Wysheid

  • 0

Ek het myself in al die grootoog-oomblikke van die lewe gevind.

Ek sien die wêreld anders. Ek sien raak hoe die wolke soms prente vir die verbeeldingrykes skets en hoe die karre wat verbyry gesigte trek. Ek sien mense se trane as ’n teken dat hulle gevoelens het.

Ek ruik die besoedeling van ons woorde in ons wêreld wat soos ’n donker wolk oor ons hang. Ek ruik die suur van ons slegte keuses, maar ook die soet in die dansende blomme.

Ek hoor mense lag in die besige strate, ’n giggel in elke traan. Ek hoor liefde in elke donderstorm. En die sang van ons oggendvoëltjies bo-oor die geraas wat ons die lewe noem.

Ek proe die sout in die see as ’n teken dat alles nie is soos die oppervlakte weerspieël nie. Die armoede en hartseer hinder my en ek voel hulle ellende, soos woestyne wat smag na water, en ’n droogte in my mond.

Ek voel die hartseer in mense se oë, die waarheid in elke leuen. Die warm son voel soos ’n omhelsing van die hemel daar bo. Ek voel die reëndruppels soos trane wat onse Vader God stort oor die hartseer wat ons vir mekaar bring.

Ek is wie ek is. Ek is anders. En dis juis in daardie wete waar ek myself gevind het.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top