Jan de Villiers Lochner

Prof Jan de Villiers Lochner is emeritusdekaan van die Fakulteit Gesondheidswetenskappe van die Universiteit Stellenbosch, sowel as voormalige hoof van die Departement van Geneeskundige Fisiologie en Biochemie (US) en voormalige vise-president van die SA Mediese Navorsingsraad.

Hy het die grade MB, ChB in 1967 cum laude aan die Universiteit Stellenbosch behaal nadat hy reeds sy BSc, MSc en DSc verwerf het. Hy is in 1969 as spesialis in die Departement Interne Geneeskunde aangestel – voor dit (in 1962-1963) was hy nagraadse navorsingsgenoot in endokrinologiese fisiologie aan die Universiteit van Texas (in Dallas) se Fakulteit Geneeskunde.

Hy het tydens sy loopbaan ’n groot aantal artikels in vaktydskrifte gepubliseer, asook verskeie redaksionele artikels en publikasies oor geneeskundige onderrig en navorsing. Hy het nie minder nie as 19 beurse, toekennings en medaljes ontvang. Daarbenewens was hy betrokke by die redaksie van verskeie mediese joernale en het hy as studieleier, eksaminator en promotor vir ’n hele aantal nagraadse studente opgetree.

Hy werk steeds deeltyds as internis by Tygerberg Hospitaal.

Die nuwe Woordeboek vir die Gesondheidswetenskappe / Dictionary for the Health Sciences (Pharos, 2011) is onder sy leiding bygewerk en uitgebrei, met medewerking van minstens 30 deskundiges oor die hele spektrum van verskillende mediese dissiplines.

Jan Lochner is getroud met Amanda en het vier kinders.

 

Opgedateer/Updated: 2011-03-30

Bio-inligting verouderd? Stuur 'n e-pos aan bio@litnet.co.za 
Bio-info dated? Send an e-mail to bio@litnet.co.za

Top