11 Kwatryne deur Johann de Lange

  • 3

Die uittog

Jong stryders stort neer op die grond
& bloei heroïes, die dood se gasie.
Vertrou nie die leë heraldiek van bloed
in die aantog van generasies.

Genoot

Die genot van ’n stoot in die vloot,
in die hawe of op die oopsee
met ’n son-brons vlees- & geesgenoot,
soos maan & see lê in neem & gee.

Afrika my Afrika

Afrika my Afrika die lang vaal skene
van jou winde vlugtend op die voetpad
Afrika my Afrika jou kinderlykies
in die vleie die riete die slykbad

Sossusvlei

Sossusvlei se pan is vliesdun blou,
of as dit droog is ’n wit krakeluur
met drie swart bome wat strak grou
in die lug, & geel duine sover ’n oog kan tuur.

Op ’n parkbankie
Oorvertel

Drie dik polieste dromend op ’n ry,
’n vierde het elders sitplek gekry:
soos die Butcher Boys van Alexander
is elk vlesig deur sy droom verander.

Die Florentynse Pietá

Eens bestem vir sy grafmonument
het hy dit grimmig afgeskryf, bedek:
dalk was dit nie op peil nie, onvoltooid,
of die skoonheid ontsier deur ’n vlek.

Droom van ’n slaapwandelaar

… en terwyl die dag my mond
tot mond asem probeer gee,
loop jy soos Friedrich se monnik
by Hermanus langs die see.

Jonker

En hy wat trouloos langs my lê
my dronker jonker, my jonker
van strooi, wil dit, vir nou, só hê,
want ons albei jaag die donker.

Deur die woord

Deur die woord, en in-die-woorde-van
raak ons deelagtig aan tallose selwe, vrou of man,
eras, beskawings, besielings, siele & rites,
& hergrif ons geskiedenis teen gewelwe as mites.

Begraafplaas van die see

Die grou waterige begraafplaas
smyt sy oorskot uit getrou aan die gety,
opdrifsels langs die hoogwatermerk:
skulpe, skelette, seemanstou, sag gebrei.

Op die rotse

Sy mossel het al baard, sien ek
as die swemmer buk om ’n skulp
op tel wat ’n helder straaltjie pis,
dan dig trek soos ’n denim se gulp.

  • 3

Kommentaar

  • coomans-mylemans

    Wat mooi. Kom uit België, spreek geen Afrikaans, maar kan het wel lezen, heeeel mooie poësie.

    • Bert Verschuren

      Kom ook uit België, lees regelmatig boeken in 't Afrikaans, maar spreek het ook niet.
      Groetjes,
      Bert

  • coomans-mylemans

    Waar koop jij je Afrikaanse boeken, of lees je alleen via internet? Veel liefs marleen, mooi he dat Zuid-Afrikaans.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top