David de Lange se musiek is vol verwysings na drankmisbruik, seks, partytjies, huishoudelike geweld en die rowwe lewe in die stad. Rian Malan (2006) beskou De Lange as ’n soort rockster van die 1930’s:

De Lange [is] the most compelling figure in the history of Afrikaans popular music. His music was electrifying. His banjo player was Coloured in days when that was unthinkable. He danced and drank like a demon. He screwed everything that moved. His band was called the Naglopers – the night walkers or night stalkers. How cool can you get? This oke was doing the outsider/antihero/rebel thing 50 years before Anton Goosen and Koos Kombuis made it fashionable.

Ten spyte van hierdie reputasie het die Singer-maatskappy De Lange se plate met ’n “pragtige ‘Voortrekkereeufees-etiket’” bemark (sien Figuur A).

De Lange se musiek is sterk beïnvloed deur Amerikaanse vaudeville – in só ’n mate dat verskeie van sy opnames direkte vertalings van populêre Amerikaanse liedjies was. Vergelyk byvoorbeeld een van die opnames wat in die Singer-advertensie onder die opskrif “Dans hierdie vastrappe” verskyn. “Ek hou van piesangs” (c. 1937b), in later jare verder vervorm na “Ek hou van wildsvleis”, is beter bekend as die Hoosier Hot Shots se lawwe liedjie “I like bananas (because they have no bones)”.


 

Figuur A. Advertensie vir Singer-plate. Die Transvaler, 2 Desember 1938.