Met koffer en kaart: 'n Reis vol humor, begrip en deernis

  • 0

Met koffer en kaart
Helena Gunter
Uitgewer: Human & Rousseau
ISBN: 9780798152549
Prys: R140.25

Klik hier en koop Met koffer en kaart nou van Kalahari.net!

 

Ons drink ’n glas wyn en gesels oor Helena se boek Met koffer en kaart wat pas verskyn het. Of eerder, Helena gesels versigtig oor die boek en ek luister. Want tóé het dit maar pas van die uitgewer by haar aangekom en ek het dit nog net deurgeblaai. “Verhale wat ’n mooi verlede wys, is nodig en moet beslis opgeteken word, soos wat verskeie knap skrywers doen,” sê Helena terwyl sy haar wynglas neersit, “maar dis ons problematiese geskiedenis en die gevolge daarvan wat my interesseer. Mense wil daardie geskiedenis wat nou ‘verby’ is, te maklik afmaak. Die stelsels is wel weg, maar die skadelike gevolge daarvan is nie. Jy kan nie ’n spieël voor skade hou en maak asof die beeld iets anders is nie, dan skryf jy feëverhale.”

Met hierdie bundel hou Helena só ’n spieël voor die leser op. Die titel suggereer ’n reis, die aankoms, die (tydelike) verblyf, die vertrek. Dit roep ’n onbekende ruimte op waarvoor die reisiger ’n kaart nodig het, ’n ruimte wat nie altyd maklik navigeerbaar is nie. Kortom: ’n ruimte soos hedendaagse Suid-Afrika. Die leser reis deur die tyd, deur die geskiedenis, en word gekonfronteer met die skade wat kolonialisasie en apartheid, onder andere, geskep het. Hier het almal – dié wat verontreg het én die verontregtes – as ‘t ware ’n kaart nodig om die reis te navigeer. Want die geskiedenis is, soos die motto van William Faulkner voorin duidelik stel, beslis nie iets van die verlede nie: “The past is never dead. It’s not even past.” En as gevolg van ons geskiedenis het daar klowe tussen mense ontstaan: man, vrou, wit, bruin, ouer, kind – noem maar op. Met koffer en kaart speel ook in op die reise wat mense neem om wég te kom van hierdie problematiek. Dit is nie “mooi” verhale nie, maar die leser hoef beslis nie “gloom and doom” te verwag nie. Daar word nie gepreek óf gepaai nie; slegs ’n spieël opgehou – en dit word met ironie, baie empatie en humor gedoen.

Helena Gunter se verhale is visueel en gedetailleerd in beskrywings. Dit was reeds met haar eerste bundel, Op ’n plaas in Afrika, duidelik. In Met koffer en kaart val haar oog vir besonderhede weer op. Die skilderkuns speel hierdie keer ’n belangrike rol wat ook die struktuur van die bundel beïnvloed: verhale val in drie afdelings, ’n soort triptiek waar een afdeling op die ander inspeel. Die openingsverhaal, “Ons vir jou”, kan as sleutel tot die bundel gelees word. Christa, ’n skilder, ontmoet toevallig weer haar eerste liefde, Matthys. Nou is beide sy en Matthys getroud, maar die ontmoeting ontketen verskeie emosies by Christa. Tuis begin Christa om ’n skildery te maak nav die ontmoeting en soos sy skilder, werk sy ook deur haar en Matthys se pynlike geskiedenis. By die kunsuitstalling, maande later, sê ’n kunsjoernalis: “In hierdie werk word daar teruggegaan na ’n oomblik van verlies. Deur die heropstelling van herinneringsvoorwerpe word die genealogie van ’n wond ontgin (27).”

Soos Christa, worstel ander karakters in Met koffer en kaart ook met die invloed wat die verlede op hulle hede het, daardie oomblikke van verlies, die wonde wat só toegedien is. In “Oueraand” ly ’n seun onder die afwesigheid van sy pa, wat kies om onbekend te bly al woon hy op dieselfde dorp, en in “Fees” verwerk die kleine Dalena haar weggaan koshuis toe met ’n klomp herinneringsvoorwerpe, dinge wat die plaas en haar ouers tasbaar verteenwoordig en die eensaamheid, verlies en verlorenheid moet teenwerk.

Dit is egter die middelste gedeelte, “Triptiek, ink op papier”, waar Helena haar bekwaamheid werklik wys. In al drie verhale is Hanna die protagonis, hoewel die verteller van eerste persoon na alwetende derde persoon beweeg. In die eerste verhaal, “Twee Ballys op ’n skalieklip, 1985” word die geskiedenis opgestel. Hanna ry saam met haar ouers van die dorp af plaas toe ná ’n hewige bui reën en kry die hoogswanger Katie waar sy vasgevang in die middel van die rivier in ’n boom sit. Hanna se pa moet die buurman se boot gaan haal vir die reddingsoperasie. Hanna en Katie, wat maats is, se situasies kan op daardie stadium nie verder verwyderd van mekaar wees nie. Wat ’n heel onskuldige voorval skyn te wees, ten spyte van die fyn nuanses onder die oppervlak, het tóg ook ’n invloed op latere gebeure.

Wanneer Hanna in “Met afstandbeheer, 2010” haar seun se lyk moet gaan uitken, sit dit ’n proses in werking waar Hanna wéér vir Katie ontmoet. Maar nou is Katie een van vele wat weggetrek het van die plaas stad toe, op soek na ’n beter lewe, net om maar steeds aan die kortste end te trek.

Hoe hierdie gebeure Hanna se lewe beïnvloed en wat sy doen om dit te probeer verwerk, word met groot begrip geteken in “Uitrit”, die derde verhaal in hierdie afdeling. Hanna is nou ’n dosent en besluit om saam met haar studente na Geluksvlei te ry; hulle gaan ’n “genogram opstel van ’n tipiese gesin in die informele nedersetting” (95). Armoede, disfunksionele gesinne, oneindige sosiale en maatskaplike probleme, bendegeweld – dit alles word binne ’n uur of wat vir Hanna en die studente voorgehou. Maar Geluksvlei is nie húlle werklikheid nie, daardie tipe verlede is nie húlle verlede nie. Hanna en haar studente kan op meer as een wyse wegstap.

Een van die treffendste verhale in die bundel is “Mara se mooi storie” in die derde afdeling. (Soos in die tweede afdeling, draai al die verhale in die derde afdeling om een karakter.) Mara, die welvarende middelklas huisvrou, het behoefte om weg te kom, al meer en meer, en verkieslik ver weg. Tydens ’n naweek-wegbreek saam met haar man Nellis word Mara gekonfronteer met die “naaldekokervrou”, ’n dronk plaaswerker in ’n perspienk satyn-strooimeisierok wat kom inkopies doen op die dorp. Die naaldekokervrou word as slagoffer van die geskiedenis binne ’n onmoontlike situasie geteken. Sy verteenwoordig as ‘t ware daardie “skade” waarvan Helena gepraat het. En Mara se reaksie op die gebeure rondom die naaldekokervrou staan as aanklag wat menige leser behoort te verontrus.

In die laaste afdeling word dit duidelik dat Mara deeglik bewus is van die situasie waarin sy haar bevind. Maar sy semigreer in naweke weg, onderneem reise na Londen en Portugal, en gereelde ritte na die plaas Wolfheuwel, haar grootwordwêreld. Sy erken sy “verlang na haar verlede, ja, want dit is al een wat sy het” (140). En die hart van haar probleem bly: “Is daar ’n plek wat reg sal voel?” (119). Dít is die vraag waarmee Met koffer en kaart ook die leser treiter.

Ek keer terug na die openingsverhaal en die kunsjoernalis se toespraak, wat samevattend ook van hierdie bundel kortverhale gesê kan word: “Uitlewering en weerloosheid word ’n sterk tema. […] Uiteindelik word ’n monument gebou, iets wat die trauma opneem en absorbeer, en die vrywaring daarvan impliseer, en sluiting, ook vir die kyker. […] Die lydingsmomente baar iets, tower ’n kunswerk op, ’n monument wat uiteindelik wil staan in die teken van aanvaarding en vergifnis” (29).

Helena Gunter is ’n meester van die kortverhaal. Sy skryf nie “mooi kontreistorietjies” nie, sy skram nie weg van die waarheid nie. Sonder om verontskuldigend te wees, sê sy: kyk hoe lyk dit nou, en dís waar dit vandaan kom. En sy doen dit knap, met humor, groot begrip, en deernis. Met koffer en kaart is inderdaad ’n monument vir skade waarin die verlede en hede opgeneem word. Dit is ’n werk wat die leser uitdaag, maar uiteindelik ook ’n roete na aanvaarding en vergifnis suggereer.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top