
Hannes Breytenbach
Hannes Breytenbach is gebore in Roodepoort, Suid-Afrika. Na voltooiing van sy sekondêre onderrig op Rustenburg studeer hy regte aan die Randse Afrikaanse Universiteit. Benewens sy studies het hy ook aktief deelgeneem aan rugby en atletiek op universiteitsvlak.
Tydens sy verpligte militêre diens het hy na voltooiing van sy basiese opleiding diens gedoen as offisier in die Regsdepartement van die SA Nasionale Weermag.
Na afloop van sy studies en militêre opleiding word hy staatsaanklaer in die Johannesburgse Landdroshof. Hy dien ook as aanklaer in Durban en in Rustenburg, maar verlaat die Departement van Justisie ’n paar jaar later om sy loopbaan voort te sit as prokureur.
Nadat hy sy klerkskap by ’n prokureursfirma in Rustenburg voltooi het, word hy ’n vennoot by die firma Leonard & Breytenbach, wat kort daarna saamsmelt met Jac Smit & Kie, waar hy vir tien jaar as vennoot dien in die firma Smith Leonard & Breytenbach.
In 1990 word hy senior vennoot van dieselfde firma en verander die firma se naam na Breytenbachs Prinsloo Prokureurs, waar hy in hooggeregshof- en landdroshof-litigasie spesialiseer.
In dié tyd dien hy ook in die dissiplinêre komitee van die Suid-Afrikaanse Prokureursorde en is nóú betrokke by die Gideons.
In 1998 besluit hy en sy vrou, Lenza, om ‘n kantoor in Londen oop te maak. Sedertdien is hy voltyds as senior vennoot by Breytenbachs betrokke. Hy is ook ’n direkteur by Hands-On Events en die Commonwealth Academy.
In 2005 word hy ‘n lid van die International Who’s Who of Professionals en in 2006 ‘n erelid.
Hannes is getroud met Lenza Breytenbach, wat ook ‘n vennoot en prokureur is by Breytenbachs in Londen. Hulle het twee kinders: Laya, wat ook ’n gekwalifiseerde Britse prokureur is, en JP, wat tans besig is met sy prokureursleerklerkskap.
Vir ontspanning geniet Hannes ‘n potjie gholf en besoek Suid-Afrika op ‘n gereelde basis om tyd deur te bring op sy wildsplaas net buite Rustenburg. Hy is ook nóú betrokke by die SA Gemeente in Londen en dien tans as die voorsitter van die welsynsorganisasie wat die SA Gemeente bedryf.
In 1998 besluit Hannes en Lenza Breytenbach om ‘n Londense tak vir die firma Breytenbach en Prinsloo Prokureurs oop te maak.
Die nuwe firma is in die vreemde begin met geen bestaande kliënte, geen besigheidsnetwerke en geen personeel nie, en met baie min kontakte in die Verenigde Koninkryk. Dit het egter nie lank geneem voor Breytenbachs ‘n huishoudelike naam vir Suid-Afrikaners in Londen geword het nie. In 2001 begin die Londen-tak ook onafhanklik van Breytenbachs Prinsloo in Suid-Afrika praktiseer.
Vandag is daar sowat 50 mense in diens van Breytenbachs, wie se nasionaliteite wissel van Suid-Afrikaans tot Brits en Nieu-Seelands.
Die firma fokus hoofsaaklik op Britse en Suid-Afrikaanse Immigrasiereg, sowel as Britse Eiendomsreg. Weens die feit dat baie van die prokureurs wat in diens van Breytenbachs is, sowel Brits- as Suid-Afrikaans-gekwalifiseerde prokureurs is, verleen hulle ‘n waardevolle diens aan baie individue en besighede wat tussen die twee lande besigheid doen en investeer.
Die firma was ook onlangs genoodsaak om uit te brei en het die aangrensende perseel van hul bestaande kantoor in Mayfair, Londen bekom. Hulle praktiseer dus nou in 19 & 20 Bolton Street, Mayfair, Londen.
Breytenbachs het in 2006 hulle dienste uitgebrei deur ’n siviele-litigasie-afdeling op die been te bring. Die nuwe afdeling fokus hoofsaaklik op familiereg en op strafregtelike en sivielregtelike aangeleenthede en kontrakte.
Vir meer inligting oor die firma en sy dienste, besoek gerus die webblad by www.breytenbachs.com.
Opgedateer/Updated: 2006-10-29
Bio-inligting verouderd? Stuur 'n e-pos aan bio@litnet.co.za
Bio info dated? Send an e-mail to bio@litnet.co.za
