Ysige liefde

  • 5

Dis ysig vanaand. Ekstra kombersie ysig. Twee aparte lywe ysig.

George staan vir ’n oomblik en kyk na die verweerde lyf in die enkelbedjie, dan vou hy die sagte grys kombersie om haar voordat hy die beddegoed weer om haar benerigheid reg skik. Vanaand voel ’n mens die sneeu op die bergtoppe in die windjie. Sy is so maer en broos, haar vel so dun dat sy maklik koud kry. Boonop is haar metabolisme aangetas deur die langdurige medikasie na die operasie jare gelede, nog voor haar menopause. Hy probeer homself dwing om nie te dink aan die tyd toe haar vriendinne gesê het dis normaal om warm gloede te kry nie. Om terug te dink aan die tyd wat hy so bitter was en gevoel het dat ’n groot deel van sy lewe hom ontneem is, doen hom nooit goed nie. Wat ’n hoogtepunt moes wees toe die kinders selfstandig was, het ontaard in ’n vreemde tydperk wat hy nie in sy wildste drome kon voorsien nie. Nagmerries is nie drome nie. Dis makliker om terug te dink aan die beroepsleer wat hy doelgerig en bestendig geklim het, dit het hulle finansieel gemaklik gemaak en hy het uitgesien na reis en ander dinge wat hulle ontbeer het om die twee dogters groot en geleerd te kry. Twee maats. Hy vryf oor sy oë en skud sy kop, asof hy die realiteit kan wegskud, draai dan terug na die bondeltjie bene, vel en hare.

Die donsduvet en ekstra kombers is nie genoeg vanaand nie en hy wou nie wag dat die personeel hulle laaste rondtes doen nie. Nina vroetel effens dieper in die sagtheid van die grys fluwelerigheid van die kombersie en vir ’n oomblik is daar ’n trek om haar mond wat wys dat sy die sorg voel. Die enkele grys haarsliert wat bokant die beddegoed vlerk, neem hom terug na die dae wat hy sy hande kon verstrengel in haar hare, as hy saggies weer teruggekruip het in die bed en met sy lyf teen hare gelê het, totdat haar sagtheid outomaties begin reageer het op sy nabyheid en hulle met onderlywe teen mekaar en dan amper vanself ín mekaar gegly het. Maar toe was haar hare swart, soos haar oë net voor ... Hy stop doelbewus sy gedagtes, die bitterheid oor wat kon gewees het. Oor wat móés gewees het. Oor wat voortydig nie meer was nie, toe hy in sy fleur was.

Hy gaan sit op sy bed en kyk vir haar totdat sy rustig is en hy seker is dat sy gemaklik is, voordat hy by sy rekenaar gaan sit. Dit knaag al die hele dag aan hom dat hy nog nie eers vandag sy koerante klaar gelees het nie, normaalweg doen hy dit douvoordag, maar Nina was van vroegdag af onrustig en hy moes kort-kort help of aangee of vryf, daar was ’n ongewone rusteloosheid in haar. Voordat hy op sy ‘Koerante’ folder in sy Bookmarks kliek, kyk hy eers gou of Ona se groen kolletjie by Messenger verlig is wat aandui dat sy aanlyn is.

“Jy al in die bed?”

“Nee, en jy? Is Nina nou rustiger?”

“Ja, sy slaap nou. Dankie weer vir vandag! Lees gou die koerante klaar.”

“Night!”

“Dankie, nè?”

“XXX”

As hy fyn luister, kan hy Ona se bewegings in die kamer langsaan hoor. Dit was sy voorwaarde toe hulle na die kleiner woonstel in die aftreeoord getrek het, dat hy twee woonstelle langs mekaar koop. Met die laaste skuif in sy lewe het hy vir die eerste keer sy eie behoeftes ook op die weegskaal gepak – sy eie, en dié van Ona. Die groter eenhede in die aftreeoord was wel geriefliker, maar Nina se versorging het net eenvoudig te veel vir hom geword. Haar emosionele versorging veral. Hy kon net nie meer alleen die volle verantwoordelikheid dra om ten volle vir ’n ander mens verantwoordelik te wees nie. Dit was erg genoeg, die las om haar emosioneel te dra het oor die jare net erger geword, maar toe die fisieke versorging bykom, moes hy ’n besluit neem.

Die blokkie met Ona se naam verskyn onderaan sy skerm, voordat hy kan kliek op New Message.

“Hoekom slaap jy nog nie?”

“Ag ek sit sommer en dink aan vandag. Jirre, Ona! Hoe kan jy my so help met Nina?”

“Ag dit voel half of sy my verantwoordelikheid ook geword het.”

“Jy weet, toe ons vyf  jaar gelede hier ingetrek het, het ek die hele tyd skuldig gevoel teenoor Nina, maar meer nog teenoor jou. Hierdie tweesnydende swaard het skerper geword met die jare. Ek weet nou nog nie wat sou die beste oplossing wees nie.”

“Jirre, George.”

“Ja, ons jirre-jirre mekaar nog al die jare, maar wat het dit gehelp?”

George kyk op as hy Nina se onrustige gekarring sien. Hy vou sy Kindle toe en gaan sit op sy bed. Die spasie tussen die twee enkelbeddens voel skielik soos ’n onoorbrugbare kloof. Hy skakel sy rekenaar aan.

“Ona, ek kan nie meer nie, ek is klaar.”

“???”

“More doen ek aansoek vir Nina vir Fase 2 tengersorg. In die tengersorgeenheid.”

“... ”

“Ek doen nou wat ek twintig jaar gelede moes gedoen het, ek skei van my vrou, al is dit nou net emosioneel en nie wettig nie. Dit was ’n onreg teenoor almal van ons toe ek nie wou skei nie, ter wille van haar. Dit het haar uiteindelik ook nie gelukkig gemaak nie, maar vaster in daardie neurotiese spiraal gedraai, omdat sy my emosionele afstand voel groei het.”

“Ek wens jy kon omstap dat ons kan gesels.”

“Ek ook, Ona, ek ook!”

“As ek maar tyd kon terugdraai!”

“Ja, George, as jy maar kon. Maar moenie so hard op jouself wees nie, jy ...”

“Hou óp om so fokken verstandig te wees en alles net te aanvaar!”

Die geluide van sy sleutelbord waarop hy vinniger en harder as gewoonlik tik, laat Nina onrustig vroetel en die beddegoed skuif af. Hy staan op om dit reg te trek. Van die baie was, het die sagtheid van die silwergrys kombersie  ̶  wat hom aan die begin aan gepoetste platinum laat dink het met diamantjies waar die lig dit gevang het  ̶  skielik pluiserig laat word en dit voel korrelrig onder sy vingertoppe, eelterig van die jare voor die rekenaar. Hy streel oor die eens blinkgladde kombers, skielik ’n dowwe grysgrou en let op dat dit presies die kleur van Nina se hare is.

“George?”

“Ona, ek is jammer. Regtig.”

“Ek is te bang om te sê ek verstaan ...  😉 Maar dis goed as die ridder soms ook van sy perd affoeter, anders sou ek sukkel met jou.”

“Ona ...”

“Jirre, George! Jy moet net doodseker maak dat jy rustig is oor jou besluit.”

“Glo my, ek is. Ek kán nie meer nie. Vanaand het ek jou sagtheid nodig, wat ek myself al die jare ontsê het.”

George glimlag in sy enigheid as hy dink aan haar sagtheid, wat hy beter ken as wat sy dink. Sy wat sagtheid en troos vind in die kleur en fluweeltekstuur van die dieprooi voue van haar trooskombers.

Vandat hy daardie kombersie vir haar gekoop het ’n paar jaar gelede, was dit altyd naby haar. Rooi en warm, soos haar wange; en haar hart. Snoesig, soos haar voete. In die somer het sy dit op ’n stoel drapeer. Vir sagtheid altyd naby, soos sy oë, het sy eenmaal gesê. Vir troos teen die alleen. Sy wat haar hele lewe alleen was, al het sy twee mans begrawe.

George ruk wakker. Vir ’n oomblik is hy deurmekaar en verdwaald in die verkeerde gang van ’n hospitaal, op soek na sy toiletsakkie. Dan besef hy dat dit net ’n droom is. Hy skud sy kop en vryf sy hare deurmekaar, asof hy só die angs van die droom van hom afskud en staan dan strammerig op om badkamer toe te gaan. Sy hartklop bedaar geleidelik. Dan besef hy dit is sy foon wat gelui het wat hom wakker gemaak het. Dit begin weer en sy luitoon “Imagine” klink skel so in die nag. Hy sien  dat dit 03:40 is as sy foon se gesiggie terselfdertyd verlig. Hy skuif die rooi foontjie na links op die skerm, ’n oproep hierdie tyd van die nag kan net een ding beteken. Hy is nie gereed hiervoor nie, al het hy baie lank vir hierdie oproep in die nag voorberei. Hulle sal weer bel.

Daar is ’n sagte kloppie aan die deur en Sweetness se oë is ekstragroot in die donker gesig as sy die deur oopmaak.

“Oom George! Oom George, Sister he says Oom moet gou kom.”

“Loop maar, ek kom.”

“Maar oom George, Sister he says ek moet saam met jou loop.”

“Loop sê jy vir Suster ek kom.” Hy bind sy japon se gordel sorgvuldig vas, spoel sy gesig af asof die ekstra paar sekondes die onvermydelike gaan uitstel. Hy trek sokkies aan, selfs die skaapvelpantoffels maak nie sy voete warm nie. Dan stap hy die duisend myl na die tengersorgeenheid in die gebou langsaan.

Suster Wiese buk oor Nina toe hy inkom. Dan draai sy om en praat sag, naby sy oor.

“Dis tyd, Oom. Jy moet haar groet, daar is ’n effense opflikkering, maar dit gaan nie lank aanhou nie.”

Hy kyk in Nina se oë as hy sy hande weerskante van haar gesig vou, hy vryf met sy duim oor haar wang, soos toe hulle jonk was, in hulle intieme oomblikke. Hy sluk sy trane weg.

“Vergewe my, my man.” Haar stem is sag, sonder emosie. “Ek het jou gevange gehou met my afhanklikheid. Ek moes, anders het ek jou verloor, verloor aan die lewe.” Hy moet mooi luister, haar stem word al sagter.

Haar stem is skaars hoorbaar, maar haar lippe vorm die woorde duidelik: “Gaan na Ona toe, sy wag al jare vir jou. Jy moes ...”

Vir die eerste keer is George bly dat die woonsteldeure nie slotte het nie. Die sekuriteit is baie streng om hulle veiligheid te verseker, maar dit het hom lank geneem om aan hierdie reël gewoond te raak. Hy glip by Ona se woonstel in. Hy beweeg saggies, sodat sy nie wakker word of skrik nie. Hy staan vir ’n oomblik en kyk na die sagte lyf in die dubbelbed, dan lig hy die beddegoed en kruip vas teen die warm holte van haar rug, snoes sy benerige heupe teen haar molligheid, voordat hy die rooi kombersie om hulle lywe regtrek.

Dis ysig vanaand. Ekstra kombersie ysig. Vanaand voel ’n mens die sneeu op die bergtoppe in die windjie. Maar as Ona in haar slaap omdraai en haar een been om sy heupe vou, haar voete warm teen sy blou-koue been, word dit somer in sy toegedekte hart.

“Sy is weg,” fluister hy vir die slapende vrou. Hy besef eers sy is wakker as sy die laken onder sy wang indruk om die trane op te vang, dat die kussing nie nat word nie.

  • 5

Kommentaar

  • Trisa ek het so lekker gelees nou. Baie dankie. Soveel emosies in my wakker gemaak. Die deernis en egtheid van die storie is uitsonderlik.

    • Dankie, Tinus. Dis 'n kompliment, want vir my is 'n verhaal geslaagd as dit waar sou kon wees, asof die verhaal reeds gebeur het en die skrywer bloot die gebeure opteken. Ek wil heeltyd voel dat dit die waarheid is, wat vreemder is as die fiksie wat dit voorgee om te wees.

  • Wow Trisa!
    Dit was nou werklik ysige en "Spinal moments" vir my ...Tog was daar ‘n hunkering na warm liefde en erkenning van menswees ... Sjoe! Dit was nou lekker lees. Jy het nie vir een oomblik my toegelaat om aan iets anders te dink nie. Tussen die lyne lê die waarheid en werklikheid vir ons almal ... Dankie Baie, dit was nou lekker lees. You got me thinking!

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top