Vyf vinnige vrae aan Johan Bakkes

  • 0
Johan Bakkes is vinnig besig om 'n kultusfiguur te raak onder reisgoggas en wulpse middeljarige vroue. Melt Myburgh het al saam met hom dronk geword en partytjie gehou op 'n besige sypaadjie in Grahamstad. Hy het dié skrywer van Moer toe die vreemde in en Nou's ons in ons donner in gepeper met vyf vinnige vrae.
 
 
Genade, Johan! By woordfeeste het ek al vele slanke (getroude) dames hul spykerhakke sien aftrippel agter jou wildewragtig image aan. Is almal so gaande oor jou butch voorkoms?
 
Ongelukkig moet ek erken dat veral babas verwoed aan die skrou gaan en aan hulle ma's vasklou as ek belangstellend nader staan. Jongmense mompel: "Haai, het jy daai ou gesien?" en loop dan so 'n wye draai. Op skool het my kinders, Cara en Marc, seker maar skaam gekry – nou lyk Marc (20) soos ek. Of, soos hy sê: sy pa lyk soos hý. Ek moet egter sê: daar's vir my niks lekkerder as om 'n klomp kinders en jongmense op 'n staptog deur die Visrivier Canyon te vat nie. Hulle is taaier as taai – as ek die aande moer toe langs die kampvuur lê, dan baljaar hulle nog in die sand of water!
 
Jou tweede boek, Nou's ons in ons donner in, het einde verlede jaar die winkelrakke getref. Is dit soortgelyk aan Moer toe die vreemde in?
 
Nou's ons in ons donner in gaan ook, soos die vorige een (nie Die vreemde is moertoe nie), oor my reise, en soos jy weet, is ek nie slim genoeg om strontstorietjies uit te dink nie. Alles is die waarheid, met 'n knippie sout, want my ma het altyd gesê: "'n Mens donner nie 'n goeie storie met die waarheid op nie."
 
Alle stories is darem ook nie net oor ver paaie reis nie, maar ook oor op die lewenspad reis, soos daai dag wat ek vir Marc met die seekoeisambok gedonner het.
 
Jy is professor aan die UWK. Ek is seker dat jy elke keer wanneer jou eerstejaars by die klas instap, opnuut moerig raak met dit wat hoërskoolonderwysers aanvang. Of is ek verkeerd?
 
Ek leer kinders van boekhou (rekeningkunde) op universiteit en raak de moer in vir hoërskoolonderwysers wat hulle kinders nie ordentlik geleer het om somme te maak nie! Die hele lewe bestaan uit somme maak: Hoeveel kos 'n hamburger? Kan ek bekostig om daai girl uit te neem?, ensovoorts.
 
Na watter skole het jy jou kinders gestuur, en hoekom?
 
Cara en Marc was op twee verskillende hoërskole. In Pretoria was Cara op Centurion Hoër omdat ons naby die skool gebly het, terwyl Marc verbonde was aan die Afrikaans Hoër Seunskool omdat sy oupa en pa daar was. Hier in die Paarl is Cara by die Hoër Meisjes Skool, en Marc was by Hoër Jongens Skool.
 
Ek glo 'n enkelgeslag-skool kan beter konsentreer op kwaliteit-opleiding, dissipline en die opbou van 'n esprit de corps.
 
Jy kom uit 'n befaamde skrywerfamilie: Hennie Aucamp is jou oom, Margaret Bakkes is jou ma en Christiaan is jou broer. Voel jy nie soms paranoïes nie?
 
Verseker voel ek kloustrofobies. Húlle is eintlik die skrywers. Ek's net 'n "trevelaar" met 'n storie. Ek was egter nog altyd bang ek word geklassifiseer as een van die "Brontë-susters". Daar's reeds 'n Margaret en 'n Christina en nou 'n Johanna! Maar soos my ma sê: "It's nice seeing your name in print."
 
 
 
  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top