Buitengewone debuut verwoord buitestanderskap

  • 0

in die buitenste ruimte
deur Danie Marais
Uitgewer: Tafelberg
Prys: R99,95
ISBN: 0624044580

Danie Marais se in die buitenste ruimte is veral om twee redes ’n buitengewone debuut. In ’n era van kort liriese uitbarstings bestaan die bundel grotendeels uit langerige tot heel lang praatverse. (Die langste gedig beslaan ses bladsye!) Verder is Marais die eerste van ’n jonger geslag “expats” wat hulle buitelandse ervaring poëties verwoord. (In die prosa het Manie de Waal dit reeds in 2003 gedoen met Trips.) Marais was nege jaar lank ’n vrywillige “balling” in Duitsland waar hy gestudeer en as ’n laerskoolonderwyser gewerk het.

Die spreker in hierdie gedigte bevind hom in ’n ekstreme staat van buitestanderskap (“in die buitenste ruimte”) – nie net omdat hy in ’n vreemde land is nie, maar ook omdat sy huwelik aan die verbrokkel is. In die gedig “Sondag laat – Barcelona” verwyt sy vrou hom dat hy “altyd êrens anders is”. As uitgewekene ervaar hy oorrompelende heimwee na Suid-Afrika en na sy kindertyd daar. Op bladsy 27 staan daar:

En as daar nie hoop vir Suid-Afrika is nie
is daar ook nie meer hoop vir my kinderdae nie.
Ek kan nie sonder my kinderdae nie.

En op bladsy 74 bely hy dat “nostalgie my kop lewend opvreet”.

Die slotreëls van die eerste gedig in die bundel spel hierdie tema treffend metafories uit:

… die hart se brûe bly onverbrand
selfs al woon jy ver
in ’n ander land.

Ongelukkig neig hierdie nostalgie plek-plek tot sentimentaliteit, soos in “Lank na die hartseer man”. Aan die ander kant gaan een van die beste gedigte in die bundel, die ses bladsye lange “Lea Andrews”, juis oor sy kindertyd.

As ek voorgangers vir hierdie bundel moes uitwys, sou dit Gert Vlok Nel en Breyten Breytenbach wees. Danie Marais se praatpoësie is egter ritmies minder meesleurend as Nel s’n. Sy verse is meer rasioneel en prosaïes. Kortom, hy mis Nel se bewoënheid, maar hy is beeldryker as die digter van Beaufort-Wes.

Hier en daar herinner Marais se beeldspraak nogal aan Breytenbach; vergelyk die eerste strofe van “Onder ’n somermaan”:

Sy slaap saggies in die kamer,
in die blou vrugwater van die na-nag
sit ek en ’n drankie op ons balkon en droom,
gister wat spin soos ’n kat op my skoot.

Uiteraard deel Marais en Breytenbach ook die balling-tema. Nêrens is dié ooreenkomste egter hinderlik nie. In die beste verse gaan Marais sy eie selfversekerde gang en maak hy eiesinnige beelde, soos: 

skielik
sien ek dat jy ongelukkig, diep ongelukkig is
soos ’n pikkewyn in ’n olieplas.
                                                 (bl 30) 

Dwarsdeur die bundel is daar ’n stilistiese en emosionele spanning tussen die verhewe poëtiese en die prosaïese alledaagse (veral die huweliksonmin en Duitsland se grou reënweer). Die verlange wek verhewe gevoelens en gedagtes wat gestalte vind in die talle verwysings na die maan (“Mense fladder soos motte om ’n maan van lank gelede”, bl 40) en in die verwysings na “elitistiese” digters en skrywers (WB Yeats, Robert Lowell, TS Eliot, Ted Hughes, Breyten Breytenbach, Samuel Taylor Coleridge, Saul Bellow, en ander). Hierdie verhewe vlugte word telkens getemper en selfs gebanaliseer deur die gebruik van slengtaal en deur verwysings na populêre liedjies, films en TV-reekse soos The Bold and the Beautiful. Die talle verwysings na Star Trek en Star Wars hang uiters funksioneel saam met die bundeltitel; vergelyk:

ek hang soos Luke Skywalker
aan die einde van The Empire Strikes Back oor die niks.
                                                         (Uit: “Middagslapie”)

Die digter besef self dat al hierdie verwysings tot interteksoorwoekering kan lei, daarom lewer hy by monde van sy Duitse vrou selfkritiek op hierdie hebbelikheid:

En jy sê bars

dat ek moet ophou ophou ophou
met my ewige
sweeping statements en grand gestures
dat ek, o,  « Herr Gott weiss » moet ophou
om vir jou goedjies te fokken quote. 
                                                                         (bl 71)

Selfs al neig afsonderlike gedigte soms tot wydlopigheid en onsamehangendheid, vorm die bundel as geheel ’n stewige eenheid. Dit is ’n gekondenseerde outobiografie van ’n fyngevoelige digter wat weet hoe om sy woorde én sy trane te slyp (bl 39).

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top