Zimbabwe sonder Mugabe: Wat nou?

  • 0

Wat het gebeur?

Ná 37 jaar as politieke maghebber in Zimbabwe, aanvanklik as eerste minister en daarna as president, het Robert Gabriel Mugabe – wat volgende jaar 94 sal wees – “vrywillig” op Dinsdag 21 November 2017 as staatshoof bedank. Binne ’n week is Emmerson Mnangagwa (bekend as “Lacoste” / “die Krokodil”) as nuwe staatshoof aangestel.

Dié gebeure is voorafgegaan deur ’n bloedlose staatsgreep toe genl Constantino Chiwenga, die opperbevelvoerder van die Zimbabwiese weermag (ZDF, Zimbabwe Defence Forces), die President en sy gesin onder huisarres geplaas het. Dit het ook die steun van die Mnangagwa-faksie in die regerende Zanu-PF-party weggedra, dog nie van die Zimbabwe Police (ZP) van generaal Augustine Chihuri nie. Die polisie en ongeveer vier ander ministers was lede van die G40-faksie wat lojaal aan die Grace Mugabe-faksie was. Dit sluit persone soos ministers Jonathan Moyo, Ignatius Chombo en Saviour Kasukuwere in.

Dit het gedui op ’n beduidende skeuring in die veiligheidsmagte wat vir baie lank die Mugabe-“diktatuur” in stand gehou en help plunder het.

Hoekom het dit gebeur?

Die hoofrede vir die “staatsgreep” was die persona van Grace Marufu Mugabe, die Suid-Afrikaansgebore jonger vrou van die President – in Zimbabwe soms bekend as “Gucci Grace” of “The First Shopper”. Haar lot was verseël toe sy ongeveer twee weke vantevore die President oorgehaal het om Emmerson Mnangagwa van sy pos as adjunkpresident te onthef. Dit, het sy geglo, sou haar in ’n gunstige posisie plaas om die volgende staatspresident te word wanneer Robert Mugabe eendag uittree. Sy het haar egter met die Krokodil-faksie misgis.

Was daar ’n uittreeplan?

Aanvanklik wou die weermag plus die Mnangagwa-faksie van Zanu-PF egter met die opposisie saamspan om Robert Mugabe onder ’n staat van beskuldiging te plaas. So ’n stap sou hom van alle diens- en finansiële voordele ontneem het. Tog is op ’n uittreeplan besluit indien Robert Mugabe self sou bedank, wat hom sou vrywaar van vervolging. Dit het die weg gebaan vir Mnangagwa om op Vrydag 24 November 2017 as staatspresident ingehuldig te word.

Wie is Emmerson Mnangagwa?

Die “Krokodil” is 75 en, soos sy voorganger, ook ’n Masjonalander (Mugabe ’n Zezuru en Mnangagwa ’n Karanga van die Masvingoprovinsie, wat ’n welvarende landboustreek was) en ’n lewenslange ondersteuner van Mugabe. Soos Mugabe, was ook hy tydens die laaste blankebewind ’n politieke gevange wat vir tien jaar in Kwekwe en die destydse Salisbury (Harare) aangehou is.

Beide het gedurende die 1960’s militêre opleiding in die (“kommunistiese”) Volksrepubliek van China ondergaan. (China is tans die belangrikste handelsvennoot in Zimbabwe.) Mnangagwa self het China onlangs besoek, terwyl Chiwenga, wat die “staatsgreep” gelei het, ’n week vantevore in China was. (Dis ’n vraag vir ’n ander dag, maar wat het China van hierdie “staatsgreep” geweet?)

Ná onafhanklikwording van Zimbabwe in 1980 het Mnangagwa in talle Mugabekabinette gedien. Hy was ook die implementeerder van die Matabeleland-menseslagting (die sogenaamde Gukurahundi) in die vroeë tagtigs toe meer as 20 000 mense van Matabeleland, wat die hoofopposisie was, uitgemoor is.

Eliteverryking: Mugabe en Mnangagwa en kie

Eliteverryking het in drie sarsies plaasgevind: die oorlog in die Demokratiese Republiek van die Kongo (DRK), grondbesetting en diamante. Vandag is Mnangagwa een van die rykste Zimbabwiërs. Hy is ’n belangrike rolspeler in die “nuwe elite” wat, soos Mugabe, voordeel uit bovermelde getrek het.

Dit het begin toe ’n rebellie in die mineraalryke Kivuprovinsie van die DRK in 1997 uitgebreek het. Dit was ’n opstand teen die beleid van pres Laurent Kabila van die DRK. Dié rebellie vaar egter so goed dat Zimbabwe (en Namibië en Angola) besluit het om Kabila in 1998 met militêre bystand te hulp te snel. Die ooreengekome beloning sou hulpbrondverdeling wees (bv diamante, goud en koltan) met plantasie- en mynkonsessies wat aan die ZDF toegeken is.

Die uiteinde was dat die ZDF ’n vennootskap met die Mining Development Corporation van Zimbabwe (MDCZ) aangegaan het wat spesifieke toegang tot die diamantmyne van Mbuji-Mayi in Kasai gehad het. So het winsdeling ontstaan.

Dit was egter so winsgewend dat Robert Mugabe opdrag aan Emmerson Mnangagwa gegee het om ’n soort staatskorporasie getiteld Zimbabwe Defence Industries (ZDI) te stig waarvan senior ZANU-PF-lede, senior lede van die weermag en polisie, die Central Intelligence Office (CIO), en direkteure van die Zimbabwe Consolidated Diamond Company (ZCDC) aandeelhouers is. Oorhoofse beheer berus egter by die Zimbabwiese Reserwebank (ZRB) en nie by Finansies of Tesourie of die weermag nie. Die sleutelfiguur in die Reserwebank was Gideon Gono. Hy was glo teenwoordig toe Mugabe uiteindelik op 21 November bedank het.

Die volgende geleentheid vir eliteverryking het vanaf 2000 plaasgevind toe grondbesettings van blankeplase deur die Mugabe-bewind aangemoedig is nadat die ekonomie begin steier het. Die ZDF het nie spesifiek aan die grondvergrype deelgeneem nie, maar wel die War Veterans Association (oudvegters van die bevrydingstryd onder leiding van “Hitler” Hunzvi) met die polisie wat toegekyk het sonder om eiendomme te beskerm.

Uiteindelik is meer as 165 000 swart gesinne op ongeveer 6 000 blanke plase hervestig. Die beste grond met die produktiefste plase (wat 6,2 m ha beloop het) is egter aan 18 289 uitgesoekte politici, staatsamptenare, soldate en sekere sakemanne op die basis van “okkupasieregte” (nie met titelaktes nie) toegeken – basies was alle plase toe in staatsbesit. So het “eiendomloosheid” ontstaan waarsonder kollateraal vir bankkrediet in ’n moderne staat nie kan funksioneer nie. Later het die invloedrykstes wel 99-jaar-huurpag bekom waarvoor bankkrediet wel beskikbaar is en “gekonnekteerde” bevoordeeldes nog plase teen lae pryse aangeskaf het.

Minstens vyf name wat die afgelope weke prominent in die nuus was, tel onder die bevoorregtes wat plase ontvang het – byvoorbeeld Robert en Grace Mugabe (16 plase); Chiwenga en sy vrou Jocelyn wat ’n uiters winsgewende blom- en groenteplaas afgevat het; en Mnangagwa, wat self met minstens drie produktiewe plase beloon is.

’n Derde verrykingsgeleentheid het gekom met die ontdekking en bemarking van die opbrengste van die diamante van Marange suid van Mutare. Die ZCDC is die groot aandeelhouer hier en is die enigste instansie wat mynlisensies toeken.

Die Mugabe’s is ’n spesiale geval. Vir die 16 plase het hulle minstens twee groot maatskappye gestig, te wete Gushongo Holdings en Alpha & Omega Dairies. Dan gebruik hulle ook die Queensway Group of Hong Kong as buitelandse bankiers vir transaksies in Suid-Afrika, Maleisië, Singapoer, Hongkong en Dubai. Dit is inligting waaroor die ZRB beskik en waarin Gideon Gono – wat toe bankhoof was – dalk ook ’n belang het. ’n Mens wonder steeds wat van hierdie inligting in die “uittreeplan” verdiskonteer is, en of “vrywaring” slegs vir die Krokodil-faksie beskore is en nie vir die G-faksie nie.

Wikileaks raam die Mugabe-rykdom op een miljard VSA-dollar oftewel R14 miljard. Die privaatwoning Blue Roof in Borrowdale is glo R140 miljoen werd. Dit bly behoue. Mugabe het dus ’n “sagte landing” gehad.

Omdat Mugabe se “vrywillige” uittrede nie op ’n totale bewindsverandering uitgeloop het nie, bestaan daar vele kontinuïteite met die verlede: dis byvoorbeeld dieselfde regerende party (Zanu-PF) (minus die G-faksie) wat regeer, dieselfde weermag (ZDF), dieselfde Emmerson Mnangagwa, dieselfde Defence Military Industries (DMI) en dieselfde Reserwebank (wat almal se geheime ken) wat steeds funksioneer. Met die skryf van hierdie artikel was twee nuwe ministers reeds aangestel: die voormalige minister van buitelandse sake het sy pos behou, en Patrick Chinamasa, wat eens minister van finansies was, is in die pos heraangestel. In sy vorige pos het hy Europese-Uniegelde gesoek vir beperkte vergoeding. Daar het egter niks van gekom nie.

Dit wil dus voorkom of die uittreeplan nie vrywaring of amnestie vir ondersteuners van Grace Mugabe insluit nie, want Ignatius Chombo, ’n voormalige minister van finansies en ontvanger van vyf plase, is hierdie week gedagvaar vir bedrog, terwyl ander G40-ondersteuners, soos Jonathan Moyo, verban is.

’n Bewindsverandering in 2018?

Slegs ’n totale bewindsverandering by die stembus kan ’n wesenlike verskil maak. Dit kan ook gebeur slegs indien die huidige verdeelde opposisie in tradisionele opposisievestings soos Manicaland, Matabeleland en die groot stede soos Harare en Bulawayo nogtans probeer saamwerk, mobiliseer en organiseer in die algemene verkiesings van middel-2018. Die grootste onsekerheid is steeds die (on)partydigheid van die verkiesingskommissie. Tot dan moet nie te veel verwag word nie.

Uitdagings vorentoe?

Die grooste uitdaging vir wie ook al ná 2018 regeer, is die ekonomie. Hier is die grootste prioriteite landbouproduksie, ’n deursigtige mynwesebeleid, verslapping van die 51%-verinheemsingsbeleid vir alle groot en klein maatskappye en ’n stabiele geldeenheid met ’n versterkte bankwese.

Suid-Afrikaners en voormalige kommersiële boere in Zimbabwe stel veral belang in Mnangagwa-Chinamasa se grondpolitiek: onteiening van sogenaamde blankeplase en vergoeding daarvoor? Die gerug is dat die President ook nou geld soek vir boerevergoeding in veral sy tuisprovinsie, Masvingo.

Artikel 72 van die (nuwe) grondwet van 2013 is egter ’n gegewe en die bewoording hiervan impliseer dat die grondbesettingsprosedure sedert 2000 onomkeerbaar is. Dit is vandeesweek deur die nuwe staatshoof bevestig.

Die storie van algemene vergoeding aan 6 000 blanke boere klink na fopnuus, want Zimbabwe beskik nie oor die meganismes om oor vergoedings soos markwaardes (in 2000 of 2017?) te besluit nie. Die staatskas beskik ook nie oor geld om enige substansiële vergoeding aan boere te betaal nie, want die regering is bankrot (byvoorbeeld: 90% werkloosheid; en staatskuld is 120% van die bruto binnelandse produk, wat groot lenings van die Wêreldbank en Internasionale Monetêre Fonds insluit waarvoor daar nie terugbetaalgeld is nie). Dit beteken dat die fiskus ’n wanbetaler is en nie behoorlike vergoeding kan bekostig nie. Ander beleggers, soos China en Suid-Afrika, sal ook nie hiervoor instaan nie. Die punt is: internasionale lenings vir Zimbabwe is so skaars soos hoendertande. Maar as iets goed uit Masvingo kan kom, sal dit ’n stap vorentoe wees – maar wat van vergoeding in die ander nege provinsies wat tans soos ’n hersenskim lyk?

Beleggers in byvoorbeeld landbou, toerisme en mynwese sal wel in ’n beleggingsvriendeliker Zimbabwe belangstel. Hier dink mens aan Brittanje, Suid-Afrika, China en Nigerië wat reeds belangstel in voedselproduksie en steenkoolmyne.

Meer vrae as antwoorde

Wat vorentoe gebeur, sal van Mnangagwa en sy (“nuwe” of “ou”) span afhang. Die vraag is egter: Kan ’n Krokodil in byvoorbeeld ’n Krismisboom verander? Vir dié antwoord sal die wêreld nog lank moet wag.

Zimbabwe: ’n oorsig

Pieter Labuschagne
Seminare en essays

"Mnangagwa is strydig met die Grondwet in die plek van Mugabe deur Zanu (PF) as president aangestel. Die Grondwet bepaal dat die ander visepresident, Mphoko, as president moes waargeneem het en dat ’n nuwe verkiesing binne 90 dae gehou moes word. Hierdie oortreding van die Grondwet is nie ’n goeie begin vir die nuwe bewind nie."

 
Revolution à la Zimbabwe

Helena Rudolph
Opinion

"Whereas mother nature caused the failing French wheat harvests, father Mugabe was responsible for the shortage in Zim through chasing away those who produced the wheat."

 
  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top