The Young Folks: "Daar's altyd 'n positiewe ondertoon"

The Young Folks maak al geruime tyd golwe as een van Stellenbosch se mees opwindende bands, en hul eerste EP is onlangs uitgereik. Charel Kleinhans, hoofsanger, beantwoord ’n paar vrae.

Goeiedag, Charel. Hoe loop die dinge?

Middag, Henry. Dinge is aan die gang. Ek is nou darem klaar met eksamen en nou sit ek rustig in Yzerfontein na ’n fantastiese naweek in Lambertsbaai. Ons het by my gunstelingfees – Malkopfees – gespeel. En daai kant?

youngfolks1web

Nee wat, lekker, dankie. Baie geluk met The Young Folks se eerste EP, A tiny palette of colour, wat onlangs die lig gesien het. As ek reg verstaan, is die EP in "hoofstukke" geskep - "Pride" en "Take me for a ride" is reeds in 2014 opgeneem, en die volgende drie snitte sou later volg. Daarmee saam was daar ook ’n skommeling van lede en dies meer. Vir ’n jong band hou dié elemente seker heelwat uitdagings in. Hoe het julle te werk gegaan om desondanks ’n EP te skep wat met mag en mening skreeu “dié's wie The Young Folks is en dís wat ons doen”? Of was die lang aanloop eerder welkom, in terme van julle groei en ontwikkeling as musikante?

Baie dankie, dit is ook vir ons baie lekker om iets te kan uitbring waarop ons trots is. Dit is maar so ’n mengelmoes van liedjies wat ons record het oor die laaste twee jaar, maar ons het net besluit om ons EP uit te bring om ’n hoofstuk af te sluit om sodoende ’n nuwe hoofstuk te begin. Die EP se naam, A tiny palette of colour, het ons juis gekies omdat dit in verskillende dele van ons lewens opgeneem het. Dit is ’n goeie opsomming van ons band se ontwikkeling en vordering tot waar ons nou is.

Vir ’n EP met vyf snitte is daar geweldige buigbaarheid te bespeur in jul musiek. Veral "Mystical Journeys" getuig van ’n aanslag wat musikale avontuurlustigheid nastreef. Wat sou jy sê is The Young Folks se filosofie in terme van die musiek wat julle wil maak, en ook wat julle wil hê aanhangers moet kry wat hulle nêrens anders kan kry nie? Met ander woorde: in ’n stampvol indie rock toneel, wat laat The Young Folks volgens jou uitstaan? En hoe sal julle voorts nog wil ontwikkel om The Young Folks waarlik onvergeetlik te maak?

A tiny palette of colour is vol liedjies wat ek oor ’n tydperk van vier jaar geskryf het en elkeen van hulle dui op ’n verskillende fase van my lewe. Ek sal sê een ding wat wel dieselfde gebly het, is dat daar altyd ’n positiewe ondertoon is. Wat ons laat uitstaan is ons diversiteit en eerlikheid in ons musiek. Ek dink om verder te ontwikkel en om waarlik onvergeetlik te raak sal ons net moet aanhou oefen, aanhou gig en aanhou musiek maak. Dis maar wat ek vir ’n lewe wil doen. So ek is bereid om seker te maak dat dit wel gebeur. Ek gaan nou nie te veel druk op myself sit nie, want ek doen dit omdat ek dit geniet. Ek wil nou nie myself uitbrand nie!

Dis verder duidelik dat jy as liedskrywer baie aandag daaraan skenk om goeie lirieke te skep. Wat is jou benadering tot liriekskryf – is dit ’n geval van poësie wat ondersteunende musiek bykry, of moet dit die musiek stuur, of hoe werk daardie wisselwerking? Wat dink jy is jou tekortkominge (indien enige) as liedskrywer en hoe sal jy wil groei in die toekoms? Hoe werk die liedskryfproses by jou en die res van die band, en hoe weet julle wanneer ’n lied "reg" of "klaar" is?

Ek is een wat baie hou van kitaar speel en om interessante goed daarop uit te werk. Daarom sal ek altyd eers iets op kitaar skryf en terwyl ek dit doen sal ek ’n melodie met lukrake lirieke daarop uitwerk. Sodra ek dit agter die rug het, sal ek gaan sit met my pen en dagboek en lirieke skryf. My tekortkominge, vir my, is juis dat ek bietjie te min aandag aan my lirieke spandeer. Ek voel ek kan meer tyd daaraan bestee en ordentlike poësie skryf. Maar dit sal nog kom. Ek geniet die kitaarspeel en lukrake melodieë opmaak nog te veel! Ek stel dan die liedjie voor aan die band tydens band-oefening of enige ander geleentheid. Ons spandeer nogals baie tyd saam, wat wonderlik is. Dit is baie belangrik vir ’n band, glo ek. Nadat ek die liedjie aan hul voorgestel het, sal ons skaaf aan hom, dalk die bridge verander en breaks en so aan bysit. Terwyl Mark bass speel, gee dit my ook die geleentheid om bietjie rifs en solo's uit te werk. Die lied sal dan klaar wees na so twee oefeninge en drie gigs, haha.

Jou een broer, Christo, is The Young Folks se tromspeler. Hoe is dit om saam met ’n gesinslid in ’n band te speel? Is die konflik en ook die verstaan-mekaar-goed-elemente anders as bloot met vriende? Wat dink jy is die voordele daarvan, en wat is die nadele? Watter raad het jy vir ander bands wat ook as broers of susters saamspeel?

Daar is beslis meer voordele as nadele. Ons verstaan mekaar. Hy is ’n ongelooflike organiseerder en is doelgerig. Ons was nog altyd meer vriende as kwaad vir mekaar en hou daarvan om goed saam te doen. Ek moet sê, hy hou my ook redelik in toom of maak seker dat ek goed doen, haha. Die voordele is dat ons mekaar verstaan en eerlik met mekaar kan wees. Die nadele is dat mens redelik vinniger as gewoonlik kan vassit. Die voordeel is dat dit net vir tien minute hou en dan is als weer piekfyn. As ek raad kan gee aan ander bands, sal ek sê dat julle dit moet sien as ’n manier om meer tyd met jou familie te kan spandeer. Ons almal weet tog hoe waardevol familietyd is.

Jou ander broer, Herman, het onlangs ’n groot deurbraak gemaak as lid van die groep Twee, wat die AfriVisie-kompetisie gewen het. Klop jy soms aan by hom vir raad, of kies jy om jou eie, totaal onafhanklike rigting in te slaan? Watter kennis oor die musiekbedryf self kon hy aan julle oordra, noudat hy daardie deurbraak gemaak het? Dit klink of julle broers uit ’n baie musikale gesin kom ... Wat is die agtergrond daar?

Ja, dit is ’n voorreg om so ’n suksesvolle broer te hê by wie ek enige tyd van die dag kan aanklop vir raad. Ek het baie by hom geleer en dit gebeur nog steeds. Ons kuier ook gereeld saam, wat lekker is. Een van die dinge wat hy vir my geleer het, is dat goed nie net sommer vanself gebeur nie en dat die musiekbedryf baie onvoorspelbaar is. Mens moet dit maar vat soos dit kom. My pa is die musikale een in ons gesin. Hy het toe hy klein was vir die Vrolike Vinkies gesing en daar sy liefde vir musiek ontwikkel. Verder het hy om die kampvuur en tussen vriende gespeel. Jy sal verbaas wees met hoeveel liedjies hy kan vermaak met sy drie akkoorde wat hy ken. Dis ’n treat en dit gebeur net nou en dan!

Gepraat van die plaaslike musiekbedryf – dis natuurlik moeilik vir enige jong band om ’n deurbraak te maak, maar daar is ook wonderlik unieke geleenthede. Wat is jou gevoel oor die plaaslike musiektoneel en -bedryf soos dit tans lyk? Wat is kief, en wat suig? Hoe sal jy dit graag wil sien verander, en hoe sou jy The Young Folks se plek op dié toneel beskryf?

Ja, dit is nie maklik nie, maar ek is baie geduldig. Soos ek vroeër gesê het, ek doen dit net om dit te geniet. Dis ’n bonus as die mense daarvan hou. Ek het natuurlik drome en streef daarna, maar ek glo dit kan enige tyd op enige manier realiseer. So ek probeer nie die bedryf te veel te analiseer en daarop neerkyk nie. Ek voel as die mense die musiek genoeg geniet, gaan dit versprei en groter gigs sal inkom. Een van die belangrikste dinge wat ek by my band en broers geleer het, is dat mens professioneel moet bly. Dit is ongelooflik belangrik om stiptelik, georganiseerd en nice te wees. As ek nou iets sal wil verander, sal dit wees om net weer ’n musiekkanaal te hê. Asseblieftog, iemand, dóén dit net! Hier is soveel talent in ons land waaraan ons nie blootgestel kan word nie as gevolg van die feit dat ons nie ’n musiekkanaal het nie. Ek hoop kykNET Musiek begin meer Engelse video's aanvaar. Dit sal klaar ’n groot verskil maak.

The Young Folks het al ’n swetterjoel optredes agter die rug, veral in Stellenbosch en Kaapstad. Wat staan vir jou tot dusver uit as hoogtepunte? Enige vreemde agter-die-skerms-gebeure wat jy nie sommer sal vergeet nie? Enige gebeure wat jy eerder wel sal wil vergeet?

Ons tree nogals baie op en sê basies nooit nee vir ’n gig nie. Hoekom sal ons? Dis dan so lekker. Ons hoogtepunt is definitief Malkopfees 2016. Dit was ’n fantastiese gig en fees. Herman was ook saam met ons op die verhoog en Danie du Toit van Spoegwolf het mondfluitjie gespeel op een van ons liedjies. Dit was baie spesiaal.

Daar is vir seker ’n paar goed wat ek wil vergeet, haha. Een van hulle was by een van ons eerste optredes saam met groot name soos Valiant Swart, André Leo en ander. Ons almal het gestres, want ons wil nou hierdie mense impress in ons 20-minute slot. Ons klim toe op die stage en begin ons eerste liedjie met mening. So 10 sekondes in besef ons almal hier is groot fout. My kitaar is nie net ’n bietjie uit nie, dis heeltemal, oorverdowend uit en boonop skree my kitaar ook as gevolg van ’n stukkende kabel. Ek probeer toe nou my kitaar met hierdie nuwe tuner van Mark instel, en ons begin weer. Selfde storie. Later is dit al 10 minute later, ek is al amper pers gebloos en kry nog steeds nie my kitaar ingestel nie. Op die ou end kom ons agter dat ek die kitaar een toonhoogte te hoog ingestel het. Daar is mos so ’n klein liggie wat dit vir jou uitwys, maar ek het dit heeltemal gemis. Dit is maar een van die stories wat ek wil vergeet, maar dit sal ek definitief nie sommer vergeet nie.

Wat hou die nabye en verre toekoms in vir The Young Folks en vir Charel Kleinhans, in so verre jy dit kan beheer?

My droom is om by Glastonbury te speel en om internasionale status in musiek te kry.

Wat is die sin van die lewe?

Ek het ander dag so ’n Latynse quote gesien: Semper ad Meliora, wat beteken “always towards better things”. Dit het my aangeraak en laat besef mens moet nooit stilstaan nie en altyd streef daarna om te groei en om verder te ontwikkel. Die tyd gaan verby en terwyl jy stilstaan is daar iemand anders wat beter raak in iets. So daarom probeer ek maar altyd besig bly en goed doen. Ek ontwikkel ook in kuier, haha!

youngfolks2web

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top