê dat ek die orrelis is wat nooit vakansie gevat het nie. Ek was soos die mossie van Psalm 84 –  altyd tuis in die huis van die Here. Daarom was die kerkdienste wat ek in my boek beskryf het, vir my so maklik.

Ook voorbeelde van tipiese taalgebruik?

Amper almal bry in die Sandveld. Dis net die onderwyseresse en predikante wat nie gebry het nie. Nou is dit ook anders. My eie kinders bry met een uitsondering nie meer nie. Ek self weier om anders te praat as my voorgeslagte. Ons bry klink anders as die Overbergse bry, amper plat.

Ons het ook ’n besondere manier van woorde gebruik. Die Velddriwwers praat byvoorbeeld mos van “skuide” ipv “skuite”. Dan sê ons ook partykeer iemand wil “gesaam het”, ipv “saamgegaan het”. My ma het altyd vertel van die “varsputs” en die “brakputs” op hul plaas.

Rasse-aangeleenthede deur die eeue – hoe is dit hanteer?

........

Ek is skaam om te bely dat ons mense se waardigheid baie aangetas het. My ma het ’n sêding gehad: Onwetend sondig nie. Maar dit spreek my geslag nie vry nie.

..........

Ek is skaam om te bely dat ons mense se waardigheid baie aangetas het. My ma het ’n sêding gehad: Onwetend sondig nie. Maar dit spreek my geslag nie vry nie. Die gebruik was nie dat bruin mense en wit mense by mekaar gekuier het nie. Daar was duidelike grense. Ek het as boervrou ook nooit ons arbeiders se huise besoek en my met hul kinders bemoei nie. Hulle was daar en ons was hier. Die aanspreekvorme was maar Baas en Nooi. Nou is dit heeltemal anders met my eie bruin kleinkinders en hulle maatjies.

Daar was wel groot respek by my ouers vir die plaaslike bruin skoolhoof en sy vrou. Hulle is aangespreek as Meester en Mevrou, ook deur ons as kinders. Hulle het hul kerk gehad en ons ons s’n. Dis maar so 30 jaar gelede dat ons NG Kerk begin het om bruin lidmate te kry. Vanaf die neёntigerjare het ek selfs bruin koorlede in my kerkkoor gehad.

Ons hoërskool was die omgewing vooruit, met ons skool wat met die bruin skool geamalgameer het. Dit het natuurlik aanleiding gegee dat die meeste blankes hul kinders na groter skole gestuur het, sodat my skool, waar ek en my man en een van ons kinders gematrikuleer het en ek my laaste 15 jaar van onderwys gee deurgebring het, geval het na ’n middelbare skool met hoofsaaklik bruin leerders.

Deesdae is ons meer tegemoetkomend om ander kleurgroepe en anderstaliges en ander gelowe in ons dorp te aanvaar. Die grens tussen "ons" en "hulle" is nie meer so definitief nie. In my boek het ek probeer om daardie regstelling te maak op ’n subtiele wyse.

Hoe en waar is Barmhartigheid aan duisende: ’n Familiesage uit die Sandveld te koop, te bestel?

Ek het self 100 getekende kopieë verkoop vir my kerk se restourasiefonds. Daar is ook boeke verkrygbaar by Naledi teen R200 per boek. Kontak Tertia Swart by 078 648 8616. Hulle sal boeke versend teen ’n geringe fooi.

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top