Abel se lot bewys Karsten weer eens as een van ons beste misdaadskrywers

  • 2

Met die openingstoneel skep Chris Karsten die atmosfeer vir Abel se lot. Die poëtiese beskrywing van wag-’n-bietjie en frangipani’s, die lug “skoon gewas” na die reën, die “dynsige stoomnewe oor die nat gras in die park” is ’n vals gerusstelling; die leser word, saam met die vlieë, vinnig deur die skoonheid gelei tot by die ontbinde lyk in die parkgronde van die Prince Louis Rwagasore-kliniek in Bujumbura, Burundi. Tipies Karsten word die ontbindingsproses gedetailleerd beskryf, met die wetenskaplike name van vlieë en kewers, hulle lewensduur en voorkeur op ’n kadawer, en hul funksie in die ontbindingsproses. Die leser móét kyk: hier lê ’n liggaam met sy tekens van trauma. En daar, waar die gesig eens was, is ’n “gekoek van wit maaiers”. ’n Lewende masker, as’t ware. By die leser bestaan daar geen twyfel nie: dit is Abel se werk.

Hiermee word die onderliggende tema vir die leser gelê: skoonheid, orde; die gerusstellende daaglikse roetine is slegs oppervlakkig – onder dit skuil trauma, ’n donkerte waarvoor die meeste mense wegskram, iets wat onmiskenbaar bedorwe is. Die oplettende leser kry vroeg die reuk van verrotting – ook in die klaarblyklik gebalanseerde lewens.

Adjudant Ella Neser mag dalk fisiek herstel het van haar gru-ontmoeting met Abel teen die einde van Abel se ontwaking, maar geestelik het sy beslis nog ’n pad om te stap. Met die opening van die verhaal is sy amptelik afgeboek met siekverlof (waaroor sommige kollegas snedige aanmerkings maak). Sy kan nie konsentreer nie, sukkel om te slaap, veg hard teen persoonlike duiwels en het die hinderlike gewoonte ontwikkel om oor die opgehewe litteken op haar maag te streel wanneer sy ingedagte is. Abel Lotz is haar obsessie en sy fokus al haar energie daarin om hom vas te trek. Want Abel is steeds iewers daar buite, dit weet Ella. En sy sal nie rus voordat sy hom nie persoonlik tot verantwoording geroep het nie.

Onbewus van Ella se gevoelens is Abel halfhartig aan die vlug. Hy soek steeds na velle met tatoeëermerke vir die omslae van sy bundels kosmiese reise en daardie perfekte masker vir homself. Abel is egter geduldig en nie te bekommerd oor sy opsporing nie; daarvoor het hy die nodige planne uitgevoer.

Wanneer hy terugkeer na Suid-Afrika om te sien wat van sy moeder geword het, soek hy vir Ella op. Hy wil weet presies hoe sy lyk na hulle konfrontasie, wat sy doen. Sy word op haar beurt weer Abel se obsessie; hulle dans ’n makabere dans met mekaar. Benewens die donker kant van Abel, wat ons reeds in Abel se ontwaking leer ken, word die leser nou ook gekonfronteer met Ella Neser as ’n gekwelde figuur. Sy is nie meer die onskuldige ondersoekbeampte wat die “groot vis” wil vastrek nie. Haar onderonsie met Abel het fisieke sowel as psigiese letsels gelaat. Sy word aangetrek deur dié wat só geraak is deur trauma en geweld dat dit ’n duidelike invloed op hulle laat – daarvan getuig haar vriendskap met Milo, haar obsessie met Abel. En sy het meer met Abel gemeen as bloot die obsessie met die jagtog, die onstuitbare wil om te kry wat hulle wil hê. Haar gefokuste harp-oefeninge en wil om alles wat daar te wete is van hierdie sagte instrument, in detail te leer, herinner byvoorbeeld sterk aan Abel se liefde vir die vioolmusiek van Paganini.

Reekse en trilogieë met dieselfde speurder of sielkundige is gewild, maar maklik is dit gewis nie om ’n trilogie te skryf wat die leser enduit boei nie – veral nie een waarin die fokus nie net op dieselfde speurder nie, maar ook op dieselfde moordenaar is. Die leser weet immers dat daardie moordenaar minstens twee maal sal wegkom, dat die speurder twee maal sal faal, en dat dit in beide gevalle ’n beduidende invloed op die karakters sal hê. Alhoewel die leser karakters in meer diepte leer ken, is die kans steeds goed dat die middelste boek flou kan voorkom, dat die storie hier kan insink. Boek een open die jagtog, stel nuwe karakters aan die leser voor, lê die fondamente vir ’n goeie, spanningsvolle plot. Boek drie sluit die jagtog af en begin gewoonlik reeds op ’n hoogtepunt. Boek twee moet dus rus op ’n baie sterk plot en karakterontwikkeling om volhoubare spanning te skep. Nuwe karakters moet funksioneel tot die ontknoping wees en vir die leser meer insig in onderliggende temas gee.

Abel se lot spring baie slaggate van ’n flou tweede boek vry deur ’n interessante nuwe element in die verhaal in te bring: die skrywer vervleg ’n nuwe verhaallyn (dié van Milo Boonstra), wat ’n groot gedeelte van die verhaal dra, met dié van Ella en Abel. Milo en sy suster Kaja Boric se verhaal speel af teen die agtergrond van die oorlogsmisdade en volksmoord in die Balkan, veral in Sarajewo (1991–1993). Uitstekende ruimtebeskrywings en uiters geloofbare, grusame situasies getuig van deeglike navorsing en plaas die leser in die hart van die oorlog. Aanvanklik is die aanknopingspunte tussen verhaallyne onduidelik, wil die sprong tussen die verhale selfs hinderlik voel. Maar Karsten slaag daarin om meesterlik die verbinding te bou.

As kinders word Milo en Kaja blootgestel aan ondenkbare gruwels. Hulle sien en ervaar veel meer as wat enige kind ooit behoort te doen. Wanneer hulle deur Archie Boonstra, ’n Suid-Afrikaanse moniteerder vir die VN in Bosnië-Herzegowina, aangeneem word, het die oorlog reeds sy merke gelaat. Op die oppervlak lei die twee Boonstra-kinders ’n normale lewe in Suid-Afrika, maar wanneer geweld hulle ook hier vind, wys die invloed van die verlede duidelik. Die verhaallyne kruis wanneer adjudant Neser ’n misdaad by die Boonstra-huis moet gaan ondersoek en sy in die proses bevriend raak met Milo, onwetend dat Milo ook op Abel se spoor is. Maar meer indrukwekkend is die tematiese skakeling tussen Milo en Abel, soos duidelik word met die motto by deel III: “Nobody can be as vicious as an angry child, deeply convinced of the justification of his hatred … One cannot expect mercy from a boy […] who has tried to survive evil as best he could” (Momo Kapor, The Provincial). Die verband tussen die kinderjare van Milo en Abel is moontlik nie voor die hand liggend nie; albei was in hulle eie stryd tot oorlewing gewikkel, Milo te midde van oorlog, Abel te midde van sy ma se oorheersende persoonlikheid, haar verdraaide Bybelse reëls en sienings, en uiters ingewikkelde liefde-haat-verhouding met haar seun. Die leser kry in die tweede boek van die trilogie nie net meer begrip vir Abel se optrede, hoe grusaam en afstootlik ook al nie, maar ook meer simpatie met hom. En daardeur los Karsten jou met genoeg los drade vir die laaste boek van hierdie reeks.

In Abel se lot is daar minder van die liriese, gedetailleerde beskrywings wat kenmerkend van Abel se ontwaking en Seisoen van sonde was. Dit word ondervang deur historiese feite, vervleg met rou emosie, in die verhaallyn wat afspeel in Sarajewo, Bosnië-Herzegowina. En getrou aan Karsten is sy taalgebruik by tye poëties, ernstig sowel as speels, energiek.

Die ontknoping voel effens gejaagd en gebeure rondom die konfrontasie by die begrafnisondernemers vind ek plek-plek ongeloofbaar. Maar die spanning word van meet af vernuftig opgebou met die gebruik van die nuwe verhaallyn en karakters, en Ella en Abel word uitgebrei tot interessanter, veelvlakkige karakters. Albei word soos twee kosmiese liggame aangetrek na mekaar, en na ’n onafwendbare swart gat. Sal Ella die aantrekkingskrag van daardie donkerte kan weerstaan?

Abel se lot is nie net ’n sterk aanloop tot die laaste boek in die reeks nie, maar kan met gemak op sy eie staan. Chris Karsten bewys weer eens waarom hy met reg as een van ons beste misdaadskrywers bestempel word.
 

Abel se lot
Chris Karsten
Uitgewer: Human & Rousseau
ISBN: 9780798152921
Prys: R190.95

Klik hier en koop Abel se lot nou van Kalahari.net!

  • 2

Kommentaar

  • CreativeSpark

    Die groot opkoms en algemene entoesiasme oor die digkuns wat by hierdie jaar se Versindaba te bespeur was, asook die ho? kwaliteit van die gedigte wat voorgelees is en die bundels wat bekroon is, is beslis aanduidings dat dit goed gaan met die Afrikaanse digkuns, en dat die doemprofete vir eers kan gaan vakansie hou in Mauritius

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top