XWord: ’n onderhoud, ’n blokkiesraaisel en ’n boekprys

  • 0

Anina Roux is ’n samesteller van verskillende soorte blokkiesraaisels, blokraaisels, woordspeletjies en Sudoku's en is aan die stuur van sake by XWord, ’n familiesaak wat verskeie raaisels en woordspeletjies vir uiteenlopende publikasies en klante in Suid-Afrika en selfs in die buiteland saamstel en redigeer. Liné Enslin gesels met haar oor haar werk, haar liefde vir wat sy doen en ander interessanthede in die bedryf.

Hallo, Anina. Vertel my asseblief bietjie meer van wat julle by XWord doen.

Ons stel verskillende soorte woordraaisels in Afrikaans en Engels op, asook verskeie Sudoku-soorte. Dié raaisels word hoofsaaklik deur tydskrifte en koerante gebruik, maar ons het al ’n blokraai opgestel (wat in Die Burger, Beeld en Volksblad verskyn het) waarin ’n man sy meisie gevra het om te trou. Die koerante het toe opvolgstories daaroor gedoen wat lesers baie geniet het.

’n Ander keer het ek geregte op ’n spyskaart in ’n blokkiesraaisel weggesteek. Die gaste het dit saam-saam ingevul terwyl die gasvrou die ete se laaste afrondings in die kombuis gedoen het.

Dan het ek ook ’n blokkiesraaisel vir ’n bruidspaar saamgestel met antwoorde oor die paartjie se belangstellings en vriende. Dié het die gaste besiggehou terwyl die troufoto’s geneem is.

Waar het jou liefde vir blokraaisels begin posvat?

Ek is van kleintyd af lief vir woorde en het blokraaisels uit nood vir ’n ekstra inkomste begin saamstel. Ander joernaliste het hul inkomste met vertaalwerk aangevul, maar ek het regtig niks daarvan gehou om vertaalwerk te doen nie. Toe ek uiteindelik ’n redakteur oortuig het om my ’n kans te gee, het ek die geleentheid aangegryp toe hy instem. Dit was sowat 40 jaar gelede.

Hoe bepaal jy watter woorde in ’n blokraaisel ingesluit word – kyk jy na die lengte van die woord en die onderwerp? Sluit jy doelbewus vreemde woorde in wat mense sal laat kopkrap? Hoe kripties is ’n kriptiese leidraad?

Dis baie belangrik om te weet vir wie jy die raaisels opstel en dít bepaal die soort woorde wat gebruik word. Maw wie is die publikasie se lesers en wie koop/lees dit.

Die lengte van woorde het selde ’n invloed op raaisels en kriptiese leidrade word meesal net vir kriptiese blokkiesraaisels gebruik. Afrikaanssprekendes is egter nie lief vir kriptiese raaisels nie en dis nogal ’n kuns om kriptiese leidrade te skryf want daar is ’n magdom reëls wat toegepas kan/moet word. Ons het dit al ’n verskeie kere op die proef gestel en dis altyd die eerste raaisel wat ’n redakteur afskaf, omdat nie genoeg lesers dit invul nie.

Vreemde woorde word soms gebruik. want as ’n raaisel te maklik is, is daar klagtes. As dit te moeilik is ook! Ons gebruik slegs woorde waarvoor daar betroubare verwysings is, soos erkende taal- en woordeboeke.

Wikipedia is nié betroubaar nie en vir inligting wat daar gekry word moet daar nog twee verwysings wees. Selfs inligting in koerante en tydskrifte moet verwysings hê, veral as dit kom by hoe iemand se naam gespel word. Spelfoute in ’n blokraai is UIT. Inderwaarheid is enige foute onaanvaarbaar. Om dié rede word raaisels gesub voor dit uitgestuur word.

Dis algemeen bekend dat ’n fout in ’n raaisel chaos in ’n publikasie se kantore veroorsaak. Toe ek by Huisgenoot gewerk het, het ’n fout veroorsaak dat die skakelbord op ’n keer geblokkeerd geraak het. Om hierdie rede word my telefoonnommer in Vrouekeur by die raaisels gepubliseer sodat lesers my direk kan kontak as hulle nie met iets saamstem nie.

Dink jy blokraaisels verbreed mense se algemene kennis?

Beslis ja, veral as die invuller moeite doen om ’n leidraad na te vors om die antwoord te kry. Die opstellers se algemene kennis word dalk in ’n groter mate verbreed en daar word beweer dat dit Alzheimersiekte teenwerk en jou brein aan die gang hou.

Is daar nog belangstelling in blokraaisels? Het die invloed van tegnologie verandering in die belangstelling in en aanvraag vir blokraaisels teweeggebring? En: hoe het tegnologie gehelp om die opstel van blokraaisels te vergemaklik?

Die belangstelling in blokraaisels is nog al die tyd groot en dit lyk of invullers steeds verkies om die raaisels op papier met ’n potlood in te vul. Raaisels kan byvoorbeeld op ons webwerf (XWord.co.za) ingevul word, maar dit wil lyk of mense dit liewer druk as om voor ’n rekenaar te sit om dit in te vul. Belangstelling is egter besig om te groei. Ons verskaf ook raaisels aan Blokaspaai en BlockiSpy wat op ’n iPad of  iPhone ingevul word, maar dis ’n mark wat nog stadig groei.

Oor die gewildheid van blokraaisels wil ek graag ook dít sê: as ’n redakteur nie van blokraaisels hou nie, is dit een van die eerste dinge wat hulle afskaf wanneer hulle kostes moet besnoei. En talle blokraaigeesdriftiges het al vir my gesê dat hulle sekere tydskrifte/koerante nét vir die raaisels koop.

Ek onthou dat ek dikwels as kind by my ouma gesit het terwyl sy blokraaisels ingevul het. Ek het haar kamstig gehelp, maar my herinnering daaraan is dat ek selde ’n woord geken het. Is blokraaisels vir ouer mense bedoel? En is daar ’n mark vir makliker, kindervriendelike blokraaisels?

Nee, blokraaisels is nie net vir ouer mense nie. Daar is beslis ’n mark vir jongmense én vir kindervriendelike raaisels. Skole, universiteite en jongmensorganisasies begin ons vra om blokraaitoernooie/-wedstryde vir hulle te reël en aan te bied. Dit is moontlik ’n gevolg van die twee groot blokraaitoernooie wat ons die afgelope twee jaar by die Universiteit van die Vrystaat aangebied het.

Dis natuurlik ook uiters geskik om temaraaisels vir kinders te doen. Dit kan op bykans elke skoolvak toegepas word.

XWord stel nie net blokraaie op nie. Watter ander woordspeletjies en raaisels stel julle op?

Ons kan al ons raaisels in Afrikaans of Engels opstel, want XWord bestaan uit ’n span van sewe opstellers. Ons kan beslis ook iets uitwerk as ’n kliënt met ’n voorbeeld of idee na ons toe kom.

Hier is ’n paar soorte raaisels wat ons opstel:

• Blokraaisels • Geraamteraaisel
• Foto-Blokraaisels • Geraamte-rooster-raaisel
• Blokkiesraaisels • Koderaaisels
• Foto-Blokkiesraaisels • Sudoku (in ’n verskeidenheid moeilikheidsgrade)
• Sirkel-/ingekleurde blokke Blok- en Blokkiesraaisels • Sudo-K
• Twee-In-Een Blokkiesraaisels • Hex-Sudoku
• Tema- en Woordeskat Blok- en Blokkiesraaisels • Vasbyt-Sudoku-X
• Balkies-Blokkiesraaisels • Dubbel-Sudoku
• Blokkiesraaisels in Franse formaat • Kakuro
• Vul-in-die-Woorde • Samoerai-Sudoku
• Blokkiesraaisels in ’n fatsoen • Vasvra
• Teiken-raaisels • Naamspel
• Woordsoek  

 

Vir voorbeelde van hoe die verskillende raaiseltipes lyk, besoek XWord se webtuiste.

Wat is die vreemdste woord wat jy al in ’n blokraaisel teëgekom het?

Ek kan nie onthou wat die vreemdste woorde was nie – daar is baie van hulle. Ek kan wel sê dat daar in elke raaisel wat ek opstel, minstens een woord is wat ek nog nooit gebruik het of ken nie. Ons almal het die gewoonte aangeleer om ’n nota te maak van nuwe woorde wat ons hoor of raaklees.

Wen met dié blokkiesraaisel

Verskaf deur Xword.co.za
Saamgestel deur Anina Roux

Los die blokkiesraaisel op kyk of jy die woord wat in die sirkels weggesteek is, kan ontsyfer. Dit moet die taalvariëteit spel waarin die Bybel nou op LitNet vertaal word.

Stuur voor 6 Oktober jou antwoord, posadres en telefoonnommer na line@litnet.co.za en staan ’n kans om 2 boeke te wen: XWord Afrikaanse woordspeletjies en 50 Blaaskans blokraaie 6. Die boeke word deur LAPA Uitgewers geborg.

Klik hier om die blokkiesraaisel in PDF-formaat af te laai en te druk.

Dwars

Af

1 Klouter (4)

1 Herhaaldelik (8)

3 Basterhartbees (8)

2 Mier of vlooi (5)

9 Wat agtergehou word vir latere gebruik (7)

4 Dinges (2-2-2)

10 Mats Wilander en Abba se land van herkoms (5)

5 Grenshoue in krieket (5)

11 Flerrie (5)

6 Hoogste bergpiek ter wêreld (7)

12 __ in die Suburbs (6)

7 Uitken (4)

14 Beste prestasie in sport (6)

8 Teenoor kleiner (6)

16 Blokkie roosterbrood (6)

13 Een of ander saak (8)

19 Priester se gebied (6)

15 A, e, i, o of u (7)

21 Bedees (5)

17 Blosende (6)

24 Pypgebruiker (5)

18 Deurmekaarmeng met ín lepel (6)

25 Nie op ín geskikte tyd nie (7)

20 Regstreeks (5)

26 Redenaars (8)

22 Plesierrige Dowwe meisie (5)

27 Ritmiese stapbeweging of 'n planeet (4)

23 Kweek of kikoejoe (4)

Die antwoorde sal op 6 Oktober bekend gemaak word.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top