Woordevriend

  • 1

Woordevriend
Vir Johann de Jager

Toe jy daardie Vrydagmiddag,
hondjie onder die arm,
my kantoor beleefd inskuifel
moes ek al geweet het
… hier kan ’n vriend kom.

Ek was geïrriteerd, half onbeskof.
Nie lus om oor my projek
of oor die dorp se Vloedmuseum
met net nog ’n nuuskierige te praat nie.

Maar toe jy met jou sagte stem
en vriendelike gelaat
’n nuusblaadjie in my onwillige hand stop
het ek geweet … hier kom ’n vriend.

Net daar het dit begin –
jare lange woordskaakspel tussen ons.
Jy wit … suiwer woorde wat uit jou pen borrel;
ek swart … moes knaend die pen skud  
om iets behoorliks op papier neer te lê.
Ek het besef: hier is ’n vriend.

Maar helaas, nie eens daai talent
om so met woorde te kon toor
het verhoed dat die groot K jou uitboul.
Al wat nou vir my oor is,
is om met groot ontsag en hartseer te noem:
Daar gaan ’n vriend

  • 1

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top