Hendrik Susan het in 1937 sy eerste boereorkes begin op aandrang van die entrepreneur en populêre radio-uitsaaier Pieter de Waal. Met die uitbreiding van die Afrikaanse diens van die SAUK het daar ’n vraag ontstaan na Afrikaanse musiek wat geskik was vir radio-uitsendings (Crafford 1954). Volgens De Waal was daar" ’n leemte in die Afrikanerlewe [...] wat gevul kon word deur ’n orkes wat ons volksliedjies en ander deuntjies” kon speel (Euvrard 1952). Werkersklas-konsertina-orkeste soos dié saam met wie David de Lange opgetree het, was egter nie die soort orkes wat De Waal en Susan in gedagte gehad het nie. Alhoewel die besluit ook politieke implikasies sou hê, is hulle gemotiveer deur die kommersiële potensiaal van só ’n orkes (Froneman 2012b:126–35).    

Saam met Susan het De Waal probeer om boeremusiek “van die mis vloer te lig”. Susan se sterk dissiplinerende hand was te sien in sy orkeslede se onberispelike uitrustings en in die streng gedragskode waaraan hulle gehou is. Benewens ’n meer gesofistikeerde beeld het Susan “by wyse van proefneming” ’n nuwe boeremusiekklank ontwikkel deur die banjo weg te laat, die rol van die konsertina te onderbeklemtoon en die kitaar, viool, kontrabas, trekklavier, klavier en ’n sanger by te voeg (Crafford 1954). Die hoërklas- pretensies van Hendrik Susan se musiek het vir hom groot gehore en politieke guns gewen.

De Waal en Susan se orkes was direk betrokke by die 1938-Eeufeesvieringe. De Waal het die eerste eksterne uitsendings van feesvieringe vir die SAUK behartig en Susan se orkes het tydens die feesviering daagliks lewend uitgesaai (Trewhela 1980:51). Met hul radio-uitsendings, uitvoerings by NP-danse en musikale bydraes in Pretoria op 16 Desember het Hendrik Susan se orkes as kampvegters vir die Nasionale Party bekend geraak.

Anders as ander boereorkeste in 1938 het Susan staatgemaak op musieknotasie (sien ook Figuur C). Hy vertel hoe hy by geleentheid sy posisie as orkeslid verloor het omdat hy nie “met die oor” kon speel nie, en hoe hy gesukkel het om orkeslede met bladlees-vermoë vir sy eie boereorkes te werf (Crafford 1954). Teen die 1950’s is Susan se orkes as “seuns van die volk” beskou (Anon. 1950), maar slegs drie lede van die oorspronklike orkes was, volgens Freddie Luyt, Afrikaans:

So we changed the names of the others so the listeners wouldn’t say, “Oh, this is just a lot of Rooinekke playing.” Les Kelly, for instance, became Les Meintjies, and so on. Chris Lessing was the vocalist. Sam Petzer was on piano accordion. He used to waggle the concertina as well, so as to satisfy the traditionalists. (Trewhela 1980:50)

Weens ’n gebrek aan genoteerde populêre Afrikaanse musiek in 1938, en in pas met die orkes se gesofistikeerde beeld, het Susan se orkes ’n heel ander repertorium gespeel as David de Lange se vertaalde Amerikaanse treffers: meestal liedjies uit die FAK-sangbundel. By tye moes die orkes egter swig voor die mag van populêre sentiment. Só, vertel Susan, het die orkes “Suikerbossie” leer speel:

Ons het op ’n konsert in Krugersdorp opgetree en my orkes was nog so ’n bietjie rou, sodat ons nie al die versoeknommers kon speel nie. "Suikerbossie" het ons glad nie geken nie en die gehoor het daarop aangedring dat ons hierdie treffer móés speel. Ek het toegestem op voorwaarde dat die gehoor dit saam met die orkes sing. Nou-ja, só gesê, só gedaan. Ons het maar gemaak of ons begelei en toe die gehoor by die tweede versie kom het ons klaar geluister gehad en die nommer geken. Ons het toe lustig saamgespeel. (Crafford 1954)

Figuur C. Hendrik Susan en sy orkes. Die Transvaler, 15 Julie 1938, bl. 12.