|
Waarde Heer, – Na aanleiding van die artikel “By die Ossewaens” skryf “Oom Voortrekker” reg in Die Burger van 15 deser. Ons het nie ’n sielkundige nodig om ons dit te sê nie. Ons is nog natuurmens genoeg om te weet hoe en wat om te sing. “Suikerbossie,” “Perdeby” en ons ander saamspeel-singery, is lossingery, en ons weet dit almal. As “Suikerbossie” net klink, dan smoor die gees, dan roer die vlees. Nou wil ons net lekker kry; nou wil ons nie weet van onthou nie, van weet nie, van vooruitdink nie! As ons “Prys die Heer” sing, dan sing ons saamstaansing; dit is eendragsing; dit is saamly- en saamstry-sing. Party van ons loop maar net ’n bietjie te veel soos hanslammers, agter allerhande nuwerwetse dinge, soos die halfbeproefde idees van die moderne psigoloë, aan. As ons ons Bybel reg lees, dan sal ons waaksaam wees teen te nuwerwets te voel. Ons voorouers, die Voortrekkers, wie se nagedagtenis ons nou vier, het tog seker wel behae geskep in hul jong mense se singery van “Suikerbossie”, “Perdeby” en al! Hulle het tog seker hul jong mense omskaar, aangekyk en aangehoor! Hul jonge mense het tog seker die vreugdeverheffende singery op gepaste tye aanvaar. Maar “Prys die Here”, “God seën daal op u” en die eendragwekkende singery, was die singery wat ouers en kinders, somar van self, uit eie drang, gesing het, by alle ernstige plegtighede. Mag ek dit sê: "Jong mense, julle is ‘Voortrekker’ dank verskuldig! Julle moet jul koppe tog nie teen dié, wat dink soos hy dink nie, verhard nie!" U. REINECKE Kaapstad |