Geagte Redaksie, – Ek het die voorreg gehad om tot dusver in te luister na al die funksies wat in verband met die ossewatrek vanaf Kaapstad van tyd tot tyd uitgesaai is, ook na die indrukwekkende dienste wat gehou is waar die waens Sondae oorgestaan het. Die geesdrif is prysenswaardig en die indrukwekkendheid van die dienste op Sondae sal waarskynlik baie daartoe bydra dat die Afrikanervolk op geestelik gebied meer kerkbewus sal word, veral dié deel wat kerklos geword het. Maar daar is een faktor wat, soos dit vir my lyk, ’n integrerende deel uitmaak van al ons funksies wat gereël word met die oog op die ontvangs van die ossewaens, en dit is "’n boere-orkes". Dit skyn asof die woord boere-orkes ’n soort towerwoord geword het, wat onafskeidelik verbonde skyn te wees aan sulke dinge soos boerewors, braaivleisaand, boeredans, Voortrekkerdans, ens., ens. As ek egter onomwonde my indrukke moet weergee van die kerkdienste i.v.m. die ossewaens en die ander funksies, waarby een of ander boere-orkes maar selde ontbreek, dan is dit as volg: Al die kerkdienste roep die volk toe: “Terug na die Bybel, na die kerk, na die godsvrug en die godsdiens van die Voortrekkers!” Al die funksies inspireer tot ware Afrikanerskap en die uitlewing daarvan in ons volkslewe. Maar wat vertolk ’n boere-orkes? Geen verhewe volksideale nie. Geen oproep tot Voortrekkergewoonte nie, want een van ons voorvaders se edelste gewoontes was om saans by hul wagvure hul God te eer deur Sy woord te lees en heilige lofsange te sing en vroeg soggens dieselfde te doen. Vrolikheid was daar ook en die boereliedjies van daardie tyd het ongetwyfeld in die stille aandlug weerklink. Maar om te beweer dat ’n boere-orkes toe ’n ereplek ingeneem het, is beslis onhistories. U moet my goed verstaan; elke ding op sy plek. Die enigste plek wat ek vir ’n boere-orkes kan aanwys, is miskien die danssaal van vandag. ’n Boere-orkes beteken tog ’n orkes wat boereliedjies en -musiek speel op eg boerewyse en op boere-instrumente. Maar wat vind ons as ons ’n boere-orkes ondersoek? Die instrumente is net so min tipies Afrikaans as wat ’n kakie-kortbroek of ’n “cowboy”-hoed dit is. Laat ons maar ’n paar noem: ’n Hawaiian-ghitaar het geen Voortrekker geken nie en die soort musiek, wat dit lewer, is totaal onafrikaans en soms neger-uitheems. Dieselfde kan gesê word van die meeste snaarinstrumente soos die ukalele [sic], mandoline, piano-akkordeon, saksofoon, e.d.m. In die tweede plek, as ons noukeurig nagaan wat ’n boere-orkes vertolk, wanneer dit iets speel, dan kom mens voor ’n groot vraagteken te staan. Voorstaanders van boere-orkeste beweer dat die boereliedjies pragtig en op eg Afrikaanse wyse vertolk word. Maar dis nie so nie. Enige boereliedjie, wat gespeel word, word ’n dansrokkie aangetrek en dit klink tipies Afrikaans! Ja, in die opsigte grens dit aan die verwilderde Amerikaanse negermusiek en dit skep voorwaar nie ’n suiwer Afrikaanse atmosfeer nie, laat staan ’n Voortrekker-atmosfeer! Ek sê glad nie te veel as ek beweer dat baie van ons sogenaamde boere-orkeste niks anders is as Amerikaanse Jazz-orkeste nie. Hulle maak geld en opgang onder beskerming van die benaming “boere-orkes”. En die boereliedjies word meestal in sulke danstempo's gespeel en met sulke Jazz-draaitjies daarby, dat ek dikwels ’n bekende wysie nie eens kan onderskei nie. WELMENEND Krugersdorp-Wes |