Winter van 1972

  • 4

Die manssale van die hospitaal het uit drie dele bestaan.  ’n Saal met vier beddens, ’n gang met vyf enkelkamers en ’n groot saal met tien beddens.  Nadat ek opgeneem is, is ek na die groot saal toe. Dit was duidelik die eerste stasie in ’n verblyf.  Daar was twee rye beddens van vyf elk met ’n gang in die middel wat uitgeloop het op die klerekaste en daarna die badkamers en die storte.

My bed was die vierde van die ingangsdeur regs.  Oorkant het oom Anton gelê, die derde bed  links. Hy het byna nooit opgestaan nie, wat natuurlik teen die reëls was.  As hy soms sou opstaan, het hy aanvalle gekry en neergeval met skuim om die mond.  Hy was ’n geleerde man wat deur familielede met bedrog uitgebuit is.  Hulle is tronk toe en hy sou homself later skiet. Sy vrou was ’n dokter en sy het met twee kindertjies vir hom kom kuier in ’n Mini.

Die selfaangestelde leier van die saal was Bennie. Hy was ’n erg gedrewe man wat ook almal om hom gedryf het. Hy het sesuur opgestaan en almal opgejaag om skoon te maak, al was Petrus, die skoonmaker op pad.  Almal het  maar aanvaar dat dit so moes wees.  Na ’n “Fokof, los my uit!” het oom Anton darem hierdie parade misgeloop.  Bennie was ook lief om te oefen.  Met toestemming het hy die terrein kruis en dwars behardloop, ure aanmekaar, en dan nog op die tennisbaan verder geoefen. Kon glo ook nie slaap nie.

Die opname in ’n psigiatriese hospitaal was oorweldigend.  Die een oomblik is jy nog besig, hoewel al hoe minder so, om matriek te probeer deurkom, die ander oomblik bevind jy jou tussen mense wat anders siek is as die gewone en in ’n plek wat jou morbied sal stem, al is jy nie eers siek nie.  Miskien omdat ek nog maar jonk was, het ek die mense tog nie so verskriklik siek beleef nie, sonder twyfel nie mal nie.  Op so drie of vier kere na was daar insidente, maar met die meeste inmates het ek goed klaargekom.  Die personeel was bekwaam en die kos was ook nie onaardig nie.

Ek sou nie die verblyf in die hospitaal as ’n tyd van gesond word beskou nie.  Ek het eintlik nie geweet wat my makeer nie.  Net dat ek nie meer kon funksioneer  nie.  Ek kon nie meer opstaan en op my fiets skool toe ry nie.  Ek kon nie meer lees of studeer nie.  Ek het meestal maar net geslaap, tot groot irritasie van my pa.  Toe ek 33% vir Wiskunde in die eerste kwartaal kry, het my reserwes ingegee.  Ek word toe op massas pille gesit wat die probleem vererger  het.  In die hospitaal self is die dosis vermeerder wat alles nog meer onwerklik en angswekkend gemaak het.

Baie mense het gekom en gegaan.  Ek het opgelet dat persone wat deurmekaar is by opname, en op en af in die gange hardloop, die gouste regkom en weer gaan.  Die wat rustig is en met wie jy gesels soos met jou aangename buurtannie, bly die langste.  Die meeste mense was baie bly as hulle ontslaan word.  Ander het verwese op hul bed gesit en min uitgesien na wat vir hulle wag.  Ek het altyd vermoed ontslag is deur iets lukraak veroorsaak, so asof die psigiater daardie dag tandpyn gehad het.  Ontslag was byna altyd onverwags.   

Na ’n maand in die groot saal is my verblyfregte opgradeer na ’n tweede stasie.  Ek kon skuif na ’n enkelkamer, die enigste aan die linkerkant van die suide-gang. Nie sleg vir iemand wat pas 17 geword het.  Dalk is ek ook op daardie stadium as langtermyn beskou. Die feit dat ek nie na oorkant die brug verplaas is nie, was egter ’n goeie teken.  As jy oor die brug gaan, is geglo dit is verby met jou.  Oor die sale aan daardie kant praat niemand. Ek het nogal een dag gaan kyk, en ek praat ook nooit daaroor nie.

Verhoudings en dergelike intimiteit was natuurlik verbode.  Nie dat hierdie verbod hormone sou kon beheer nie.  Nita was van Namibië en ek onthou nog die dag toe haar familie haar kom aflaai het.  Sy het so ’n verskrikte uitdrukking op haar gesig gehad.  Haar pa het baie gehuil toe hy haar omhels en gegroet het. Hy moes eintlik toe nog meer gehuil het. Kobus was van die Suid-Kaap en het nogal af gelyk toe hy daar aangeland het.  Na so twee weke saam kon Kobus en Nita nie meer wegsteek wat aangaan nie.  Die twee het aan mekaar gekleef.  Of hulle uitgevang is, weet ek nie, maar die een dag is Kobus net vinnig daar weg.  Ses maande later is Nita en Kobus getroud en vier jaar daarna het Kobus vir Nita met ’n haelgeweer doodgeskiet. Hy was glo patologies jaloers.

Die mees intimiderende inmate was Dian in die vierde kamer regs.  Hy was 20 jaar oud, sy lang hare peroksied-wit, sy oë wild en kwaai agter ’n ronderaam-brilletjie. Sy boodskap aan almal in die hospitaal was: “Los my uit. Ek is nie julle maatjie nie.” Hy het homself eenkant gehou in sy kamer en is elke naweek uit op verlof.  Later sou ek hoor hy is deur die hof verwys vir psigiatriese toesig, omdat hy op 16 ’n meisie verwurg het.  Op 21 is hy weer in die vrye gemeenskap toegelaat.   

En dan was daar Willem, die digter. Seker die siekste van almal daar, destyds gediagnoseer met maniese depressie. Sommige dae was hy so mak soos ’n lam en het hy stories vertel van groot digters en van sy reise oorsee. Ander dae het hy nie uit sy kamer gekom nie, die derde kamer regs in die gang.  Maar dan soms kon jy hom hoor voordat jy hom sien.  Hy het soos ’n besetene met skuim om die mond rondgehardloop, doelloos, gedryf deur ’n bose energie. Hy het onverstaanbaar vinnig gepraat, woes klavier gespeel en mense en dinge gestamp.  Gewoonlik het van die personeel hom platgetrek, op hom gaan sit en ’n ander het hom ’n inspuiting gegee. So vyf minute later was hy aan die slaap en hy het daar gelê soos ’n lappop sonder ’n eienaar.  Die personeel het hom meestal net so na sy kamer gedra/sleep, ’n baie ontstellende gesig. Selfs van die manlike pasiënte het stilweg gehuil.

Willem het baie gepraat oor sy gedigte en vir my van sy digbundels gewys. Ek het gevra of ek een kan leen om te lees en hy het ja gesê.  Die aand laat het die manie Willem weer gegryp.

Eers het hy op en af in die gang gehardloop en toe by my kamer in.  Hy het regtig baie wild gelyk. Ek het baie diep geslaap en was nie lus vir geselsies nie.  Hy gryp my aan die skouers en skree: “Jy het my bundel gesteel!” Sonder om te dink, haak ek af en slaan hom bloedneus. Die bloed spat. Net toe kom die personeel met die kalmeerspuit en pen hom neer.  Hulle trek hom na die padded sel en sluit hom daar vir die nag toe.   

Die volgende dag is ek ontslaan en Willem is oor die brug gestuur.

  • 4

Kommentaar

  • Ek wil net die skrywer inlig dat hy baie versigtig moet wees as hy oor psigiatriese hospitale skryf. Dit mag wees dat jy op verkeerde tydstip in verkeerde hospitaal was. Die een waarin ek en baie ander was bestaan uit pasiënte, soos enige ander pasiënt in 'n hospitaal. Regtig, help breek die 'stigmas' asseblief?

    • Cecile, ek stem 100% saam met jou oor stigmatisering maar let dat hierdie in 1972 afspeel, dinge was baie anders toe. Ek hoop verseker dat mense meer verlig geraak het met die tyd saam. Hierdie is 'n weergawe van die skrywer se ondervinding in daardie tye, toe daar nog van maniese depressie ens gepraat is.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top