Zille-gate: Die EFF sê dankie

  • 10

Helen Zille het enige taktiese voordeel wat die DA gehad het in die aanloop tot die 2019-verkiesings met 140 karakters op ’n slag uitgewis. Nie net dit nie, sy het haar eie nalatenskap as die eerste demokratiese DA/DP-leier wat die ideaal van ’n nierassige party kon lewer, onherstelbaar geskaad.

Die eerste twiets waarin sy kolonialisme geprys het, kon dalk nog afgemaak word as oorentoesiasme na haar oorsese reis. Haar keuse om daai twiets in daaropvolgende artikels en dies meer te verdedig, dui egter op ’n ingesteldheid wat aansienlik minder onskuldig is. Die meriete van haar argument oor kolonialisme is nie nou ter sprake nie. Die uitslag van die dissiplinêre verhoor is wel.

Wat ’n gesoute politikus soos Zille moes besef het voordat sy haar tot sosiale media gewend het, is dat enige omstrede uitspraak wat sy maak, op die party waaraan sy behoort sou reflekteer. Daar is nie so iets soos ’n private politieke uitspraak deur ’n openbare politieke figuur nie. Selfs indien sy nie voor die eerste twiet besef het dat haar uitsprake omstrede is nie, moes sy dit besef het uit die reaksie daarop.

Die uitslag van die dissiplinêre verhoor laat gemengde gevoelens. Sy is geskors vanuit alle partypolitieke aktiwiteite, maar behou haar posisie as premier van die Wes-Kaap. Waarskynlik beskou sy dit as ’n oorwinning, maar dit is ten beste ’n Pirrhiese oorwinning. Die DA het heelwat steun en legitimiteit onder swart kiesers verloor oor die twiets en die gewaande traagheid waarmee die DA daarop reageer het. Daar is ongelukkigheid onder wit kiesers omdat hulle reken dat Zille niks verkeerd gedoen het nie, en onregverdig behandel is. Daar word verder wyd bespiegel dat daar druk op Maimane geplaas was deur ryk, wit skenkers om Zille te behou of hulle geldelike steun te verloor. Of dit korrek is, is onseker. Dis vir seker aanduidend van ’n persepsie dat die DA maar net ’n gesofistikeerde vorm van blackface beoefen, met Maimane as die front en Zille steeds as die persoon wat die besluite (en beursie) agter die skerms beheer. Zapiro beeld dit uitstekend uit, met ’n skets waar Maimane agter die stuur van ’n motor sit, chauffeurpet op die kop. Zille sit agterin, selfoon in die hand, en sê: “Laai my by my dissiplinêre verhoor af. Jy hoef nie te wag nie, ek sal laat weet wanneer jy my kan optel.”

Dit skaad Maimane se beeld as leier van die DA, iets waarop die ander politieke partye dadelik gespring het. Die meeste Zille-ondersteuners voel natuurlik vere vir Maimane se beeld. In werklikheid beteken verminderde steun vir Maimane verminderde steun vir die DA. Die grootste onontginde mark vir nuwe kiesers vir die DA is onder swart kiesers. Hulle sal nie ligtelik stem vir ’n party wat onder die gewaande duim van ’n koloniale apologeet en, in die woorde van Malema “unreformed racist”, staan nie.

Die EFF het natuurlik alreeds reageer op die uitslag van die verhoor. Hulle verklaring maak dit duidelik dat hulle geen alliansie of koalisie meer het met die DA nie. Dit beteken dat in al die munisipaliteite waar die DA voorheen op EFF-steun kon staatmaak, hulle nou op twee fronte moet veg: teen die ANC en teen die EFF. Die grootste ramp vir die DA se 2019-ambisie is ’n moontlike verbetering in ANC-EFF-verhoudinge. Dit sal waarskynlik nie gebeur nie, maar een ding is seker: die EFF het, myns insiens korrek, die situasie interpreteer as dat hulle nie meer die DA nodig het om munisipaliteite oor te neem nie.

Daar is heelwat kritiek wat teen Malema en sy EFF geopper kan word. Dat hulle toondoof is en nie die barometer van die nasie se temperatuur kan lees nie, is nie deel daarvan nie. Hulle weet presies waar en wanneer om politieke munt te slaan. Zille-gate het hulle genoeg ammunisie gegee tot in 2019. Elke dag dat Zille langer ’n openbare amp beklee (en ’n selfoon besit), gee hulle toenemend meer politieke kapitaal.

Die DA kon waarskynlik in 2019 die regerende party geword het. Zille het egter seker gemaak dat die party die marathon mank-mank binnegaan, teenoor ’n jong, fikse atleet wat nog nie ’n kiesersvoet verkeerd gesit het nie. Die verkiesing is effektief op ’n silwer skinkbord aan die EFF gegee.

Dis nie net die DA wat dan die prys betaal nie. Dis die hele land. En dìt is Zille se sonde wat nie vergewe kan word nie.

  • 10

Kommentaar

  • Lagwekkend! Die rubriekskryfster wil nou profeet speel met haar absolute stelling die EFF is in 2019 die volgende regering: "Die verkiesing is effektief op ’n silwer skinkbord aan die EFF gegee."
    Dan die "fake" voorlegging opgedis as werklikheid verbloem met woorde soos: "daar word verder WYD (?) BESPIEGEL (duimsuig as feite-voorstelling) dat daar druk op Maimane geplaas was deur ryk, wit skenkers om Zille te behou of hulle geldelike steun te verloor." (Altyd die "wit" sondebokke!)
    Nog "fake" voorlegging nl: "waarin sy (Hellen) kolonialisme GEPRYS(?) het." Hellen het kolonialisme glad nie geprys nie. Sy het enkele voordele vanuit kolonialisme aangehaal wat swartes bevoordeel het.
    Hierdie rubriek is alles behalwe gebalanseerd en objektief geskryf.

  • Hans

    Omtrent al jou tussenwerpsels bevat die sin "Ek wonder". Pleks om in "wonderwêreld" te leef, plaas jou voete plat op die aarde.

  • Stem heelhartig met die artikel saam. Zille het seker gemaak dat die DA met sy wit engelse liberale (eintlik kas-konserwatiewes) aan die stuur na 2019 met skok sal agterkom dat hulle die 3de grootste party in die land is.

    • Sarie

      Jy en die rubriekskryfster is seker van dieselfde kleed. Albei van julle maak ongegronde stellings sonder 'n sweem van feite. In 'n tussenverkiesing waar die DA 'n setel aan die EFF verloor sal alleenlik haar en jou stelling staaf, en gekyk na al die DA-setels (munisipaal en nasionaal) is die demografiese samestellings daarvan (swart bemagtigdes en wit) dat dit moontlik is, heel onwaarskynlik. Die EFF sal alleenlik onder ANC werklose geledere verdere setels kan afvat.

  • Willem van den Berg

    Ek is nie 'n Zille-aanhanger nie maar, wie Bettina Wyngaard ook al is, sy is, in my nederige en leke-opinie nie 'n bekwame politieke analis nie; sy is nie objektief genoeg nie; sy toon nie die onpartydige begrip, feitelike insig of regverdige oordeel om 'n geldige opinie te lug nie; haar artikel blyk om nie sonder kruipende agenda te skryf nie; haar verwysingsraamwerk was dalk ook nie wyd genoeg nie; sy het nie die moed om die onpopulêre waarheid en feite te verdedig nie; sy het in die geval ook nie die saak beredeneer voor sy die artikel geskryf het nie.

  • Gustaf Claassens

    Ek dink nie vir 'n oomblik dat Helen Zille met haar uitspraak skielik 'n rassis geword het nie, haar hele lewe spreek tot die teendeel. Ek glo ook nie vir 'n oomblik dat sy die twiet oor kolonialisme die kuberruim ingestuur het met die bedoeling om te skok, te na te kom, seer te maak of te verkleineer nie. Punt.
    As mense hiermee saamstem is daar nie 'n debat nie en hoef daar geensins asems op die gebeure gemors te word nie. Zille se twiet was 'n oorwoë mening gebaseer op 'n historiese werklikheid. Niks meer, niks minder nie.
    'N TWEEDE WERKLIKHEID HET BYGEKOM TOE DAAR SKIELIK 'N GEGONS HIEROOR ONTSTAAN HET. Iemand met 'n aanvoeling vir die sensasionele het hier 'n gaping gesien, dit gevat en "ONDERSTEBO" aan die groot klok gaan hang in die hoop dat emosies sal opwel nadat dit genoeg "lug" gekry het en verskillende mense, verskillende menings daaraan sou toedig ... BYBEDOELINGS met ander woorde, EN DIT HET!
    In 'n diep verdeelde samelewing soos ons s’n is die "velle" van ons mensies maar erg dun wat verstaanbaar is. Dit verskil nie net in kleur nie, party s’n is dik en ander s’n weer dun. Baie, baie dun! Namate verpolitisering begin toeneem het, het die intensiteit van die debat selfs 'n aks opgegaan in temperatuur. Wat op die ergste as 'n misverstand of glips gesien moes word, het nou ontaard in 'n reusefout en twispunt in die oë van talle. Slagordes soos Bettina tereg gesê het stelling ingeneem en mense is in die visier gekry. In sommige gevalle is ego's aangeraak wat dinge kompliseer. Dit werk so, veral as iets aan die groot klok gehang word en mettertyd 'n reukie kry. Die gevolg hiervan is dat mense wat ongemaklik begin raak, begin kant kies - dit wat opposisiepartye wou hê en die DA wou vermy.
    En nou is dit nie maar net nog 'n twiet van Me Zille nie. Dis nou baie meer as dit, iets waarop ek nie wil ingaan nie aangesien ons heel goed ingelig is hieroor. Daar is menings en verduidelikings beide kante toe oor die interpretasie en bedoeling van die twiet; hoe dit gesien en ervaar word asook oor-en-weer beskuldigings en so meer. En ja, dis OP HIERDIE PUNT waar die 'slim' mense begin inkom en dinge begin "verklaar", want daar's nou genoeg stof vir debat en allerlei artikels, rubrieke en geskrifte en wie weet, waarskynlik ook 'n potensiële titel vir 'n Ph.D.-verhandeling iewers in die toekoms. En glo my, dis nog lank ook nie die einde hiervan nie, veral namate verkiesings nader kom en stemme uitgebring moet word ... iewers sal Me Zille se twiet weer in die hoofstroom-nuus wees.
    Bettina sê: "Die meriete van haar argument (Zille s’n) oor kolonialisme is nie nou ter sprake nie. Die uitslag van die dissiplinêre verhoor is wel." Hmm, gerieflik. Ons behandel dus liewer die simptome, nie die beginsel/siekte self nie. Ekself aanvaar en verstaan dat hierdie gebeure, omdat dit so ver gevorder het, verskillende mense en verskillende groepe verskillend raak. Dis nie vreemd nie en sal altyd so wees wanneer sulke begrippe aangespreek word en 'n debat ontlok.
    Wat my kommer is dat die beginsel van vryheid van spraak subtiel onder beleg geplaas word. Indien uitsprake wat waar is, maar by implikasie aanstoot kan gee, gemaak word, kan dit lei tot dissiplinêre aksie en selfs skorsings. En dalk is dit die begin van iets veel erger waaraan ek nie eens wil dink nie ... dat sulke tipe standpunte voortaan as haatspraak gesien kan word en dus kriminele aksies tot gevolg kan hê. Iets wat reeds gebeur maar waar mense van verskillende groeperinge glad nie oor dieselfde kam geskeer word nie ... Is dit in die praktyk, wat politici betref, nie maar wel 'n geval van "Africa for the Africans” nie?! En nee, liewe mensies, julle wat wit is en julleself "Africans" noem in 'n poging om 'n knipoog en duim-op van hulle wat die werklike draers van die begrip is te kry, julle word agter jul rug uitgelag. "African" is in historiese terme eintlik maar net 'n territoriale begrip, soos in "Afrika-kontinent" waarvan die veronderstelling in redelike terme 'n verwysing na swartmense is. Wat is die taal van Africans? sal ek graag wil weet. Ook sal ek wil weet wat politici in ANC, EFF en ander geledere bedoel as gepraat word van "Verafrikanisering" wat moet plaasvind ten einde almal op 'n gelyke voet te kry. Moet die wit Afrikaanssprekende en Engelssprekende dinge soos taal, kultuur, tradisies en gebruike prysgee om in te skakel by die van swart Afrikane? Hoe praat mens van 'n reënboognasie as die reënboog net een kleur mag wees?
    Ons weet almal dat daar vandag nog in ANC- en EFF-kringe na witmense as kolonialiste verwys word, veral in ekonomiese debatte waar die skuldlas nou 'n soort "belastinglas' moet word. Vandaar radikale ekonomiese hervorming waar mynbase hul "rykdom" aan Afrikane moet oordra ... swoesj, net oordra.
    Suid-Afrikaners moet mekaar respekteer. Mense hoef nie van mekaar te hou nie maar kan minstens poog om mekaar te verdra. Daar's niks moeilik daaraan nie. Ons almal moet te alle tye poog om regverdig te wees en selfs vir mekaar op te staan. Ons moet poog om die waarheid na te jaag en nie ander te verkleineer of krenk nie. Elke mens se menswaardigheid moet erken word ... Ja, alles wat ons reeds weet. Dit moet net gedoen en geleef word. Terselfdertyd moet ruimte gegee word vir verskillende sieninge in die naam van vryheid van spraak en moet verskille nie altyd as rassisme of wat ook al afgemaak word nie. Om martelaar te speel bring mens ook net sover ... En wat Me Zille betref; aanvaar maar dat wanneer die DA-uitslae vorentoe dalk nie so goed mag lyk as waarop baie gehoop word nie, die vinger in u rigting gewys sal word. Dis die gebruik in ons kontinent soos u weet en dis u keuse of u weer verskoning sal wil aanbied of nie, nie dat dit REGTIG sal help nie. Vir Mnr Maimane lê die toekoms in die swart getalle daarbuite en iemand wat dit nie verstaan nie, wil nie of is bloot "blind."

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top