Grant Olwage (2004:2) bespreek in sy essay “Black musicality in colonial South Africa” die troop in koloniale sendingliteratuur wat beweer dat swart sangers nie musiek van hulle eie het nie. Olwage redeneer dat hierdie troop meer te make het met opvattings oor musikale geletterdheid en kanonisering as wat dit dui op die afwesigheid van ’n musikale erfenis. Die “probleem” was nie swart sangers se gebrek aan musiek nie, maar die feit dat orale kulture min bestaansreg binne die geletterde koloniale wêreld gehad het. Dit is om hierdie rede dat swart musikante nie, uit ’n Westerse oogpunt, as musikaal geletterd beskou kon word nie. Daarom kom Olwage tot die gevolgtrekking: “Getting converts to read music would finally give them music.”

Daar is baie ooreenkomste tussen koloniale beskouings van swart musikante se “gebrek aan musiek” en die sogenaamde afwesigheid van sanglus by Afrikaners. Behalwe dat beide op die rassedimensie van idees oor musikaliteit dui, word musikale geletterdheid in beide gevalle as simbool van Westerse beskawing veronderstel – ’n leë simbool in die geval van ’n advertensie (Figuur B) vir die Suid-Afrikaanse brandewyn Chateau (Anon. 1938h), wat in 1938 wyd in die Afrikaanse pers gepubliseer is.

Figuur B. Advertensie vir Chateau-brandewyn. Die Brandwag, 18 November, bl. 40.

In hierdie voorbeeld word die kyker gekonfronteer met drie simbole waarvan die samehang uiters opportunisties is: “die Franse aristokraat” (herkenbaar in kleredrag en gebaar), ’n oënskynlik singende ruiter (wat “boer” moet simboliseer, maar meer herinner aan ’n cowboy), en die liedjie wat as prikkel gebruik word, “Sarie Marais” (hier voorgestel in die vorm van betekenislose note op ’n notebalk). Die advertensie se vergelykings tussen Chateau en “Sarie Marais” is onsinnig: beide is onskeidbaar deel van die “volkstradisie”, beide is “populêre keuses” en beide bring “genot en vreugde tot elke feestelike geleentheid”. Dit is onsinnig omdat die juiste musikale ekwivalent vir ’n Franse aristokraat tog sekerlik die musiek van die Franse aristokrasie is en nie ’n populêre Afrikaanse lied van Amerikaanse oorsprong nie. Korrektheid is egter nie waaroor dit in advertensies gaan nie.

Wat die gebruik van faux musieknotasie in hierdie voorbeeld interessant maak, is dat dit elitistiese idees oor musikale geletterdheid gebruik om tot musikaal ongeletterde lesers te spreek. As die toonhoogtes korrek genoteer was, sou die gemiddelde leser nie die verband met “Sarie Marais” kon trek nie. Faux musieknotasie kan net indeksaal verstaan word. Aan die een kant illustreer dit bloot, soos die swewende musieknootjies in strokiesprente, die teenwoordigheid van musiek. Maar op ’n ander vlak is dit een van die meganismes waardeur die advertensie geloofwaardigheid behou te midde van ’n uiters ongeloofwaardige konteks. Musieknotasie kan die gedwonge analogie tussen die Afrikaner en die Franse aristokrasie dra op ’n manier waarop “Sarie Marais”, die liedjie, nie kan nie. Musieknotasie word hier ingespan as ’n teken van Westerse beskawing en deur hierdie teken word dit moontlik vir ’n singende, brandewyn-drinkende leserskorps om ’n verbintenis met Franse aristokrate te verbeel.