Chris Wait
Ek is meer as een ding: my bestaan geskied buite die paradigma van klassifisering. Dinge is vloeibaar, en so is ek. Alhoewel my naam en van Engels is, is ek Afrikaans. Ek het in ’n Afrikaanse huis groot geword tussen Afrikaners te midde ’n baie konserwatiewe Afrikaner-kultuur in Welkom, die mynstad met sy vele tonnels. Ek skryf liedjies in Afrikaans en Engels, en voer hulle uit waar en wanneer die geleentheid hom voordoen. Ek het reeds in 2002 my eerste CD getiteld <em>Visser </em>in Sunset Recording Studios buite Stellenbosch opgeneem. Sover word ek meestal geïgnoreer in die “bedryf”, maar die hoop beskaam nie en ek sal aanhou optree en liedjies (en ander goed) skryf tot my sterwensdag, want dis wat ek doen.<br />
<br />
Ek skryf byna daagliks, aan lirieke, ’n kortverhaal en soms ’n gedig. Ek probeer skilder, maar ek oefen nog. Ek hoop om eersdaags ’n paar kortverhale weg te stuur en te kyk wat gebeur. WAARSKUWING: Ek is oopkop en liberaal, en so ook is my opinies en skryfwerk. Nie omdat ek aandag soek nie, net omdat ek reken ’n mens die grense van jou realiteit en persoonlike paradigma konstant moet toets.
